’n Gesprek tussen Estelle Kruger en Marieta Nel oor die kortverhaalbundels wat sy saamgestel het en haar ander werksaamhede om die onderrig van letterkunde te bevorder op skoolvlak.
...
Verder glo ek dat ’n bundel nooit skools moet lyk nie. Die voorblad moet groot byval vind by die teikengroep, daar moenie ’n spul vrae in wees nie en die agterblad moet prettig in plaas van skools wees. ’n Leerder moet self die boek wil optel en nuuskierig wees om dit te lees.
...
Welkom, Marieta. Jy is ’n voormalige onderwyser en ’n kenner op die gebied van letterkundeopvoeding op skoolvlak – is dit laer- en hoërskoolvlak? Vertel ons asseblief van jou onderwyservaring.
Estelle, nee, dis net hoërskool, alhoewel ek wel die afgelope paar jaar aanbiedings by laerskoolslypskole gedoen het. Ek het langer as 20 jaar skoolgegee en altyd gesorg dat ek huistaal en eerste addisionele taal aanbied. In die onderwys moet ’n mens al jou beitels geslyp hou.
Ek het vanaf my tweedejaar op Stellenbosch in letterkunde gespesialiseer en toe ’n honneursgraad suiwer in letterkunde gedoen. Toe ek begin skoolgee, besef ek dat ’n hele paar pyle in my mondering ontbreek en ek het toe weer ’n honneurs gedoen, een wat meer op taalkunde fokus (alhoewel ek toe weer vir die pret Nederlandse poësie geneem het).
Ek het begin by die Hoër Seunskool Grey in Port Elizabeth en geëindig by Boishaai in die Paarl.
Op watter stadium het jy geskuif na die uitgewersbedryf?
By Boishaai (waar ek onder meer ook die eerste seunshokkiespan afgerig het,) het ek my stem verloor. Ek het maar gedog dis die skreeuery langs die hokkieveld, maar toe ek by die oor-, neus- en keelspesialis kom die Vrydag, het hy gesê dis ’n seminoodoperasie en hy gaan dit Maandag opereer. Hy het poliepe op die stembande verwyder en die sinuskanale oopgemaak. ’n Week ná die operasie sê hy toe vir my daar is ’n 50%-kans dat ek weer sal kan praat, mits ek my stem mooi oppas. Toe ek besef ek kan nie meer onderwys gee nie, wou ek my dood huil, want ek was hartstogtelik lief vir die onderwys: die klasgee, debatte, sport.
NB Uitgewers het my ná ’n paar maande gevra om materiaal vir hulle te ontwikkel oor woordeboekgebruik en letterkunde. Hulle vra my toe of ek nie ’n kans wil waag om ’n slypskool aan te bied nie. Dit het eers maar sleg gegaan met die stem – ek raak gou hees en verloor partykeer my stem – maar toe gaan dit al hoe beter. Intussen het ek vir hulle materiaal ontwikkel oor die nuwe gr 12-voorgeskrewe boeke. Ek het byvoorbeeld die inleiding oor Kwart-voor-sewe-lelie geskryf. Daarna het ek deur die hele land gereis om onderwysers op te lei oor die nuwe voorgeskrewe werke.
En dis waarheen ek hierdie naweek op pad is. Ek gaan in Bloemfontein met die onderwysers gesels oor die nuwe voorgeskrewe gedigte vir gr 12 (vanaf 2023).
Hoe het jou onderwyservaring jou bemagtig om hierdie vulkaan van wonderlike stories saam te stel?
By LAPA Uitgewers was ek lank nasionale bestuurder: skole wat bemarking en verkope by skole landwyd behels. Tussendeur was ek betrokke by die saamstel van kortverhaalbundels, eers saam met Adinda Vermaak, en later op my eie. Ons eerste baba was Sweef en ander verhale (waarvan daar al 80 000 verkoop het), daarna Skreeu en ander verhale, en ons laaste bundel saam was Die perfekte brander en ander verhale (wat van volgende jaar af voorgeskryf is vir IEB gr 12).
Ink en ander verhale (nasionaal voorgeskryf vir gr 10 EAT) is binne vier dae en vier nagte saamgestel met al die inleidings en vrae daarby geskryf deur my, Alet Mihalik en Liesbet Gelderblom.
