...
En as Pietie wat net die NG Kerk se manier van aanbid ken, nuuskierig is om te sien hoe die Sataniste aanbid, dan moet hy toegelaat word om daardie diens by te woon.
...
Behoort Gretha Wiid geleentheid gegee te word om by skole te gaan preek en bid? Ek dink so. As die skool, die beheerraad en die ouers tevrede is daarmee, sien ek geen fout nie.
Ons elkeen se reg om ons godsdiens uit te leef, is in die Grondwet beskerm, en ons is ’n grondwetlike demokrasie, al lyk dit in die praktyk nie aldag demokraties of grondwetlik nie. Ek stem nie saam met die boodskap wat Wiid verkondig nie, maar dit beteken nie ek dink sy behoort die reg ontneem te word om dit wat sy glo, te verkondig nie. En aangesien ons ons in ’n gevestigde kapitalistiese bestel bevind (met hier en daar ’n sterk streep sosialisme, maar dis dalk materiaal vir ’n ander gesprek), mag sy seker geld maak uit haar geloof. Dit mag vir sommiges aanstoot gee, dis te verstane, maar ons leef in ’n demokrasie.
Maar ek vermoed dat mense godsdiensvryheid sien soos die pick-n-mix van destyds, waar mens die lekkers waarvan jy hou, kon uitkies en daarvoor betaal. Dit bestaan natuurlik nog steeds. Deesdae kan mens ook jou pap, jou neute en als self uitkies. Jy besluit wat jy wil hê, hoeveel jy wil hê en selfs hoe jou verpakking moet lyk. Dis ’n wonderlike konsep. Alles waarmee jy wegloop, is dit waarvan jy hou. As jy iets nie wil hê nie, dan sit jy dit bloot nie in jou sakkie nie. Sommige televisieprogramme en boeke het ook kies-jou-avontuur-opsies. Alles gaan oor individuele keuse.
Godsdiensvryheid beteken ook jy kan jou avontuur kies. Sommige skole verkies om glad nie die godsdienstige avontuur in hulle skole toe te laat nie. Ander skole wat tot stand gekom het as gevolg van geloofsinstellings het godsdiens ingebak in hul DNS. Ons vergeet baie keer dat massa-opvoeding in baie wêrelddele nie sou bestaan sonder kerkskole nie.
Maar enigeen wat erns maak met godsdiensvryheid, moet besef dat dit algehele vryheid behoort te wees. As Gretha Wiid in die skool mag kom, dan moet die imam van die moskee om die draai ook kan kom. En die Joodse rabbi of die Hindoe-swami of die Wikkaanse heks. En natuurlik die Satanistiese priester. Die oomblik wanneer daar ’n besluit geneem word om in ’n spesifieke opvoedkundige omgewing godsdiens toe te laat, dan moet daar voorsien word in die geestelike keuse van elke kind en elke opvoeder, anders is dit diskriminasie. En as Pietie wat net die NG Kerk se manier van aanbid ken, nuuskierig is om te sien hoe die Sataniste aanbid, dan moet hy toegelaat word om daardie diens by te woon.
Dis nie genoeg dat verskillende godsdienste net in die graad 4-lewensvaardighede-sillabus behandel word nie; elke kind behoort toegelaat te word om sy of haar godsdiens in skole uit te leef, en hulle maatjies van ander gelowe kan net verryk word deur vrywillige blootstelling. Dink net, dalk kan ander kinders op Vrydae saam met die Moslem-kindertjies moskee toe gaan, of saam luister wanneer daar oor Jom Kippoer gepraat word. En dan op Goeie Vrydag saam leer oor die kruisiging.
Dan kom die godsdienstige vakansiedae ook aan die beurt. Kindertjies wat nie Christene is nie, behoort op Goeie Vrydag skool toe te gaan. Of as almal Goeie Vrydag af neem, dan moet almal ook met Labarang toegelaat word om dit as vakansiedag te vier, en so met elke ander belangrike dag op die kalender van elke godsdiens.
Godsdiensvryheid beteken presies dit: vryheid. En geen ouer of organisasie het die reg om te pick-n-mix oor watter geloof in hul skool toegelaat word nie. Elke kind se individuele geloofsuiting moet beskerm word, anders is dit diskriminasie. Sannie die ateïs en Jannie die fanatikus moet op ’n manier al twee geakkommodeer word.
Of niemand moet geakkommodeer word nie, en godsdiens moet buite skole gehou word.
Lees ook:
Wat behoort die benadering teenoor godsdiens in skole te wees?
Kommentaar
Bettina. Jy sal seker onthou hoe hulle in die regsopleiding vir jou kondisioneer om te glo dat wanneer jy 'n verkragter, wat jy weet skuldig is verteenwoordig, jy bloot in geding tree met die staat. So halwe eenkant affêre. Nee. Dis net: nee. Vals. Ek lees 'n boek getiteld 'Op 'n Eiland' en hier was die skrywer nog soos 'n enjin wat nie behoorlik ingeloop is nie, maar nietemin. In essensie vind sekere waarhede hier vir sekere mense plaas (ek is nog nie klaar met die boek nie), maar ek dink dit is goed dat ek daarvan lees om alles te probeer verstaan en so moet dit ook gaan by die skole. Die probleem lê daarin dat mense mekaar probeer oortuig dat hul waarheid die enigste weg na die lig is. Tensy die probleem die weg na die lig hou.
Godsdiens is nie vergelykbaar met die aanbidding van die Lewende Almagtige Drie-enige God nie. Dis iets anders. Godsdiensvryheid het nie te make met die Skepper van Hemel en Aarde nie. Ek weet nie wat Gretha Wiid preek en bid nie, maar as dit gaan oor Jesus Christus, sluit dit 'n keusemoment oor ander godsdienste uit. Godsdiensvryheid sluit nie in die navolging van Jesus Christus in nie, dis of Jesus of niks!
Ek glo ook dat as een die skool mag toespreek, mag ander dit ook doen oor dieselfde onderwerp. Ek wil darem iets hier bylas. Ek, as ouer, behou die reg voor rakende hoe my kinders opgevoed word. Ek mag dus kies watter mense se toesprake my kinders mag bywoon. Dit gaan natuurlik moeilik uitvoerbaar wees. Dus, hou die verskillende godsdienstige alternatiewe uit die skole.