PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Miemie du Plessis

  • 0

Foto van Miemie du Plessis: verskaf en verskyn met toestemming

PEN Afrikaans het onlangs hul lede en ander belangstellendes na aanlyn byeenkomste genooi waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel.

Miemie du Plessis, kinderboekuitgewer by Pan Macmillan-uitgewers, was een van die aanbieders en sy beantwoord Naomi Meyer se vrae oor waarna sy as uitgewer op soek is wanneer sy kinderboeke publiseer.

Hallo, Miemie. Hoekom gee jy kinderboeke uit?

Dit is nie iets waarop ek ’n klinkklare antwoord het nie. Dit is iets wat toevallig oor my pad gekom het. Ek het in die ’70’s en ’80’s grootgeword. Niemand het vir ons vertel daar is ’n beroep soos ’n uitgewer nie. Ek het as kind verskriklik baie gelees en die enigste beroep wat met boeke te make gehad het waarvan ek geweet het, was ’n bibliotekaris. Dit het vir my baie vervelig geklink. Ek het eerder maatskaplike werk gestudeer en toe ek daarmee klaar is, was ek nog nie lus om my studentedae vaarwel toe te roep nie. Dit is juis toe dat die universiteitsbiblioteek aangekondig het dat hulle studente nodig het om ’n aantal ure per week daar te werk en dat daardie studente dan gratis biblioteek- en inligtingkunde kan studeer. Ek het uiteindelik ‘n meestersgraad in biblioteek- en inligtingkunde behaal met ‘n skripsie oor Suid-Afrikaanse jeugliteratuur, ten spyte van my aanvanklike teenkanting jeens die beroep!

Ek het ’n beurs by die Gautengse Provinsiale Biblioteekdiens gehad en moes dus daar gaan werk. Ek het die wonderlikste eksentrieke kollegas daar gehad – ‘n dekade waaraan ek werklik net met goeie herinneringe terugdink. By die Biblioteekdiens het ek betrokke geraak by die keuring en aankoop van kinder- en jeugboeke vir die openbare biblioteke van Gauteng. En van daar af is ek deur LAPA Uitgewers genader om ’n kinderboekuitgewer te word. Ek was vir 18 jaar by LAPA werksaam en die afgelope sewe jaar is ek die kinderboekuitgewer by Pan Macmillan Suid-Afrika, waar ek veral fokus op die ontwikkeling van nuwe, jong stemme. Ek het al meer as 1 500 kinder- en jeugboeke uitgegee, natuurlik nie net plaaslike boeke nie, ook Afrikaanse vertalings van bababoeke en kinder- en jeugboeke wat in ander lande gepubliseer is.

Hoekom doen ek dit steeds? Want dit is die perfekte beroep vir my. Vandag weet ek dit is presies waar ek moes wees. Dit is presies waar ek hoort.

Dit is hoe ek veronderstel was om ’n verskil te maak in die lewens van kinders – dat hulle hulself en ander kan herken in die boeke wat hulle lees. Kinderboeke is beide vensters en spieëls. Spieëls waarin jy jouself sien en vensters waardeur jy die ander kan sien, ander ervaringe as jou eie kan beleef.

........
Ek glo werklik dat boeke ’n verskil maak in die lewe van ’n kind.
........

Ek glo werklik dat boeke ’n verskil maak in die lewe van ’n kind.

En dan natuurlik sommer ook net oor die plesier wat boeke aan kinders verskaf. Ek het van meet af aan besluit dat ek LEKKER boeke gaan uitgee, die soort wat kinders gaan laat vra vir meer. En daarin het ek (met behulp van die harde werk van al die wonderlike skrywers, illustreerders, medewerkers, kollegas en jong lesers wat my pad gekruis het) geslaag.

Wat dink jy is anders en wat is eenders daaraan om boeke vir kinders/tieners en vir volwassenes uit te gee? En hoe weet jy, as grootmens, wat werk vir kinders of vir tieners?

Ek weet nie wat die verskil tussen die twee is nie, want ek het nog nooit boeke vir volwassenes uitgegee nie en ek wil ook nie. So, ek het geen benul nie.

Hoe weet ek as grootmens wat werk vir kinders of tieners? Dis nie regtig ek wat weet nie, nè? Dis die skrywer wat weet. Ek kan bloot die skrywer herken wat weet.

Ek sê altyd: “Die beste kinderboekskrywers is diegene wat die beste kan onthou hoe dit voel om ’n kind te wees, ongeag hoe oud hulle nou is.” Jy kan nou 60 wees, maar as jy helder kan onthou presies hoe dit voel om 10 jaar oud te wees en jy kan skryf, dan behoort jy ’n suksesvolle kinderboek te kan skryf.

Ek self het natuurlik ’n wonderlike agtergrond gehad om te kan onderskei tussen ’n kinderboek wat werk en een wat nie werk nie, want ek het honderde, indien nie duisende nie, kinder- en jeugboeke gelees in my werk as bibliotekaris.

En toe ek uitgewer word, het ek natuurlik aangehou om dit te doen. Maar ek het ook vir meer as die eerste dekade van my loopbaan van kinderkeurders gebruik gemaak. Beide ywerige lesers en kinders wat niks van lees hou nie. Hulle het vir my verslae geskryf en ’n groot deel van wat ek vandag weet van wat werk in kinderboeke en wat nie, het ek by kinders self geleer. Hulle het baie interessante perspektiewe gebied. Ek het baie gelag en baie geleer.

