Onderwys: die ANC-regering se grootste mislukking die afgelope 25 jaar

  • 2

Onderwys is ongelukkig een van die ANC-regering se grootste mislukkings van die afgelope 25 jaar. Die geskiedenis sal terugskouend oor hierdie tydperk die gebrek aan gehalte-onderwys uitwys as ’n nog groter ramp as geplunderde staatsondernemings en korrupte munisipale bestuur. Dit is ’n tragedie dat die regerende party eenvoudig nie daarin slaag om gehalte-onderwys vir al die leerders in ons land te verseker nie en sodoende die hoop op ’n beter toekoms van duisende leerders steel.

Ongelykheid in skole, en hoe blind almal daarvoor is

Gehalte-onderwys vir alle leerders is nie alleen die sterkste wapen om ongelykheid tussen mense op te hef nie, maar dit is ook onmisbaar in die stryd teen werkloosheid, misdaad en swak ekonomiese groei. Die hartseer werklikheid is dat arm mense en hul kinders die grootste slagoffers van kaderontplooiing, korrupsie, onbevoegdheid en staatskaping is. Hoeveel skole kon gebou gewees het met geld wat eenvoudig in ’n put van korrupsie verdwyn? Hoeveel honger leerders kon met gesteelde miljarde daagliks pouse ’n bord warm kos gekry het? Hoeveel puttoilette kon vervang gewees het met veilige spoeltoilette en hoeveel skoolbiblioteke kon gebou en met boeke toegerus gewees het? Hoe is dit moontlik dat nieteenstaande die feit dat elke president sedert 1994 belowe het om onveilige skole uit te skakel, leerders nog steeds in puttoilette verdrink?

Kan ons nou ’n slag oor die ding van ras kom? 

Hoe lyk ons onderwys?

Dit is belangrik om te onthou dat daar in ons land 23 289 publieke skole met ongeveer 400 000 onderwysers is. Daar is uitstekende skole met dikwels hoogs gekwalifiseerde maar ongelukkig ondergewaardeerde onderwysers wat ontsettend hard werk en wie se leerders se puik akademiese uitslae ’n bewys van hul insette is. Aan die ander kant is daar lui, ongekwalifiseerde en onverantwoordelike onderwysers, en hulle leerders sukkel om sonder die nodige hulp te slaag en val dan vroeg uit die skoolstelsel.

Die meerderheid onderwysers in ons land beskik nie oor die nodige vakkennis van die vakke wat hulle onderrig nie. ’n Voorbeeld hiervan is dat 79% graad 6-wiskunde-onderwysers nie 60% in ’n graad 6/7-wiskundetoets kon kry nie.

’n Ondersoek van die Departement van Basiese Onderwys (2017) het getoon dat net 37% van skole elke jaar al die werk in die kurrikulum afhandel. Onderwysers in Richardsbaai behandel jaarliks net 10% en in Modimolle-distrik word 40% van die jaar se werk afgehandel. Uit die sewe distrikte wat ondersoek is, het net Vhembe in Limpopo 50% van die graad 9-wiskunde-kurrikulum behandel. Die ander distrikte het tussen 28% en 42% van die werk gedoen. Daar is daagliks 41 000 onderwysers afwesig van hul werk.

Dagga gewettig: hoe raak dit skole?

Navorsing deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het bevind dat onderwysers in goed-funksionerende skole 6,5 uur per dag skoolhou, teenoor die 3,5 uur van onderwysers in disfunksionele skole.

’n Nasionale opname (PIRLS 2016) het getoon dat 78% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip in enige taal kan lees nie. Volgens die 2015-TIMMS-studie (Trends in International Mathematics and Science) kan net 61% van alle graad 5-leerders in ons skole basiese wiskunde doen. Die helfte van die laerskole in Suid-Afrika kan beskryf word as kognitiewe woestyne.

Dit is daarom nie verbasend nie dat vir elke 100 skoolbeginners, net ongeveer 60 dit tot by matriek sal maak, net 37 matriek sal slaag en van hulle net 12 universiteit toe sal kan gaan. Slegs vier studente sal binne ses jaar ’n voorgraadse graad verwerf. Die swak deurvloeikoers kan grootliks toegeskryf word aan die gebrekkige fondasie wat in die laerskool gelê word. Daar behoort indringend na die opleiding van laerskoolonderwysers gekyk te word en dit is nou hoog tyd dat die regering erken dat die sluit van onderwyskolleges ’n tragiese fout was.

Die grootste olifant in die onderwyswoonkamer is die politieke invloed van die Cosatu-geaffilieerde onderwysunie Sadou wat in werklikheid in beheer van ses van die nege onderwysdepartemente is.

