PEN Afrikaans-nuusbrief: November 2019

  • 0

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Nuwe leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US
 
Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo, ’n egpaar met noue bande met die Universiteit Stellenbosch (US), het aangekondig dat hulle vanaf 2020 die Ton en Anet Vosloo-Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US vir ’n tydperk van vyf jaar borg.
 
Benewens die Leerstoel, word daar fondse beskikbaar gemaak vir beurse vir verdienstelike studente wat Afrikaans op nagraadse vlak aan die US studeer.
 
Volgens die Vosloo-egpaar is die Leerstoel gemik op die verdere uitbou van Afrikaans as belangrike instrument in diens van die Suid-Afrikaanse gemeenskap as ’n geheel.
 
Die volledige persverklaring is hier beskikbaar.
 
SALA vereer topskrywers

Die Suid-Afrikaanse Letterkundepryse (SALA) is op Donderdag 7 November tydens ’n prysfunksie by die Ditsong Nasionale Museum van Kultuurgeskiedenis in Pretoria oorhandig. Hierdie pryse vier jaarliks die beste van die Suid-Afrikaanse literêre landskap en word deur the wRite Associates in samewerking met die Departement van Kuns en Kultuur toegeken.
 
Afrikaanse skrywers wat toekennings ontvang het, is:

  • Charl-Pierre Naudé het die romanprys gewen vir sy debuutroman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey;
  • Nathan Trantraal is as mede-ontvanger van die poësieprys aangewys vir sy bundel Alles het niet kom wôd;
  • Chase Rhys het die Sello Duiker-huldigingsprys vir sy novelle Kinnes ontvang;
  • Louise Smit, skepper van ikoniese karakters soos Bennie Boekwurm en Haas Das, is vir haar lewenswerk vereer.

Die vertaalprys is aan Michiel Heyns toegeken vir Red Dog, sy vertaling van Buys deur Willem Anker. 

Baie geluk aan al die wenners. ’n Volledige lys is hier beskikbaar.

Plaaslike kinderboekskrywers vir groot internasionale prys benoem

Twee Suid-Afrikaanse kinderboekskrywers is vir die grootste internasionale kinderboekprys benoem. Jaco Jacobs en Niki Daly is op die kortlys vir die gesogte Hans Christian Andersen-prys wat deur die International Board on Books for Young People (IBBY) toegeken word. Die keuringskriteria sluit die estetiese en literêre eienskappe van die skryfwerk en illustrasies in, sowel as die vermoë om vanuit die kind se oogpunt te kyk en jong lesers se nuuskierigheid en verbeelding uit te brei.

Hartlik geluk met dié groot eer en die internasionale blootstelling wat daarmee saamgaan.

Verwikkelinge oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg
 
Daar was onlangs bemoedigende verwikkelinge rondom die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. President Cyril Ramaphosa se regspan het volgens nuusberigte aan die Departement van Handel en Nywerheid en die Departement van Kuns en Kultuur geskryf met vrae oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp en die konsultasieproses wat daarmee gevolg is.
 
Die wetsontwerp is steeds by die president en dus nog nie amptelik na die parlement terugverwys vir heroorweging nie, maar tekens is daar dat dit in dié rigting neig. Minister Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het byvoorbeeld onlangs gemaan teen die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp en laat blyk dat ’n herbesinning nodig is.
 
’n Bydraende faktor is sekerlik die aankondiging dat die VSA, as 'n direkte gevolg van die verswakte beskerming van intellektuele eiendom wat die wetsontwerp aan die hand doen, Suid-Afrika se voorkeurhandelstatus sal hersien. Die belastingvrye invoer van sekere Suid-Afrikaanse produkte na Amerika kan in die proses opgeskort word, wat 'n gevoelige ekonomiese knou sal toedien.
 
'n Persverklaring van die Koalisie vir Doeltreffende Outeursreg is hier beskikbaar.

Lees gerus ook André Myburgh se artikel in Mail & Guardian van 1 November en Monica Seeber van ANFASA se brief in reaksie daarop.  
 
PEN Afrikaans Vertaalfonds: aansoeke ingewag

Die volgende sperdatum vir aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds is 15 November. Te danke aan die ruim steun van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, befonds die PEN Afrikaans Vertaalfonds die koste verbonde daaraan om 'n Afrikaanse boek te vertaal met die oog op buitelandse publikasie.

Ons sien uit daarna om aansoeke van buitelandse uitgewers te oorweeg.
 
Volledige inligting oor die Vertaalfonds is hier beskikbaar.
 
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2019 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in November 2019
 
Hier is oudergewoonte die lys van nuwe Afrikaanse publikasies wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het.
 
Die publikasielyste vir November kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte, baie dankie aan LitNet vir die geleentheid om ’n paar vrae oor PEN Afrikaans te kon beantwoord. Die onderhoud is hier beskikbaar.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top