Geslagsneutrale ouerskap, stereotipes en ’n niegenderaanslag by skole

  • 17

Genderidentiteit is nie iets wat ’n mens besluit of kies nie, dis iets wat jy oor jouself ontdek. Niemand kies om linkshandig te wees of groen oë te hê nie. Die omgewing sal bepaal of die kind ’n gesonde geslagsrol opbou – as hulle veilig voel en hulself kan wees en positiewe rolmodelle het. Teen ouderdom vyf het die meeste kinders al ’n baie goeie idee van hul genderidentiteit.

Prof Elma de Vries, Mediese Skool, Nelson Mandela Universiteit.

***

Kleur en speelgoed bepaal nie jou seksuele oriëntasie of seksuele identiteit nie – dis deel van ’n ontwikkelingstog – dit waarin jou kind belang stel en wat tot jou kind spreek. Ons kan daarmee meer stimulasie bied sonder om dit noodwendig ’n seksuele identiteitsfaktor te maak.

Dr Elzette Fritz, opvoedkundige sielkundige, Johannesburg

 ***

Kind grootmaak uiters kompleks

Kind grootmaak is nie kinderspeletjies nie. Die ontdekking van die Rosettasteen het sin uit hiërogliewe help maak, maar die ABC vir ouerskap is nog ’n ongeskrewe boek.

  • ’n Mikpunt van gemotiveerde ouers? Die meeste ouers poog om gebalanseerde en gesonde spruite in die grootmenswêreld in te stuur. Die eindresultaat is deurgaans nie gewaarborg nie, dit eindig soms in die teenoorgestelde en in baie gevalle ook op ’n terapeut se rusbank.
  • Ouerskap sonder geslagsrolle? Om moontlike opvoedingstruikelblokke te voorkom, beklemtoon meer en meer ouers globaal die belangrikheid om kinders groot te maak sonder om geslagsrolle en stereotipes op te lê om hulle te vergun om eie belange en maniere om hulself uit te druk, te kies.

Geslagsneutrale ouerskap meer algemeen

Luidens ’n artikel in PressReader van 20 Maart 2019 sê ’n Oos-Kaapse terapeut, Judy Mbolo, sy verneem van al hoe meer jonger mense, asook jong ouers wat verkies om hul kinders met ’n geslagsneutrale uitkyk groot te maak.

“Dit beteken hulle maak nie spesifiek hul dogtertjies as meisies groot nie (byvoorbeeld om hulle in pienk aan te trek). Dieselfde geld vir seuns – blou is nie outomaties die voorkeurkleur nie en hulle word nie aangemoedig om met net karre te speel nie.”

Kinders dui dus hul eie voorkeure aan. Dié ouers hou voor hulle lê nie klem op watter geslag die kind is nie, maar laat die kind aandui wat hul voorkeure is. Dit kan hulle voorkoms, klere en gedrag insluit.

“Hulle verkies om hulle kinders as individue te sien en nie as ’n spesifieke geslag nie,” sê sy.

Ruimte vir kinders om self te ontdek

Elma de Vries, verbonde aan die mediese skool van die Nelson Mandela Universiteit, sê ’n geslagsneutrale ouerskapbenadering skep die ruimte vir ’n kind om hulself te ontdek, sonder om ’n spesifieke genderidentiteit op ’n kind af te forseer.

“Dit skep die ruimte vir dogtertjies om met karretjies te speel en seuntjies met poppe en daar is niks mee verkeerd nie. Die meeste kinders sal in daardie konteks wel ’n geslagsrol aanneem en dit sal dikwels ooreenstem met die geslag toegewys by geboorte,” sê sy.

Kinders moet hulself wees, ook seuntjies wat met poppe speel. Luidens ’n artikel in die Laevelder van 2015 sê Cora Breytenbach, ’n sielkundige wat ’n privaatpraktyk by Laerskool Nelspruit bedryf, dis belangrik dat kinders van albei geslagte aangemoedig word om hulself te wees, want dit hou verreikende gevolge vir hul ontwikkeling in.

