Superma (en ander mites), ’n onderhoud

  • 5

Superma (en ander mites)
Chantelle de Wet 
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799367454

Skrywers oor hul nuwe boeke: Chantelle de Wet gesels met Naomi Meyer oor Chantelle se boek Superma (en ander mites)

Chantelle, geluk met Superma (en ander mites)! Jou boek skop af met ’n staaltjie waarmee die meeste ouers kan identifiseer: hoe vroeë ouerskap iemand wat eens pragtig en skoon was, transformeer tot iets verskrikliks. Voordat ek kinders van my eie gehad het, onthou ek met afgryse ’n motor en ’n sitkamer van vriende van ons wat twee peuters gehad het. Wie is hierdie mense? het ek gedink. En met verligting teruggekeer na my eie sorgvrye lewe. Voordat ons egter oor jou boek begin praat, kom ons stap net gou ’n entjie terug, die verlede in. Wie was jy voordat jy kinders gehad het?

Ek was onafhanklik, selfsugtig, georganiseerd, impulsief en vry om te doen wat ek wil, wanneer ek wil en saam met wie ek wil. Vandag is ek steeds al hierdie dinge, maar my kinders het sinvolle grense aan my loskoppie gegee. Ek moet hulle eerstens altyd in ag neem, want hulle is my verantwoordelikheid en plesier. Dan moet ek ook dink aan hoe my aksies as hul voorbeeld gaan tel en waarvoor hul my eendag gaan onthou. As ek terugkyk na my DVK (dae voor kinders), verlang ek soms na die skoon sitkamer en selfsug, tog is ek nou ryker as ooit vantevore. 

“Elke mens word as die perfekte ouer gebore ... en dan het jy kinders.” Ek het elke woord van jou boek met ’n glimlag gelees omdat ek soveel daarmee geïdentifiseer het. Waarom het jy hierdie boek geskryf?

Superma het begin as ’n klein projekkie wat ek sommer vir my skoonsus wou gee toe sy swanger geraak het: "Wat jy moet weet voor jy kinders het, maar wat niemand die guts het om vir jou te sê nie." Toe dink ek dat ek dit eendag vir my eie dogter ook wil gee, want niemand was regtig, egtig eerlik met my oor swangerskap of ouerskap nie. Eindelik het ek sommer in 'n mal oomblik die idee gepos aan die eerste uitgewer wat Google vir my gegee het. Dit was 'n heerlike reis vol lag en plesier.

Dis bevrydend om jou hoofstuk oor swangerskap te lees. Dis beter geskryf as What to expect when you’re expecting, want dis meer wáár. Ervaar jy ook hoe maklik dit is om met wildvreemde vroue oor die mees intieme dinge te gesels, soos die bevalling, as julle albei uitvind julle het jong kinders? Hoe ervaar jy in die algemeen mede-ouers? Het ouerskap jou vriendskappe beïnvloed met ou vriendinne wat óf nie kinders het nie óf self nou ook kinders het?

Nog nooit het ek soveel van snytjies, stekies, seks (voor, tydens en na die bevalling), anale komplikasies, vrees vir urinering en vreeslike besonderhede oor sake van die onderlyf aangehoor as tydens gesprekke oor swangerskap nie. Vrouens sal nie saampraat as hulle nie reeds deur die trauma en openbaring en wonderwerk gewoel het nie. Kinders het vir 'n geruime tyd ons vriendskapskringe oorheers, maar soos ons gemaklik raak in ons ouerskaprolle, begin dinge weer normaliseer. Ons praat weer oor politiek, kosmaak, die ekonomie en hoe ons die aarde kan red. Dikwels het ons gesprekke die doel om 'n beter plek vir einste kinders te los. Die kinderlose vriende (op wie ek dikwels jaloers is), kyk maar met afsku na die gemors wat ons probeer inkleur. Maar as al die kinders gebad, gevoer en gebed is, is die meeste van ons vriende dit eens: mens is nooit reg vir kinders nie; jy moet doen waarmee jy gemaklik is en wat vir jou werk, en alhoewel mens luister na raad, het jy die reg om kinders (as jy hulle wil hê) op jou eie manier, met lekkerkry, klaar en groot te kry. 

Wat is die ware waarheid van ouerskap?