Maar toe word LAPA oorgekoop deur Penguin Random House en verander my pos na inhoudspesialis: opvoedkunde. My opdrag was om lekker boeke vir die klaskamer te maak – boeke wat werklik ’n verskil gaan maak. Dit is die lekkerste werk ooit en ek kan nie glo dat ek daarvoor betaal word nie.
Estelle, my onderwyservaring help natuurlik vreeslik baie by die saamstel van so ’n bundel. Maar weet jy, ek glo aan goeie marknavorsing, en ek maak seker dat ek noue kontak met onderwysers en leerders het sodat ek presies in hul behoeftes kan voorsien.
Verder glo ek dat ’n bundel nooit skools moet lyk nie. Die voorblad moet groot byval vind by die teikengroep, daar moenie ’n spul vrae in wees nie en die agterblad moet prettig in plaas van skools wees. ’n Leerder moet self die boek wil optel en nuuskierig wees om dit te lees.
Ek hou van Maggie de Vos se illustrasies en omslagontwerpe – hoe het jy met haar in verbinding gekom?
Ons oulike kinder- en jeugboekuitgewer, Shawna-Leze Meiring, het haar op Instagram opgespoor en sy het aan al die bundels gewerk. Haar voorblaaie en die beginblad van elke genre is sommer ’n visuele begripsoefening ook, aangesien Maggie visuele elemente van al die tekste daar insluit.[1]
...
Dis vir my ontsettend belangrik dat AL die sprekers van die Afrikaanse taalgemeenskap met die tekste kan identifiseer; daarom gooi ek my net wyd vir nuwe talent. Ek is veral geïnteresseerd in outentieke stemme en skrywers van taalvariëteite.
...
Hoe gaan jy te werk om stories wat geskik is, te soek vir ’n bundel – wat is die proses?
Ek stuur 4–6 maande voor die tyd ’n lang “brief” aan skrywers waarin ek mooi uiteensit wat ons soek, moontlike temas vir die spesifieke ouderdomsgroep en ’n voorbeeld of twee van lekker tekste vir die teikengroep. Behalwe vir LAPA se groot groep wonderlike kinder- en jeugboekskrywers nooi ek gereeld en so wyd moontlik ander skrywers uit. Vir die laaste twee bundels het ek byvoorbeeld vir liefdesverhaalskrywers, Kristel Loots en Elsa Winckler, gevra, asook Erla-Marie Diedericks wat bekend is vir haar erotiese rillers. Hulle stories was wonderlik en hulle het hulself gate uit geniet.
Dis vir my ontsettend belangrik dat AL die sprekers van die Afrikaanse taalgemeenskap met die tekste kan identifiseer; daarom gooi ek my net wyd vir nuwe talent. Ek is veral geïnteresseerd in outentieke stemme en skrywers van taalvariëteite.
Vir die drie laerskoolbundels (Blinkertjies in Pa se baard, Die skool vir rampspoedige talente en The vegan vampire) het ek twee van my oudleerders by The Settlers genader en ek is so trots op Florence de Vries en Mia Arderne se tekste. Mia het ’n lekker Kaapse teks en ook verskeie besonderse tekste in die Engelse bundel.
Vir ons nuwe bundel, Tyd is ’n b**ksem en ander belaglik lekker stories, geskik vir gr 8–10, is hier ’n paar interessante mense wat debuteer. Ek het byvoorbeeld vir Nanna Venter, bekende grafiese kunstenaar en suster van Fokofpolisiekar se Jaco Snakehead Venter, gevra om vir ons iets te skryf. So ook vir Candice Jantjies, die oulike Die Burger-joernalis.
Maar ná al die werwery van skrywers en tekste, vind daar ’n interessante, amper die teenoorgestelde, soort van proses plaas. Ek kry vooraf ’n keurpaneel wat bestaan uit onderwysers en leerders vanuit skole wat die hele spektrum van die Afrikaanse taalgemeenskap verteenwoordig. Ek maak seker dat ek sterk lesers kry, maar sluit ook ’n paar wat leestraag is, in. Die paneel lees dan die tekste blind – geen skrywer se naam verskyn op die teks nie.
