Oor kortverhale en hul skrywers

  • 0

My eerste Woordfees-ervaring was meer as wat ek my ooit kon indink.

Ná die ongemaklikhede destyds met Eugene de Kock het ek die fees stil-stil gevrees. Sal ek kan herstel as ek ’n soortgelyke ervaring moet beleef?

Maar dit was vroeg-vroeg duidelik dat dit nie die geval gaan wees nie. Op die sosiale media was daar ’n magdom skrywers en lesers wat my ’n tweede begin gun, ’n lewe weg van my verlede, om hierna waarlik vry te wees. Ná my wonderlike ervarings by Innibos en Aardklop vroeër vanjaar, het ek na die Toyota US Woordfees uitgesien. Ek het immers vier jaar gelede tydens ’n versoeningskonferensie in Stellenbosch gesit en gewens – gebid – dat ek eendag na die moeder van alle boekefeeste uitgenooi sou kon word. (Ek hoop ook nie dit was my laaste besoek nie!)

Nadat my verhaal “Vrek soos ’n kakkerlak” in die Woordfeesbundel opgeneem is, móés ek doodeenvoudig net gaan.

Ek het die voorreg gehad om Facebook-vriende in persoon te ontmoet; saam met sommige kon ek stil word, ’n bier, ’n koffie, met ander het die tyd so vinnig uitgehardloop, ek kon net ontmoet en groet. In dié opsig was die week hopeloos te kort, maar my siel het daagliks na my gesin gesug.

Van kort gepraat. Hierdie stuk handel (grootliks) oor kortverhale.

Verdien kortverhale nie meer lugtyd nie?

Ek voel êrens moet ons aan van die sterk stemme meer blootstelling gee. Ek het ’n spreadsheet met al die Woordfees-skrywers (nuwes nog nie ingetik nie). Het julle al gesien hoe min is ervare skrywers? Hoe gee ons as lesers aan hulle meer blootstelling? Hoe beskerm ons die kuns? Verdien kortverhale – veral die gehalte van byvoorbeeld Coen Basson se 2021-wenverhaal “Eenzaamheid” – nie dieselfde publisiteit as digbundels nie?

As ek enige sê in die uitgewersbedryf gehad het, sou ek iets soortgelyks vir die kortverhaalskrywers as met die digters se nuwe stemme doen. Ek weet van die drie Nuwe Stories-bundels, maar dit sluit die ouer garde uit wat ook honger is om te leer en hul naam daarbuite wil kry.

Daar is gelukkig hoop.

Huisgenoot publiseer kortverhale. LitNet ook. Daar is aanlyn skryfskole soos Skryfgeheime en natuurlik probeer VivA-Uitgewers ook kortverhaalskrywers elp.

Dan is daar die groot een: die Woordfeesbundel.

Vir diegene wat, soos ek, meer kortverhale soek om te lees, hier is ’n paar name en plekke om te gaan krap. Van hulle kan jy aanlyn lees, soos ek gemaak het terwyl ek by die Toyota US Woordfees was.

Eugene Pienaar en Skryfgeheime

Skryfgeheime het onlangs hul top-vyf bekendgemaak in die moordstoriekortkursuskompetisie.

Eugene Pienaar was tweede en ek derde.

Pienaar se naam is die enigste van die top-vyf wat ek herken. Toe ek so ’n bietjie daaroor nadink (ek het uiteraard dadelik gaan kyk, nee, ons is nie Facebook-vriende nie) onthou ek dat ons altwee verlede jaar die top-vyf gehaal het in die LitNet-slypskool Om te skryf.

Ek het toe moeite gedoen om op sy profiel te gaan kuier en het die meeste van sy Huisgenoot-kortverhale daarna op my selfoon gaan lees. Sy eerste verhaal het in die uitgawe van 23 Junie 2022 verskyn, maar sedertdien het hy ’n paar verhale gepubliseer, meestal spookstories. (Lees veral “Spookradio”, “Die spookhuis” en “Hokaai, stop die troue!”)

Ek is opgewonde oor wat alles nog vir hom voorlê. Vars stemme soos Pienaar s’n verdien beslis meer blootstelling. (VivA-Uitgewers, hierdie is nou ’n skimp dat julle hom moet nader trek vir ’n japtrap-bundel.)

En nog verassings in Huisgenoot

Ek was heerlik verras toe ek Erla-Mari Diedericks se kortverhaal “Herinneringe” op Facebook sien. Toe wonder ek hoeveel skrywers wat ek ken, het in die laaste jaar in Huisgenoot gepubliseer? Ek weet Elsa, Erla, Cliffordene en Constant van Graan het by VivA-Uitgewers japtrap-bundels uitgegee. Maar Huisgenoot?

Hier is die name wat ek sommer dadelik raakgesien het: Michèle Meyer, Elsa Winckler, Cliffordene Norton, Malene Breytenbach, Thilde Nel, Alita Steenkamp, Barend Wessels en natuurlik Erla-Mari Diedericks.

Die agt het wonderlike kortverhale gelewer. Waarvoor wag jy, gaan lees dit!

Borrel, Woordfeesbundel 2023, 24 skrywers

Natuurlik moes ek hieroor skryf. Hoe anders?

Ek het besluit om Rina Bester se R30 000-wenverhaal “Legende van die Suameer” laaste te lees. Dis mos die kersie op die koek. Ek is dus nog nie deur die bundel nie, so ek kan niks daaroor sê nie. Ek wag in spanning.

Die verhale wat ek tot sover gelees het, maak my bly ek was nie deel van die beoordelaarspaneel nie. Die onbekende stemme staan nie ’n tree terug vir die groot asems soos Francois Bloemhof, Trisa Hugo, Anzil Kulsen en Gerda Taljaard nie. Dalk is dit bloot onkunde, maar my grootste verrassing sover is die digter Clinton V du Plessis se verhaal “Bonsai”. Hemel, maar die man kan skryf.

Voorlesings? Handevat?

Steeds by die Woordfeesbundel, maar terug na die jaar 2021 en Coen Basson se wenverhaal “Eenzaamheid”. Ek het dit nou weer gelees. Dit is een van daardie verhale wat jou ewig bybly. Is daar nie ’n manier dat vorige Woordfeesbundels voorgelees kan word nie?

Daar is regtig goeie talent wat wag om raakgesien te word. Ek dink ook dat die Woordfees en slypskole soos Skryfgeheime hande moet vat met byvoorbeeld VivA-Uitgewers. Êrens moet ons in die stemme belê. Al is dit net in digitale japtrap-bundels.

Lees ook:

LitNet-slypskool Om te skryf: Die finale verhale

Ons soek e-boekkortverhale in Afrikaans

VivA gebruik kortverhale om talent te slyp

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top