Pa’s kan nou die ma se kraamverlof deel. So het die Gautengse hooggeregshof aan die einde van Oktober beslis. Verder gee hulle die Parlement twee jaar om die nodige wetgewing in plek te kry om dit so te reflekteer. Maar is die hofbeslissing prakties of selfs regverdig?
Die konteks: Meneer van Wyk het by sy werk aansoek gedoen vir ouerskapsverlof vir vier maande. Sy vrou het haar eie besighede en kon nie vir vier maande met hul baba tuisbly sonder om ernstige finansiële verlies te ly nie. Sy werkgewer het daarop gewys dat hulle maatskappybeleid dit nie toelaat nie en verlof geweier. (Huidige wetgewing maak ook nie voorsiening daarvoor nie, maar die werkgewer het dit skynbaar nie as rede gebruik nie.) Hy kom toe ooreen met sy werkgewer dat hy vier maande onbetaalde sabbatsverlof neem.
........
Soos wetgewing tans staan, word daar onderskeid getref tussen die ouer wat geboorte skenk en die ander ouer.
........
Die Van Wyks besluit toe om hof toe te gaan en die grondwetlikheid van die wetgewing oor ouerskapsverlof te beveg. Soos wetgewing tans staan, word daar onderskeid getref tussen die ouer wat geboorte skenk en die ander ouer. Daar is ook ’n onderskeid tussen ouers wat geboorte skenk en ouers wat ’n kind aanneem. Laastens word daar ook onderskei tussen ouers wat geboorte skenk en dié wat verkies om deur ’n surrogaat geboorte te skenk.
Wat die hof in effek nou beslis het, is dat die Van Wyk-paartjie gesamentlik die vier maande kraamverlof waarop mev Van Wyk geregtig is, kan neem. Maar wat van gevalle waar die ma wat geboorte skenk, die volle vier maande wil gebruik om ’n hegte band met haar pasgebore baba op te bou? Dit beteken dan, indien hierdie beslissing gevolg word, dat die pa (of nie-geboorteskenkende ouer) nie tyd saam met die baba sal deurbring nie, of anders net geregtig is op die tien dae waarvoor die wet tans voorsiening maak. Anders moet die ma ’n deel van haar verlof afstaan sodat die pa of nie-geboorteskenkende ouer ook genoegsaam tyd saam met die baba kan deurbring.
Die Van Wyks het tydens die verrigtinge hulle pleitstukke aangepas en ook gevra dat die definisie van “ouer” wyer gelees en geïnterpreteer behoort te word. Die effek? Ouers wat ’n kind aanneem of wat deur surrogate geboorte skenk, behoort dan eenders behandel te word as ouers wat geboorte skenk.
Die hof het hulle gelyk gegee en het die Parlement geleentheid gegee om binne die volgende twee jaar die nodige aanpassings aan wetgewing te maak sodat volle gelykheid vir alle klasse van ouers gegee word. Dit beteken dat ouerskapsverlof in die volle sin van die woord aan alle klasse ouers gegee word.
Maar wat gebeur in die praktyk? Die hof gee in sy uitspraak effek aan ’n egalitariese siening van ouerskap, dat albei ouers ewe veel bydra tot die kind se sorg. Dit is natuurlik moontlik. Al wat die nie-geboorteskenkende ouer nie in staat is om te doen nie, is om die kind te borsvoed. Alle ander sorg kan deur beide ouers of selfs deur ander persone onderneem word.
........
Maar indien die ouer wat nie die grootste deel van die versorging van die kind waarneem nie, gelyke behandeling eis, dan behoort daar ook ’n verpligting op daardie ouer te rus om ’n gelyke deel van die versorging waar te neem.
........
In die praktyk gebeur dit egter selde dat beide ouers in gelyke dele bydra tot die kind se versorging. Selfs al werk beide ouers, rus die grootste deel van die kind se versorging normaalweg steeds by die ma. Daar behoort beslis groter gelykheid te wees in hoedat ouerskapsverlof toegestaan word. Dat daar ouerskapsverlof in plaas van die ou kraamverlof is, is alreeds ’n reuse-stap in die regte rigting.
Maar indien die ouer wat nie die grootste deel van die versorging van die kind waarneem nie, gelyke behandeling eis, dan behoort daar ook ’n verpligting op daardie ouer te rus om ’n gelyke deel van die versorging waar te neem.
Dit is byvoorbeeld nog steeds selde dat die pa, byvoorbeeld, tyd van sy werk afneem om ’n siek kind te versorg. Hopelik, met hierdie beslissing, sal ons nou ook meer pa’s sien wat deurgaans groter verantwoordelikheid vir die versorging van hul kinders neem, nie net tydens die tydperk onmiddellik na die kind se geboorte nie.
Dan kan ons maar net hoop dat die Parlement daarin slaag om binne twee jaar die nodige veranderinge aan die wetgewing aan te bring. Spoed was nog nooit hulle sterkpunt nie.
Wat die hof wel uitstekend reggekry het, is om die belange van die kind eerste te plaas. Dis hoe dit hoort.
Lees ook:
Geslagsneutrale ouerskap, stereotipes en ’n niegenderaanslag by skole