Toorbos: ’n onderhoud oor die film

  • 1

Foto’s: verskaf

Inperking het die vrystellingsdatum van Toorbos, die filmverwerking van Dalene Matthee se laaste boek in haar reeks van vier bosromans, in die wiele gery, maar dis nou op die grootskerm in ’n teater naby jou.

En Rene van Rooyen, wat nie net die draaiboek geskryf het nie, maar ook die regisseur is, het ook ander blye nuus: Die film is Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die gesogte Beste Internasionale Vollengte-film-toekenning by die 2021 Academy Awards.

Toorbos is ook gekies vir die Torino-filmfees in Italië later vandeesmaand.

Rene het Dinsdag met die Academy-aankondiging aan LitNet vertel: "Toorbos werp nie net lig op die belangrikheid van balans tussen die manlike en vroulike nie, maar ook die belangrikheid om ons gebroke wêreld te genees deur weer nader aan die natuur te kom. Hierdie inskrywing plaas die film in die internasionale kollig en is ‘n absolute droom wat waar word vir almal betrokke by die projek. Ons voel nederig."

Jaco Barnard-Naudé skryf in ’n resensie op LitNet oor dié film:

Dit is ’n meesleurende, oorrompelende film wat ferm geplaas word binne die geskiedenis van die armblankevraagstuk. Dit is die enigste film wat ek by die fees gesien het wat spreek tot (die al hoe meer dringende en al hoe meer luide) kontemporêre debat oor die verhouding tussen moderniteit en die Antroposeen – en dít binne die maatskaplike geskiedenis van Suid-Afrika.

Dieselfde skrywer sê voorts:

Die "ongeregtighede van die verlede" waarmee die Silwerskermfees vir my begin het, verkry in Toorbos ’n nuwe dimensie, naamlik die impak van die kolonialisme en apartheid op die natuurerfenis, nie net van Suid-Afrika nie, maar inderdaad van die hele planeet.

Rene en Corné van Rooyen in Peru

Maryke Roberts het met Rene van Rooyen gesels.

Dis nie jou eerste groot projek nie, is dit, Rene?

Nee, ek en my man, Corné, besit Red Letter Day Pictures en het ook die film Vaselinetjie gemaak. Dis gegrond op Anoeschka von Meck se bekroonde jeugboek met dieselfde naam. Ons was medeskrywers en -vervaardigers van Hollywood in my huis (wat drie Silwerskerm-toekennings gewen het). Ek was ook die draaiboekskrywer en regisseur vir Mooirivier (2015) en Corné die regisseur van Sy klink soos lente (2016).

Ons het ook Alles Malan, die kykNET-familiedrama, vervaardig. Dit handel oor die intrige van die Malans van die Paarl en hoe dinge kan skeefloop as jou oudste seun van oorsee terugkom om die familiebesigheid oor te neem.

Sal dit Toorbos se Suid-Afrikaanse première wees?

Nee, dit was verlede jaar die afsluitingsvertoning by die kykNET Silwerskermfees, aan die einde van Vrouemaand. Dis ’n film oor ’n jong, ontwortelde vrou en was een van ses vollengtefilms wat in die kategorie vir beste vollengterolprent meegeding het.

Die film wen toe niks by die kykNET Silwerskermfees nie. Begin jy jouself bevraagteken? Sny jy? Wat gebeur tussen dan en die vrystelling?

Die kunste is moeilik om te meet, en een produk sal op een platform uitstyg en weer nie op ’n ander nie. Terwyl dit nie by die Silwerskermfees gewen het nie, het dit weer by die Cape Town International Film Festival gewen met ’n jurie van regoor die wêreld, uit Cannes, Engeland en Amerika. Daarmee kry ons soveel ongelooflike terugvoer op die film – van resensente, filmmakers en gehore. Ek meet myself slegs aan my eie harde werk, eerlikheid, dissipline en passie.

Gee die verhaal in ’n paar kort sinne weer?

Dis die 1930’s in die Knysnawoud. Karoliena Kapp is ’n alleenkind. Haar pa is vroeg-vroeg deur ’n weerligstraal doodgeslaan en sy het die bos as haar oermoeder aanvaar. Nog voordat sy 20 is, trou sy met Johannes Stander en moet sy haar plek as dorpsvrou volstaan. Maar sy gebruik die eerste kans om weg te loop. In die film speel Elani Dekker die rol van Karoliena en Stiaan Smith die rol van Johannes.

