PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2020

  • 0
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Kortlyste aangekondig: kykNET-Rapport-boekpryse en Boekresensent van die jaar
 
Die kortlyste vir die KykNET-Rapport-boekpryse en Boekresensent van die jaar is onlangs aangekondig en dit is vir ons ’n plesier om al die benoemdes hartlik geluk te wens.
 
Die kykNET-Rapport-boekpryse het vanjaar die meeste inskrywings ooit gelok. Die pryse word toegeken vir uitnemende Afrikaanse fiksie en niefiksie wat gedurende die vorige kalenderjaar verskyn het. Hier is die kortlyste:
 
KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

  • In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer (Penguin Random House)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden (Tafelberg)
  • Die verevrou deur Jan van Tonder (Human & Rousseau)

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

  • Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake (Jonathan Ball)
  • Boodskapper van die gode deur Murray la Vita (Lapa)  
  • Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen deur Carel van der Merwe (Protea Boekhuis)

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM

  • Klikbek deur Sidney Gilroy (Human & Rousseau)
  • Zola deur Johan Jack Smith (Penguin Random House)
  • Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg (Kwela)
  • Smit Motors deur Réney Warrington (Lapa)
  • Grensgeval deur Marita van der Vyver (Penguin Random House)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: DEBUUT- OF TWEEDE PROSAWERK (ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE)

  • Gedeeltelik bewolk deur Ruan Kemp (Tafelberg)
  • Strafjaart deur Theo Kemp (Penguin Random House)
  • Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-duToit (Human & Rousseau)

Die wenners word op Saterdag 19 September om 18:00 aanlyn aangekondig.
 
Met die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse word erkenning gegee aan uitnemende Afrikaanse resensies wat in 2019 verskyn het. Drie pryse word toegeken: vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik sowel as langer, tipies akademiese resensies. Hier is die kortlyste:
 
Fiksie:

  • Willie Burger: “Kies ’n boek” (oor Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach, Vrouekeur, 1 Februarie 2019)
  • Nadine Petrick: “Zola” (oor Zola deur Johan Jack Smith, LitNet, 24 Oktober 2019)
  • Marita van der Vyver: “Benderoman is briljant” (oor Lang pad onnetoe deur Nathan Trantraal en Jason Reynolds, Rapport Weekliks, 20 Januarie 2019)

Niefiksie:

Langer resensies:

Gisela Ullyatt (1977 – 2020): ’n Huldiging deur Bernard Odendaal

Dat dit steeds weer “onherroeplik winter” word – daaraan herinner Johan Myburg ons in die gedigfrase van hom wat Gisela Ullyatt benut as motto tot haar eie digbundel van Februarie vanjaar.
 
Pynliker nog steek dié waarheid as dit om ʼn alte voortydige afskeid gaan. Gisela was maar in haar vroeë veertigs toe kanker haar onlangs van ons weggeneem het. [D]ie waarheid oor duiwe (Protea) was haar debuut. Almal wat onder die bekoring daarvan gekom het, het uitgesien na hoe haar digterstem nog herhaaldelik gaan opklink in ons Afrikaanse leefwêreld. Ook as dosent, resensent, vertaler en blogskrywer was daar nog soveel vir haar om te doen.
 
Ek het haar leer ken as ʼn nooi Weingartz, in die middel-1990’s, toe sy ʼn voorgraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat was. Sy het deelgeneem aan ʼn informele poësiewerkswinkel wat onder my (onervare) leiding gestaan het. Hoe verskrik-opgewonde ek was om haar ingeskrewe gedigte ter tafel te lê vir groepbespreking, onthou ek nog goed. Die stempel van veelbelowendheid was onmiskenbaar. Haar fyn lees van ander deelnemers se gedigte het ʼn loopbaan as literator voorspel. Wyle George Weideman, wat in daardie tyd ʼn paar maande lank inwonende skrywer by Kovsies was, het geesdriftig met my saamgestem nadat hy die leisels as werkswinkelaanbieder ʼn rukkie by my oorgeneem het.
 
Haar groot oë en glimlag, haar voorliefde vir fleurige kledy, het ewe opgeval as haar talent. My kollega langsaan by die Engelsdepartement, Tony Ullyatt, was die gelukkige wenner van haar attensies. Heerlik was die gesprekke wat ek met hulle kon hê, smiddae en naweke in my vrou se koffiewinkel in een van die buurte nie te ver van die universiteit af nie. Tony, spitsvondige geselser en keurige versemaker, was kennelik uitgeknip om sielsgenoot vir haar te wees.
 
Die verskyning van die waarheid oor duiwe was soos ’n verwesenliking van wat nog altyd sou kom. Die bekendstellingsgesprek daaroor in Stellenbosch op skrikkeldag vanjaar, was in alle opsigte ʼn blye weersiens.
 
Toe word dit winter. En grendeltyd. Gelukkig het sy vir Tony gehad. In “ná ontbyt” skryf sy: “nadat ek my brood gebreek het / dra jy ʼn offer aan / farmaseuties presies / meet jy elke wit pil af / soos die hoëpriester van narkotika”. Vakman-waardig. Enduit.
 
