Titel: Our poisoned land: Living in the shadows of Zuma’s keepers
Skrywer: Jacques Pauw
ISBN: 9780624090533
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Met nog ’n verkiesing wat weer op hande is, is een van die woorde wat ’n mens weer al meer gereeld in die media hoor, dié van kiesersapatie: Die verskynsel wat veroorsaak dat al minder en minder mense opdaag om te stem. Wat veral saamloop met ’n wantroue in die sisteem van demokrasie. “Business and politics,” merk Jacques Pauw in Our poisoned land op, “are both mostly endeavours of scant morality in which power, wealth and influence count for everything” (p 352). Maar dit gaan verder as dit. Die sisteem van demokrasie het lank reeds ’n bietjie van ’n legitimiteitskrisis. En nie slegs in Suid-Afrika nie. Hier is dit in die verlede gesmous as ’n oplossing vir vele kwale. ’n Magiese sisteem van wigte en teenwigte wat in hipotetiese terme die mag versprei. Elders ter wêreld is daar reeds in 1947 al tot die slotsom gekom dat demokrasie die swakste staatsmodel vir die mens is, met die uitsondering van al die ander modelle wat al probeer is – wat natuurlik die waarneming was van die voormalige Britse eerste minister Winston Churchill. ’n Mens sou tallose redes kon lys waarom die demokrasie se wiele afkom. Oor Suid-Afrika se tandelose en disfunksionele parlement is daar al boeke geskryf. Maar as daar een verskynsel is wat opnuut soos ’n paal bo water uittroon in Our poisoned land, dan is dit dat verkose amptenare in politieke posisies omkoopbaar is. Die resultaat? Korrupte sakepersone het beide die regerende party sowel as die opposisie reeds in die sak, nog lank voordat jy jou kruis by die stembus gaan trek. En in Suid-Afrika, met ’n disfunksionele polisiediens, is daardie “sakemense” heel dikwels sommer ook georganiseerde misdaad- en hulle boefnetwerke.
...
Hoe koalisies in die nasionale lekgotla gaan uitspeel in die toekoms, is ’n saak waaroor ’n mens nog maar slegs kan bespiegel op die stadium, maar indien die munisipaliteite enige aanduiding is, dan moet ons onsself dalk gereedmaak vir onstuimige vaarwaters.
...
Daar is ’n patroon wat keer op keer herhaal met hierdie soort boeke. Wie onthou nog hoe die voormalige sekretaris-generaal van die African National Congress (ANC), Ace Magashule, gedreig het met regsaksie teen die boek Gangster State deur Pieter-Louis Myburgh? Daar word egter nooit oorgegaan tot die stap nie, skynbaar omdat die howe juis die plek is wat ten alle koste vermy wil word deur politici aan wie daar ’n klankie van korrupsie kleef, maar al die dreigemente dien egter keer op keer as die heel beste promosie wat daar moontlik vir die boek kan wees. Pauw skets in Our poisoned land hoe die omstrede oud-direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), Arthur Fraser, gepoog het om die publikasie van Pauw se vorige boek, die baie bekende The president’s keepers, te verhoed. In die geval van Our poisoned land was dit die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema, wie se dreigemente op niks uitgeloop het nie.
Maar ’n mens moet baie hoofstukke van Our poisoned land lees voordat jy by die EFF en Julius Malema uitkom. Daar word ’n wye spektrum van instansies bespreek in die boek. Van die ander reaksies op die boek, benewens die dreigemente van regsaksies deur sommige, is dat die boek nie besonder veel onthul wat juis as “nuut” beskryf kan word nie. Dit mag moontlik so wees, maar dit moet ’n besondere welbelese mens wees wat kan verklaar dat hulle al die inligting in dié boek reeds iewers in koerante onder oë gehad het. En benewens hierdie feit is daar die bekoring van Pauw se skryfstyl, sowel as sy sintese van al die feite. Daar is hoofstukke oor die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA). PRASA is veral bekend vir die peperduur lokomotiewe wat in 2014 aangeskaf is vanuit Spanje, wat as “te hoog” vir Suid-Afrika se spoornetwerk beskryf is, en dus onbruikbaar was. Die boek dokumenteer hoe veral Popo Molefe, voormalige premier van Noordwes, in sy kapasiteit as voorsitter van die PRASA-raad ’n futiele stryd gevoer het om die situasie by PRASA te hanteer.
