
Hoewel die Afrikaans Amptelik 100-veldtog formeel afgesluit is, leef een projek op besonderse wyse voort: die muurskildery wat op 8 Mei 2025 op luisterryke wyse in die Bo-Kaap onthul is.
Benewens ’n koorwerk, ’n kinderboek en talle ander projekte wat van stapel gestuur is as nalatenskap van Afrikaans se 100 jaar as amptelike taal, was die muurskildery in die Bo-Kaap een van die prominentste.
Die muurskildery is deur Daily Maverick uitgewys as een van die planeet se mees inspirerende werke in Mei 2025.
“Ons wou nie net die taal vier en jolyt hou nie, ons het hard daaraan gewerk om seker te maak daar bly iets agter ná 8 Mei 2025. Ons wou iets agterlaat wat vir mense meer vertel oor die totale ontstaansgeskiedenis van Afrikaans”, aldus Giep van Zyl, nasionale koördineerder van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
“Dit is ’n plek van ontmoeting, van uitruil, en van gedeelde geskiedenis, iets wat die kunswerk visueel en simbolies tot uiting bring,” sê René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van die Afrikaans 100-veldtog.Die muurskildery is ’n kragtige visuele huldeblyk aan die geskiedenis van Afrikaans getiteld Afrikaans se Komvandaan, en is in die hart van die Bo-Kaap op die buitemuur van ’n huis van een van die inwoners aangebring. Hierdie kunswerk is die resultaat van ’n samewerking tussen die visuele kunstenaar Wisaal Abrahams en die bekroonde straatkunstenaar Nadia Fisher (Nardstar), en is in opdrag van Afrikaans Amptelik 100 uitgevoer.
Die muurskildery maak gebruik van dimensie en driedimensionele raamwerk, met die ikosaëder, ’n ikoniese platoniese vorm en wiskundige simbool vir water, as sentrale beeld. Hierdie keuse is betekenisvol: water simboliseer nie net lewe nie, maar ook die verbindings tussen mense, tale en kontinente. Dit is juis deur water, en oor oseane heen, dat Afrikaans as ’n kreoolse taal ontstaan het, gevorm deur die ontmoetings van inheemse gemeenskappe, Europeërs en slawe uit Afrika en die Ooste.
“Wat ons in die toekoms doen, sal afhang van die hande wat ons skud, die oordragte wat ons maak, die vrede wat ons kweek en die vryheid wat ons koester,” sê Abrahams.
Die ikosaëder raam simbolies hierdie hande deur tyd, en verbind dit met die diverse groep mense wat aan die onstuimige begin van Afrikaans se geskiedenis teenwoordig was.
Die muurskildery herinner ook daaraan dat die eerste opgetekende vorm van Afrikaans in Arabies geskryf is, en herbevestig die Bo-Kaap se rol as bakermat van die Afrikaanse taal. Dit kan op die hoek van Waal- en Pentzstraat, in die Bo-Kaap gesien word.
Afrikaans Amptelik 100 stel nou die muurskildery as ’n gratis aflaaibare PDF-dokument beskikbaar vir belangstellendes. Onderwysers kan dit in die klaskamer gebruik en sodoende gesprekke rondom ons taal se komvandaan stimuleer.
Só word die kunswerk nie net ’n visuele baken in die Bo-Kaap nie, maar ook ’n hulpmiddel vir gesprek en bewusmaking landswyd.
Kry die gratis PDF-ontwerp van die kunswerk hier.
Kry die gratis PDF-ontwerp van die verduidelikings saam met die kunswerk hier.
Lees ook:
Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap
"Haal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels..." – vroeë Arabies-Afrikaanse tekste