Afbakening van geslagte

Volgens Breytenbach is daar steeds ’n streng afbakening vir ouers tussen gepaste gedrag vir elke geslag.

“Ek sien daagliks stereotipering in my praktyk. Ek voel dis onnodig. Oor die algemeen mag seuns nie hul emosies of sensitiwiteit wys nie.

“Ouers moet kinders onvoorwaardelik aanvaar. Moenie kwaliteite onderdruk nie. Só leer hulle om emosies op ’n toepaslike manier uit te druk. As dit onderdruk word, voel hulle nie aanvaar nie en sal hulle later gedragsprobleme ontwikkel.

“Die meeste seuntjies stel belang in popspeel. Party ouers sal sê: ‘Hy speel so lekker pop hy kon net sowel ’n dogtertjie wees.’ Kinders hoor dit. Hoe laat dit hom voel? As jy hom los, sal hy dit ná ’n rukkie ontgroei. Hoe meer blootstelling kinders kry, hoe beter keuses maak hulle later.”

Onderdrukking het ’n impak op latere beroepskeuses. Dergelike onderdrukking het volgens Breytenbach definitief ’n impak op beroepskeuses later. “As kinders forseer word om iets te doen wat hulle nie regtig wil nie, is hulle later in hul lewens bang om dit te waag.”

Die koop van geskenke

’n Studie wat deur die Universiteit Stellenbosch gedoen is, wys dat ouers steeds stereotipeer watter geskenke hulle vir hul kinders kon kies. Soveel as 85 persent wou vir hul sesjarige seuns fietse of skaatsplanke gee, terwyl 80 persent vir hul sesjarige dogters ’n pop of feetjie-uitrusting uitgekies het.

Of hulle dit op grond van hul eie kinders se belangstellings gekies het, is egter nie getoets nie. Breytenbach verduidelik dat ouers juis in die eerste ses jaar van hul kinders se lewens ’n ongelooflike groot invloed het.

Geslagsneutrale ouerskap dikwels omstrede

Geslagsneutrale ouerskap, dikwels ook beskou as ’n omstrede benadering, breek geslagstereotipes en pleit vir goeie vaardighede en eienskappe waarmee alle mense kan grootword, ongeag van geslag – sodat kinders hulle eie besluite kan neem oor wie hulle wil wees.

Stereotipes en negatiewe impak

Stereotipering skep ’n negatiewe impak op kinders se jong verstand sê Vasuki Mathivanan, ’n sielkundige berader in Chennai.

“Wanneer kinders stereotipering ervaar op grond van geslag, leervaardighede, ras en ander kenmerke, word dit kragtig geregistreer in hul jong psige. Dit speel ’n groot rol in die vorming van hul identiteit soos hulle grootword en ontwikkel.”

Volgens Fritz moet ouers baie krities wees ten opsigte van stereotipering.

“Uitsprake soos big boys don’t cry en dogters moet almal eendag mammas word, skep na my mening ’n groter probleem as die gebruik van voornaamwoorde.”

Faktore rondom geslagsidentiteit

Afgesien van die 23ste chromosoom wat ’n kind se geslag bepaal, is daar ’n verskeidenheid faktore wat ’n rol speel wanneer geslagsidentiteit ter sprake kom.

Navorsing toon onder andere dat kinders wat vroeg in hul lewe trauma (veral op seksuele vlak) beleef het, wanopvattings oor hul eie geslagsidentiteit kan ontwikkel. Oorbeskermende ouers wat kinders nie toelaat om hul eie onafhanklikheid en selfstandigheid te ontdek nie, word ook aan die negatiewe groot klok gehang.

Volgens Elzette Fritz, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg het jou seksuele identiteit te make met interne sowel as eksterne faktore – die mate waarin jy gemaklik in jou eie liggaam voel, sowel as jou denkwyse oor “manlik” of “vroulik” wat uitgebeeld word deur onder andere die samelewing, ’n spesifieke kultuur en rolle wat ouers of die dominante omgeefigure binne ’n gesinskonteks speel – dit lê vir ’n kind die bloudruk in terme van seksuele identiteit.

