Opvoedkundige tegnologie: Ekperimenteer, leer en transformeer

  • 0
Christa van Staden berig oor die opvoedkundige, Ronel Callaghan, se lesing, “Opvoedkundige tegnologie: eksperimenteer, leer, transformeer”, wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aangebied is.

Ronel Callaghan (Foto: SAAWK)

Ronel Callaghan, hoof van die Departement Wetenskap, Wiskunde en Tegnologie van die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, het op 15 November 2022 ’n Zoom-lesing aangebied wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gereël is. Die titel, “Opvoedkundige tegnologie: eksperimenteer, leer, transformeer”, het dadelik my aandag getrek, aangesien ek self van mening is dat onderwysstudente met opvoedkundige tegnologie moet eksperimenteer om te leer om dit doeltreffend te gebruik. Sodoende kan goedtoegeruste beginneronderwysers in die praktyk ingestuur word.

Callaghan het die lesing begin deur vier uitdagings met betrekking tot die gebruik van opvoedkundige tegnologie uit te lig, naamlik:

  • “geweldige” verantwoordelikheid om dit reg te gebruik
  • gehalte van onderwyser- en studenteopleiding
  • vinnige veranderinge wat kan motiveer of demotiveer om dit te gebruik
  • gapings in toegang tot tegnologie
  • vrees om tegnologie te gebruik.

Daar is egter nie genoem of hierdie uitdagings op onderwysstudente of hulle dosente van toepassing is nie. Bang wees vir tegnologie het my verras, aangesien die onderwysstudente wat sedert Maart 2020 in klaskamers gesit het (en hulle dosente), die afgelope drie jaar vinnig moes leer om tegnologie vir onderrig-, leer- en assesseringsdoeleindes te gebruik. Maar dit het my ook verras omdat hierdie geslag onderwysstudente met slimfone en sommiges selfs met rekenaars en tablette in die hand grootgeword het. Hulle gebruik toepassings soos Telegram, Signal, Facebook, Instagram en WhatsApp om verbindings met ander in stand te hou. Verder verteenwoordig hulle die room van skoolverlaters wat na alle waarskynlikheid in klaskamers gesit het waar opvoedkundige tegnologie op ’n daaglikse basis gebruik word.

Dit het my laat wonder of die klem op “geweldige” verantwoordelikheid om tegnologie doeltreffend te gebruik teenproduktief kan wees. Veral omdat daar genoem is dat gebruikers – net soos mense wat motors vir die eerste keer wil bestuur – eers die reëls moet ken voordat hulle die tegnologie kan gebruik. Laasgenoemde stelling staan in kontras met die titel van die lesing wat in die vooruitsig gestel het dat daar met opvoedkundige tegnologie geëksperimenteer moet word.

Callaghan het daarna ’n aantal tegnologieë genoem wat vir opvoedkundige doeleindes gebruik kan word. Ek kategoriseer hulle onder toepassings, webwerwe en tegnologie om dit vir die leser makliker te maak om die spesifieke tegnologie op te spoor. By elkeen van die volgende toepassings het sy ’n voorbeeld gebied:

  • PowerDirector om professionele video’s te maak
  • Canva vir inligtingsgrafika
  • Stopmotion studio vir animasie
  • Padlet om inligting te deel
  • YouTube en Soundcloud om video’s te maak en te deel
  • Liveboard om te onderrig
  • PhotoCircle om foto’s en illustrasies te deel
  • Poll Everywhere om meningsopnames te maak
  • FlightTrader vir toerisme
  • Discovery VR vir geskiedenislesse.

Die volgende webgebaseerde toepassings is ook genoem, met ’n voorbeeld vir gebruik:

  • me wat gebruik kan word om QR-kodes te skep
  • Phet simulasies vir wetenskap.

Wat tasbare tegnologie betref, is 3D-drukkers uitgelig wat tydens die onderrig van tegnologie gebruik kan word. Ek het so drie jaar gelede ’n ekspo in Sandton bygewoon en was nogal beïndruk met wat met 3D-drukkers gedoen kan word. Ek deel ’n foto van die skroef en bout wat ek kon saamneem huis toe (Figuur 1).

Figuur 1. ’n Skroef en bout wat met ’n 3D-drukker geskep is

As ek so vinnig dink, kan hierdie drukkers ook tydens die onderrig van fisika, kuns en kuns en kultuur gebruik word. As ek steeds skoolgehou het, sou ek dit graag wou gebruik het om landvorme te druk, met kontoerlyne, om kaartwerk interessanter te onderrig. Ek vermoed dat lesers aan nog voorbeelde kan dink. ’n Leemte in die lesing was dat geen voorbeelde gebied is wat toon hoe onderwysstudente (of hulle dosente) met enige van die bogenoemde tegnologie eksperimenteer om te leer en te transformeer nie.

