
Foto: Canva
........
Van ál die medikasie op aarde, het Robert Kennedy Jr, die minister van gesondheid in Amerika, besluit om ’n aanslag te voer op Tylenol (asetaminofeen); hier by ons beter bekend as Panado. Maar die gekkigheid is net een van die aanslae op vroue se besluite oor hulle eie liggame.
........
Van ál die medikasie op aarde, het Robert Kennedy Jr, die minister van gesondheid in Amerika, besluit om ’n aanslag te voer op Tylenol (asetaminofeen); hier by ons beter bekend as Panado. Maar die gekkigheid is net een van die aanslae op vroue se besluite oor hulle eie liggame.
’n Mens mag dink wat in Amerika gebeur, het nie ’n invloed hier en op die res van die wêreld nie. Verkeerd; dit het. President Trump steun natuurlik elke woord wat uit Kennedy se mond kom. Dit is nou op die dae wat hy wel die woord acetaminophen reg kan uitspreek.
Trump het in September aangekondig dat die FDA (Federal Drug Administration) ondersoek sal instel na die verbintenis tussen die gebruik van asetaminofeen tydens swangerskap en outisme. Die etiket op dié produk sal ook in Amerika verander word dat dit boonop ander neurologiese kondisies sou veroorsaak.
Die middel is juis veilig vir koors en pyn in swanger vroue.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het dadelik ’n verklaring uitgereik en gesê uitgebreide navorsing is oor die afgelope dekade onderneem, insluitend grootskaalse studies, wat die verband tussen asetaminofeen-gebruik tydens swangerskap en outisme ondersoek. Tans is geen konsekwente verband vasgestel nie.
........
Daar bestaan ook ’n robuuste, uitgebreide bewysbasis wat toon dat kinderinentings nie outisme veroorsaak nie. Groot hoëgehalte-studies uit baie lande het almal tot dieselfde gevolgtrekking gekom.
........
Daar bestaan ook ’n robuuste, uitgebreide bewysbasis wat toon dat kinderinentings nie outisme veroorsaak nie. Groot hoëgehalte-studies uit baie lande het almal tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Oorspronklike studies wat op ’n verband dui, was gebrekkig en is in diskrediet gebring. Sedert 1999 het onafhanklike kundiges wat die WGO adviseer, herhaaldelik bevestig dat entstowwe – insluitend dié met tiomersal of aluminium – nie outisme of ander ontwikkelingsversteurings veroorsaak nie.
Verlede jaar is ’n studie in die vakjoernaal JAMA gepubliseer en dit is een van die mees onlangse wat hierdie vraag oor asetaminofeen ondersoek het.
Die navorsers het 2,5 miljoen kinders in Swede gevolg, gebore tussen 1995 en 2019. Hulle het sibbekontroles gebruik om rekening te hou met genetiese en ander omgewingsfaktore. Daar is geen verhoogde risiko vir outisme, ADHD of intellektuele gestremdhede gevind by kinders van vroue wat asetaminofeen tydens swangerskap gebruik het nie.
Om duidelikheid oor hierdie kwessie te kry, het JAMA se adjunkredakteur Linda Brubaker, ’n ginekoloog-verloskundige, met Brian Lee, die senior outeur van bogenoemde artikel, gepraat. Lee is ’n professor in epidemiologie aan die Drexel-Universiteit Dornsife Skool vir Openbare Gesondheid.
Die ma’s en hulle kinders is vir 20 jaar gevolg in dié studie. Een van die dinge wat Kennedy en Trump waarskynlik nie verstaan van wetenskap nie, is assosiasie en oorsaaklikheid.
........
Lee verduidelik: “Een van die voorbeelde wat ek in die klaskamer gebruik om verwarring te verduidelik, is die eet van roomys en die risiko van verdrinking. En die idee hier is dat roomys statisties geassosieer word met die risiko van verdrinking, maar dit is nie ’n oorsaaklike verband nie. Dit is eintlik warm weer wat roomysverbruik verhoog, sowel as die waarskynlikheid van swem verhoog, wat die waarskynlikheid van verdrinking sou verhoog.”