Wanneer het jy aan die projek begin werk?

Ek het die boek in 2012 gelees en by die laaste bladsy vir Corné gesê ek gaan my eerste vollengtefilm hieroor maak. Dit neem toe sewe jaar voor dit film word. Die tyd en plek was net nie reg nie: Periodestukke verg groot begrotings en dit was nie iets wat finansierders in daardie tyd aangepak het nie. Romantiese komedies was toe eerder die keuse. Die risiko was baie groot vir ’n jong regisseur. Dit was ook ongelooflik moeilik en tydrowend om die boek te verwerk.

Dis ’n intense stryd om die siel van die skrywer te vind en ook jou eie identiteit in die storie te vind. Ek het baie by Dalene se dogter, Hilary Matthee, aangeklop en ons stap al vir die laaste sewe jaar ’n pad saam. Hilary was groot ondersteuning en ons het baie gesels oor haar ma en haar uitkyk. Ek voel in baie opsigte dat Dalene se siel, oor die jare saam met haar boek, ook myne geraak het.

Vertel van die verfilming?

Om die geskikte akteurs vir die rolle te kies, was ook ’n lang proses. Ek glo sterk aan die oudisieproses en die akteurs is gekies volgens die paartjie wat ek geglo het die beste by mekaar sou pas. Ons het in die hartjie van die winter vir vier weke in die Knysnabos geskiet en al die dorpstonele vir ’n week in McGregor. Nat weer, kort dae en modderige bospaadjies was aanvanklik struikelblokke, maar dit het ook die verfilming baie interessant gemaak en ’n magiese atmosfeer aan tonele gegee.

Wie is die span wat saam met jou gewerk het?

Die kinematograaf was Brendan Barnes en die vervaardigers Andre Scholtz en Dries Scholtz. Ek het al tydens teksontwikkeling na Brendan se showreels gekyk en gevoel dit is merkwaardig hoe hy skiet en belig om elke regisseur se visie vas te vang. Ons wou big screen cinema maak, om die gehoor ’n belewenis in die teater te gee. Baie risiko’s is geneem en ons het onsself uit ons gemaksone gelig om ’n unieke ervaring te skep. Andries Smit van Pressure Cooker het die klankbaan behartig. Waldemar Coetsee was die produksie-ontwerper en redigering was saam met Ronelle Loots.

En toe wen julle ’n ander toekenning?

Ja, Toorbos was een van vyf films wat in 2018 deur die Cape Town International Film Market and Festival (CTIFMF) gekies is om deel te vorm van hul Works in Progress- program. Ons film wen toe dié toekenning. Altesaam 54 inskrywings van 15 Afrikalande is vertoon.

Dit was ’n hoogtepunt, veral omdat dit in ’n teater vol film professionals en programmers van regoor die wêreld gewys het (Cannes, Berlyn, Sundance ens). Ons is van daar gekortlys vir Sundance (maar het in die laaste ronde uitgeval) en stuur dit nou in vir feeste oorsee.

Nog ’n foto van Rene en Corné van Rooyen in Peru

Wat was die sterkste temas wat vir jou in die film moes uitstaan?

Wat my eerste opgeval het van die boek, was Dalene se sensitiewe en diep-ondersoekende verkenning van die vroulike protagonis se psige. Jy bewonder haar vir haar vasberadenheid in haar soeke na persoonlike vryheid, soos dit afspeel teenoor die konflik tussen haar aardse boswêreld en die mens se behoefte vir vooruitgang. Die verhaal weerspieël die wêreld waarin ons vandag leef: Aan die een kant is daar die toenemende druk vir ekonomiese vooruitgang, mag en beheer en aan die ander kant die impak wat dit het op ons verbintenis met die natuur. Tussendeur word Karoliena se karakter ontwortel en getoets. Hierdie temas word verder ontgin deur die groter wêreld om haar: die boswerkers en hul gesinne wat hul onafhanklikheid probeer behou teenoor die mag van geld en modernisering; die inheemse bome wat bedreig word deur die plant van denneboomplantasies; terwyl Karoliena verblind word deur die vooruitsigte wat die ryk dorpsman, Johannes Stander, vir haar bied.