Callaghan is van mening dat geskikte opvoedkundige tegnologie aan drie vereistes moet voldoen, naamlik om interaksie daarmee toe te laat, saam met die gebruiker te werk en leer vir ander sigbaar te maak. Tegnologie is volgens haar geskik wanneer dit die slegte deel van leer doen terwyl leerders die lekker deel doen. As voorbeeld het sy genoem dat tegnologie gebruik kan word om video’s te maak (slegte deel) sodat leerders hulle kennis vir ander (die lekker deel) kan wys. Dit is so dat digitale toepassings op so ’n manier gebruik moet word dat dit die leerproses verdiep en die fokus op leer plaas. Daarom sou ek voorbeelde wou gesien het van hoe onderwysstudente hierdie beginsels tydens mikrolesse toepas.

Ek stem egter nie saam dat die video’s wat onderwysers maak om vakinhoud te onderrig, ondergeskik is aan video’s wat studente maak nie. Tans kan sagteware gebruik word om interaktiewe video’s te skep wat van die kykers vereis om by die inhoud betrokke te raak deur antwoorde te verskaf, die regte knoppies te druk, of meningspeilings te voltooi, daarom bied ek ’n aantal voorbeelde van tegnologie wat vir dié doel gebruik kan word:

Innoverende onderwysers gebruik ook reeds die volgende toepassings om interaktiwiteit met vakinhoud moontlik te maak:

  • PowerPoint om interaktiewe voorleggings en video’s te skep
  • Google Forms vir assesseringsdoeleindes.

Indien lesers meer wil weet oor interaktiewe video’s, kan hulle op hierdie skakel of hierdie een klik. Ek sou dan natuurlik ook graag wou sien hoe onderwysstudente die drie genoemde vereistes vir geskikte opvoedkundige tegnologie tydens mikrolesse toepas.

Callaghan het TPACKi genoem as ’n teoretiese begronding vir die gebruik van opvoedkundige tegnologie. Ek is nie seker of diegene wat ingeskakel het – of my lesers – met die akroniem vertroud is nie, daarom verduidelik ek kortliks.

Hierdie teorie – wat in Afrikaans as tegnologiese-pedagogiese-en-vakinhoudkennis (TP&VK) bekend staan – is gebaseer op die idee dat ’n opvoeder oor drie hoofsoorte kennis moet beskik, naamlik vakkennis, pedagogiese kennis (wat onderrigbeginsels insluit) en tegnologiese kennis – of kennis oor relevante tegnologie wat in ’n spesifieke konteks op ’n pedagogies verantwoordbare manier gebruik kan word om leer te verdiep. TP&VK is die kennis wat geskep word by die snypunt waar tegnologiese, pedagogiese en vakinhoudkennis mekaar ontmoet (Figuur 2).

Figuur 2. Aangepaste tegnologiese-pedagogiese-en-vakinhoudkennis-modelii

Verskeie artikels is reeds in LitNet Akademies (Opvoedkunde) gepubliseer wat daarop dui dat dit ’n bruikbare teorie is. Ek sou dus graag wou weet hoe onderwysstudente hierdie teorie toepas, of hoe die teorie as maatstaf gebruik word om hulle mikrolesse te evalueer.

Wat die gebruik van tegnologie betref, het Callaghan die volgende onderrigbeginsels uitgelig, naamlik dat dit:

  • pret moet wees om die tegnologie te gebruik
  • konstruktief met uitkomste belyn moet wees
  • interdissiplinêr gebruik moet word
  • leerdergesentreerd is
  • op die leerproses en die ervaring fokus.

Alhoewel dit belangrike beginsels is, is geen voorbeelde gebied om te wys hoe onderwysstudente hierdie beginsels toepas nie.

Die lesing het daarna hoofsaaklik op ’n nuwe vakgebied vir graad 1–9 gefokus, naamlik kodering en robotika. ’n Foto van een van die robotte wat vir die doel ontwikkel is, is gewys, naamlik die Bee-Bot. Bee-Bot is ’n byvormige robot met knoppies op sy rug wat gestel kan word om hom te programmeer om vorentoe, agtertoe en links of regs te laat beweeg. Die aantal treë vorentoe en agtertoe kan geprogrammeer word deur die vorentoe of agtertoe knoppies ’n spesifieke aantal kere (byvoorbeeld drie) te klik. Alhoewel daar genoem is dat studente die robotte moet programmeer, en ook dat hulle die instruksies tydens die inperkings moes aanstuur sodat die dosent die Bee-Bot programmeer, is geen voorbeelde gewys nie. Dit sou interessant wees om te sien of die instruksies elke keer gewerk het.

