Persvrystelling: Skryfskool in die Swartland

  • 0

Vlakkerug is ’n familieplaas in die hart van die Swartland. Wanneer jy op die werf stop, kom die skaaphonde hallo sê – tensy hulle iewers op die plaas werk. Maak die motordeur oop, en jy ruik plaaskombuis. Kyk om jou, en jy wil alles afneem.

Maar jy’s nie hier vir foto’s neem nie. As Dalene Matthee net na mooi bostonele gekyk het, het ons nie ’n Fiela gehad nie, en as Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) sy lyf net toeris gehou het, pleks van sy Chinese wedervaringe sorgvuldig verweef het in sy veelvuldigbekroonde roman, Die Dao van Daan van der Walt, was ons ’n Daan armer.

Een van vanjaar se opwindendste Afrikaanse nuwelingskrywers, Lize Albertyn-du Toit (Die kinders van Spookwerwe, Human & Rousseau), woon op Vlakkerug. En dit is waar jy jou skryfspiere gaan ontwikkel, of versterk. Dis ’n afspraak met jouself. Goeie skryfwerk vereis ’n mate van talent, verbeelding en woordvaardigheid. Maar veral moet jy deursettingsvermoë en selfdissipline hê.

Waar begin mens? Op Vlakkerug, 9 km buite Riebeek Wes (waarvan die laaste 3 km goeie grondpad is).

Wanneer? 10 tot 14 Oktober 2019

Jy sal:

  • Voorste plaaslike en buitelandse skryfwerk in Afrikaans en Engels bespreek
  • Gesels oor wat gehaltewerk van middelmatige pogings onderskei
  • Boekejoernalis Elna van der Merwe ontmoet
  • In die brein-gim op die woord-trapmeul klim
  • Insae kry in die fabrieksgeheime van top-wêreldskrywers
  • Vir Lize oor haar suksesvolle onlangse debuutroman uitvra
  • Storie-idees ontgin en begin
  • Leer hoe om dieselfde onderwerp verskillend te plooi vir ’n roman, kortverhaal, meningstuk (rubriek), tydskrifstorie of radiodrama
  • In die groep woeker, en ook op jou eentjie

Jy hoor ook Rachelle se wenke oor voorlegging aan die media en uitgewers, soos sy dit al vir bykans veertig jaar doen. Sy gee ook vir jou individuele terugvoering op jou werk, en antwoord al jou skryfvrae.

Moenie verder lees as jy nie wil glo:

Die herskryf van jou aanvanklike skryfwerk is net so noodsaaklik, en dikwels belangriker, as die eerste “kry dit op papier”. Dít is wat die Andries Buyse, Dalene Matthee’s en Karin Brynards van aspirantskrywers onderskei. Nie in die eerste plek IK, verbeelding, akademiese prestasie of genoeg tyd of geld om die wêreld te deurkruis nie.

Is skryfervaring nodig om in aanmerking te kom?

Die kursus se inhoud gaan deur die aansoeke bepaal word sodat almal se vaardigheidsvlakke min of meer dieselfde is. Die  individuele terugvoering sal ook so wees dat elkeen die beste vir hom of haar uit die vier dae op Vlakkerug kry.

Sluitingsdatum vir aansoeke: Maandag, 30 September 2019

Die kursus het plek vir net 8 deelnemers.

Stel jy belang? Indien wel, antwoord die onderstaande 8 vrae en e-pos na storieplaas@gmail.com:

  • Jou naam, van, selfoonnommer, e-posadres en ID-nommer
  • ’n Lys van die laaste 10 boeke (fiksie of nie-fiksie) wat jy gelees het
  • Het jy al gepubliseer? Ja? Vertel dan meer
  • Indien nie, hoekom wil jy skryf?
  • En wat?
  • Skryf as stokperdjie, terapie of voltyds? (Al drie, of in dié stadium geen, is ook in orde.)
  • Heg gerus ’n voorbeeld van jou skryfwerk aan. Dis opsioneel. Indien jy dit gaan doen, hou dit by 400 woorde of minder.
  • Wil jy op die plaas oorbly of gaan jy vir jou eie verblyf sorg?

Verblyf: Die plaas het ’n voormanshuis wat van tyd tot tyd gebruik word. Let wel: dis nié ’n werkende gastehuis nie. Dit het slaapplek vir 4. Dit het 1 badkamer met bad, stort en toilet wat gedeel word. (Hoe gouer jy aansoek doen, hoe groter is jou plaas-bly kans.)

As jy nie op Vlakkerug gaan bly nie en nie van jou eie plek kan pendel nie, bespreek vroegtydig (vir jou eie koste) verblyf op een van die nabygeleë dorpe, Riebeek-Wes of Riebeek-Kasteel. Hier is ’n verskeidenheid oornagplekke. Kaapstad is sowat ’n uur ver.

Plek: Die hoofplaashuis.

Koste van kursus: R840 per persoon per dag. Dit sluit in lesingmateriaal, toegang tot drukgeriewe, ’n daaglikse (ligte) middagete en nie-alkoholiese drinkgoed deur die loop van die dag.

Voormanshuisverblyfkoste: R100 p.p.p.dag. Dit is ten volle gemeubileer en het ’n volledig toegeruste kombuis. Kursusgangers wat hiervan gebruik maak sorg vir hulle eie ontbyt. Handdoeke en beddegoed word verskaf. Dié huis is enkele treë van die hoofhuis en het twee dubbelkamers met ’n dubbelbed in elk en een enkelkamer met twee enkelbeddens.

Koste van plaaskombuis-aandete: Opsioneel. R60 p.p. Glas wyn ingesluit. Eie drinkgoed welkom. Bespreek ’n dag tevore met die kombuispersoneel.

Deposito: Indien jy vir die kursus gekeur word, is ’n deposito van 30% van jou spesifieke pakket teen 30 September 2019 betaalbaar. Bankbesonderhede word dan verskaf. Die uitstaande balans is betaalbaar teen nie later nie as 10 Oktober 2019.

Belangrik: As jy nie op die plaas bly nie, is jy vir jou eie verblyfreëlings en -koste verantwoordelik. 

...........

Program:

09h00 – 12h30: Werkwinkel, lesing, groep- en individuele bespreking.

12h30 – 14h30: Middagete en individuele skryf- of leestyd.

14h30 – 17h00: Skryf, werk, lesing en terugvoering van Rachelle.

19h00: Aandete in die plaashuis. Praat- en vraetyd.

...........

Lees ook

Onderhoud met Rachelle Greeff oor die Swartland-skryfskool

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top