........
Lee verduidelik: “Een van die voorbeelde wat ek in die klaskamer gebruik om verwarring te verduidelik, is die eet van roomys en die risiko van verdrinking. En die idee hier is dat roomys statisties geassosieer word met die risiko van verdrinking, maar dit is nie ’n oorsaaklike verband nie. Dit is eintlik warm weer wat roomysverbruik verhoog, sowel as die waarskynlikheid van swem verhoog, wat die waarskynlikheid van verdrinking sou verhoog.”
Die span wou toets of hierdie statistiese assosiasie werklik was of nie, en die manier waarop dit gedoen is, was deur ’n sibbekontrole-analise te doen.
“Basies kan ons met dieselfde ouers se kinders (sibbe) vergelyk waar een aan asetaminofeen in die baarmoeder blootgestel is en een nie.
“Daar is ’n paar verskillende redes hiervoor, maar een van die grootste olifante in die vertrek wanneer dit by verwarring kom, is genetika. Veral vir neuro-ontwikkelingsversteurings is dit hoogs oorerflik, en genetika maak ’n aansienlike deel van die oorsaak uit.
“Dus, studies wat nie genetika in ag neem nie, kan tot ander gevolgtrekkings kom as studies wat wel genetika in ag neem. Toe ons die sibbekontrole-analises gedoen het, het al die statistiese assosiasies heeltemal verdwyn. Met ander woorde, die assosiasies was nie oorsaaklik nie,” het Lee in ’n onderhoud met Brubaker in JAMA gesê.
Die aanslag op vroue
Asetaminofeen kan gebruik word om koors en pyn tydens swangerskap te verlig. As hierdie toestande nie behandel word nie, kan dit “beduidende gesondheidsrisiko’s vir moeder en baba” inhou, volgens ’n verklaring van die Vereniging vir Moeder-Fetale Geneeskunde. Onbehandelde koors kan byvoorbeeld lei tot miskraam, geboortedefekte en voortydige geboortes, het The Guardian berig.
Trump se administrasie het die afgelope paar maande heelwat gedoen om vroue se liggame te beheer. Dis nou buiten Kennedy wat verlede week nonsens gepraat het oor seuns wat besny is wat ’n groter kans het om outisme te ontwikkel. Weer eens sy probleem met assosiasie en oorsaaklikheid. En hy het verwys na ’n “vrou wat Tylenol neem terwyl die baba in haar plasenta is”. Nou ja.
Die opskorting van voorbehoeding, omvattende aborsiesorg en reproduktiewe gesondheidsprogramme het na raming 130 390 vroue daagliks sonder toegang tot voorbehoedingsdienste gelaat, wat neerkom op 47,6 miljoen vroue jaarliks.
Hierdie gaping sal na verwagting lei tot 17,1 miljoen onbedoelde swangerskappe en 34 000 voorkombare moedersterftes. Die impak sal die ergste gevoel word deur vroue in humanitêre omgewings, waar die behoefte aan voorbehoeding dikwels oor die hoof gesien word en meer as 60% van alle moedersterftes plaasvind.
Verder, vir elke dollar wat in gesinsbeplanning belê word, is daar ’n geprojekteerde opbrengs van $60–$100 in ekonomiese groei. Gesinsbeplanning verhoog vroue en meisies se onderwys en arbeidsmagdeelname, wat ’n positiewe impak op ekonomiese groei en stabiliteit het, en sterker gesinne, gemeenskappe en lande bou.
Beheer oor vroue
Byna een uit elke vyf swanger vroue en nuwe ma’s ly aan angs en depressie. En 6–8% van swanger vroue word ’n groep antidepressante voorgeskryf, genaamd selektiewe serotonienheropname-inhibeerders (SSRI’s).
