Persverklaring: Vosloo-egpaar belê in US-leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk

  • 5

By die bekendstellingsgeleentheid is prof Ilse Feinauer, bekleër van die Leerstoel, Ton Vosloo, Anet Pienaar-Vosloo en prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), saam met nagraadse studente wat as deel van die Leerstoel beurse sal ontvang.  (Fotograaf: Henk Oets)

Ton Vosloo en Anet Pienaar-Vosloo, ’n egpaar met noue bande met die Universiteit Stellenbosch (US), het aangekondig dat hulle vanaf 2020 die Ton en Anet Vosloo-Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US vir ’n tydperk van vyf jaar borg.

Benewens die Leerstoel, word daar fondse beskikbaar gemaak vir beurse vir verdienstelike studente wat Afrikaans op nagraadse vlak aan die US studeer.

Volgens die Vosloo-egpaar is die Leerstoel gemik op die verdere uitbou van Afrikaans as belangrike instrument in diens van die Suid-Afrikaanse gemeenskap as ’n geheel.

Vosloo was tot 2015 vir 59 jaar in die bedryf as joernalis, redakteur, uitvoerende hoof en voorsitter van Naspers, en die afgelope drie jaar professor in joernalistiek aan die US. Pienaar-Vosloo, ook ’n oud-joernalis, is besig met die derde televisiereeks Mooi vir die VIA TV-kanaal. Sy is ’n Matie wat in die kunste gestudeer het en welbekend is vir haar rol as medestigter en direkteur van onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, Aardklop en verskeie ander feeste landwyd. Sy is ook die eerste vroulike voorsitter van die Baxter-teater in Kaapstad.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, sê die skenking help nie alleen met die handhawing van Afrikaans as onderrigmedium nie, maar ook met die bevordering van Afrikaans as wetenskap- en beroepstaal binne ’n meertalige gemeenskap. “Sover ons weet is dit die eerste en enigste geborgde Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk by enige universiteit,” voeg hy by.

Prof Ilse Feinauer van die Departement Afrikaans en Nederlands in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, is as bekleër van hierdie Leerstoel aangewys. Sy gee sedert 1982 aan die Departement Afrikaans en Nederlands klas en is vanaf 1996 betrokke by die nagraadse program in vertaling wat onder haar leiding van ’n nagraadse diploma in vertaling tot ’n PhD in vertaling uitgebou is. Sy was van 2005 tot 2008 die voorsitter van die Departement en van 2015 tot einde 2018 die Visedekaan: Navorsing van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. In 2013 word Feinauer die eerste vrou wat by die US tot hoogleraar in die Afrikaanse taalkunde bevorder word, en in 2014 ken die Taiyuan Universiteit van Tegnologie in Taiyuan, Shanxi (China), ’n ereprofessoraat in hul Fakulteit Internasionale Taal en Kultuur aan haar toe.

“Dit is vir my ’n ongelooflike eer en voorreg om hierdie Leerstoel in die Afrikaanse Taalpraktyk te kan beklee. Ek gee alle krediet aan prof Wim de Villiers wat die aanvoorwerk gedoen het om hierdie Leerstoel binne die Departement Afrikaans en Nederlands ’n realiteit te maak.”

Volgens prof Feinauer is daar reeds beurse aan vier honneursstudente, drie magisterstudente, twee PhD-studente en een nadoktorale genootskap in Afrikaans en Nederlands vir 2020 toegeken. “Hierdie Leerstoel skep vir die Departement die geleentheid om by uitstek nagraadse studente te bemagtig om in en oor Afrikaans navorsing te kan doen, ten einde ná afloop van hulle studie in en met Afrikaans ’n professionele loopbaan te kan volg,” voeg sy by.

Toe Ton Vosloo gevra is waarom hy en sy vrou na vore tree met die ondersteuning van Afrikaans, antwoord hy: “In my memoires Oor grense: ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering, wat verlede jaar gepubliseer is, het ek ’n hoofstuk geskryf, getiteld ‘Afrikaans in ’n kreeftegang’. Daarin het ek die punt gemaak dat ek hoop begenadigde individue tree na vore vir wie dit om Afrikaans van A tot Z gaan.

“Anet en ek het die genade dat ons kan help. Afrikaans is soos Jan Rabie geskryf het, ons suurstof. Dis nou die tyd om in te tree om hierdie ongelooflike kennisbron ter wille van ons nasie se toekoms verder uit te bou.”

Die Vosloos is reeds ’n geruime tyd gewaardeerde US-skenkers.

  • 5

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit sou aanbevelingswaardig wees as die bekleer van hierdie leerstoel hom/haar openlik vir suiwer(der), dus nie-anglisistiese, Afrikaans beywer en ook die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch daadwerklik bestry.

  • Hau, is dit dieselfde Wim de Villiers van US taalbeleid verengelsing/ Cameron faam? Ek is konfuused

  • O, ek is so jaloers. Dis nou die soort nalatenskap waaraan ek graag my naam gekoppel sou wou hê.

  • Hendrik Muller

    As ouer van een van hierdie studente het my liefde vir Afrikaans oorgespoel na my dogter. Selfs net om my dogters aan te moedig om self op 'n whatsapp boodskap korrekte spelling aan te leer, werp vandag vrugte af, en die saadjie te kweek om te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top