PEN Afrikaans Nuusbrief: September 2016

  • 0

Beste lid van PEN Afrikaans

Ons algemene jaarvergadering het op 20 Augustus in Pretoria tydens vanjaar se BoekeJol plaasgevind.

Aangesien daar nie 'n kworum by die vergadering van 20 Augustus teenwoordig was nie, het alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans die afgelope week die geleentheid gehad om per virtuele stemming besluite te neem oor die belangrike aangeleenthede wat by die AJV bespreek is. Die virtuele stembus is op 5 September 2016 gesluit

Die nodige agtergrond tot die besluite waaroor gestem is, vind jy op PEN Afrikaans se webportaal – klik hier vir: 
- Die notule van die vergadering
- Kerneels Breytenbach se voorsittersverslag
- Danie Marais se bestuurdersverslag en vooruitskouing
- Marga Stoffer se verslag oor verwikkelinge rondom kopieregwetgewing wat verreikende gevolge vir skrywers en uitgewers kan hê

Resultate van die virtuele stemming vir 'n nuwe ondervoorsitter, betrokkenheid by taalpolitiek, lidmaatskap van die Taalraad, versoening, wysiging van PEN Afrikaans se grondwet, ere- en lewenslange lidmaatskap

  1. Baie geluk aan Marga Stoffer, die uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, wat eenparig as PEN Afrikaans se nuwe ondervoorsitter verkies is.
     
  2. Opbetaalde lede is gevra: "Watter veldtogte, inisiatiewe en/of organisasies wat met die behoud van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal gemoeid is, behoort PEN Afrikaans te ondersteun?" (Daar was drie opsies met die moontlikheid om twee keuses uit te oefen.)

    97% het gesê PEN Afrikaans behoort "enige demokratiese en inklusiewe inisiatief wat op vreedsame wyse poog om grondwetlik verskanste taalregte te handhaaf" te ondersteun.

    45% van die stemmers het verklaar PEN Afrikaans behoort Gelyke Kanse (http://gelykekanse.com/) te ondersteun.

    3% het gesê PEN Afrikaans behoort nie aan taalpolitiek deel te neem nie.

  3. Op die vraag "Met watter organisasies of verbande behoort PEN Afrikaans nie te assosieer nie?" was die reaksie uiteenlopend. Dit blyk egter duidelik dat ons lede PEN Afrikaans beskou as 'n outonome skrywersunie wat geen partypolitieke bande behoort te hê nie. 
     
  4. Die vierde vraag is as volg geformuleer: "Wil jy hê dat PEN Afrikaans lid word van die Afrikaanse Taalraad (ATR)? Lidmaatskap sal PEN Afrikaans 'n amptelike plek aan die tafel van hierdie sambreelorganisasie gee wat daarna streef om mense en organisasies rondom Afrikaans saam te snoer - http://afrikaansetaalraad.co.za/"

    93% het hulle ten gunste van ATR-lidmaatskap uitgespreek, 7% daarteen.

  5. Die vyfde vraag aan lede was: "Wil jy hê die bestuurder van PEN Afrikaans moet as amptelike verteenwoordiger van PEN Afrikaans aan veldtogte om die behoud van Afrikaans as onderrigtaal deelneem of sou jy verkies dat hy/sy sulke veldtogte slegs, indien hy/sy wil, in persoonlike hoedanigheid ondersteun?"

    90% het die vraag met 'n "ja" beantwoord, terwyl 10% "nee" gesê het.
     

  6. Op die vraag "Wil jy hê dat PEN Afrikaans help om ’n groter versoeningsgesprek tussen wit en bruin/swart skrywers te fasiliteer?" het 97% "ja" geantwoord. Slegs 3% het gestem vir: "Nee, ek dink nie 'n groter, amptelike versoeningsgesprek tussen wit en bruin/swart skrywers is nodig nie."
     
  7.  Die veranderinge aan die grondwet wat deur die bestuur van PEN Afrikaans goedgekeur is ten einde aan belastingwetgewing te voldoen, is eenparig deur die virtuele stemming bekragtig. 