Pauw spandeer ook heelwat spasie in die boek aan sake soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS), die omstrede Gupta-familie, die polisie, die SVA en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Die getuienis voor die Zondo-kommissie ná die staatskaping bied ’n deurlopende handige verwysingsbron waarna die skrywer telkens terugkeer. In die proses om die politieke gemors waarin Suid-Afrika verkeer te bestuur, skyn dit dat die oogmerk van ons politici telkens grootliks sentreer rondom pogings om verantwoordbaarheid te ontduik, blaam te verskuif en omstrede politici te hersirkuleer deur herontplooiing. SARS, die SVA, die NVG en ander staatsorgane word nie slegs lamgelê deur verkwisting van finansiële hulpbronne nie, maar opereer skynbaar gereeld lynreg in teenstelling met hul mandaat weens amptenare wat in diens van staatskaping tot die instellings herontplooi is. Ten opsigte van die EFF word daar ’n oorsig verskaf van die omstrede VBS Bank-skandaal, waarby talle munisipaliteite ingekoop het. Die EFF se leiers word geskets as spandabelrige dwepers wat na bewering op omstrede konneksies staatmaak om uitspattige lewenstyle te finansier. ’n Mens kan nogal insien hoekom die leiers van die EFF met regsaksies sou wou dreig, veral as daar geen waarheid aan enige van die beweringe in die boek sou wees nie. Die feit dat die dreigemente slegs by dreigemente gebly het, vertel in eie reg dalk reeds ’n verhaal.
Our poisoned land het my wel in ’n mate ambivalent gelaat. Dit is nie die feitlike inhoud van die boek wat ’n mens laat wonder nie, inteendeel, dit is natuurlik krities-noodsaaklik dat hierdie soort boeke geskryf word. ’n Mens wil-wil egter soms amper terugverlang na ’n bietjie meer sober, meer akademiese benadering. Die boek is baie sappig en swierig geskryf, kompleet met skelwoorde en al. Aan die een kant help dit waarskynlik om lesers te vermaak en aan die lees te hou, maar sou ’n meer droë en formele aanslag nie dalk die trefkrag van die boek verhoog het nie? Dis dalk ’n geval van wat jy wen met die Lotto, sal jy verloor op die perde, en andersom. Die boek bevat geen vorm van voetnotas of eindnotas nie, maar daar word wel ’n bronnelys verskaf. Die oorgrote meerderheid van hierdie bronne is in die vorm van koerantberigte wat waarskynlik aanlyn gesoek sal kan word, aangevul deur die dokumentasie van die Zondo-kommissie. Daar is ook ’n goeie indeks, wat altyd ’n welkome toevoeging is vir latere navorsers. Die “verskoning” wat agterin die boek verskyn, en wat meer lig werp op die gebeure van 6 Februarie 2021 waar Pauw in ’n onderonsie by die Kaapstadse waterfront betrokke was, slaag grootliks daarin om ’n mens te herinner aan die noue band tussen die publieke persona van die skrywer en sy skryfwerk. Laasgenoemde wat, ná als, op eie meriete beoordeel behoort te word.
Gegewe die prentjie van Suid-Afrika wat die laaste dekade of wat uitgekristalliseer het, is die oproepe om koalisieregering ook nou ’n gonswoord wat voorgehou word as ’n wonderlike “nuwe” voertuig om talle van die land se kopsere aan te pak. Selfs senior leiers van die regerende party gryp skynbaar nou die geleentheid aan, duidelik in ’n poging om die gekweste beeld van die ANC weer so ’n bietjie blinker te kan poets en meer respektabel te probeer kry in aanloop tot die 2024-verkiesing. In die praktyk egter, waar die proses van koalisies op munisipale vlak reeds ’n aantal toetslopies gehad het, is daar weinig om oor opgewonde te raak. Munisipaliteite steier onder onstabiele koalisies, met politici wat gedurig konkel en mekaar probeer uitoorlê en ondermyn in ’n geskarrel vir elke krieseltjie mag. Hoe koalisies in die nasionale lekgotla gaan uitspeel in die toekoms, is ’n saak waaroor ’n mens nog maar slegs kan bespiegel op die stadium, maar indien die munisipaliteite enige aanduiding is, dan moet ons onsself dalk gereedmaak vir onstuimige vaarwaters.
Lees ook:
Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie
Joernalistieke integriteit in die konteks van Our poisoned land