So, die antwoord is basies dat ek ongelooflik wyd gelees het en steeds in hierdie genre lees. Uiteraard nie net Suid-Afrikaanse boeke nie. Ek is ’n groot bewonderaar van Amerikaanse kinder- en jeugboeke. Ek vind baie aanklank daarby.

Deur wyd te lees en baie te lees, sien mens natuurlik wat die eienskappe van ’n goeie kinder- en jeugboek is. Jy het iets om die manuskripte wat jy ontvang aan te meet. Voeg daarby al die baie terugvoer wat ek ontvang het van kinder- en tienerkeurders, volwasse kinderboekkeurders en jong lesers en hul ouers en onderwysers, en die afleidings wat ek daaruit kon maak oor wat vir hulle werk en wat nie, en jy kry ‘n taamlik duidelike prentjie van hoe ‘n suksesvolle kinderboek daar uitsien. Dan was daar natuurlik ook navorsing waarop ek kon steun. Veral die navorsing van Maritha Snyman het my baie beïnvloed.

Watter soort voorleggings is vir jou ideale voorleggings – watter boeke vir kinders of tieners sou jy wou uitgee?

Ek gaan net volstaan met: Ek sal enige boek vir kinders en tieners uitgee wat goed geskryf is, waar die skrywer sy of haar huiswerk behoorlik gedoen het en wat in die Suid-Afrikaanse mark sal verkoop.

Daar’s niks wat ek uitsluit nie, alhoewel daar genres is wat moeiliker as ander verkoop, veral wetenskapfiksie en fantasie – as jy dus in daardie genres skryf, moet jy ekstra hard werk om sukses te behaal.

En wat is die huiswerk? Ken jou teikengroep; ken jou genre; ken die mark.

Bepaal ten eerste die teikengroep, en bestudeer dan die leesvoorkeure en -behoeftes van daardie teikengroep. Onthou asseblief dat ‘n teikengroep nie so wyd as byvoorbeeld “6–12-jariges” kan wees nie, want daar is ‘n reuse verskil tussen die leefwêreld en leesvermoë van ‘n 6-jarige en dié van ‘n 12-jarige. Baken jou teikengroep baie presies af.

........
Gaan lees dan soveel kinder- of jeugboeke as wat jy kan wat vir daardie teikengroep geskryf is, veral dié wat in die laaste ongeveer twee dekades uitgegee is. Ek praat nie van 10 boeke nie; ek praat van 100, 200.
.........

Gaan lees dan soveel kinder- of jeugboeke as wat jy kan wat vir daardie teikengroep geskryf is, veral dié wat in die laaste ongeveer twee dekades uitgegee is. Ek praat nie van 10 boeke nie; ek praat van 100, 200.

Probeer soveel as moontlik uitvind oor die kinder- en jeugboekmark. Wat verkoop tans vir watter ouderdomsgroepe en waarom? En hoe verskil wat in ander dele van die wêreld verkoop van wat in Suid-Afrika verkoop? Dis baie belangrik dat skrywers boeke skryf met verkoopspotensiaal – boeke waarvan minstens ‘n paar duisend kopieë kan verkoop. Dit moet dus deur heelwat meer mense gekoop word as net jou vriende en familie. Dit klink voor die hand liggend, maar mense dink nie altyd so daaraan nie.

As jy bereid is om dit alles te doen, en jy kan goed skryf, en jou werk sal boweal aan jong lesers plesier verskaf, dan gee ek graag jou boek uit.

Wat was die kinderboeke waarmee jy grootgeword het? Kan jy jou eerste boek onthou, of dalk die boek waaruit jy leer lees het? 

Ons het altyd aan ‘n biblioteek behoort, en my ma, wat uiteindelik 46 jaar lank ‘n Afrikaansonderwyser was, het ook vir my baie boeke gekoop. Ek onthou dat ek prenteboeke gehad het as kleuter, maar ek kan nie die titels daarvan onthou nie. Die boeke wat ek kan onthou toe ek selfstandig begin lees het, en waaruit ek groot plesier geput het, is meestal reeksboeke: Saartjie, Trompie, Groen Heuwels, die Tessa-reeks en die Soekie-reeks. Ek het ’n besondere obsessie met Maasdorp gehad. Ek en my sussie het dit gespeel ook: Met poppe, met knope, met enige voorwerpe wat ons in die hande kon kry, het ons die karakters uit die Maasdorp-boeke allerhande avonture laat beleef.

Ek het toe ook al gehou van boeke met sterk emosionele inhoud.

Rona Rupert se 14 is anders; Brandkloof se kinders; Cato van Brandkloof; Die tweede verslag van ’n buitengewone ontmoeting.

CS Badenhorst se Kruppelpootjies; Nonna se geheim; Beeldjie nommer vier.

Elsabe Steenberg se Tafelberg te koop; ’n Klokkie vir Kersfees; Blou is ’n bokkie; Klawervyf; Boom, bomer, boomste.

As jong volwassene was my gunsteling- Afrikaanse skrywer Fransi Phillips. Ek het al haar boeke besit en weer en weer gelees. Ek was ook lief vir Barrie Hough se werk.

Sou jy vir KI vra om ’n illustrasie vir ’n kinderboek te maak? Hoekom, of hoekom nie?

Nee, ek gebruik nie KI in enige aspek van die kinderboeke wat ek uitgee nie. Definitief nie. Ons het streng riglyne as maatskappy vir die wyse waarop ons KI mag gebruik, en ook vir ons skrywers en illustreerders in die skep van hulle werk.

Lees ook:

PEN Afrikaans-gesprekke – waarna uitgewers op soek is: ’n onderhoud met Shawna-Leze Meiring

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top