Oscars: En die kortlys vir beste buitelandse rolprent is ...

  • 0

Ivoorkus en Tunisië het die beste kans om die Afrika-vasteland by die 93ste Oscar-toekennings (Academy Awards) in die kategorie vir beste internasionale rolprente te verteenwoordig. Die Academy het die kortlys van die 15 rolprente wat in aanmerking kan kom vir ’n nominasie, onlangs bekend gemaak. Dié betrokke lys lande sluit onder meer Guatemala en Chili uit Suid-Amerika en Roemenië sowel as Bosnië-Herzegovina uit Oos-Europa in.

Toorbos is ’n begin, maar meer internasionale bemarking is nodig

Suid-Afrika het laas ’n Afrikaanse inskrywing vir die Oscars gehad toe Noem my Skollie (2016) benoem was as ons inskrywing in dieselfde kategorie. Die Nasionale Film- en Videostigting, oftewel die NFVF, is die regering se uitvoerende hand as dit daarby kom om te bepaal watter rolprent Suid-Afrika se jaarlikse inskrywing vir die Oscars se kategorie vir beste internasionale rolprent gaan wees. Die NFVF het ’n beoordelingskomitee saamgestel om te bepaal watter Suid-Afrikaanse fliek ons inskrywing vir 2020 sou wees. Dié komitee het toe Toorbos gekies. René van Rooyen (regisseur) noem dat die produksietydperk van Toorbos oor agt jaar strek. Dit was vir haar ’n liefdestaak. Sy is een van drie vrouens wat Suid-Afrika op die Oscar-langlys verteenwoordig. Toorbos handel oor relevante temas aangaande die plek van ’n vrou in die samelewing, ons verhouding met die natuur en die beskerming daarvan. Temas wat beslis aanklank sou kon vind by lede van die Academy .

In ’n mediaverklaring noem die vervaardiger, Dries Scholtz, die Oscars die kulturele ekwivalent van enige Wêreldbekerrugbytoernooi.

Om sukses te behaal by die Oscars verg ’n reusagtige mediaveldtog wat miljoene kan kos. Die rede? Die Academy se reëls behels dat Oscar-paneellede slegs 10 uit die 90 rolprente op die jaarlikse langlys hoef te kyk. As ’n vervaardiger dus wil hê dat die 9 921+ lede van die Academy ’n ogie in die rigting van hul film moet gooi, moet hulle daarvoor opdok. ’n Internasionale bemarkingsmaatskappy moet aangestel word om die bogenoemde lede te bereik deur spesiale geskenkpakkies wat sjampanje, duur geskenke en natuurlik ’n Blu-ray-skyf met die film op insluit. Inderdaad moet daar baie agter die skerms getoor word om jou film op die kortlys te kry vir die glansryke Oscar-aand.

Op die Oscars-kortlys vir beste internasionale rolprent word Ivoorkus verteenwoordig deur Philippe Lacôte se La Nuit des rois/ Night of the Kings (2020). Die tydskrif Variety se voorspelling plaas dié fliek op nommer vyf op die lys van voorspelde benoemings, met Switserland, Frankryk, Mexiko en Denemarke voor. Denemarke is volgens Variety die voorloper met Druk / Another round (2020). Die gevolgtrekking kan gemaak word dat Suid-Afrika net nie genoeg internasionale publisiteit verwerf het om Variety en ander nuusagentskappe se aandag te trek nie. Dit beteken dat die 9 000+ lede van die Academy hoogs moontlik ook nie van Toorbos gehoor het nie. Wat hulle betref kan dit net sowel ’n nuwe vorm van tee wees – Rooibos se boetie of sussie.

Die Deense Filminstituut het genoem dat Denemarke se regering wel ’n finansiële bydrae maak ten opsigte van bemarking aan die Academy se lede vir hul inskrywing Druk / Another round. Daarom laat dit mens wonder of Suid-Afrika se NFVF nie ’n soortgelyke rol moet speel nie.

Op navraag aan Nomazulu Mda, die NFVF se bedryfshoof, het sy dit gestel dat die regering en die NFVF glad nie tans oor ’n fonds beskik om sulke internasionale bemarkingsveldtogte te ondersteun nie. Daar is ook geen plan om so ’n fonds te stig nie. Hulle ondersteun wel rolprente finansieel as hulle na oorsese rolprente wil reis. In só ’n geval kan ’n rolprentmaker aansoek doen vir ’n reistoelaag. Maar is dit genoeg?

Die Suid-Afrikaanse filmbedryf bring jaarliks ongeveer R12 miljard vir die Suid-Afrikaanse ekonomie in. Die regering baat hierby omdat belasting vir die fiskus meestal hierop gehef word. Om dus in die bemarking van Suid-Afrikaanse filmvakmanskap te belê maak sin. Suid-Afrika word oor die algemeen gesien as ’n land waar films goedkoop vervaardig kan word, maar ander lande begin nou ook op hierdie gebied meeding. Daarom raak dit al hoe belangriker om Suid-Afrika se rolprente en filmbedryf oorsee te bemark. Sodoende kan ons internasionale vervaardigers lok en meer werk skep.

Lees ook:

Toorbos: ’n onderhoud oor die film

Regisseur gesels oor Toorbos by Toyota US Woordfees 2020

Filmresensie: Toorbos

Persverklaring: Vervaardigers van Toorbos vra ondersteuning vir inskrywing by 2021 se Oscar-toekennings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top