PEN Afrikaans: Voorsittersverslag by die Algemene Jaarvergadering 2016

  • 0

Die agenda vir PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering, 20 Augustus 2016, City Lodge Lynnwood, Pretoria

1. Verwelkoming
2. Verskonings en vasstelling van ’n kworum
3. Afspraak oor lede wat volmag het om vir ander te stem
4. Voorsittersverslag
5. Tesourier se verslag
6. Bestuurder se verslag en vooruitskouing vir die volgende jaar
7. Verwikkelinge rondom kopiereghervorming: Watter gevolge kan die Copyright Amendment Bill vir skrywers en uitgewers inhou?
8. Taalregte en moedertaalonderrig: Watter veldtogte en organisasies wil PEN Afrikaans amptelik en aktief ondersteun?
9. Wysiging van PEN Afrikaans se grondwet ten einde ons belastingstatus as PBO (openbare weldaadsorganisasie) te behou 
10. Toekenning van ere- en lewenslange lidmaatskap 
11. Verkiesing van ’n nuwe ondervoorsitter
12. Algemeen

Voorsittersverslag

Goeiemiddag! Dit bly ’n plesier om skrywers en taalgenote te kan verwelkom by ’n algemene jaarvergadering van PEN Afrikaans. Hierdie keer is dit ons vierde byeenkoms van dié aard.

Die sakelys vir vandag is per e-pos aan u gestuur, en so ook die notule van die vorige algemene jaarvergadering, in 2015. Ten aanvang vra ek goedkeuring vir vandag se sakelys, en daarna vir die 2015-notule. 

Weens persoonlike omstandighede moes ek die afgelope jaar ’n minder aktiewe rol in die sake van PEN Afrikaans vervul. Ek wil graag my dank uitspreek aan Bettina Wyngaard, in haar rol as onder-voorsitter, Danie Marais, ons bestuurder, en Naomi Bruwer, ons tesourier. Hulle het gesorg dat ek my nie hoef te bekommer het nie, en PEN-Afrikaans aktief en op koers gehou.

Bettina self het my enkele weke gelede meegedeel dat sy nie kans sien om verder op hierdie vlak betrokke te wees nie, en uitgetree as onder-voorsitter. Dit is ’n veeleisende taak, en ek het begrip vir haar besluit. Alle voorspoed aan haar as skrywer, aktivis en prokureur.

Voor ek oorgaan na die beginselsake, wil ek net PEN Afrikaans se gelukwensinge oordra aan almal wat sedert die begin van die jaar bekroon is vir publikasies wat in 2015 verskyn het. Hulle is:

Willem Anker – Herzogprys vir Buys.
Stephanus Muller – Eugène Maraisprys vir Nagmusiek.
Carel van der Merwe – protea Boekhuisprys vir Donker stroom.
Marita van der Vyver – Scheepersprys vr Jeuglektuur vir Swemlesse vir ’n meermin.
Kobus Geldenhuys – Alba Bouwerprys vir Kinderlektuur vir Hoekom die walvisse gekom het.
Ingrid Winterbach – WA Hofmeyrprys vir Vlakwater.
Gilbert Gibson – Elisabeth Eybersprys vir poësie vir vry-.
Elisabeth Wasserman en Astrid Castle – MER-prys vir Die dingesfabriek 4: Jannus en die Kriek.

Ons het ook vanjaar finaal afskeid geneem van ’n klompie  besonderse mense – die digter, dramaturg, akademikus en aktivis Adam Small, die skrywers Margaret Bakkes, Winnie Rust en Wille Martin. Margaret sal ek onthou om haar flambojante manier van dinge doen eweseer as haar skryfwerk, en Adam vir die stil, minsame manier wat hy deur die lewe gegaan het – en die groot, belangrike sake wat hy aangeroer het. Ek had die voorreg om van die opvoerings van sy toneelwerke te kon resenseer, en kan getuig dat die dinge wat hy destyds met soveel empatie op die verhoog geplaas het, vandag nog by Suid-Afrikaners resoneer. Winnie Rust se dood het ons almal geskok.

Ons het ook verneem dat Zulfah Otto-Sallies, skrywer van Diekie vannie Bo-Kaap (Tafelberg 1997) op 8 Julie oorlede is. Sy was 55 jaar oud.

Verlede jaar het ek die ou Harold MacMillan-spook opgeroep en verwys na die winde van verandering wat sterk teen Afrikaans gewaai het.

In daardie stadium was die munisipale verkiesings elf maande in die toekoms. Nou is die verkiesings verby, en Afrikaanse skrywers is erg voos van alles wat in hierdie elf maande gebeur het: die geweldige omwenteling by Suid-Afrikaanse universiteite, waar Afrikaans in die slag gebly het by al die universiteite wat voorheen Afrikaans van aard en voertaal was.

Daar is hofsake aan die kom, en ongeag die uitkoms daarvan, is die behoud van Afrikaans besig om van sekondêre belang te word op die tersiêre slagveld. Suid-Afrikaanse universiteite vind hulle in ’n staat van beleg deur hul eie studente. Boonop begin dit al hou duideliker word dat die Staat se sakke nie diep genoeg is om toe te kan gee aan die studente se eise sonder om akademiese standaarde ’n knou te gee nie. As die universiteite self moet sorg vir befondsing, staar groot afskaling en sluitings ons in die gesig.

