Filmresensie: Toorbos

  • 1
  • Hierdie kykersindruk is deur eie beweging van die skrywer aan LitNet gestuur.

Die regisseur en draaiboekskrywer René van Rooyen het, met die ondersteuning van haar man, agt jaar lank aan die draaiboekontwikkeling gewerk. ’n Ongelooflike hoeveelheid navorsing en voorbereiding is in die draaiboek ingesit en dit is beslis iets wat die film vir my spesiaal gemaak het.

Elani Dekker se vertolking is oor die algemeen een van die beste punte in hierdie film. Haar subtiele, byna understated emosie en gesigsuitdrukkings wys nét genoeg van wat binne-in die karakter aangaan. Dit het baie goed gewerk en Karoliena diep in my hart laat inkruip. Van die ander akteurs, soos Lida Botha, het ook vir my uitgestaan. Van die ander vertolkings sou beslis ook beter kon wees, alhoewel dit duidelik is dat daar tyd en sorg bestee is aan die vertolkingsregie.

Die hoofkarakter, Karoliena Kapp, gespeel deur Elani Dekker, praat ’n baie outentieke bosdialek, eie aan die tyd en omgewing waarin die verhaal afspeel. Die dialek is omvattend nagevors en Elani het vier maande daaraan geoefen. Die enigste plek waar misgetas word, is waar die manlike hoofkarakter, Johannes, sê: “Daar is genoeg ander dinge om op te fokus.” Ek glo nie dit is ’n sin wat iemand in daardie tyd sou gesê het nie.

Die stelontwerp is goed en mens kry ’n baie goeie idee hoe dit voel om in ’n hout-boshuis in te loop, of deur die bos te stap. Wind word uitstekend aangewend om atmosfeer en betekenis te skep. Die herskepping van George in die 1940’s het in McGregor plaasgevind en is redelik geslaagd, hoewel mens nooit eintlik ’n idee kry van die dorp se plek aan die rand van die bos nie. Die ou voertuie en kostuums bring ook hulle kant om die tydperk pragtig en realisties te herskep. Ek het baie gehou van die idee van die kaal wit mure in die dorpshuise, in teenstelling met die teksture van die bos.

Ek het egter gemengde gevoelens oor die kinematografie. Die bos lyk soms te lig, of te donker, of net nie groen genoeg nie. Wat ek ook gemis het, is meer lang skote, of dalk selfs hommelskote, wat die grootte, omvang en skoonheid van die bos wys. Dis asof kleure “uitgewas” voel met tye. Ek het nooit gevoel die bos is so mooi dat dit my asem wegslaan nie. Dat mens deel voel van die bos, is te danke aan die stelontwerp, nie die kamerawerk nie.

’n Ander ding wat gepla het, was die klank. Ek weet dat daar groot sorg in die klankbaan in is en dat die musiek baie goed deurdag was. Ek het die film by die Woordfees in Stellenbosch gesien, in die Neelsie. Soos ek verstaan, is die klankbaan vir ’n ander tipe teater (soos Ster-Kinekor s’n) geskep en die Neelsie se klanksisteem is nie dieselfde nie. Ek verstaan dat ’n tweede klankbaan baie duur sou wees, maar dit was vir my uiters steurend. Ek kon met tye glad nie die dialoog hoor nie, en soms was die musiek net te veel, en te oorweldigend.

Die film is ook vir my stadig en met tye uitgerek. Omdat ek ’n bosboekaanhanger is, was dit nie vir my noodwendig ’n groot probleem nie, maar iemand anders in die teater het wel gesê dat sy soms verveeld was.

Dis ’n film wat die moeite werd is om te sien, juis oor die harde werk en denke wat daar ingegaan het, wat duidelik blyk.

Lees ook:

Persverklaring: Vervaardigers van Toorbos vra ondersteuning vir inskrywing by 2021 se Oscar-toekennings

Regisseur gesels oor Toorbos by Toyota US Woordfees 2020

Toorbos: ’n onderhoud oor die film

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top