Onderhoud met Rachelle Greeff oor die Swartland-skryfskool

  • 0

“Jy kry iemand wat jou skryfhand vat en sê kom ons bou ’n brug van jou skeppende gedagtes oor die maalkolke en stilstaande waters van die kreatiewe proses tot by sinne, paragrawe en op ’n dag bladsye,” sê skryfmentor Rachelle wat onder andere die Skryfskool van die Breytenbachsentrum op Wellington fasiliteer.

Naomi Meyer het met haar gesels om meer te wete te kom oor die skryfskool wat van 10 tot 14 Oktober op Vlakkerug aangebied word.

........

Rachelle, jy bied binnekort ’n skryfskool in die Swartland aan. Daar is baie mense wat wil skryf – op wie is jou skryfkursus spesifiek gerig: voornemende skrywers van romans, gedigte, tydskrifartikels?

Dit is veral, maar nie uitsluitlik nie, gemik op mense wat nog altyd wou skryf, maar nie weet hóé om uit die blokke te kom nie. Of as jy reeds skryf, maar nog nie die selfvertroue of ervaring het om dit verder te voer nie. Enkele van my vorige studente was reeds gepubliseerde skrywers toe hulle by my aankom.  Diesulkes wou hulle skryfwerk opknap, of  ’n nuwe rigting inslaan.

Ek is tevrede as ’n student by my weggaan met ’n duideliker idee van wat sy/hy wil skryf. Hulle moet ook weet hoe om ’n leser te verlei om van die eerste sin na die tweede te lees, van die eerste paragraaf tot die volgende en op dié wyse nuuskierig aan te gaan tot by die slot. Lesings is kort en toeganklik. Ons fokus primêr op skryf, herskryf, woordspel en prettig, dog uitdagende breingim-sessies. Ek prikkel verbeeldings, en maak koppe wakker. Ek vertel jou, uit ondervinding, van die boekbedryf sodat jy dit met selfvertroue kan betree. Agterna behoort jy te weet hoe om ’n meningstuk/rubriek, artikel, kortverhaal, tydskrifstorie en roman aan te pak. Ek lees my lewe lank al poësie, maar is nie ’n digkuns-mentor nie. Maar ontluikende digters is welkom. Die grondbeginsels van skryf, oor al die genres heen, het net soveel raakpunte as verskille.

Dink jy dat mense kan leer om te skryf? Hoe belangrik is talent, inspirasie, natuurlike aanvoeling – en hoe baie daarvan is oefening en leer by kenners?

As jy ’n mate van talent het, ’n handvol verbeelding, nuuskierig is oor die lewe en weet (goed) skryf gaan oor lang ure alleen sit en voortdurend herskryf en dis nié glamorous nie, is jy kwartpad daar. Dan begelei ek jou met entoesiasme. En is dit moontlik dat jy, soos etlike van my oudstudente, in die rigting van publikasie sal begin werk. Dié publiseer voorwaar: van romans, rubrieke, tydskrifverhale tot sepie-draaiboeke. Dis nie vir almal nie. Maar, soos Raymond Carver gesê het, “I can’t think of any writers or musicians who have just sprung full-blown without some kind of help. De Maupassant was helped by Flaubert.” Soos Beethoven wat by Haydn geleer het of Michelangelo wat eers by ’n meester as vakleerling gewerk het. En, “Obviously, this is not going to guarantee that it’s going to make a great writer out of anybody,” maar dit kan ook nie ’n skrywer se kanse benadeel nie.

Hoe gaan hierdie kursus werk? Moet mense vir die hele kursus bly, of kan hulle vir net een sessie inskryf?

Elke dag is ’n praktiese voortsetting van die vorige. Een of twee sessies mag interessant wees, maar jy gaan nie die nut van die kursus geniet nie.

Wat is jou eie agtergrond en betrokkenheid by die Breytenbachsentrum se skryfskool?

Die skryfskool van die nooitvolprese Breytenbachsentrum het onder Theo Kemp se bestuur, destyds, my baba geword. Ek het die leerplan ontwikkel. Noudat ons al ’n paar jaar aan die gang is, spog ons met verskeie gepubliseerde skrywers. Ek was nie by ’n skryfskool nie, net ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk en etlike eie titels en toneelstukke. Gelukkig het ek as jong skrywer onherhaalbare knap mentors in die media en later in die uitgewersbedryf gehad. Ek is van vroeg af gewys om nié onnodige woorde te gebruik nie, bedag te wees vir wollerig en ge-yk skryf, en  elke nuwe projek aan te pak asof dit jou eerste is. Ek is geleer hoe om (met ’n sin vir humor) vas te byt iewers tussen hoop en wanhoop.

Die Breytenbachsentrum se skryfskool strek oor elf maande. Ons is binnekort gereed vir 2020-aansoeke.

Vertal asseblief van die omgewing waar die skryfskool aangebied word?

Pragtige ou plaas in die Swartland, met heerlike plaaskos. Beperkte behuising hier beskikbaar vir studente, maar 9 km buite Riebeek-Wes en Riebeek-Kasteel met billike verblyf.

Hier is meer inligting oor die skryfskool:

Persvrystelling: Skryfskool in die Swartland

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top