Ek hou streng by die uitslae van my paneel en dis werklik interessant hoedat 10 paneellede elke 200 kortverhale of 200 gedigte lees en dan by dieselfde wenners uitkom. Dis veral vir Tyd is ’n b**ksem wat ons so baie tekste ontvang het. Ek moet net bysê dat ons maklik drie bundels die lig kon laat sien met die kwaliteit tekste wat ons ontvang het.
’n Ander interessantheid is dat met Tyd is ’n b**ksem het die top leerder in die graad van een van ons top Afrikaanse akademiese skole, en die top leerder in die graad van ’n skool in een van die armste areas in Kaapstad, so te sê dieselfde kortverhaalwenners aangewys. Ek wil net noem dat laasgenoemde leerder binne minder as 24 uur met ’n kerslig 200 kortverhale gelees het omdat dit die tyd van erg beurtkrag was.
Wat het jy gedoen om seker te maak dat die stories pas in die Afrikaans kurrikulum?
Estelle, dit was nie my groot oorweging nie – eerder om tekste te kies wat leerders sal geniet en wat ek weet goed in die klaskamer sal werk.
In 2015 het julle ’n Afrikaansweek by Laerskool Kenridge aangebied – ek sien dat onder andere ’n oudstudent van my Liesbet Gelderblom deel van die span is – is daar weer so iets op die horison? Wat presies het julle daar gedoen?
Kenridge is ’n vreeslike oulike skool met ’n sterk Afrikaansdepartement. Ons week daar was om hul leerders te verryk. Jana Luther het byvoorbeeld woordeboekaktiwiteite met hulle gedoen. Ek het met die gr 6’s en 7’s interessante aktiwiteite uit Eenders en anders aangebied. Eenders en anders het ek vir SASNEV (Sentrum vir Nederland en Vlaandere) geskryf om vir die leerders te laat kennis maak met Nederlands en met die Lae Lande. Ek gebruik twee weke uit die KABV se lesbeplanning en dek al die taal, mondeling en skryfstukke wat gedek moet word, maar gebruik dan Nederlandse luister- en leestekste.
Die module wat ek by Kenridge aangebied het, handel oor kos en ons het die leerders alles laat proe. In die module oor “Ridders en rolmodelle” kyk ek byvoorbeeld na waar baie van ons idiome uit die riddertydperk en Nederlandse seevaart vandaan kom. Die leerders het dit so geniet. Een van die leerders destyds by Kenridge het intussen Nederland toe geëmigreer en nou Junie haar matriek by die Rodeborch Skool in Rosmalen behaal. Sy vertel nou nog hoe daardie paar Nederlandse lesse ’n grondslag vir haar Nederlands gelê het.
Terloops, jy het jou oudstudent goed geleer. Liesbet was jarelank ’n kundige kollega met ’n passie vir die onderrig van Afrikaans.
Behalwe al die ander kennis wat jy het oor letterkunde, het jy ook by die Afrikaansweek by Laerskool Kenridge in een van die sessies uiteengesit hoe Afrikaans oor die jare woorde geleen het by tale soos Nederlands, Portugees, Maleis, en die San-, Nguni- en Sotho-tale. Hoe het jy hierdie kennis opgedoen?
Dit was deel van die Eenders en Anders-aanbieding. Dit is ’n groot passie van my en elke keer dat ek Nederland besoek, probeer ek so ver moontlik vasstel waar baie van ons uitdrukkings vandaan kom. Dis baie interessant om die Muiderslot te besoek waar jy op ’n toer kan gaan vanwaar baie van die Nederlandse uitdrukkings vandaan kom.
Pas terug uit Nederland het ek een Saterdag ’n werkswinkel langs die Weskus aangebied oor waar ons idiome vandaan kom. ’n Bruin onderwyser staan toe op en sê: “Juffroutjie, dis nou alles goed en wel, maar waar is ons mense se idiome?” Ek het besef dat hier baie uitdrukkings in Afrikaans is wat nêrens opgeteken is nie. Ek het op daardie stadium op Hemelbesem se boek God praat Afrikaans afgekom (een van LAPA se boeke) en gesien dat elke hoofstuktitel ’n idioom/gesegde is. Iets soos: “Ons kookie saggie.” Ek werk dit toe alles by vir my volgende aanbieding in die Vrystaat en hoe het die onderwysers dit nie geniet nie!