Al die adjunkdirekteur-generaals in die Departement van Basiese Onderwys is lede van Sadou. Die ministeriële taakspan onder leiding van John Volmink (2016) het in sy verslag tot die ontstellende gevolgtrekking gekom dat skole regdeur Suid-Afrika eintlik deur dié onderwysunie beheer word. Die verslag het die grootskaalse korrupsie, nepotisme en uitbuiting by Sadou blootgelê en bevind dat die unie oa onderwys- en hoofposte verkoop vir kontant en lewende hawe. In Noordwes byvoorbeeld is 85% senior poste deur kaders van Sadou gevul as beloning vir hul lojaliteit aan die unie, ongeag hul vaardigheidvlakke of kwalifikasies. Die unie roep dikwels stakings uit waardeur onderrig gestaak word by skole wat die onderbrekings glad nie kan bekostig nie. Sadou se metodes om ontslae te raak van ongewenste persone is optogte, demonstrasies, stakings, karaktermoord, dreigemente en ernstige intimidasie.

Rolspelers in die onderwys in gesprek: ’n Uiters suksesvolle nasionale beraad

Die verslag waarsku dan ook ernstig teen die gevare van die noue verhouding tussen Sadou en die ANC: “The commitment of a Teacher Union to one single political Party is both dangerous and inappropriate. This means that those educators who join that Union are bound to that Party. And the fortunes of the educational system become dependent on the fortunes of a political process.”

Nie alleen is die aanbevelings van die Volmink-verslag om die onderwysunie tot verantwoording te bring grootliks geïgnoreer nie, maar president Ramaphosa het sy ondersteuning vir en geloof in die Sadou herhaaldelik uitgespreek. Hy het hulle in sy toespraak by hul vergadering in Kempton Park aangemoedig om steeds ’n militante, progressiewe en revolusionêre unie te wees wat die belange van sy lede bevorder asook dié van die leerders. Ook in sy toespraak by die KwaZulu-Natalse tak het Ramaphosa onomwonde sy steun aan dié onderwysunie toegesê: “We continue to look to Sadtu for leadership. … Our faith remains unshakable in Sadtu to play a decisive role in returning the ANC to its founding values of service and selflessness … We will not surrender the revolution to factionalism and division.”

Dit is dwingend noodsaaklik dat onderwys in ons land gedepolitiseer word, sodat die beste onderwyser in ’n pos aangestel kan word tot voordeel van die leerders en nie tot voordeel van lojale kaders van Sadou en die ANC nie. Verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid van onderwysers sal weer in alle skole ’n realiteit moet word, ongeag politieke affiliasies.

Gaan Ramaphosa nou, na die verkiesing, die morele moed hê om die ongeveer 254 000 lede van dié onderwysvakbond tot verantwoording te roep? Gaan daar ’n Zondo-kommissie van ondersoek wees na onderwysers wat leerders se toekoms steel? Gaan lojaliteit aan die party vir die ANC ook in die onderwys belangriker wees as integriteit? Gaan eenheid in die ANC swaarder weeg as die welsyn en die toekoms van die grootste persentasie van die leerders in ons land wat deur minderwaardige skole ontmagtig word?

Hierdie vrae kan nie verder geïgnoreer word nie, want ons land kan dit eenvoudig nie bekostig om nog ’n geslag kinders te verloor nie.

Bron

Nic Spaulding: https://nicspaull.com/2019/01/19/priorities-for-education-reform-background-note-for-minister-of-finance-19-01-2019 

 

  • Jeanette de Klerk-Luttig  is verbonde aan die Kantoor vir Morele Leierskap by die Universiteit Stellenbosch.

Is vennootskappe die antwoord op die land se onderwysprobleem?

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Dr D P van Velden

    Moedertaalonderrig is sentraal tot gehalte-onderwys. Dit is die taal waarmee mense identifiseer en ten beste kan uitdruk. Die stelselmatige verengelsing van die onderwysstelsels in Suid-Afrika is onrusbarend.

  • Die onderwysunie is direk verantwoordelik vir die jammerlike toestand van die onderwysstelsel! Versamel ledegelde en verder rol hulle klippe in die pad van diegene wat hulle tot verantwoording wil roep! Verder, hoe kan mens begrippe van wiskunde skeinat ens ens verstaan in ’n totaal onbekende taal. Xhosa-kind moet nou als in Engels verstaan. Engels is ook ’n besonder moeilike taal ... beginnend met die eienaardige spelling van baie woorde! Die arme, arme kinders !

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top