Uitnodiging: Werkgemeenskap Pretoria – lesing deur Ronel Callaghan

  • 0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns nooi alle belangstellendes hiermee hartlik uit na ’n aanlyn lesing wat aangebied word deur die SA Akademie se Werkgemeenskap Pretoria.

Datum en tyd: Dinsdag 15 November 2022 om 18:00
Gasspreker: Ronel Callaghan, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van Pretoria 
Tema: "Opvoedkundige tegnologie: eksperimenteer, leer, transformeer"
Formaat van aanbieding: Per MS Teams
RSVP: Teen Maandag 14 November 2022 by linda@akademie.co.za om ’n Teams-skakel te ontvang. 


 

Digitale tegnologie bring elke dag nog iets nuuts of anders na vore: Van slimmer toestelle wat ons help ontdek, ontleed, beplan, ontwerp, skep, en kommunikeer tot toepassings wat ’n kleuter leer kodeer en ’n tiener ’n robot kan laat ontwerp. Grense word verskuif. Grense verdwyn.

Hoe navigeer ons hierdie vreesaanjaende, frustrerende, grenslose, wonderlike virtuele wêreld? Hoe haal ons veilig en verantwoordelik die beste daaruit?

Hierdie gesprek gee ’n klein kykie in die wêreld van die integrering van tegnologie in opvoedkunde uit die oogpunt van die LLITUP-navorsingseenheid by die Universiteit van Pretoria. Die eenheid is ’n lewende laboratorium waar ons saam met verskillende belanghebbendes droom, speel, eksperimenteer en innoverende onderrig bestudeer.

Die huidige belangstelling in kodering en robotika vir graad R tot 9 skep vir ons ’n gulde geleentheid om opvoeders en voornemende onderwysers uit te daag en te inspireer om hulle onderrigpraktyk te transformeer. Daarmee berei ons studente en leerlinge voor vir hierdie gedurig veranderende wêreld.


 

Ronel Callaghan is tans ’n dosent en navorser aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Opvoedkunde – Departement Wetenskap-, Wiskunde- en Tegnologie-onderwys. Sy het haar loopbaan in die onderwys begin as ’n wiskunde-, wetenskap- en rekenaarwetenskap-onderwyseres. Daarna het sy by Technikon Pretoria (later Tshwane University of Technology) doseer in die Fakulteit Inligting- en Kommunikasietegnologie. In dié tyd het sy haar meestersgraad en doktorsgraad met fokus in tegnologie in onderwys voltooi. Sy was ’n onderwyskonsultant vir die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria voordat sy by die Fakulteit Opvoedkunde as dosent aangesluit het.

Haar navorsing en onderrig fokus op die integrering van digitale tegnologie in opvoedkunde. Sy is die bestuurder van die LLITUP-navorsingseenheid, waar interdissiplinêre en samewerkende navorsing in innoverende onderrig gedoen word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top