    PEN Afrikaans se grondwet is hier beskikbaar - die voorgeskrewe en nou amptelik aanvaarde wysiging is in R 47 vervat. Dit was noodsaaklik om aan SARS se voorskrifte ten opsigte van belastingvrystelling te voldoen.
     

  8. Hartlik geluk aan Naas Steenkamp wat op grond van hierdie virtuele stemming lewenslange lidmaatskap van PEN Afrikaans ontvang.

    Volgens PEN Afrikaans se grondwet kan lewenslange lidmaatskap toegeken word aan iemand wat besondere diens aan PEN Afrikaans gelewer het. Naas Steenkamp ontvang hierdie welverdiende erkenning danksy die sleutelrol wat hy met die stigting van en die internasionale erkenning van PEN Afrikaans gespeel het. Sy bydrae tot die opstel van PEN Afrikaans se grondwet en die skep van die nodige administratiewe struktuur word ook hiermee gehuldig.

  9. Fanie Olivier, ’n lewenslange lid van PEN Afrikaans het Margot Luyt en Karen Meiring vir erelidmaatskap van PEN Afrikaans genomineer vir hul uitsonderlike bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse woordkuns. Die bestuur van PEN Afrikaans het dié twee nominasies deur Fanie Olivier verwelkom en uit die virtuele stemming blyk dat ons lede ook entoesiasties ten gunste van hierdie toekenning aan hierdie twee formidabele vroue is.

    Sowel Margot Luyt as Karen Meiring het intussen die erelidmaatskap met hartlike dank aanvaar. 

Baie geluk en baie dankie, Margot Luyt en Karen Meiring. Mag julle nog lank die geleentheid hê om ons te inspireer en te vermaak met die lugtyd wat julle op radio en televisie aan Afrikaanse skrywers, joernaliste en woordkuns gee. Ons literêre landskap is ondenkbaar sonder jou, Margot, se Vers en klank en ander hoorbeelde op RSG. 'n Mens wil jou ook nie die wêreld voorstel sonder die blootstelling asook skryf- en werkgeleenthede wat jy, Karen, met die kykNET-familie van TV-kanale aan Afrikaanse skrywers en hul werk bied nie. Gesondheid!

'n Groot dankie ook aan ons opbetaalde lede wat hulle stemme uitgebring en kommentaar gelewer het in die ruimte wat daarvoor gelaat is. 


Naas Steenkamp


Margot Luyt


Karen Meiring

Internasionale erkenning vir Frederick J. Botha en PEN Afrikaans

Die 28-jarige Frederick J. Botha het met sy kortverhaal “Please help, God bless” in Augustus die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal. PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers (een manlik en een vroulik) tussen die ouderdom van 18 en 30 inskryf vir hierdie kompetisie.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat ’n kandidaat van PEN Afrikaans die langlys vir hierdie gesogte prys bereik. In 2015 was Carien Smith met haar kortverhaal “Likkewaan” op die langlys gewees.

Frederick Botha is een van die draaiboekskrywers vir kykNET se sepie Getroud met rugby en ’n deeltydse dosent aan UWK se departement Afrikaans en Nederlands. Hy werk tans aan sy doktorsgraad in die Afrikaanse letterkunde onder leiding van Thys Human aan die NWU. Botha het in 2014 Human & Rousseau se Nuwe stories 3-kompetisie gewen met sy kortverhaal “The day Madiba died”.

PEN Afrikaans het Botha se “Please help, God bless”, saam met “SkugterDigter” deur Lynné Schoeman vir New Voices 2016 ingeskryf. Dié twee verhale is as wenners aangewys in ’n kompetisie wat PEN Afrikaans in November 2015 uitgeskryf het. Die inskrywings is deur Danie Marais (bestuurder van PEN Afrikaans), Anzil Kulsen en Izak de Vries gekeur. Sowel Kulsen as De Vries dien op die bestuur van PEN Afrikaans.

Vir deelname aan die New Voices-kompetisie is Botha en Schoeman se kortverhale op PEN Afrikaans se koste in Engels en Spaans deur onderskeidelik Marius Swart en Marta Behar vertaal.

