Persverklaring: Kom lag jou klaar vir top komediante by Suidoosterfees-inryteater!

  • 0

Die gewilde komedie-show Lag my kla’ maak op 8 November om 20:00 weer ’n draai op die Suidoosterfees se inryteater-verhoog by die kykNET Atlantic Studios in Kaapstad. Staatmakers soos Schalk Bezuidenhout, Wynand Kotze en Dean Smith sluit by die wenners van Son en kykNET se Lag my kla’-kompetisie en hulle mentors aan vir ’n aand van skreeusnaakse vermaak.

Lag my kla’ is ’n uitvloeisel van die kompetisie en mentorskapprogram waartydens Shimmy Isaacs, Francois van As en Lunga Tshuka opkomende jong komediante onder hande geneem het. Die wenners van vanjaar se kompetisie word tydens die vertoning aangekondig wanneer hulle ook die geleentheid kry om hul staal vir die eerste keer op die Suidoosterfees-verhoog te wys.

Dean Smith tree op 8 November om 20:00 op in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater by kykNET Atlantic Studios in Kaapstad.

Dean Smith, die bekende Suidooster-sepiester, is die seremoniemeester. Dean se alter ego, Aunty Betty, wat gereeld vir groot opslae op sosiale media sorg, maak ’n spesiale gasverskyning.

Wynand Kotze is op 8 November een van die sterre in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater.

Wynand Kotze, die TikTok-sensasie, is ook daar om gehore te laat skater.

Die gewilde Shimmy Isaacs is te sien in Lag my kla’ by die Suidoosterfees se inryteater.

Shimmy Isaacs, een van die mentors vir die nuwe jong grapjasse, verduidelik hoekom lag die beste medisyne vir alle kwale is: “Uit tragedie kom komedie. As ons lekker lag, kry ons die gevoel dat ons ons omstandighede survive het.” Shimmy kan nie wag om die Lag my kla’-nuwelinge tydens die inryteater-vertoning aan die publiek bekend te stel nie.

Schalk Bezuidenhout gaan besoekers aan die Suidoosterfees se inryteater laat skater in Lag my kla’.

Sanlam, vir jare reeds betrokke by die Suidoosterfees se Talentsoektog-projek, is opgewonde oor vanjaar se Lag my kla’-vertoning. Gary van Loggerenberg, die maatskappy se borgskapbestuurder, sê: “By Sanlam weet ons hoe noodsaaklik ’n ryk en florerende kultuurbedryf vir ons gemeenskap is. Die kunste, musiek, teater en literatuur bring mense nader aan mekaar. Kom lag saam en ondersteun ons jong talent.”

Volgens Brian Figaji, direksievoorsitter van die Suidoosterfees, is die ontwikkeling van belowende kunstenaars ’n sentrale bousteen van die fees. “Vir ons is dit wonderlik om met vennote soos Son en kykNET hande te vat en geleenthede vir belowende talent te bied.”

JP Smith van Stad Kaapstad, een van die fees se anker-ondersteuners, sê dat die publiek verdien om ’n slag lekker te lag, veral met die uitdagings van die pandemie wat dinge so dikwels in die wiele ry. “Die Suidoosterfees is een van Kaapstad se kuns-en-kultuur-gebeurtenisse wat nie misgeloop moet word nie. Kom sit terug en laat ons skreeusnaakse komediante jou maagspiere behoorlik kielie.”

Kaartjies vir Lag my kla’ op 8 November om 20:00 by kykNET Atlantic Studios wissel tussen R250 en R300 en kan by Computicket bespreek word. Die Suidoosterfees se inryteater word moontlik gemaak deur die samewerking van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; kykNET; NATi; Kia; Sanlam, BASA en die Jakes Gerwel Stigting.

  • Foto's verskaf.
Lees ook:

“Ek het een joke op die internet vertel” – Wynand Kotze oor die Suidoosterfees-inry

“Lag is die beste medisyne” – Shimmy Isaacs oor die Suidoosterfees-inry

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top