Dit is ’n kritieke tyd wat ons nou tegemoet loop.

Die toets lê vir ’n organisasie soos PEN Afrikaans in die manier waarop hy reageer daarop. Vir ons lê die belang van ons skrywers die naaste aan die hart. Die ure en energie wat iemand spandeer om ’n manuskrip tot stand te bring en dan gepubliseer te kry, kan alleen sinvol wees as daar ’n leserspubliek is.

En een van die voorvereistes van ’n leserspubliek is ’n toereikende onderwysstelsel en universiteite waar die geledinge van die taal bestudeer en verfyn kan word, en nuwe geslagte van bedrewe lesers gekweek word.

Om dié rede sal PEN Afrikaans saamgesels by alle pogings wat daarop gemik is om die teelaarde vir Afrikaans te koester, te behou en uit te bou.

Ons sal vandag graag ons lede se gevoelens daaroor wil peil.

Ons is ook verbonde aan Pen International, en skaar ons graag by standpunte op meer internasionale vlak geneem word oor die skending van skrywers en joernaliste se regte. Op hul beurt steun PEN International graag standpunte wat ons inneem oor skrywersake.

Terwyl ons nou, weens die onverdrote ywer van mnr Hlaudi Motsoeneng by die SAUK, weer in ’n era van skaamtelose sensuur inbeweeg, wonder ’n mens hoe lank dit sal wees voor ons van owerheidskant soortgelyke aksies moet beleef. Ons is bedag daarop, en maak staat op die steun van ons lede om alle vorme van sensuur op publikasies teen te staan.

Daar is eienaardige dog opvallende parallelle tussen die wel en wee van die huidige en vorige regime. Nes die terugslae by die stembus die Nasionale Party op ’n koers van kragdadigheid geplaas het ten einde deur vrees die kiesers se steun te behou, net so kan ons verwag dat die pas afgelope omwenteling by die stembus ons owerheid op ’n soortgelyke desperate koers van oënskynlike kragdadigheid sal plaas.

Sou Afrikaans verder deel van hul teiken bly, durf ons nie swyg of vir lief neem daarmee nie.

Ons aktiwiteite kan egter nie net gefokus bly op die politiek en kwasi-politiek van die dag nie. Ons moet deel bly van pogings om die Afrikaanse skryfkultuur te verbreed en te groei. Daarom is dit vir my ’n baie groot plesier om te kan sê dat ons Trippel 7-projek tot dusver ’n groot sukses was. Bettina Wyngaard en Anzil Kulsen, twee van ons bestuurslede, het in April in die Noord-Kaap sewe dorpe binne sewe dae besoek en skryfskole aangebied vir leerders.

Hulle het ongekende belangstelling en geesdrif vir Afrikaans aangetref – soos byvoorbeeld onder die Tswana-sprekers in Griekwastad. Die Noord-Kaap bly een van die kragtigste bydraers tot die gebruik van Afrikaans. Dit is vir ons die moeite werd om ons energie in daardie rigting te kanaliseer. Baie dankie aan Bettina, Anzil en jul geesdriftige span. Dit is iets waarop ons trots is. Baie dankie ook aan die borge: PEN International en SIDA.

Die 28-jarige Frederick J Botha het met sy kortverhaal “Please Help, God Bless” die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal. PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers (een manlik en een vroulik) tussen die ouderdom van 18 en 30 inskryf vir hierdie kompetisie. 

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat ’n kandidaat van PEN Afrikaans die langlys vir hierdie gesogte prys bereik. In 2015 was Carien Smith met haar kortverhaal “Likkewaan” op die langlys gewees.

Verlede jaar het ek verwys na die noodsaak om die onderrig van Afrikaans op skoolvlak te promoveer. Die situasie het nog meer kritiek geword as wat dit tydens verlede jaar se vergadering was.

Verlede jaar het ek ook verwys na die marginalisering van Afrikaans van owerheidskant. ’n Mens moet onthou dat dit vir die ander amptelike tale in Suid-Afrika, buiten Engels, ook nie anders gesteld is nie. Wat Afrikaans by ons universiteite te beurt geval het, is vir meeste van hulle al lank dieselfde. Dit is dan hoekom PEN Afrikaans ’n voorstander is van ’n beleid van meertaligheid. Nege tale wat floreer is verkieslik bo een wat swak bemeester word.

Ek gaan dit aan Danie Marais, ons bestuurder, oorlaat om in fyner detail op hierdie sake in te gaan.

Ter afsluiting net ’n persoonlike woord van dank aan ons bestuur, wat almal op verskillende maniere bydraes gemaak het. En ek wil, soos verlede jaar, die hoop uitspreek dat PEN Afrikaans sal voortgaan om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig – en dat ons in die toekoms heelwat meer jongelinge op die bestuur sal sien.

Kerneels Breytenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top