Elma de Vries sê die kerngesin het ’n groot invloed op ’n kind se ontwikkeling, maar van jongs af is daar ook ander invloede soos televisie en maats wat kinders blootstel aan verskillende genderrolle.

“Die ontwikkeling van ’n individu se genderidentiteit is ’n komplekse interaksie tussen biologiese en omgewingsfaktore. Daar is wetenskaplike studies wat wys op poligenetiese faktore, asook die invloed van sekshormone op die brein van ’n fetus. Tot ’n groot mate word genderidentiteit dus al voor geboorte vasgestel.”

Kinders wat anders is

De Vries sê vir ’n klein persentasie kinders is hulle ervaring van hul genderidentiteit nie dieselfde as die geslag toegewys by geboorte nie.

“Vir sulke kinders is dit baie belangrik om ’n omgewing te skep waar hulle veilig voel om hulself te kan wees. Genderidentiteit kan op verskillende maniere ontwikkel en is baie individueel. Party kinders weet al van jongs af dat hulle anders is en pas eenvoudig nie in die binêre boksies van manlik en vroulik nie.”

Alternatiewe siening rakende geslagsneutrale ouerskap

Carousel Pieterse, terapeut en programdirekteur van ’n ouerskapprogram in Katy, Texas, sê haar benadering lyk anders as die kontemporêre siening ten opsigte van geslagsneutrale ouerskap.

“My persoonlike oortuigings buiten my professionele oortuigings is christelik. Die Here het seuns en dogters intensioneel verskillend gemaak vir ’n wêreld wat verskillend benader behoort te word.

“Hierdie biologiese verskille lewer nodige en fundamentele voordele vir die samelewing. Vroue is oor die algemeen meer geneig tot samewerking waar mans meer geneig is tot konflik en gemaak vir avontuur. Alhoewel seuns en dogters sekere temperamenteienskappe deel, is meisies meer geïnteresseerd in mense terwyl seuns meer belangstel in prosesse.

“Wanneer ons toelaat dat ’n seun of ’n meisie te ver gedruk word rondom sogenaamde gelykheid kan ’n seun makliker oortuig word en sy dringendheid vir onafhanklikheid verloor. Meisies se belangstelling in waar hulle inpas in ’n sosiale orde bly ’n belangrike vroulike eienskap en gee aan die vroulike geslag die opdrag om kinders te hê.”

Ontwikkeling van geslagsidentiteit – nie slegs in sosialisering

Volgens Pieterse is die ontwikkeling van ’n geslagsidentiteit nie net te vinde in sosialisering nie – daar is baie sterk biologiese merkers wat as kernaspekte aangespreek moet word.

Pieterse ondersteun die siening dat seuns en meisies gelyke geleenthede kry om te ontwikkel, maar is oortuig daarvan dat die sekulêre omgewing ouers kan ontmagtig om geslagspesifiek met hul kinders om te gaan en in die proses dit wat vir hulle biologies normaal is, teen te werk.

“Duidelike oogmerke gelei deur ouers is belangrik en vorm die essensie van ouerskap. Wanneer ’n seun met ’n pop wil speel, kan dit toegelaat word binne ’n balans. Maar daar is alternatiewe vir die seun beskikbaar sonder om die gedagte te posisioneer dat die seun anders behoort te wees as sy geslagsgenote.”

Ouers moet self temas kies pleidooi vir ingeligte ouerskap

Volgens Pieterse is dit normaal vir kinders om vryspel toe te laat en alles te verken. Maar as ’n verantwoordelike ouer kies sy self die verkenningstemas. Sy pleit ook vir ingeligte ouerskap waar ouers opgelei word om hul kinders groot te maak.

