Onderhoud: Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas

  • 3

Titel: Soe rond ommie bos 
Skrywer: Veronique Jephtas
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485312246

Veronique Jephtas verteenwoordig die kraakvars stem van ’n nuwe generasie Afrikaanssprekendes – die born-frees, ná 1994 gebore, wat grootgeword het in ’n land met meer geleenthede vir almal, maar waar die wonde van die verlede halsstarrig bly sweer. 

Soe rond ommie bos is die kreatiewe voortsetting van ’n ryk tradisie protespoësie in Afrikaans. Skrywers soos Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer het die pad vir Jephtas voorberei, maar sy slaan haar eie rigting in en verbeel ’n gemeenskap wat vry is van gesprekke wat rondom die bos loop.

……….
“Afrikaans is mooi, Afrikaaps is my moedertaal.”
……….

Cliffordene Norton gesels met Veronique Jephtas oor haar debuutbundel.

Wie/wat het jou liefde vir digkuns geïnspireer?

Ek het altyd geskryf en dit was altyd ’n way on myself te express. Ek het oek altyd gelike dat ek in my journal kan honest wies en dat niemand dit gan kry nie. Of soe het ek gedink. Jy wiet mens se ma krap altyd. Wat my liefde inspire het vi digkuns is simply die feit dat poetry emotion heighten. Dis eerlik en altyd net genoeg.

Hoe biografies is hierdie digbundel?

Te veel, sou my ma sê. Maa ek like om te skryf oo my real experiences en gevoelens. Ek het gevoel dat die ienagste way hoe dit eg kan wies en reg kan voel, is as ek diep krap en daai oppie tafel sit.

Ek weet dis soos om jou gunstelingkind te kies, maar wat is jou gunstelinggedig in hierdie bundel? Hoekom?

My gunstelinggedig is “die dag”. Dis so eenvoudig. Dit lees net: “die nag is stil ek lyste graag” – dit capture basically so baie in twee lines. Maa soes jy sê, dit is soes om ’n gunstelingkind te kies. Ek love ook die gedig “Quan”. Die bundel is aan hom opgedra en hy loep en sê vi ammel dis sy boek. Soe daai lat my hart spring.

……….
“Ek issie mal oorie editing process nie. Jy lees oo en oo van jou pyn en soms dink jy, wat gat hieso an jong!”
……….

Jou gedigte is baie visueel en praat reguit maar met empatie. Hoe ontwikkel jou gedigte? Neem ons deur jou skeppingsproses.

Daa is actually no recipe to my writing process. My vrinne vra altyd hoe kan ek soe gou ’n gedig skryf wat soe powerful is, dan sê ek dis simply die gifts vannie Man van Bo af. Ek sittie by ’n desk en soek stilte nie. Ek skryf meestal innie bed, want ek like nie koudkry nie. My hele bundel is geskryf op my phone tussen random moments innie kar, oppie veld, in ’n taxi, oppie toiletpot en innie garage waa ek my pyp roek.

Ek like skryf in ways dat jy nie nog moet loep soek wat die subteks issie. Alles is baie duidelik. Eerlik. Kort and to the point. My mense sal dadelik wiet van wie en waaroo ek praat as hulle ’n gedig lees. Dis hoekô ek niks explain nie.

Hoe lank het jy aan hierdie bundel geskryf/geskep?

Ek het begin in July 2019 en was drie dae laat vi my deadline met Ronelda. Maa innie eeste wiek van October 2019 toe was ek klaa. Soe drie maande. In Februarie 2020 toe lê ek dit voo en in October 2020 toe begin die editing process en hieso is sy.

Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van die bundel ervaar het?

Ek issie mal oorie editing process nie. Jy lees oo en oo van jou pyn en soms dink jy, wat gat hieso an jong! Die hoogtepunt was natuurlik dat my held, Ronelda Kamfer, my kon mentor en dat die span by Protea rêrag alles gemaklik gemaak het vi my, en my twee editors, Rentia Möhl-Bartlett en Danél Hanekom, was en is amazing.

Veronique Jephtas tydens die bekendstelling van Soe rond ommie bos in Paarl. (Foto: Jeremeo le Cordeur)

Wat was die moeilikste gedig(te) om te skryf? Hoekom?

Die gedig oo my ouma wat haa hys veloo. Dis hoekom wassit belangrik vi my om “Krismis innie nuwe hys” net daarna te skryf. Dis nou nog ’n seer wond, maa skryf help mettie healing process.

En my ouma love die bundel. Soe ek het dit met net die regte hoeveelheid grace en respect approach.

Kan ons gesels oor die gedig “mamma ek wil ’n man hê”. Het jy doelbewus met Standaardafrikaans en Kaaps gespeel?

Oooh! Jy het agtergekom, dankie tog. Jy gemaakeeste een wat my vra oo daai. Alles is doelbewus innie bundel. Ek het alles kleinletters gemaak met net hoofletters by sommige plekke. Kommas en punte op sekere plekke en alhoewel ek protest, was dit belangrik om steeds te speel innie proses en om klein hidden gems te los virrie leser. Dit was belangrik ommie misconception and stereotyping te highlight en hoe daai idea obviously deurie wit man in ôs koppe gesit was van wat reg is.

Het jy enige huiwering ervaar om die k-woord te gebruik? Is jy enigsins bang dat dit aandag vanaf die bundel sal trek?

Ek gloe nie dit sal nie. Ek het dit juis gebruik want mense gie te veel mag an daai woord. As jy my ken en my wêk ken en my gedig lees en nog once voel dit trek aandag af, is jy onnorag en soek aandag.

Foto: Jeremeo le Cordeur

Dis ’n tema wat ek wil aanraak en tegelyk my oë rol omdat ek dit doen, maar Standaardafrikaans en Kaaps: Wat is jou gevoel hieroor? Het jy ’n voor-/afkeur aan een?

Awe. Ek wiet waavan jy praat. My antwoord bly altyd dieselle. Afrikaans is mooi, Afrikaaps is my moedertaal.

Jy sê: “Afrikaans is mooi, Afrikaaps is my moedertaal.” Voel dit vir jou ook asof Afrikaans en Afrikaaps (of variante daarvan) twee tale binne een taal is?

Ek dink dit kan dalk gesien word as variante van mekaar. Want jy wiet ôs het is ôs eie code lingo! Maa tog issit Afrikaans, en ammel moet hulle panties relax.

Sie rond ommie bos is, volgens my, jou proteswapen. Sensor jy ooit jouself oor ’n spesifieke tema?

Nie eintlik nie. Dalk net my eie personal life in terme van verhoudings. Daa is net een gedig oo liefde innie bundel. Annie een kant wil ekkie oo liefde skryfie. Want gediggies oo liefde change nie die wêreld nie. Maa wie wiet, dalk innie next collection.

Jou gedigte spreek ernstige temas aan. Voel jy ’n soort plig om aktuele sake aan te spreek of is digkuns slegs hoe jy daarvan sin maak?

Dis baie belangrik om te praat oo wat gebee innie land en om ôs en in ôs. Ek voel ek het ’n baie groot verantwoordelikheid om ten alle tye te praat, spesifiek dit waaroo niemand wil praatie. Natuurlik kô hoe ek sin maak van alles in, maa dis belangrik om mense terug te vat na ’n spesifieke event, saak or tydperk wat ôs as ’n gemeenskap en land ervaar het. Die healing gannie net oo my nie. Maa my mense. Oo my en jou. En Quan en selfs Leo.

Lees ook 

Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas: boekbekendstellingsvideo

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top