Ek sien dat daar selfs skoolleerders is wat van jou bundels bespreek, byvoorbeeld Zack Steyn van Hoërskool Melkbosstrand[2] wat skryf oor Die perfekte brander saamgestel deur jou en Adinda Vermaak – hoe hanteer jy hierdie soort bemarking? Is daar leerders wat jy ken vir wie jy nader om deel te neem aan so ’n resensie?
Estelle, ek het dit nog nooit gedoen nie, maar dis fantasties as leerders self resensies oor boeke skryf.
Marieta, behalwe kortverhaalbundels wat jy saamstel, skryf jy ook studiegidse vir letterkundeonderrig soos wat dit pas by die verskillende fases – werk jy hier saam met onderwysers of vakadviseurs?
Estelle, behalwe studiegidse vir my werk, wat ek en Kathie Viljoen skryf, skryf ek al jarelank die Vlymskerp-reeks. Elke keer as daar nuwe matriekgedigte kom, skryf ons gidse vir die onderwysers daaroor. Tans is daar drie vir Afrikaans en twee vir Engels:
978-0-6397-3217-6: Vlymskerp: Huistaalgedigte – Marieta Nel en prof Wium van Zyl
978-0-6397-3218-3: Vlymskerp: Eerste Addisionele Taal-gedigte: Marieta Nel en dr Rika Boucher
978-0-6397-3262-6: Vlymskerp: Kortverhale vir gr 12-EAT: Dr Rika Boucher
978-0-6397-3220-6: RazorSharp: HL poetry for gr 12: Ruth Everson
978-0-6397-3219-0: RazorSharp: FAL poetry for gr 12: Ruth Everson
Is daar enige nuwe projekte vir jou op die horison?
Absoluut. Oor my eerste twee projekte kan ek liries raak:
Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas – Thérèse Hulme (het so pas in Engels ook verskyn).
Mixtape van die liefde – bloemlesing saamgestel deur Antjie Krog. Dis so pas opgevoer by Aardklop.
Dan verskyn daar volgende week op die rakke: Tyd is ’n b**ksem en ander belaglik lekker tekste. Dit is ’n bundel met kortverhale, gedigte, oorgelewerde verhale en dramas. ’n Groot deel van die eerste druk is reeds vooraf uitverkoop. Dit is werklik ’n lekker bundel vir gr 8–10 waarin daar genoeg materiaal vir HT en EAT vir drie jaar is. Dit maak dus ekonomies sin om die bundel vir die gr 8’s aan te koop en dit drie jaar lank te gebruik. Daar is ’n wonderlike studiegids wat ook uitstekende materiaal oor die navorsingstaak insluit. Dis opgestel deur Karin Tomlinson van die Hoërskool DF Malan en Hanna de Wet van die Laerskool Welgemoed. Voorin die boek is daar QR-kodes waarop die skrywers hul tekste voorlees. Die titel is lekker omstrede, maar bied ’n heerlike gespreksgeleentheid in die klas oor vloek. Ons het hier gaan kers opsteek by Gerhard van Huyssteen se navorsing oor vloek.
Volgende jaar verskyn daar ’n reeks van drie Vrae en antwoorde, onderskeidelik vir gr 10–12, 7–9 en 4–6. Elke boek bevat 50 tekste en sluit tekste (plus die vrae en antwoorde) vir die luistertoets, leesbegrip, visuele begrip, opsomming, ongesiene gedig vir huistaal, ensovoorts in. Die gr 10–12-boek se verskillende tekste lyk presies soos die vraestel, “b. strokiesprent”, ensovoorts.
Die groter fokus op kritiese taalbewustheid word ook hier gereflekteer. (In die laaste vraestel was 16 van die 30 punte taal kritiese taalbewustheid en die res gewone taalvrae.) Volgens die persone wat die vraestelle opstel, is daar nie genoeg Afrikaanse strokiesprente om te gebruik nie en hulle moet dus hul eie laat maak. Ons het ’n paar grafiese romans by LAPA (byvoorbeeld Francois Bloemhof se Agent Snoet, Fanie Viljoen se Laaste lewe en Cecilia Steyn se ’n Hart is net atome).