Vals inligting dat dit nie veilig is nie, word ook deur Trump se administrasie gedeel, wat vroue aanmoedig om op te hou om dit te neem. “Onbehandelde of onderbehandelde depressie tydens swangerskap hou gesondheidsrisiko’s in, soos selfmoord, premature geboorte, pre-eklampsie en lae geboortegewig,” het die Vereniging vir Moeder-Fetale Geneeskunde laat verlede maand in ’n verklaring geskryf.
“Ongelukkig skep waninligting oor depressie en die behandeling daarvan verwarring en twyfel onder pasiënte en die publiek, wat lei tot onnodige hindernisse tot sorg.”
“Robuuste bewyse het getoon dat SSRI’s veilig is tydens swangerskap en dat die meeste nie die risiko van geboortedefekte verhoog nie. Onbehandelde depressie tydens swangerskap kan egter ons pasiënte in gevaar stel vir substansgebruik, premature geboorte, pre-eklampsie, beperkte betrokkenheid by mediese sorg en selfsorg, lae geboortegewig, verswakte gehegtheid aan hul baba en selfs selfmoord.
“Data toon ook dat die staking van SSRI’s weens swangerskap of laktasie risiko’s kan inhou. Pasiënte benodig toegang tot bewysgebaseerde, deernisvolle behandelingsopsies sodat hulle hul pad na ouerskap in goeie fisiese en geestesgesondheid kan voortsit,” het die Amerikaanse Kollege van Verloskundiges in ’n verklaring gesê.
Die volgende aanslag is om te voorkom dat wanneer swanger vroue Covid-19-entstowwe ontvang, hulle natuurlik geboorte moet gee. Covid-19 is, soos griep, 'n groot risiko tydens swangerskap.
Daar is redes waarom jy nie ongepasteuriseerde of “rou” melk moet drink nie. Nog een van die onwetenskaplike aanbevelings. Dit is gevaarlik weens bakterieë soos campylobacter, cryptosporidium, E coli, listeria, brucella en salmonella.
Alles moet “natuurlik” gedoen word. Maar natuurlik is nie noodwendig gesond nie. Dit is alles deel van die pronatalis-beweging wat die dalende Amerikaanse geboortesyfer as ’n eksistensiële bedreiging vir die land se toekoms sien. Hulle meen dus dat die Amerikaanse regering beleide moet instel wat ontwerp is om mense aan te spoor om geboorte te skenk – veral wit vroue, natuurlik.
Daar word selfs aan die idee gedink om gesinne $5 000 per geboorte te gee. Dit klink so baie soos die medaljes wat Hitler aan vroue gegee het, indien hulle klomp babas gehad het.
Die Amerikaanse Hooggeregshof het in sy uitspraak op 24 Junie 2022 die grondwetlike reg van vroue op aborsie weggeneem en die 50 jaar se presedent laat vaar. 41 state het aborsie-uitsluitings; 12 state het ’n totale aborsieverbod; en 29 state het aborsie gebaseer op swangerskapsduur.
........
Al die besluite wat gemaak word op ideologie en pseudo-wetenskap, het ’n invloed op die lewe en welstand van vroue. En dit is nie net in Amerika nie, die rimpelings van die klippe wat in die water gegooi word, raak dermiljoene vroue en meisies regoor die wêreld.
........
Al die besluite wat gemaak word op ideologie en pseudo-wetenskap, het ’n invloed op die lewe en welstand van vroue. En dit is nie net in Amerika nie, die rimpelings van die klippe wat in die water gegooi word, raak dermiljoene vroue en meisies regoor die wêreld. Weens mans, soos Trump, wat besluite maak oor vroue se liggame en lewe. Trump se reaksie ten opsigte van die pyn wat vroue ervaar: “Tough it out.”
Lees ook:
COVID-19 en die toekoms: projeksies, entstowwe, die ekonomie, rampe en inperkings


Kommentaar
Soms is ek verlig dat ek in Suid-Afrika woon... O ja, en dan ook dat ek nie in 'n plasenta gewoon het nie! 🤣🤣 Dankie vir dié bydrae.