Dagga gewettig: hoe raak dit skole?

  • 1

 

https://www.litnet.co.za/category/menings/skoleseminaar/

Die datum 18 September 2018 sal bekend staan as ‘n “groenletterdag” in die geskiedenis van Suid-Afrika. Koeranthoofberigte het dit uitbasuin dat dagga nou gewettig is, wat plek-plek tot groot verwarring onder lesers gelei het.

Dit is die dag toe die Konstitusionele Hof dagga gedekriminaliseer het.

Laat daar geen twyfel wees daaroor dat die dagga-uitspraak van ons land se hoogste hof die krisis in ons skole nog meer gaan verhoog nie. Dis naïef om te dink dat die gebruik van dagga nie noemenswaardig in ons skole gaan toeneem nie. Elke onderwyser, veral in townshipskole, is uitgelewer aan en is reeds bekommerd oor wat die effek van die wettiging van dagga op leerders gaan hê.

Hoërskoolleerders 18 jaar en ouer word volgens die wet as volwassenes beskou en sal nou dus dagga vrylik tuis kan kweek en rook. Die vraag wat onmiddellik ontstaan, is wat skole en skoolbeheerliggame gemagtig is om te doen indien ‘n leerder, en selfs ‘n onderwyser, onder die invloed van dagga by die skool opdaag.

Tot op hede was geen persoon toegelaat om die skoolterrein onder die invloed van “onwettige middels” te betree nie. Onwettige middels is gedefinieer as “enige onwettige, bedwelmende of verdowende stof”. Met die nuwe wetgewing sal skoolbeleid voortaan moet verwys na “enige bedwelmende of verdowende stof”. Skole is steeds gemagtig om persone – hetsy leerders of onderwysers – wat onder die invloed van dagga (of drank, of watter verdowende middel ook al) skool toe kom, die skool te verbied. Dit nieteenstaande die feit dat dit vir privaat gebruik gewettig is.

My en baie ander se kommer is die effek wat die onbeperkte gebruik daarvan op jong kinders en in skole in ons gemeenskappe gaan hê.

Moet ook nie so naïef wees om te glo dat daar tuis volle beheer gaan wees oor die kweek en die rook van dagga nie. Dagga het ‘n verslawende element wat op die lang duur gaan lei tot ‘n vorm van psigose en antisosiale gedrag. Net soos ons tans die wrange vrugte daarvan pluk om kinders in skole vryheid te gee sonder verantwoordelikheid, so sal hierdie vryheid, al is dit op volwassenes gerig, die reeds onhoudbare situasie in ons skole vererger.

Die aftakelende uitwerking van dwelms in ons samelewing is onhoudbaar, en gesinne word uitmekaar geruk deur die effek daarvan. Dagga is ‘n intreedwelmmiddel wat gewoonlik tot die gebruik van ander dwelms lei. (Die medisinale gebruik van dagga is ‘n gesprek vir ‘n ander dag.) Wat ook nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die daggasaad iewers bekom of gekoop moet word, en dat daggahandel ingevolge die Konstitusionele Hof steeds onwettig is. Daarby is die vervoer, die afhaal en die voorsiening van dagga ook steeds ‘n kriminele oortreding.

Die parlement sal hopelik wetgewing goedkeur wat duidelikheid oor al hierdie problematiese aspekte sal verskaf. Oor die algemeen is daar by die gewone man of vrou op straat steeds groot respek vir die onafhanklikheid van die regbank. Oor die versiendheid en wysheid van die wettiging van die gebruik van dagga het daar egter nou twyfel ingetree. Mense redeneer die deur is nou wawyd oop vir die verskoning van ontoerekeningsvatbaarheid weens die gebruik van ‘n voorheen verbode, maar nou wettige middel.

Ek is bevrees kinders gaan nou groter en vinniger blootstelling en toegang kry tot dagga. Hopelik sal die regering die wetgewing met groot omsigtigheid benader en in ag neem wat die uitwerking daarvan in die toekoms op die jeug sal wees.

Ons is in ‘n krisis gedompel en wat nou koelkoppe benodig. Visionêre denke moet ingespan word in hierdie totaal nuwe uitdaging aan gemeenskappe in die algemeen, en skole in besonder.

 

Danie van Wyk

Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust

Kuilsrivier

  • 1

Kommentaar

  • Danie, ek hoor wat jy sê oor die gebruik van dagga onder skoolgaande kinders.
    Tog kan enige Jan Rap en sy maat nege-uur in die oggend by sy plaaslike drankwinkel instap en 'n kas bier en "carton" sigarette koop sonder dat enigiemand 'n oog knip of die hoeveelheid probeer beperk. Skoolkinders kry ook alkohol en sigarette vrylik in die hande; toe ek op hoërskool was, was dit niks vreemd as my klasmaats in nagklubs en kuierplekke uithang en liederlik besope raak nie. Ek was in een van die beste skole in die land (dit is dus 'n probleem wat al lankal bestaan in enige gemeenskap; niks nuuts nie).
    Ek dink gevolglik ook nie dat kinders se toegang tot dagga veel "groter en vinniger" gaan raak as wat dit reeds is nie, aangesien die handel daarin steeds onwettig is en dié wat dit wil kry, sal wel 'n plan maak (of maak reeds lankal plan).
    Myns insiens kan dagga en alkohol en sigarette maar oor dieselfde kam geskeer word wat wette betref: wat goed is vir die een, moet goed wees vir die ander. Dis al bewys dat alkohol en nikotien meer verslawend én meer dodelik is as dagga.
    Om alkohol en dagga dieselfde te hanteer, behoort dus 'n oplossing te bied vir die moontlike probleem van onderwysers wat onder die invloed van dagga/dwelms by die skool opdaag. Dronk of hoog: same difference (albei ewe onaanvaarbaar in enige werks-/professionele situasie).
    Ek wil dit wel net duidelik maak dat ek die misbruik van enigiets geensins voorpraat nie en beslis ook nie die gebruik van enige middels onder skoolkinders goedpraat nie – daar's genoeg navorsing wat bewys hoe dit ontwikkelende breine en liggame opduiwel. Ek dink net die kommer oor dagga spesifiek, sonder om na die vernietigende effek van alkohol en sigarette ook te kyk, is oordrewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top