PEN Afrikaans is dus saam met al sy skrywerslede verheug dat Botha se verhaal met sulke strawwe kompetisie hierdie langlys van ses gehaal het:

“Please Help, God Bless” deur Frederick J. Botha (PEN Afrikaans)
“In the Hearts of Green Birds” deur Robin Ganderton (Wales PEN)
“The Rat, and other poems” deur Stefan Kielbasiewicz (English PEN)
“Viertel-Neger” deur Julian Amankwaa (German PEN)
“Manifesto” deur Ioana Vintila (Romanian PEN)
“Dress, Rehearse” deur Laura Legge (PEN Canada)

Die kortlys van drie is op Maandag, 5 September, aangekondig en ongelukkig was Botha nie onder hulle saam met die kandidate van PEN Duitsland, Romenië en Kanada nie. Om die langlys te haal was egter reeds 'n internasionale prestasie waarop ons saam met hierdie belowende jong skrywer baie trots is.

Klik hier vir meer besonderhede oor dié prys en die beoordelaarspaneel op PEN International se webwerf.

'n Aanlynslypskool vir belowende jong skrywers

Die drie keurders van ons inskrywings vir die laasgenoemde PEN International New Voices-kompetisie vanjaar (Danie Marais, Anzil Kulsen en Izak de Vries) was oortuig dat meer as twee verhale met potensiaal ingeskryf is. Aangesien PEN Afrikaans graag ontluikende stemme wil ondersteun, is besluit om ’n aanlynslypskool in samewerking met LitNet op ons webportaal aan te bied vir die mees verdienstelike inskrywings wat ons ontvang het.  Ons keurders het intussen weer koppe bymekaar gesit en besluit om drie ander jong skrywers na hierdie aanlynslypskool te nooi. 

Twee van hierdie skrywers, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, het die uitnodiging entoesiasties aanvaar. 

Sowel Zeeman en Du Plooy se kortverhale sal eersdaags op ons LitNet-webportaal verskyn en lesers sal die geleentheid hê om kommentaar op die verhale te lewer. Ons vra hiermee ons gevestigde skrywerslede om asseblief 'n tydjie af te knyp en opbouende kommentaar op die kortverhale te lewer.

'n Week of twee ná publikasie van die kortverhale sal ’n kort keurverslag met aanbevelings deur Danie Marais en Izak de Vries op LitNet gepubliseer word.

Hierna sal die twee deelnemende skrywers twee weke kry om hulle aanbevelings te verwerk en ’n geredigeerde weergawe vir publikasie op ons LitNet-webportaal terug te stuur.

Danie en Izak sal ook keurverslae met voorstelle oor die tweede weergawe op LitNet publiseer en daarna sal die skrywers geleentheid hê om ’n finale weergawe vir publikasie op ons portaal in te dien.

PEN Afrikaans by die Tuin van Digters-fees, Wellington, 16-18 September

Al ons lede en ander belangstellendes word hartlik uitgenooi na hierdie gesprek op 17 September by die Tuin van Digters-fees wat vanjaar weer in en om die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind:

IS DIE KANON IN SY KANON IN? 

Aangebied deur PEN Afrikaans 

Met: Louise Viljoen, Ronel Foster, Marga Stoffer, Alfred Schaffer; Danie Marais (gespreksleier) 

Wie is dapper genoeg om die volgende Groot Kanoniseerder te wees? Waar is die volgende Groot Verseboek of Poskaarte? En is dit nodig? 

12:00 | 60 min. | Woordtent 

Die fees het 'n interessante program vol verskeidenheid en beloof om net so 'n groot sukses as verlede jaar te wees. 

Klik hier om die volledige program in PDF-formaat af te laai.

Nuwe Afrikaanse boeke in September

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. September se publikasielys kan hier afgelaai word. Enige navrae oor dié publikasies kan gerig word aan penafrikaans@gmail.com. Ons kan belangstellendes dan verder met die relevante uitgewer verbind.

Hartlike gelukwense ook aan al die skrywers op die kortlyste vir die kykNET Rapport Boekpryse. Klik hier vir foto's en meer inligting oor die gekortlyste skrywers en boeke. 

Die wenners word op 24 September in Kaapstad bekend gemaak by 'n prysuitdelingsgeselligheid in Groenpunt. Twee nuwe pryse vir die boekresensente van die jaar sal ook die eerste keer by dié geleentheid toegeken word.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top