Joernalistieke integriteit in die konteks van Our poisoned land

  • 1

Boekomslag: https://www.nb.co.za/en/view-book?id=9780624090533; gifbottel: https://pixabay.com/photos/bottle-liquid-clean-equipment-1481599/

Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw. Tafelberg. 460 bladsye. ISBN: 9780624090533

Koop Our poisoned land by Graffiti.

Our poisoned land is ’n lywige 460 bladsye lank, maar ek kon dit nie neersit toe ek eers begin lees nie.

Pauw weet hoe om intrige te bou, en belangriker, hy weet hoe om die verskillende drade van ’n verhaal bymekaar te bring op ’n manier wat sin maak. By tye is sy skryfstyl amper liries, heeltemal anders as met sy vorige boek, The President’s keepers. Soms sleep dit die leser teen wil en dank verder in intrige in wat alles, en terselfdertyd niks, met politiek te make het nie. Lees byvoorbeeld hierdie sin, ’n aanhaling uit ’n verslag: “I do not wish for a war, particularly (with) people I once held dear ... Unfortunately, as you well know, the information is intermingled with information of ... personal cocaine and drug use, prostitutes, mistresses, partying in London and Dubai, sex machines, transvestites, threesomes with cage fighters ...” Hoe kan mens anders as om te wonder oor seksmasjiene en hoekom threesomes with cage fighters so gevaarlik en waaghalsig klink?

Wat my soms gepla het was die gevoel dat Pauw sy lesers onderskat. Dink hy regtig dat lesers nie weet wat kompromat of pro bono beteken nie? Die eerste skryfreël wat enige groentjie geleer word, is tog om nie neer te praat op jou leser nie.

Maar die ligter oomblikke word oorskadu deur die donker feite wat hierdie boek skilder, van ’n polisiediens en intelligensiegemeenskap wat so deeglik gekaap en gekorrupteer is dat hulle nie in staat is om hul basiese funksies te vervul nie. Die lys van gekaapte instellings onder sy soeklig is lank: SARS, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Valke, die polisie se Kriminele Intelligensiediens, die Staatsekuriteit Agentskap, Eskom, Denel, Prasa en Transnet, om maar ’n paar te noem. Pauw vertel die verhaal van hoedat elke belangrike agentskap in ons staatsdiens doelbewus, sistematies en effektiewelik uitgehol is met net een doel voor oë: om sekere persone te bevoordeel, ongeag hoe die hele land as gevolg daarvan benadeel word.

..........
Dis ’n belangrike boek, ’n waarskuwende verhaal wat beide terugkyk en ook die wyser na voor wys.
............

Dis ’n belangrike boek, ’n waarskuwende verhaal wat beide terugkyk en ook die wyser na voor wys.

Pauw beskryf fluitjieblasers wat hul lewens verloor, of uit vrees vir hulle lewe onder ander identiteite in getuiebeskermingsprogramme skuil. Daar is die familielede wat vermoor word omdat die huurmoordenaars te onbevoeg is om seker te maak wie hulle moet vermoor.

Die onlangse moorde op Murray Cloete en sy seun bewys net weer hoe hierdie gedrag nog steeds voortgaan.

Our poisoned land is relevant, dis tydig, dis nodig.

Maar tog is daar die een verhaal wat heeltyd in my agterkop bly sit het terwyl ek die boek lees. Dis die verhaal van ’n joernalis wat sy aansien misbruik het om ’n leuen op skrif aan die publiek voor te hou, en vir dae daarmee volhard het totdat videogetuienis wat die teendeel bewys, bekend geraak het. In die proses het hy sy destydse werkgewer, Daily Maverick, lelik in die verleentheid gestel en die oorsaak van ’n ondersoek deur Sanef (South African National Editors Forum) geword.

Onder andere het Sanef destyds gesê: “[T]his ethical breach undermines the work currently under way to rebuild trust between the media and the public. Editors and journalists must hold themselves to the highest ethical standards. The public expects the truth from us at all times. We must also not abuse our privilege of access to media platforms and the might of our pens.”

Pauw het daarna op Twitter ’n verskoning vir sy gedrag aangebied. Daily Maverick se redakteur, Branko Brkic, lewer hieroor as volg kommentaar “After submitting several drafts he went ahead an posted it on Twitter before Daily Maverick could publish, another puzzling and unethical act.”

Hierna het Daily Maverick Pauw van sy pligte onthef.

Wanneer het Jacques Pauw sy geloofwaardigheid herwin? Is sy optrede van twee jaar gelede nie ’n Achilles-hiel wat uitgebuit kan word deur gewetenlose persone wie se optrede deur hom blootgestel word nie? Hierdie vrae het deur my kop bly speel terwyl ek die teks deurgewerk het.

Die uitgewers se besluit om te publiseer is te verstane. The President’s keepers het geld soos bossies gemaak, en hierdie boek het uiteraard dieselfde potensiaal gehad. Soos wat uitgewers graag verduidelik, een boek wat goed verkoop, stel hulle in staat om ander boeke te publiseer wat op ander maniere belangrik is en wat nie noodwendig dieselfde verkoopkrag het nie.

Boonop is daar sekerlik baie mense wat van mening is dat dit mos nou gedane sake is, dis verby en vergete. Pauw is deesdae ’n gewaardeerde bydraer by ’n groot Afrikaanse publikasie wat klaarblyklik meen dat hy gerehabiliteer is.

Sanef, en Daily Maverick, het spesiaal moeite gedoen om te probeer om gebroke vertroue te herstel en om die publiek so ver te kry om hulle weer te vertrou. Het Pauw dieselfde gedoen?

Nou meer as ooit is dit nodig dat ons dit wat ons in koerante lees, moet kan glo. Daar is te veel fopnuus wat die rondes doen en te veel gewetenlose mense wat bereid is om ’n liggelowige publiek te bedrieg. Daar is joernaliste en fluitjieblasers wat hul lewens in gevaar stel om seker te maak dat die nuus waaroor hulle berig, feitelik akkuraat en korrek is. Elke joernalis wat versinsels opdis, maak hierdie opofferings goedkoop.

Our poisoned land is ’n belangrike boek, maar ek as leser sal altyd wonder oor die dele wat nie alreeds deur ander joernaliste ondersoek en berig was nie.

Lees ook:

Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie

Press release: Criminal charges and death threats against South African author Jacques Pauw

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie is een van daai boeke wat jy weet jy eintlik moet lees, maar of jy ooit daarby gaan uitkom, die weet jy nie. Dankie vir die.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top