As die antwoord beskikbaar was, is ek seker niemand het ooit kinders gehad nie. 🙂 Niks kan mens waarlik voorberei op die koms van 'n klein mensie in jou lewe nie. Alles is vreemd, al ken jy die boek se antwoorde. Geen huil klink soos die huil wat in die boeke beskryf word nie. En dit word glad nie makliker nie. Jou kinders is 'n deel van jou hart wat buite jou lyf rondloop en soos jou hart sy eie kop begin volg, raak die proses van ouerskap intens, kompleks en allermins verklaarbaar. Daar is dus nie regtig 'n waarheid nie, net jou eie, unieke, realiteit. 

Wanneer het jy tyd gekry om die boek te skryf?

Die eerste woorde het vorm aangeneem terwyl ek in die nag sit en borsvoed het. Dis neergepen soos ek pampoen fyngedruk en wasgoed gevou het. 'n Ma leer vinnig om dinge met een hand te doen en hierdie boek was geen uitsondering nie. 

“Kinders word gebore om ons in die verleentheid te stel.” Wie het ooit gedink dat ’n mens se kind soveel in die openbaar te sê het? Ek wil jou oor persoonlike voorbeelde uitvra, maar dalk wil mens eerder nie daaroor praat nie. As jy wil, kan jy voorbeelde noem. As jy egter nie wil nie, dan: gepraat van waaroor mens nie wil praat nie – hoekom dink jy vind sommige ouers dit moeilik om te praat oor hoe moeilik ouerskap kan wees? 

Lehja was omtrent so twee en 'n half toe sy in Woolworths se gangetjie staan, na die gewigtige tannie agter ons kyk en vingerwysend vertel: "Kyk Mamma, vet tannie. Mamma, hoekom is die tannie so vet? Mamma, sy het GROOOOOT tieties." Ek wou hê die aarde moet my insluk, maar Woolworths se toue laat nie toe vir 'n ontsnap nie. Haar jonger boetie Petrus het heel onlangs in besonderhede aan ons gaste vertel: "My ma wou nie eers gehad het julle moes kom kuier nie, want sy dink Tannie praat te veel en Oom drink meer." Nodeloos om te sê het hulle hulself vinnig verskoon. My arsenaal van sulke oomblikke is groot ... Dis jammer dat nuwe mammas en pappas dink hulle moet perfek wees. Ek hoor min tot geen klagtes nie, maar die waarheid is dat ons almal eintlik soms oorweldig voel deur die gebeurtenis van ouerskap. Ek het egter ondervind dat hoe meer ek praat oor my feilbare idees en verwronge konsepte van ouerskap, hoe meer het mense daarmee begin identifiseer en het ek wonderlike ware vriende gemaak. 

Mans hanteer vaderskap verskillend. Vrouens hanteer moederskap natuurlik ook verskillend. En dis nogal moeilik om met die een wat jy liefhet te gesels oor hoe anders alles is as wat jy gedink het dit sou wees. Of hoe? Waar begin die konflik en aanpassing in ’n verhouding, dink jy, of wat veroorsaak dalk die meeste kopseer in verhoudingskwessies wanneer dit by kinders kom?

Ek dink ouers praat nie genoeg met mekaar nie. Kinders voel onsekerheid aan, soos 'n hond wat vleis ruik, en slaan munt daaruit. Kinders is slim wesentjies wat vroeg-vroeg leer manipuleer. Ek en my man is 'n span. Die primêre span. Ons besluit oor die reëls, roetine en wat vir ons belangrik is. Dan hou ons daarby, maak nie saak wat kollegas, oumas, vriende of die dominee sê nie. Ons is aanpasbaar en probeer om nie oor alles streng te wees nie. Kinders het tog ook vryheid nodig, maar die grense moet stadig en stelselmatig wyer gestel word. My kinders kan hulself aantrek, hul eie kos inskep en hul kamers is hul eie verantwoordelikheid en voorreg. Ek is baie streng oor tande borsel, goeie maniere en slaaptyd. Ons eet aan tafel, maar hou ook piekniek op die mat voor die TV. Ons gaan spring soms sesuur in die oggend in die swembad, slaap soms tot elfuur in die oggend, maar ons gun mekaar altyd privaatheid, en suiker na vieruur in die middae is uit. Balans. Soos alles in die lewe is dit maar hoe ek ouerskap ook aanpak. Ek dink man en vrou stry dikwels oor hulle nie dieselfde doel het nie. Praat met mekaar ... nie net oor kinders nie, maar ook oor drome, seks en onsekerhede. Staan saam en wees die span sáám met die kinders, nie teen hulle nie. 

“Jy werk net met veranderlikes.” In hierdie hoofstuk noem jy treffende voorbeelde, alles wat jy nie kon voorspel nie en toe so uitgewerk het. Hoewel besonderhede verskil, is dit iets wat alle ouers beleef. Is jou boek geskryf vir mense wat nog nie kinders gehad het nie, of mense wat reeds kinders het? Wie is jou ideale leser?

