Regisseur gesels oor Toorbos by Toyota US Woordfees 2020

  • 0

Die plaaslike rolprent Toorbos is vanjaar by die Toyota US Woordfees te sien en vertel die verhaal van ’n jong “bosvrou” se ontworteling in die tyd van die laaste bosbewoners van die Knysna-woude in die 1930’s.

Die rolprent is gebaseer op die ikoniese gelyknamige boek van Dalene Matthee. Regisseur en draaiboekskrywer Rene van Rooyen omskep die verhaal tot ’n rolprent, met name soos Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams, Gretchen Ramsden, Dirk Vermeulen en Paul Eilers in die rolverdeling.

Rene vertel meer.

Vir diegene wie nie weet nie, vertel asseblief waaroor Toorbos handel.

Toorbos vertel van ’n jong bosvrou van die 1930’s wie se intieme verbintenis met die boomhart van die bos ’n hindernis word in haar verhouding met ’n aantreklike dorpsman, Johannes Stander, wat sy liefkry. Betower deur hom en die vooruitsigte van sy lewe, stem sy in om na Knysna toe te gaan, waar sy opgelei word om ’n gerespekteerde dame te word en met hom te trou. Maar die dorp en die bos is in skrille kontras met mekaar. Die bos is magies, mities en spiritueel. Die dorp draai rondom ’n selfsugtige soeke na geld. Wanneer Karoliena besef dat sy haar kosbare vryheid vir ’n hok verruil het, moet sy hard veg om te haar plek in die wêreld weer te vind.

Waarom het julle besluit om ’n rolprentweergawe van die boek Toorbos te skep? Wat was die inspirasie?

Ek was ontroer deer Dalene se eerlike vertelling van ’n jong meisie wat geskeur is tussen haar eie ideale en haar liefde vir haar man. Die boek gee ook ruimte vir ’n atmosferiese agtergrond met pragtige bostonele wat ek gevoel het op ’n magiese manier ontgin kan word – veral vir die grootskerm.

Hoeveel verskil die rolprent van Dalene se boek, of het julle getrou aan die verhaal probeer bly?

Die hoofstorie se draaipunte en temas is steeds dieselfde. Johannes en Karoliena se verhouding is wel sterker in die film. My uitgangspunt was om die parallel te trek tussen Karoliena en haar verhouding met Johannes en hoe dit afspeel met die verhouding tussen die mens en natuur.

Hoe het jy die proses benader om die boek tot draaiboek te omskep?

Ek beantwoord hierdie vraag dalk meer deur oor die temas te praat.

Wat my eerste opgeval het van die boek, was Dalene se sensitiewe en diep-ondersoekte verkenning van die vroulike protagonis se psige. Jy bewonder haar vir haar vasberadenheid in haar soeke na persoonlike vryheid soos dit afspeel teenoor die konflik tussen haar aardse boswêreld en die mens se behoefte vir vooruitgang.

Die verhaal weerspieël die wêreld waarin ons vandag leef: Aan die een kant is die toenemende druk vir ekonomiese vooruitgang, mag en beheer, en aan die ander kant die impak wat dit het op ons konneksie met die natuur. Hierdeur word Karoliena se karakter ontwortel en getoets.

Hierdie temas word verder ontgin deer die groter wêreld om haar: die boswerkers en hul gesinne wat hul onafhanklikheid probeer behou teenoor die mag van geld en modernisering, die inheemse bome wat bedreig word deur die plant van denneboomplantasies, terwyl Karoliena verblind word deur die vooruitsigte wat die ryk dorpsman Johannes Stander vir haar bied.

Hoe is daar op die akteurs besluit?

Die grootste uitdaging was om die regte akteurs vir Karoliena en Johannes te vind. Ons het verskeie oudisies gedoen, toe begin kortlyste maak en die akteurs teenoor mekaar laat speel. Van die eerste oomblik toe Elani Dekker en Stiaan Smith saam op kamera was, het hulle die karakters reg raakgevat. Hulle het ook saam ’n wonderlike energie aan die verhouding gegee. Ons het na die oudisie tapes gekyk en was daar al weggevoer in die verhouding.

Hestertjie het ek tydens die Woordfees-produksie van Dans van die Watermeid gesien en vir my man gesê: “Ek wil graag nog met haar werk!” Ira Blanckenberg het ’n fenomenale oudisie vir Meliena gedoen. Ivan Arbahams is soos Bothatjie, iemand met ’n groot liefde en deernis vir die wêreld om hom.

Wat was die uitdagings verbonde aan die verfilmingsproses?

Daar was baie! Middelwinter in die bos was nat, koud en mistig, wat die film ’n wonderlike magiese atmosfeer gee. Ons was in die vroeë oggendure die bos in en het diep die bos ingeloop met kameras om die lokaliteite te vind. Waldemar Coetsee, die produksieontwerper, het volledige dorpies en huise in die bos gebou. Ou vintage karre moes ingesleep word. Donkies en ook ekstras moes gevind word wat soos die ou boswerkers lyk. Die akteurs het vir drie maande geoefen aan die 1930’s-boswerkers se dialoog.

Wat was die hoogtepunte van die verfilmingsproses?

Om vir ’n maand diep binne die Knysna-bos te wees, sonder enige kommunikasie met die buitewêreld. Met die pragtige stelle en die kostuums was ons weggevoer in die boswêreld van die 1930’s.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Ek skiet tans in Johannesburg aan ’n baie opwindende TV-drama vir MNet, Labour of love, met die talentvolle produksiehuis Rouse House. Dan werk ek en my man aan ’n TV-reeks vir kykNET, asook twee vollengtefilms vir die grootskerm.

Toorbos is 7 Maart 17:00 en 14 Maart 15:30 by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R50–R60 beskikbaar by Computicket of by die deur.

Die regisseur en draaiboekskrywer van Toorbos, René van Rooyen, sal ná die vertoning op 7 Maart meer vertel oor die proses om die verhaal tot rolprent te omskep. Sy sal ook vrae uit die gehoor beantwoord. 

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top