
Selby William, Lizl Simoes en Lucia Poggenpoel het elk ’n Afri-Indie-toekenning ingepalm. Morné Ayeni (derde van links) het die aand as Crescendo-projekbestuurder meegemaak. (Persfoto: verskaf.)
........
ATKV-Crescendo het vandeesweek behoorlik rede om fees te vier nadat al vier Crescendo-kunstenaars wat vir die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings genomineer is, met toekennings huis toe gegaan het. Die glansryke geleentheid het Dinsdagaand by die Afriforum-teater in Pretoria plaagevind.
.........
ATKV-Crescendo het vandeesweek behoorlik rede om fees te vier nadat al vier Crescendo-kunstenaars wat vir die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings genomineer is, met toekennings huis toe gegaan het. Die glansryke geleentheid het Dinsdagaand by die Afriforum-teater in Pretoria plaagevind.
Vir die Crescendo-span, wie se ATKV-kantore in Stellenbosch gesetel is, is dit meer as net ’n mooi lys pryse. Dit is bevestiging dat die kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers wat deur die program ontwikkel en ondersteun word, ook deur die breër musiekbedryf raakgesien word.
Lucia Poggenpoel het die toekenning vir Beste Nuweling-album vir Paaie van my hart ontvang, Lizl Simoes is vereer met Beste Nuweling-enkelsnit vir “Muurblom”cen Selby Williams het Beste Tradisionele Solo-enkelsnit vir “Fix the vibe” gewen.
Jessica Roets-Hattingh, ’n alumna van die Crescendo Mentorprogram, het as Ronnie die Renoster die toekenning vir Beste Kinder-enkelsnit (Kleuter) vir “’n Glimlag” ontvang.
Jean-Marc Meyer, een van die vervaardigers wat deel vorm van die Crescendo-opnamespan, is ook as Beste Vervaardiger aangewys.
Morné Ayeni, projekbestuurder van ATKV-Crescendo, sê die prestasie het die span diep geraak.
"Dit is heerlik vir die kunstenaars om raakgesien te word. Al vier die Crescendo-kunstenaars wat genomineer was, het gewen. Ek is eintlik sprakeloos daaroor."
Volgens Ayeni wys die uitslae duidelik watter impak Crescendo op ’n kunstenaar en liedjieskrywer se ontwikkeling kan hê.
"Ons is bly dat ander mense in die bedryf die talent raaksien. Dit maak my opgewonde oor die vier kunstenaars se toekoms en oor wat hulle nog vir die wêreld gaan gee en wys."
Hy sê die erkenning laat hom ook met nuwe energie na Crescendo se eie toekoms kyk.
"Dit maak my opgewonde oor die toekoms van Crescendo en die hoogtes wat ons kan bereik as ons aanhou doen wat ons doen – om in mense en in hul Godgegewe talente te belê."
Vir Crescendo gaan dié belegging nie bloot daaroor om ’n kunstenaar ’n verhoog of ’n opnamegeleentheid te gee nie. Dit gaan ook daaroor om kunstenaars te help om hul eie potensiaal raak te sien en daarop voort te bou.
"Ons wil seker maak hulle sien self hul talent raak, belê daarin en bou verder op wat ons vir hulle gee. Ons wil hê hulle moet mooi musiek in Afrikaans skep en dat Crescendo ’n voedingsaar kan wees wat nuwe Afrikaanse musiek daarbuite sit en gehore bereik."
Die vieringe het egter nie by die Afri-Indie-toekennings geëindig nie.
Gracia Louw, digter en kunstenaarkoördineerder by ATKV-Crescendo, het ook die Kaapse Wynlande se Fenomenale Vroue-toekenning in die kategorie Bevordering van Afrikaans/Veeltaligheid ingepalm. Tamryn Madalé, een van Crescendo se opnamekunstenaars, is die naaswenner in dieselfde kategorie.
"Toe hulle my naam noem en ek stap op, toe voel ek, ’wow’, hierdie is ’n eer. ’n Mens se intensie is nie om vereer te word nie, jy doen dit eerder omdat jy lief is vir Afrikaans," sê Gracia.
"Om dan geëer te word, is vir my ’n blessing. Van kleins af het ek Afrikaans gebruik om myself uit te druk en nou kan ek ander aanmoedig om digkuns, kuns en musiek te maak in hulle Moedertaal, is vir my iets mooi. Dis verreikkend. Vir my voel dit nooit ek kom na ’n werk toe, as ek met my taal en in my taal werk by Crescendo nie. Dit voel eerder ek kom na ’n passie toe," sê dié talentvolle digter en woordkunstenaar van Worcester.
Ayeni sê dit is juis dié kombinasie wat Crescendo se werk vir hom so besonders maak: talent word nie net ontdek nie, maar gevoed, ontwikkel en ruimte gegee om te groei.
"Wanneer kunstenaars begin glo in dit wat hulle gekry het, begin daar iets gebeur. Dan bou hulle verder daarop. Dan ontstaan daar musiek wat mense raak."
Lees ook:
Persverklaring: ATKV-Crescendo Goud vier die divas van Afrikaanse musiek
ATKV-Crescendo-feesviering: foto’s en video’s van dié goue geleentheid
ATKV-Crescendo op 50: ’n onderhoud met die projekorganiseerder, Morné van Staden