“Ons omgewings kan nie die kurrikulum wees wat die ouerskaptemas moet bepaal nie. Daar is te veel makrotemas wat ons gemaklik wil maak met vloeibaarheid.”

Moontlike aanpassings in die onderwyssektor

Luidens ’n onlangse mediavrystelling skaaf die departement van basiese onderwys tans aan riglyne om skole meer inklusief en toeganklik te maak vir kinders van alle seksuele oriëntasies en oortuigings: “Om die grondwetlike verpligting vir sosio-opvoedkundige insluiting van seksuele minderhede te verseker en die tans oorweldigende litigasie te vermy.”

In ’n dokument wat tans onder konsultasie is, word pertinente vrae gevra oor die insluiting van seksueel- en geslagsdiverse kinders met betrekking tot skooltoelating, -kurrikulum, -ko-kurrikulêre programme, -uniforms en -fasiliteite.

Elijah Malangu, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het benadruk dat dit slegs ’n konsep is en daar nog met belanghebbendes beraadslaag moet word. Die finale aanbevelings sal slegs in 2023 bekend gemaak word.

Jaco Deacon, uitvoerende hoof vir die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), ondersteun nie die beleidsverandering nie. “Die grondwet en ander beleide is duidelik oor diskriminasie. Gee eerder praktiese riglyne vir skoolgemeenskappe om hierdie behoeftes aan te spreek,” sê hy.

“Dit is skole se grondwetlike mandaat om onderrig aan alle leerders te gee en ons moedig ouers en leerders met spesiale versoeke of behoeftes aan om met die skool in gesprek te tree.

“Dit is ’n saak wat op skoolvlak hanteer moet word en waar die beheerliggaam binne hul beleide versoeke kan hanteer. FEDSAS gee reeds vir jare hieroor advies aan skole en daar is regtig baie subjektiewe behoeftes wat in ag geneem moet word – waar redelikerwys doenlik, help skole nog altyd.

“Ons belewenis is dat hierdie gesprek ’n diep persoonlike aangeleentheid is en moontlik net in ’n klein persentasie skole gaan plaasvind.  Dit is nie ’n gesprek vir elke skool en elke gemeenskap indien daar nie so behoefte uitgespreek is nie.”

Kanaal vir oop kommunikasie nodig

Deacon beklemtoon die veronderstelling dat daar altyd ’n oop kanaal vir kommunikasie moet wees en ouers/kinders die vrymoedigheid moet hê om die skool te nader.

“Hierdie gesprekke en prosesse moet met deernis binne ’n opvoedkundige raamwerk plaasvind.”

Deacon sê hulle het ’n konsepdokument onder oë gehad, maar die departement het dit nog nie amptelik met die beheerliggaamorganisasies gedeel nie en daar was nog geen konsultasie met beheerliggaamorganisasies nie.

Skakels:

  1. https://lowvelder.co.za/260741/seuntjies-mag-maar-met-poppe-speel/
  2. https://www.pressreader.com/south-africa/kuier/20190320/281590946885766
  3. https://www.bbc.com/worklife/article/20220929-the-p.arents-raising-their-children-without-gender
  4. https://time.com/5885697/gender-creative-parenting/
  5. https://www.parentcircle.com/how-stereotyping-affects-children/article

Lees ook:

Só benader mens die transgender-gesprek sensitief en sinvol

Wat beteken die + in LGBTQIA+?

’n Krities-narratiewe begripsverheldering van biologiese aspekte van die transgenderverskynsel

Robert: ’n Onderhoud met Robert Hamblin

Twee lewens deur Elise Bishop, ’n resensie

Etienne van Heerden Veldsoirée: Elise Bishop oor Twee lewens

  • 17

Kommentaar

  • Ek was op ’n stadium as kind vas oortuig ek is ’n hondjie. Dit het eendag ’n hoogtepunt bereik toe ek tydens ’n kerkdiens begin blaf het. Eintlik was ek buite die kerk doenig en het glo by die kerk se deur ingestap (ingedraf?), ’n paar keer vir die mense in die kerk geblaf, en toe weer koers gekies. My ouers was baie liefdevol en het my laat begaan.

