NP van Wyk Louw: Versamelde dramas – ’n onderhoud met Kristél de Weerd en Deborah Steinmair

  • 0

Versamelde dramas – NP Van Wyk Louw
Skrywer: NP Van Wyk Louw

Samestellers: Deborah Steinmair en Kristèl de Weerd
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485312208

........

Ek dink hy sou oor die binnegevegte in die ANC skryf, met skerp satire sowel as groot simpatie. Dis ’n sirkus van spektakulêre omvang en die oorsake daarvan is kompleks sowel as voor die hand liggend.

.........

Kristél de Weerd en Deborah Steinmair praat met Naomi Meyer oor NP Van Wyk Louw, Versamelde dramas, wat onlangs by Protea Boekhuis uitgegee is en waarvan hulle die samestellers was.

Deborah en Kristél, baie geluk met die samestelling van hierdie bundel. Dit is geskiedkundig. Die bundel – en die tyd waarin ons ons bevind: die dae van die pandemie. Die drama wat hom op die oomblik afspeel, is skouspelagtig, maar dis nie op ’n verhoog nie. Die teaters is leeg, die feeste is stil. En tog. Hier verskyn NP Van Wyk Louw se Versamelde dramas. Hoekom nou, hoekom juis sy dramas?

DS: Daar is meer as een antwoord. Verskillende faktore het saamgespeel: Nicol Stassen se liefde vir Afrikaans en die kanon, die feit dat al Van Wyk Louw se dramas nog nooit saam gebundel is nie, en ’n skeut opportunisme. Die regte was by VWL se kinders of NB-Uitgewers, maar in 2021, 50 jaar ná sy dood, het die kopiereg verval. Daarom is dit vroeg in 2021 uitgegee – ons het egter natuurlik maande voor daardie datum gewoeker daaraan.

Vir my is dit opvallend: Daar is baie dramas oor helde in hulle tyd in hierdie bundel. Dis Portugese seevaarders, dis Voortrekkers, Paul Kruger en Van Riebeeck. Wat temas betref, kan ek nie anders as om met vandag se bril te lees nie. Gister se helde is vandag se kolonialiste. Tog is dit Afrikaanse taalskatte, Afrikana. Wat het julle van die dramas se temas opgeval?

........

Ja, gister se helde is vandag se kolonialiste.

..........

DS: Ja, gister se helde is vandag se kolonialiste. Daar is eintlik nie helde oor nie, behalwe pasifiste soos Jesus en Boeddha. Ideologieë raak verouderd en raak verdag. Was Shakespeare polities en genderkorrek? Die Bybel? Ek wil amper Bybels raak en sê ons sien deur ’n spieël in ’n raaisel. Elkeen tree op volgens die lig wat hulle het, en natuurlik volgens die voorskrifte van hebsug en magsug, want dit is die menslike aard. Ek wil myself altyd graag tot ’n mate verontskuldig deur te sê die manlike aard. Maar so kan ’n mens ook nie veralgemeen nie. Tog blameer ek testosteroon vir vele van die geskiedenis en hede se vergrype.

Temas wat opgeval het, is idealisme, nasietrots, die behoefte aan helde, aan regvaardig wees. Natuurlik het die definisie van hierdie konsepte verander. Chris van der Merwe wys daarop dat Van Wyk Louw sy tyd ver vooruit was in sy omgewingsbewustheid, sy besorgdheid oor die planeet. Ek, wat min geskiedenis lees, was meegevoer deur die geanimeerde portrette van Kruger, Steyn en ander. Maar my gunstelinge is nie die grootse dramas nie, eerder die menslike verhale soos Lewenslyn en Blomme in die winter. Hulle is tydloos, min of  meer. Ek het lanklaas, indien ooit, so ’n raak vergestalting van ’n narsis gesien soos Esmé in Lewenslyn

Dan moet jy ook onthou dat Louw hom nie bloot, soos destyds die gebruik was, aan chauvinistiese pryssange skuldig gemaak het nie. Hy het hom byvoorbeeld HF Verwoerd se argwaan op die hals gehaal deur te vra wat ’n volk is. ’n Vermetele, goddelose vraag in daardie dae van blinde nasietrots.

KdW: In die 15 gepubliseerde dramas is baie meer as 15 temas te vinde! Sommige temas verras, en kan vandag herinterpreteer word. Net oppervlakkig gekyk, kan daar verwys word na die temas van oorlog, liefdesverhoudings en regeringspropaganda (wat amper herinner aan fopnuus) in Dagboek van ’n soldaat, selfdood deur middel van fusillering in Die held, die vraag of jou persoonlikheid onveranderlik is en jou toekoms vooruitbepaal in Lewenslyn, en die verhaal van die kindermolesteerder- en -moordernaar in Die val van ’n regvaardige man. "Asseblief tog, Omie, asseblief tog," het nog nooit so ysingwekkend geklink nie.