Waaraan werk julle twee volgende?

Corné werk tans aan die filmweergawe van die gewilde radiodrama en boek Hans steek die Rubicon oor. My volgende film, Vrees, is ’n sielkundige riller wat in die toekoms afspeel en ek het verkies om kleiner te werk – twee karakters in een lokaliteit. Die mikpunt is wel om ’n groter oorsese mark daarmee te betree. Ek het nimmereindigende passie om films te maak, wat ek twyfel maklik sal stoom verloor.

Waar woon julle?

Ons is al etlike jare inwoners van Jamestown buite Stellenbosch. Ons dorp en die mense is baie naby aan ons harte. Ons stap elke aand om ons buurt, ken omtrent elke persoon al hier, en ek gym saam met ’n hele lot Jamestowners in die buitegym in een van ons parkies. Ons is nou al trotste Jamestowners!

Hoe gaan ontspan jy ná soveel harde werk aan hierdie vollengtefilm?

Ek en Corné het vir ’n maand deur Peru gaan reis. Dit was die oorsese vakansie wat my tot dusver die meeste geraak het. Ons het nog nie werklik ’n breek geneem vandat ons in 2012 getroud is nie en met ons passie vir avonture en antieke geskiedenis het ons op Peru besluit. Ons al twee is ook mal oor toer, maar moes die laaste agt jaar fokus om ons maatskappy en loopbane op die been te bring.

Vertel van die ervaring – hoe lank, waar, wat het julle gedoen, was julle alleen?

Dit het in Lima begin; Arequipa (die wit stad), Lake Titicaca (die drywende dorp op riete); die Inka trail gestap en vir 'n week in die Amasone gekamp. Peru is 'n baie "gegronde" land, met mense wat 'n trotse kultuurerfenis het. Dit is ‘n groot spirituele ervaring om die Inka te loop, wat tot 4 000 meter bo seespieël is, met min suurstof, en baie, baie trappe. Ek het besef dat ons Suid-Afrikaners baie anders is as mense in die res van die wêreld, in hoe fisiek sterk ons is, ons deursettingsvermoë, en hoeveel ongemak ons kan vat. Ons is regte avonturiers! Daarna het ons gevlieg na Iquitos in die Amasone. Twee plaaslike ouens het ons van daar vir ses ure die rivier op tot nog dieper die Amasone in gevat en ons het vir 'n week niemand anders gesien nie, terwyl ons tent opgeslaan het in die middel van die woud, sonder enige geriewe!

Hoe berei mens voor vir al die moontlike gevare?

Dit was die eerste keer dat die natuur my so oorweldig het. Terwyl ons in die middel van die woud gekampeer het, het ons in die aande ’n klein, onstabiele driemanbootjie gevat en die stikdonker nag die rivier af geroei op soek na diere. Die enigste lig was die duisende vuurvliegies wat die massiewe bome verlig. As Suid-Afrikaners is ons gewoond aan ’n gevaarlike natuurlewe; ek stel voor goeie muskietbedekking, malariapille en goeie langmoustapklere wat maklik droog word. Selfs die kleinste miertjies kan jou daar byt en verlam van pyn. Ek het Corné verbied om in die rivier te swem – ek was te bang vir vreemde parasiete! Wees reg vir stort in die reën en geen geriewe nie!

Lees ook:

Regisseur gesels oor Toorbos by Toyota US Woordfees 2020

 

  • 1

Kommentaar

  • Heerlik gelees!
    Wonderlike insigte.
    Ek wonder waar Amanda Matthee in die wêreld is? Dalene se dogter. Ons was saam op die Dinamiek Redaksie in die 80s, waarvan ek die subredakteur was.
    Ek sien uit na wat Corné besig is om met Hans uit te rig. Ek is meegesleur deur die 'aanverwante' wêreldblitsverkopers van Hendrik Groen, waarvan die 3de blokboek vandeesmaand bekend gestel is en wat ek reg is om te verslind sodra ek dit in die hande kan kry.
    Die onderwerpmateriaal van Toorbos en die verwante voorhangerboeke, lê my bitter na aan die hart.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top