VivA gebruik kortverhale om talent te slyp

  • 0

Aanlyn is aanlyn te koop by Viva.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

VivA-Uitgewers maak my opgewonde oor die voortbestaan – en groei – van kortverhale.

Alhoewel ek ’n voorliefde vir spanningslektuur het, besef ek al hoe meer die waarde van kortverhale. Oor die bemarkingswaarde het ek al breedvoerig op LitNet geskryf. Nuwe stemme kan ook met hierdie genre geïdentifiseer en geslyp word, en kortverhale is, nes gedigte, ’n kuns wat beskerm moet word.

Human & Rousseau, in samewerking met LitNet, het ’n dekade gelede onder leiding van Jeanette Ferreira en Suzette Kotzé-Myburgh Nuwe Stories uitgegee. Dit het die 21 beste stories bevat uit die inskrywings vir die kortverhaalkompetisie vir skrywers onder 30.

Ferreira eindig haar voorwoord só af: “Hopelik is hierdie bundel die eerste van ’n reeks wat later ’n duidelike spoor in die literatuurgeskiedenis sal trap.” Sy skryf ook: “Lees dit met aandag, want dit wys heen na die toekoms.”

Intussen het Nuwe Stories 2 en 3 verskyn. Skrywers soos Constant van Graan, wie se verhaal in die eerste bundel verskyn het, Brian Fredericks, Madré Marais en Carien Smith se name is sedertdien op voorblaaie verewig. Van Graan het hom met Jungu Josh as ’n jeugskrywer gevestig, Fredericks het ook langer verhale aangepak en hy en Smith is al met gesogte literatuurpryse bekroon. Frederick J Botha het ’n doktorsgraad verwerf en publiseer hopelik eersdaags weer. Carolyn Meads en Solette Swanepoel het hulle diep ingegrawe as uitgewers en Bibi Slippers is al ’n huishoudelike naam in poësiekringe.

Leti Kleyn skryf in haar voorwoord in die tweede bundel dat Janita Holtzhausen, wie se breinkind dit was, ongeag die moeilike ekonomiese tye in die ontwikkeling van jong skrywers belê het. Soortgelyke projekte is noodsaaklik vir die toekoms van kortverhale.

Die Toyota US Woordfees se Woordfeesbundel het ’n gesogte publikasie geword. Gevestigde skrywers soos Martin Steyn, Sidney Gilroy, Chase Rhys, Gerda Taljaard-Gilson en Deborah Steinmair se kortverhale het al daarin verskyn.

Tog, alhoewel Michèle Meyer (die 2017-wenner) met Moer saam met die groot visse kon swem, moes ander wenners soos Hendie Grobbelaar (2019) en Coen Basson (2021) by kleiner uitgewers uitgee – nie weens die kwaliteit van hul werk nie, maar omdat kortverhaalbundels nie maklik deur groot uitgewers uitgegee word nie. Meesterstukke soos As die Cape Flats kon praat (Fredericks) en Bot (Smith) was gelukkig van die uitsonderings.

Kortverhaalskrywers het ’n platform nodig. Al bestaan die bundels net uit vyf kortverhale, gee dit die skrywers moed om aan te hou skryf, en vestig hul name in leserskringe.

Life FM se boekeprogram, leesD!T, bied jaarliks ’n nasionale skryfkompetisie aan. ’n Deel van die prys is dat gevestigde skrywers die beste 10 verhale se skrywers mentor, met die oog op publikasie. Met die eerste kompetisie twee jaar gelede het ’n keurder van ’n groot uitgewery drie studente uitgesonder en gevra dat ons in hul toekoms moet belê aangesien hulle groot potensiaal toon. Die wenner, Bianca van der Walt, was verlede jaar weer onder die beste 10. Verlede jaar se wenner, JD Carr, het dieselfde keurder beïndruk. Hy is ook onlangs aangewys as die medewenner van die POORT-kompetisie, wat in 1971 begin is om skeppende talent onder hoërskoolleerders te ontdek. Tog sien die uitgewery nie kans om hul werk uit te gee nie.

Waar lê die antwoord? Hoe word talent geslyp as die werk nie gepubliseer word nie?

Dit bring my terug na VivA-Uitgewers. Op hulle digitale platform en met kortverhaalbundels soos Aanlyn kan gevestigde skrywers die geleentheid kry om meer te publiseer, en nuwe skrywers se stemme kan gehoor word. Dit maak ontwikkelingsprojekte die moeite werd.

Hier is ’n skakel na Aanlyn, VivA-Uitgewers se eerste produk.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top