Callaghan het ook genoem dat ’n Bee-Bot-toepassing beskikbaar is, daarom het ek die toepassing afgelaai en geëksperimenteer (Figuur 3).

Figuur 3. Die Bee-Bot-toepassingiii

Sonder om enige reëls te leer en sonder enige riglyne, kon ek die toepassing (A) gebruik. Die kontroles op die skerm is verstaanbaar (B) en word geklik om die bytjie te programmeer om te doen wat ingeklik word (C). Dit is ’n goeie voorbeeld van spelgebaseerde leer,iv aangesien na ’n volgende (moeiliker) vlak beweeg word wanneer die Bee-Bot reg geprogrammeer is om ’n opdrag uit te voer. Gebruikers word ook gelukgewens wanneer ’n vlak suksesvol voltooi is (D). Die toepassing is geskik om die studente koste-effektief met die robot vertroud te maak.

Ek was verras om te hoor dat kodering en robotika ’n opwindende vakgebied is, omdat daar geen pedagogie vir die aanbied van die vak beskikbaar is nie. Alhoewel ek oor beperkte kennis van kodering en robotika beskik, het ek dadelik aan verskeie leerdergesentreerde opvoedkundige teorieë gedink wat toepaslik is, byvoorbeeld selfregulerende leer, selfgerigte leer, koöperatiewe leer, probleemgebaseerde leer, groepsleer, gemengde leer, aktief-vermengde leer, koöperatiewe leer en natuurlik ervaringsleer, om maar enkeles te noem. Verskeie van die onderrigbeginsels wat vooraf in die lesing genoem is, is ook van toepassing. Die vakinhoud mag nuut wees, maar daar is pedagogiese beginsels wat toegepas kan word tydens die onderrig van die vakgebied.

Callaghan beskou kodering en robotika as ’n opwindende nuwe vakgebied omdat dit vereis dat daar vernuwend gedink moet word, dat daar gespeel en geëksperimenteer moet word, dat daar gedink moet word oor hoe die robotjie interdissiplinêr gebruik kan word, dat ondersoek ingestel moet word na wat beskikbaar is, dat kreatief gedink moet word en dat dit nie nodig is om ander se voorbeelde te gebruik nie. As voormalige onderwyser (wiskunde, Afrikaans Huistaal en Addisionele Taal, geografie, rekenaarwetenskap) en dosent (kontak- en afstandhoëronderwys) kan ek verslag lewer dat innoverende onderwysers al hierdie vereistes reeds in skole toepas om verskeie vakke interessant, doeltreffend en leerdergesentreerd aan te bied om ryk leergeleenthede te skep.

Weens ’n gebrek aan voorbeelde van mikrolesse en eksperimente met die tegnologie was ek onseker of onderwysstudente tydens aanvanklike opleiding wel van geleenthede voorsien word om met tegnologie te eksperimenteer om te leer om dit doeltreffend te gebruik. Daarom het ek my na RSA Onderwysers gewend om ondersoek in te stel.

RSA Onderwysers is ’n groep met 20 800 lede op Facebook. Ek het hierdie groep in 2011 geskep op grond van bevindinge van my doktorale studie wat getoon het dat onderwysers in die praktyk by mekaar leer om hulle werk doeltreffend te doen. En dat hulle in staat is om sosiale media te gebruik om by mekaar te leer indien daar nie in die fisiese leeromgewing geleenthede daarvoor is nie. Aangesien ouers en unieverteenwoordigers ook toegelaat word om by die groep aan te sluit, wou ek eers weet wie aan die meningspeilings deelgeneem het (Figuur 4).

Figuur 4. Wie is die lede van RSA Onderwysers?

Uit Figuur 4 blyk dit dat 83% van die 415 respondente wel onderwysers is, hetsy klasonderwysers of in die bestuur van skole. Dit is interessant dat 5% van die respondente onderwysstudente was wat reeds hulle weg na die groep gevind het. Ek wil sommer die geleentheid gebruik om onderwysstudente te nooi om by die groep aan te sluit.

Daarna wou ek weet waar onderwysers wat tans in die beroep staan (2022), geleer het om tegnologie doeltreffend in hulle klaskamers te gebruik. Alhoewel slegs 111 respondente aan die meningspeiling deelgeneem het, is die resultate interessant (Figuur 5).