In ʼn resensie het Daniel Hugo die waarheid oor duiwe beskryf as ʼn bundel wat die hart steel. Inderdaad. Die gemis sit hier in die borskas. Nes die “leë vierkant / op die vergeelde gras” nadat die “ogiesdraadkasteel” vol “lemoenduiwe royalty” verwyder is, waarvan haar bundeltitelgedig getuig.
 
Bernard Odendaal
 
Aansoeke ingewag: LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se Kommadagga-slypskool


Ter uitbreiding van LitNet en die Jakes Gerwel Stigting se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig, bied hierdie twee instansies van 12 Oktober tot 1 November 2020 ’n mentorskapprogram vir belowende jong Afrikaanse en Engelse skrywers aan. Die program is gemik op skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou.
 
Die skrywer en dramaturg Rachelle Greeff, wat haar merk in Afrikaans en Engels gemaak het, sal as mentor optree tydens dié skrywersverblyf op Somerset-Oos.
 
Daar is nog net ’n paar dae oor om aansoek te doen. Aansoeke sluit op Maandag 14 September om 12:00. 
 
Volledige inligting oor die program is hier beskikbaar.
 
Die wêreld van die skrywer: Tertius Kapp oor literêre verwerkings

 

In die nuwe artikel in PEN Afrikaans se artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”, besin Tertius Kapp, bekroonde draaiboekskrywer, vervaardiger en dramaturg, oor verwerkings van bestaande tekste vir die silwerdoek. Wat maak ’n verwerking geslaagd? Wat is die slaggate?
 
Lees sy artikel hier.
 

PEN Afrikaans stel aanlyn kursusse bekend
 
PEN International se finansiële ondersteuning maak dit vir ons moontlik om vanjaar ons aanlyn bedrywighede uit te brei en ons het besluit om ’n aantal kursusse aan te bied om hopelik vars en diverse stemme te bereik wat die Afrikaanse letterkunde en boekjoernalistiek kan verryk. 

 
Versprei asseblief die woord oor die kursusse en laat weet spoedig as jy ’n plek wil neem. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsig en glo dat die volgende kursusse goeie aftrek sal kry:
 

  • Skryfkursus: die skryf van jeugverhale
  • Skryfkursus: die skryf van verhale (kortverhale, romans en novelles)
  • Resensiekursus: jeugliteratuur

Sien meer besonderhede onder en kontak ons by penafrikaans@gmail.com met enige vrae.



 Datum en voorlopige agenda: PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering
 
Soos die meeste ander geleenthede vind ons algemene jaarvergadering vanjaar virtueel plaas. Hopelik kan ons volgende jaar mekaar weer in die oë kyk, maar vanjaar sal ons op 21 Oktober om 18:00 via Zoom vergader.
 
Ons sluit hier die voorlopige agenda vir die jaarvergadering in en nooi graag lede om agendapunte teen 30 September na penafrikaans@gmail.com te stuur.
 
Voorgestelde agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2020

  1. Verwelkoming
  2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
  3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
  4. Goedkeuring van notule vir die AJV gehou op 14 September 2019 in Wellington, en sake voortspruitend daaruit. Die notule is hier beskikbaar.
  5. Voorsittersverslag
  6. Tesourier se verslag
  7. Bestuurder se verslag
  8. Algemeen

 
Die finale agenda sal by ons Oktober-nuusbrief ingesluit word. Ons verwelkom julle insette voor dan.
 
Maandelikse resensie-oorsig
 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in September 2020
 
Ons sluit oudergewoonte op ’n positiewe noot af: met die lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.
 
Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alles sukses aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.
 
Heelwat boekgesprekke vind hierdie maand as deel van die Vrystaat Literatuurfees se aanlyn program plaas. Onthou om in te skakel by Vryspraak-digitaal.  Die volledige program is hier beskikbaar.
 
Nog ’n noemenswaardige aanlyn inisiatief is Stemgrepe op Versindaba, waar gepubliseerde digters se voorlesings van hul eie gedigte gelaai word. Digters wat opnames van hul voorlesings wil maak en bydra, kan hier meer inligting kry.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

Hoe voel ons lede? Ons hoor graag van julle – per kerende e-pos, via ons Facebook-blad of op Twitter.

Ons nooi ons opbetaalde lede om teen die einde van elke kalendermaand nuus oor hul nuwe boeke, boekbekendstellings of ander gebeurtenisse met ons te deel sodat ons dit by ons nuusbrief kan insluit.
 

PEN Afrikaans Bestuurder

Catrina Wessels

PEN Afrikaans Bestuur

Voorsitter: Marga Stoffer
Ondervoorsitter: Danie Marais
Tesourier: Naomi Bruwer

Ander bestuurslede:
Bernard Odendaal
Carolyn Meads
Charl-Pierre Naudé
Fiona van Kerwel
Izak de Vries
Jolyn Phillips

Copyright © 2020 PEN Afrikaans, All rights reserved.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top