Ideale leser? Sjoe, ek dink dis iemand wat nie foute raaksien nie! 🙂 Enigeen met 'n sin vir humor sal die boek kan lees (hoop ek). Ouers identifiseer daarmee, enkellopendes lag vir die ouers, en swanger mammas voel beter oor hul onsekerhede. Ek het oudstudente wat die boek lees en nog nie eers aan kinders dink nie. Mense uit België, Engeland en Australië laat weet my sommer via Facebook dat hulle lekker gelag het ... en dit is eintlik al wat ek gepoog het: om midde die krisisse van ouerskap so ’n glimlag te laat deurskemer. 

Die spel sonder reëls. Sonder gelyke speelvlak. Wat is hierdie spel se uitkoms, wonder ek (mede-ouer). Weet jy? Hoe oud is jou kinders nou?

Lehja is 7 en Petrus is 5. Ek weet steeds nie veel van ouerskap af nie en leer maar daagliks by hulle. Ek dink die spel se uitkoms is eintlik eenvoudig: om gelukkige grootmense die wêreld in te stuur. Op hierdie reis kom ek agter dat die woord "gelukkig" nie maklik gedefinieer word nie, want vir party is geluk finansiële welstand, vir iemand anders gesondheid en vir nog een vryheid. Ons skep ons eie definisie, skaaf gereeld daaraan, en ons maak seker ons wens nie die tyd om nie. Ons geniet elke fase en geit en gril en gedoente wat ons twee mensies in ons lewens toevoeg. 

Ek het jou nou-nou gevra oor wie jy was. Vertel my wie jy nou is – jou werk (buiten kinders), jou genietinge, watter boeke jy lees (as daar tyd is), of wat jy doen (wanneer daar tyd is). Hierdie vraag, besef ek, is onmoontlik om te beantwoord sonder om die kinders in ag te neem, maar probeer dit doen – hierdie vraag handel net oor jou. En oor wie jy nou is.

Ek is ... tevrede, gelukkig, opgewonde, geseënd. Ek lees alles wat ek in die hande kry: van die papboks se agterkant tot boeke wat Kindle daagliks gratis weggee. Ek is mal oor Afrikaanse boeke, die goeies en die slegtes. Dis my gunsteling-tydverdryf en almal in die huis is bewus van my woordverslawing. Ek gee tans wiskunde in Abu Dhabi in die Emirate, speel Lego oor naweke, handel my M-graad af, was wasgoed, skryf die webjoernaal “Slaai sonder blare”, probeer my varkies op hok hou, poog om 'n goeie mens vir myself te wees, en tussendeur moet ek myself motiveer om eendag so ’n paar kilo's af te skud (ek het nou lank genoeg swangerskapvet die skuld gegee). Ek is nie vreeslik lief vir die televisie nie, maar my rekenaar is my anker. Ek skryf graag en werk aan 'n paar Engelse projekte. Ek hou daarvan om besig te wees en ja, soms kyk ek terug na die week wat verby is en dan wonder ek waar ek alles ingepas het. Dan sug ek diep, tel my dankbaardinge en slaap ek tevrede. 

  • 5

Kommentaar

  • Jacquie Henning

    Jou skrywe en taal staan vir niemand terug nie! So trots om te sê ek ken jou. Sien uit na die volgende publikasie.

  • Alta Engelbrecht

    Uitstekende onderhoud, Naomi en Chantelle!
    Kan ek iets namens Chantelle byvoeg asook 'n opmerking van die kantlyn af maak?
    Dis ook 'n droom wat waar geword het vir Chantelle. Vir jare al vermaak sy ons. Haar vriende en familie, die kiddies vir wie sy skoolhou, die studente wat sy tydens UP se praktiese onderwys gementor het. Nou is haar vars humorsin verewig in 'n boek, haar groot liefde ...
    Sy is die een mens wat van alles 'n sukses kan maak (as sy wil) en wat ongeag haar fantastiese ouerskapstyl steeds die mens bly wat ander se lewens raak.
    Trots op elke woord Chantelle!

  • Ek voel so bevoorreg om al die suksesvolle oomblikke saam met jou te kan deel en mag daar nog vele wees!
    Tonne liefde
    #dalkniesuper#moeder#

  • Chantelle kan toor met woorde! Sy verkondig die waarheid so lekker en reguit, niemand kan met haar stry nie! Ek "love" haar skryfwerk!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top