    Ek weet nie hoekom ek toe uiteindelik gekies het om nie maar ’n hond te bly nie. Die lewe as mens is nie aldag lekker nie.

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie sin

    "De Vries sê vir ’n klein persentasie kinders is hulle ervaring van hul genderidentiteit nie dieselfde as die geslag toegewys by geboorte nie."

    is die kern van die situasie. Die persentasie is geweldig klein. Dis in alle lande en kulture baie klein. Natuurlik moet vir hierdie kinders voorsiening gemaak word. Dit is egter skokkend dat die probleme wat ’n ondeurdagte beleid kan veroorsaak deur baie ontken word. Dit is ’n feit dat dogters al in baie lande in unisex-badkamers verkrag is. ’n Beleid moet so toegepas word dat mans wat die situasie wil misbruik nie sommer net kan beweer dat hulle vroue is nie. Mense wat werklik transgender is, moet in ag geneem word, nie opportuniste nie.

  • Biologiese geslag word hoegenaamd nie “toegewys” by geboorte nie. Dit word reeds by bevrugting bepaal.

  • U kibbel oor kleinighede. Daar was 'n tyd voor al die moderne tegnologiese ontwikkelinge. Toe kon die geslag eers bepaal word na geboorte. Mens kan ook beswaar maak oor die son wat 'opkom', terwyl dit eintlik die aarde is wat voor die son inskuif. As jy sou wou. 'n Mens word ook volgens wet by geboorte eers amptelik geregistreer.

  • Snotjan, Pluto het bestaan nog voordat dit ontdek is.
    Biologiese geslag word bepaal by konsepsie, al weet niemand wat die geslag is totdat die fetus gebore word nie. Dis nie iets wat volgens die heersende woke ideologie deur die persoon self of deur omstanders bepaal word nie; biologie doen dit.
    Jy is skynbaar onbewus daarvan dat sommige mense reken dat biologiese geslag "toegewys" word deur omstanders en dat biologiese geslag ’n spektrum is, en dat, volgens heelwat transaktiviste, transvroue presies dieselfde is as biologiese vroue.

  • Barend van der Merwe

    Ek stem saam maar ek se net jy kibbel oor semantiese kleinighede. Toe ek gebore was, was Pluto 'n planeet. Nou is dit nie meer nie. Daar is 'n verskil tussen geslag en gender. Die een is biologies. Die ander is sosiaal.

  • 'n Mens leer ook elke dag nuwe dinge. Ek het altyd gedink die son verskyn soggens in die ooste en verdwyn saans in die weste omdat die aarde om sy denkbeeldige as draai. Nou leer ek hier dit is omdat die aarde so voor die son inskuif. G'n wonder dit word so warm hier in Durban nie! Die bleddie moderne tegnologiese ontwikkelinge darem ook, dêmmit!!

  • Barend, jy is die een wat kibbel. Maak nie saak of Pluto 'n volwaardige planeet of 'n dwergplaneet is nie, dit het bestaan voor dit ontdek is, ditto met biologiese geslag wat bestaan voor dit by geboorte waargeneem word. Dit word nie by geboorte "toegewys" nie en dit is nie 'n semantiese kleinigheid nie. Ek besef baie goed dat biologiese geslag en gender verskil, haal my asseblief aan waar ek die teendeel beweer het.

  • Barend van der Merwe

    Jy is reg Angus. Die punt is dat die son nie "opkom" nie. Die aarde draai. Maar is dit nou skielik verkeerd elke keer as iemand nog sê dat die son "opkom"?

  • Barend van der Merwe

    Moet almal nie dalk nou liewer sê die son "verskyn" of mag mens nog sê dat die son "opkom"?

