
Die mark van e-boekkortverhale is nog nie in Suid-Afrika ontgin nie. Tog kan dit ’n boek van een punt na ’n ander dra, nuwe lesers lok of selfs ’n newekarakter ontwikkel wat in ’n latere boek ’n hoofkarakter word. Dit gebeur gereeld dat ander karakters in die skrywer se werk ontwikkel, of dat lesers so gaande oor hom/haar is, dat hy/sy ’n eie boek verdien.
Bennie Griessel is sonder twyfel die beste plaaslike voorbeeld hiervan. Hy is al so wêreldberoemd, ’n mens kan skaars glo hy was eens op ’n tyd nie die kollig in Deon Meyer se boeke nie. Dit is amper onwerklik om te dink dat Meyer hom eers in Francois Bloemhof se bundel kortverhale, Donker veld, tot katalisator ontwikkel het. En Meyer beskou sy kortverhaal “Die perfekte moord” as ’n proeflopie.
Nog ’n goeie voorbeeld is Irma Venter se Amelia “Ami” Prinsloo, die heldin van Minder as niks en Die verkeerde vrou. Ami het haar buiging in Sondag, die sesde boek in Venter se S-reeks, gemaak.
En wat daarvan as ’n skrywer ’n jaar spring voor hy weer ’n boek in ’n reeks uitgee? Ongeag of hy ’n blaaskans neem, ’n vorige boek vertaal of aan ’n nuwe reeks werk, hoekom nie ’n kortverhaal uitgee met ’n gedagte wat nooit ’n boek gaan word nie? Daar is baie idees wat nooit in boeke uitloop nie. Deel dit met die lesers!
Kyk na Saul Grisman, David Morrell se karakter in die Brotherhood-trilogie (The Brotherhood of the Rose, The Fraternity of the Stone en The League of Night and Fog). Morrell, wat as kind in ’n kinderhuis was, se vroeë werke het temas oor seuns se soeke na ’n vaderfiguur gehad, maar ná sy seun se dood as 15-jarige, het hy op verlies begin fokus. Lesers het egter gevoel daar kort iets ter afsluiting en het hom gereeld vir ’n opvolg gevra. Jare later het hy dié hoofstuk met die skryf van sy kortverhaal “The Abelard Sanction” afgerond. Hierdie die-hard fan het die eerste Thriller-bundel net vir sy kortverhaal gekoop, die res was ’n bonus.
Dalk is ek selfsugtig en wil ek net meer van my gunstelingkarakters hê, maar hoekom nie die leser se honger na meer ontgin tot voordeel van die boekbedryf nie? Ek het immers by Netwerk24 aangesluit om Minder as niks se kitsvideoreeks te volg. Chris Karsten het juis vir Netwerk24 ’n Ella Neser-vervolgroman, Man uit die dode, geskryf met dieselfde doel voor oë – om lesers te lok.
Alhoewel ek nie nou die waarde van ’n groeproman soos LitNet se Die Rooi Roman (onder leiding van Etienne van Heerden) en die International Thrillers Writers (ITW) se Watchlist (Jeffery Deaver) wil bespreek nie, getuig beide van die legio moontlikhede om aanlyn te bemark.
E-boekkortverhale gaan sonder twyfel lesers na die uitgewer, of platforms soos Netwerk24 en LitNet, of die skrywer se webbladsy lok. Indien die kortverhaal met ’n skakel na vorige boeke verbind word, het jy ’n wenresep. Ek sou so ver gaan om die skakel direk aan ’n aanlyn boekwinkel te verbind. Dit gaan immers oor die verkoop van boeke.
In Sidney Gilroy se boek, Middernag, is sersant Sollie Mthembu se vrou, Nyandi, swanger en in Vlam, wat op sy hakke volg, is sy met sy kinders terug Lesotho toe. Lees jy laasgenoemde boek, begryp jy waarom die skrywer dit gedoen het. ’n Direkte opvolg sou die boek skade berokken het. Hier sou ’n kortverhaal gehelp het om die sprong te oorbrug.
Erla-Mari Diedericks se psigiater (Ann) en medepasiënt (Mandy) in Die Bewonderaar en Mike Nicol (Sleeper, The Rabbit Hole en Hammerman) se hawelose karakter (Janet) is kleurryke karakters wat by kortverhale sal baat. Ons wil meer van hulle lees.
Ek het pas Barry Eisler se Paris is a bitch voltooi. Die John Rain-Delilah-kortverhaal word gelys as boek 6.5. Ek het wel beide boeke daarvoor (The Last Assassin) en daarna (The Detachment) gelees, so die kortverhaal het my geprikkel om albei boeke tydens die feesseisoen weer nader te trek.
Ek het vroeër Eisler se kortverhaal “The Lost Coast” gelees om meer van Daniel Larison uit te vind vóór ek in Inside Out uitvind hoekom die Black Ops-operateur, Ben Treven, hom moet elimineer.
Eisler is nie die enigste skrywer wat die tegniek gebruik nie. Gregg Hurwitz, skrywer van die Orphan-X-reeks, het al drie kortverhale geskryf wat deel van sy reeks vorm. In The List fokus hy op die tiener, Joey Morales, wat gereeld in die reeks voorkom.
Karin Slaughter het haar en Michael Koryta se kortverhaal “Short Story” in die ITW se bundel kortverhale MatchUp (Lee Child) gebruik om haar karakter se vroeë jare neer te pen.
Tom Wood, skrywer van die Victor-sluipmoordenaarreeks, volg met Bad Luck in Berlin en Gone By Dawn in hul voetspore.
Waar is Suid-Afrika?
Morrell noem in sy trio-kortverhale, The Architecture of Snow, dat bemarking deesdae belangriker is as inhoud, hoekom dan nie e-boekkortverhale gebruik om te help bemark nie?


Kommentaar
Ek hou van Afrikaans lees.
Wat word as ’n kortverhaal beskou? Hoe lank, hoeveel woorde?
Die kortverhale waarna ek verwys se woordtellings verskil. Ek dink die idee is om die leser so gevange te hou dat hy/sy die boek wil koop.
Ek sal ook graag wil weet hoe kort kan 'n kortverhaal wees. Ek het 'n paar baie kort verhale geskryf oor 'n enkele persoon. Kan 'n klompie van hulle saamgevoeg word vir 'n tipe bundel? M.a.w., sê maar agt baie kort verhaaltjies van een sentrale figuur as hoofkarakter?
Soek julle nuutskepping-inskywings van kortverhale? Ek het nuwe materiaal. Waar kan ek dit plaas?
Mag ons ook in Engels iets gee?
Ek stem.
By tydskrifte soos Huisgenoot was die woordbeperking vir kortverhale rondom 3500, as ek reg onthou.
Ek wil graag uitvind wat die prosedure is indien ek iets by julle wil publiseer.