Figuur 5. Waar het jy geleer om tegnologie doeltreffend in jou klaskamer te gebruik?

In November 2022 het slegs 6% van die respondente aangedui het dat hulle tydens aanvanklike opleiding geleer het om tegnologie in hulle klaskamers te gebruik. Is dit dus moontlik dat Suid-Afrikaanse onderwysers nie tydens aanvanklike opleiding vir die praktyk gereed gemaak word nie? Verder dui die resultate daarop dat onderwysers nie bang is om tegnologie te gebruik nie. Meer as die helfte van die respondente (52%) het aangedui dat hulle toepassings aflaai en hulself leer om dit doeltreffend te gebruik, terwyl ’n verdere 3% aangedui het dat hulle met tegnologie eksperimenteer en hier en daar by ander leer om dit doeltreffend te gebruik, en nog 1% aangedui het dat hulle eksperimenteer, maar kundiges se hulp vra as hulle vashaak. Hierdie resultate bevestig my teorie dat onderwysers eerder in die praktyk by mekaar leer om tegnologie doeltreffend te gebruik.  

Tydens ’n vraegeleentheid na afloop van die lesing het Johan Engelbrecht, ook van die Universiteit van Pretoria, gevra oor die sosiale aspek van tegnologiegesteunde leer, aangesien aanlyn leer ’n geïsoleerde leerproses kan wees. Alhoewel tegnologieë soos WhatsApp, Facebook en Telegram suksesvol gebruik kan word om saamleergeleenthede te skep, het Callaghan nie genoem dat tegnologie gebruik word om saamleergeleenthede te skep nie.

Weens ’n gebrek aan voorbeelde van hoe onderwysstudente met tegnologie en opvoedkundige teorie eksperimenteer, om te leer en te transformeer, kan ek nie verslag lewer oor die doeltreffendheid daarvan nie. Aangesien die lesing virtueel was, sou ek graag wou gesien het hoe onderwysstudente met die bogenoemde tegnologieë eksperimenteer, individueel of in groepsverband leer om dit op ’n pedagogies verantwoordbare manier te gebruik om vakinhoud aan te bied, maar veral hoe hulle transformeer in aanstelbare graduandi – of beginneronderwysers, veral omdat die onderwyspraktyk nie stilstaan nie – tegnologie word reeds in verskeie skole gebruik om vakinhoud te onderrig, om individuele en saamleergeleenthede te skep, om te assesseer en geassesseer te word en om administratiewe take te vergemaklik. Maar ook omdat die meningspeiling toon dat slegs 6% van die respondente tydens aanvanklike opleiding geleer het om tegnologie doeltreffend te gebruik. Die vraag wat gevra kan word, is of graduandi vir ’n praktyk gereed gemaak word waar tegnologie reeds gebruik word.

 

Eindnotas

i Technological, pedagogical and content knowledge.

ii Artikel beskikbaar by https://www.litnet.co.za/n-ondersoek-na-die-tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis-tpeik-waartoe-die-arend-toep-toegang-verleen.

iii Skermskote wat ek geneem het terwyl ek die toepassing getoets het.

iv Gamification.

  • Die foto’s in hierdie artikel, asook die fokusprent, kom uit Callaghan se aanbieding en word met die toestemming van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gebruik.

 

Lees ook Christa van Staden se navorsingsartikels in LitNet Akademies

Doeltreffendheid van gesamentlike ervaringsleertake tydens opleiding van dosente in afstandhoëronderwys

Telegram, Signal of WhatsApp? Keuse van ’n geskikte toep om mobiele leeromgewings vir Suid-Afrikaanse hoëronderwyskontekste te skep

Onderwysers se persepsies van Facebook en Gesels.net as e-leeromgewings: implikasies vir nood-afstandonderwys

Die ontleding van sosiogramme om die impak van koöperatiewe basisgroepe op positiewe interafhanklikheid in klasverband te ondersoek

’n Ondersoek na die tegnologiese-pedagogiese-en-inhoudkennis (TPEIK) waartoe die Arend-toep toegang verleen

’n Netwerkperspektief op die gebruik koöperatiewe basisgroepe as tegniek om samewerking in afstandhoëronderwys te bevorder

WhatsApp? Die ontwikkeling van ’n positief-interafhanklike e-praktyknetwerk tydens die samestelling van e-portefeuljes in afstandhoëronderwys

Aanlynleeromgewings: ’n sleutel tot die deurlopende professionele ontwikkeling van onderwysers

Ontleding van sosiogramme as metode om die doeltreffendheid van genetwerkte leer in ’n skoolgebaseerde wiskundevakgroep te ondersoek

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top