  • As mens dink dat biologiese geslag by geboorte “toegeken” word, en dat die woord vrou vervang moet word deur terme soos “mense met uterusse” of “mense wat menstrueer” of dat die woorde “ma” en “pa” deur die bank vervang moet word met “ouer” of “lewegewers” of “skenkers van gene”dan reken ek dat mens seker ook nie meer mag praat van die son wat opkom nie.

  • Barend van der Merwe

    Dit gaan hier soos by 'n NG-sinode. Vreeslike gespeel met woorde. Ek sien ook niks fout met die uitdrukking "vroue wat menstrueer" nie, so terloops.

    So wie is die persoon wat die geslag "toewys" by konsepsie? Is dit 'n god? Wat van in die geval van ons wat ateïste is? Ons het nie gode nie. Word ateïstiese babas se geslag ook "toegewys" of nie? Amper vergeet ek, alle mense word ateïsties gebore ...

    Vir my is dit 'n eenvoudige saak. Geslag bepaal nie outomaties gender nie. Daar is mans wat vroue wil wees en vroue wat mans wil wees. Dit was nog altyd so. Mense is net nie altyd toegelaat om te wees wie en wat hulle wil wees nie. Grotendeels weens godsdiens se verstikkende houvas, wat mense se lewens regeer en dikteer het.

  • Barend van der Merwe

    Let asseblief op die begrippe "geslag" en "geslagsidentiteit" in die artikel. Dit is twee verskillende dinge.

  • Barend, die uitdrukking is nie "vroue wat menstrueer" nie, maar "mense wat menstrueer". Dit is sodat transvroue (dws biologiese mans met genderdisforie wat getransisioneer het na die teenoorgestelde gender) beskou kan word as presies dieselfde as biologiese vroue. Dis nie om dowe neute nie dat daar by baie transaktiviste die slagspreuk is "trans women are women", bedoelende dat hulle in alle en elke opsig identies is aan biologiese vroue. Daarom word daar ook gepraat van mense met servikse ensovoorts, soos ek uitgewys het.

    Wat die "toekenning" van seks betref, daar is ’n sterk gedagtestroom wat vertel dat seks ook sosiaal gekonstrueer is; sien hierdie skakel:
    https://journals.sagepub.com/doi/full/10.1177/1536504217696082

    Daar kan jy onder andere lees: "… the notion that physical sex is also socially constructed has acquired far less exploration."

    Ek het self laasjaar gehoor hoe ’n man in sy diep basstem kla dat sy biologiese seks by geboorte aan hom toegeken is as manlik, en dat dit verkeerd was en dat hy nou gaan transisioneer na ’n vrou. En dis OK, ek wens hom alle sukses en geluk toe.

    Jy vra: "So wie is die persoon wat die geslag 'toewys' by konsepsie? Is dit ’n god? Wat van in die geval van ons wat ateïste is? Ons het nie gode nie. Word ateïstiese babas se geslag ook 'toegewys' of nie? Amper vergeet ek, alle mense word ateïsties gebore ..."

    Niemand wys ’n biologiese geslag toe by konsepsie nie; jy bedoel seker by geboorte. Daardie vraag moet jy vir die transaktiviste gaan vra. "Vir my is dit ’n eenvoudige saak. Geslag bepaal nie outomaties gender nie." Inderdaad, maar in verreweg die oorgrote meerderheid gevalle stem gender en biologiese geslag ooreen.

    "Daar is mans wat vroue wil wees en vroue wat mans wil wees. Dit was nog altyd so. Mense is net nie altyd toegelaat om te wees wie en wat hulle wil wees nie. Grotendeels weens godsdiens se verstikkende houvas, wat mense se lewens regeer en dikteer het."

    Ten minste stem ons daar saam.

  • Marietjie, Elma en Elzette – ek moet dank betuig vir ’n wonderlike artikel en die spitsvondige bespreking deur menings van veral Leon en Barend. Solank positiewe gesprekke transgender ondersteuning en aanvaarding laat geniet, kan die onnodige hartseer wat indiwidue daarmee moet worstel, verlig word …

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top