
Grafika verskaf deur ATKV-Crescendo en beskikbaar by https://www.crescendo.org.za/en.
Hulde aan die vrouestemme, liedjieskrywers en oorspronklike musiek wat oor dekades uit Crescendo gebore is
Karin Hougaard, Anna Davel, Ilse Klink, Andriëtte Norman, Stephanie Baartman, Gracia Louw is van die vrouestemme wat op 4 Julie 2026 die verhoog betree vir ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans by die Daisy Jones Teater op Summerhill-landgoed in Stellenbosch. Saam met hulle tree ’n jonger geslag Crescendo-stemme op, waaronder Lizl Simoes, Tamryn Madalé, Janine Fourie in ’n konsert wat hulde bring aan die vroue wat oor 52 jaar uit Crescendo gegroei het en aan die oorspronklike Afrikaanse musiek wat uit hul stemme, penne en stories gebore is.
Volgens Morné Ayeni, projekkoördineerder: Crescendo, is die gedagte agter die konsert om erkenning te gee aan die groot rol wat vroue in Crescendo se geskiedenis gespeel het.
“Daar is oor 52 jaar ’n magdom musiek binne Crescendo geskep en ’n groot deel daarvan kom uit vroue se penne en stemme,” sê Ayeni. “Ons wil nie net hulde bring aan die sielryke stemme nie, maar ook aan die pragtige, oorspronklike Afrikaanse musiek wat deur vroue in Crescendo geskep is.”
Die konsert kyk egter nie net na Crescendo se eie nalatenskap nie. Omdat Crescendo deur die groter Afrikaanse musieklandskap gevorm is, bring Divas in Afrikaans ook hulde aan ander vroue wat diep spore in Afrikaanse musiek getrap het met hul eie oorspronklike werk, egtheid en verhoogteenwoordigheid.
Die program bring verskillende generasies Afrikaanse vrouestemme saam van huishoudelike Crescendo-name soos Karin Hougaard en Anna Davel, tot legendariese aktrise Ilse Klink, wat in die 1990’s aan Crescendo deelgeneem het en ikoniese kunstenaars soos Andriëtte Norman, Stephanie Baartman en digter, Gracia Louw, wat elkeen met hul eie stem, styl en oorspronklike werk ’n merkbare plek in die Afrikaanse musieklandskap ingeneem het.
Die jonger Crescendo-stemme Lizl Simoes, Tamryn Madalé, Janine Fourie voltooi die program en wys hoe die Crescendo-nalatenskap steeds voortleef in nuwe kunstenaars wat hul eie stories in Afrikaans vertel.
Die gehoor kan ’n vertoning verwag wat met die hart praat: musiek wat eg, oorspronklik en onmiskenbaar Afrikaans is. Van die mooiste ballades en liefdesliedjies tot bekende gunstelinge wat gehore sal laat opstaan en dans, beloof die aand om ’n viering van vrouestemme, stories en klank te wees.
“Crescendo is dié plek waar legendes gebore word,” sê Ayeni. “Met hierdie konsert vier ons die vroue wat oor dekades heen nie net gesing het nie, maar ook geskep, vertel, gevorm en geïnspireer het.”
ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans is ’n terugflits, ’n dankbetuiging en ’n viering van die vroue wat Afrikaanse musiek met siel, storie en oorspronklikheid verryk het.
Wayden Johannes, die vervaardiger, Morné Ayeni, die ATKV-Crescendo-projekorganiseerder en William Jacobs, musiekregisseur, het die produksie saamgestel.
Geleentheidsbesonderhede
Konsert: ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans
Datum: 4 Julie 2026
Tyd: 17:30 vir 19:00
Venue: Daisy Jones Teater, Summerhill-landgoed, Stellenbosch
Kaartjies: R200
Besprekings: Kaartjies is beskikbaar deur Quicket.