Voorin die boeke is ’n QR-kode waarop die luistertekste verskyn. Met die gr 10–12-boek het ons ook luistertekste in streeksvariëteite.
Verder is ons besig met ’n handboekreeks, maar ons wil eers kyk wat die nuwe KABV wat in 2023 geïmplementeer gaan word, oplewer.
Ek het baie respek vir jou ongelooflike kreatiwiteit en kapasiteit om innoverend te dink en die idees na die praktyk deur te voer. Navorsing toon aan dat dit nie noodwendig die een met nuwe idees is wat projekte van stapel stuur en dit dan ook bestuur nie. Maar by jou is dit anders – jy dink iets uit en dan doen jy dit. Hoe kry jy dit reg?
Dankie, Estelle. Ek hou daarvan om groot te droom, maar sal dit altyd tot uitvoering wil bring. Ek het dit natuurlik in die onderwys geleer. Onderwysers moet die heeltyd planne maak, improviseer en dit dan tot uitvoer bring. Ek het die grootste respek vir onderwysers, veral taalonderwysers. Behalwe ’n ongelooflike werksetiek het hulle ongelooflike vaardighede. As ek mense in ’n maatskappy moet aanstel, sal ek altyd eers na onderwysers kyk. Dit geld ook vir die uitgewersbedryf waar oudonderwysers soos Liesbet Gelderblom en Kathie Viljoen ’n ongelooflike bydrae in my span gemaak het.
Ek is bewus daarvan dat jy met ’n verdere studieprogram besig is – kan jy vir ons hiervan vertel sonder dat jy geheime uit die mou laat?
Ek is besig met ’n PhD oor: die letterkundeklas op skool as ontmoetingsplek van en verteenwoordigingsgeleentheid vir die diverse Afrikaanse spraakgemeenskap. Ek was besig met ’n PhD oor misdaadfiksie aan die Universiteit van Amsterdam, maar ek het in November verlede jaar ’n referaat in Amsterdam gelewer oor: die rol van voorgeskrewe werke as gare in die aanmekaarryg van geïsoleerde Afrikaanse gemeenskappe. Die reaksie van almal was dat dit so ’n belangrike onderwerp is en ek het toe sommer besluit om eerder daaroor te werk.
Baie dankie vir ’n heerlike gesprek. Ek wens vir jou, Thérèse Hulme en Rika Boucher sterkte toe vir die kursus wat julle reël waarin julle onnies in die Oos-Kaap help om leerders aan die skryf te kry en hulle voorberei op die nuwe gedigte.[3] Dit gebeur eersdaags, Vrydag 25 November 2022 by die Hoër Seunskool Grey, Gqeberha, asook op Saterdag 26 November 2022 by Gill College, Somerset-Oos.
Dankie, Estelle, vir die geleentheid, lekker vrae en gesels.
Notas:
[1] Maggie se Instagram-rekening
[2] https://www.netwerk24.com/netwerk24/stories-ernstiger-as-verwag-20180218
[3] https://www.litnet.co.za/persverklaring-ons-wil-onnies-in-die-oos-kaap-help-om-leerders-aan-die-skryf-te-kry/
Lees ook:
Eenders en anders: Om Nederlands weer in Suid-Afrikaanse skole bekend te stel
Mixtape van die liefde kan die vreugde van gedigte vir tieners oopsluit
Persverklaring: Ons wil onnies in die Oos-Kaap help om leerders aan die skryf te kry!
Kommentaar
Baie dankie dat ons so veel kampvegters van die taal, ons taal, daar buite het.
'n Groot jammerte is die feit dat ons skole nie ingelig was oor praatjie wat gehou was oor nuwe voorgeskrewe gedigte, asook liefde vir skryf onder ons leerders, nie.
Ons skool, Adelaide Gimnasium in Oos-Kaap, sal ook graag meer betrokke en ingelig wil wees oor nuwe verwikkelinge, asook opvoerings oor voorgeskrewe dramas en gedigte.