Chris van der Merwe skryf oor hoe Van Wyk Louw se dramas in gesprek tree met die res van sy oeuvre: sy gedigte, sy libretto’s, die hoorspel en koorspel – sy tekste sluit by mekaar aan. Die mees opvallende die direkte aanhalings, soos "o wye en droewe land". Dit is selfgesprekke, maar dan tree dit ook in gesprek met die mense van sy tyd. En met ons, vandag. As julle kon reageer en met hom oor sy eie dramas kon praat, hoe sou julle reageer? Wat sou julle sê?

DS: Ek sou dankie sê. Dit was gedurende inperkingstyd vir my ’n besonderse ervaring om al sy dramas (oor en oor) te lees. Wat my oorheersend opgeval het, was die rykdom en tydloosheid van sy taal, soos Jean Meiring in ’n resensie in Rapport opgemerk het. En sy insig in die menslike psige. Ek sou graag met hom wou gesels om die soepelheid en elegansie van sy denke eerstehands te ervaar, en sy humorsin. Ja, ek sou aan sy voete sit.

........

Ek sou graag met hom wou gesels om die soepelheid en elegansie van sy denke eerstehands te ervaar, en sy humorsin. Ja, ek sou aan sy voete sit.

.........

KdW: Ek vind dit interessant dat hy al op 32-jarige ouderdom sy eerste drama (Die dieper reg) publiseer het en dit eers 14 jaar later opgevolg het met Dias. Uiteraard het hy hom besig gehou met poësie en essays, maar ek sou by hom wou hoor wat hom bekoor van die dramateks en of hy dit geniet om dit te sien afspeel op ’n verhoog.  

.......

Uiteraard het hy hom besig gehou met poësie en essays, maar ek sou by hom wou hoor wat hom bekoor van die dramateks en of hy dit geniet om dit te sien afspeel op ’n verhoog.  

.........

Ek het Van Wyk Louw as student bestudeer en sy gedigte en taalgebruik was vir my wonderskoon. Nou, jare ná my studies in die letterkunde en daagliks aan die lees oor diskoerse rondom die problematiek van Afrikaans, lees ek Van Wyk Louw se werk en ek hoor die ideologie dawer. Tog: Van kookboekwoorde, idiome, sangbundellirieke tot akademiese taal ... waar Afrikaans is, is daar politiek en ideologie.

Kyk wat sê Jeremy Veary in sy NP Van Wyk Louw-lesing, oor die taal Afrikaans en Kaaps: https://www.litnet.co.za/np-van-wyk-louw-gedenklesing-2020. So is dit dan met die taal van en die mens wat die digter NP Van Wyk Louw was. (Hierna verwys Chris van der Merwe ook in sy inleiding vooraf. Hierdie sin van Chris het my opgeval en is treffend: "Eintlik moet mens nie lojaliteit en verset teenoor mekaar stel nie, want verset is natuurlik ook ’n teken van verbintenis.")

Mens sou as moderne Afrikaansspreker, as kind van ons eie tyd, slegs by die ideologie vassteek. Tog kan ek dit eenvoudig nie mislees nie: Laat ons asseblief daaroor praat. Wat het julle rondom Van Wyk Louw en sy denke en oortuiginge binne sy tyd opgeval terwyl julle hierdie bundel saamgestel het?

Kristél de Weerd (links onder); Deborah Steinmair (regs onder)

DS: Hy was ’n produk van sy tyd, van Afrikanernasionalisme wat vurig verrys het ná die Engelse oorlog, soos swart bewustheid verrys het ná dekades van onderdrukking. Dis ’n logiese oorsaak en gevolg. Tog was hy baie meer as ’n produk van sy tyd. Hy was ’n siener, ’n begaafde, een van Earth’s Honoured Guests, soos Yeats dit stel.

.........

Hy was ’n produk van sy tyd, van Afrikanernasionalisme wat vurig verrys het ná die Engelse oorlog, soos swart bewustheid verrys het ná dekades van onderdrukking. Dis ’n logiese oorsaak en gevolg. Tog was hy baie meer as ’n produk van sy tyd. Hy was ’n siener, ’n begaafde, een van Earth’s Honoured Guests, soos Yeats dit stel.

..........

’n Mens mag jou, met die bewusmaking wat ons geniet het, van sy ideologie distansieer, maar gaan jy die kind saam met die badwater weggooi? Sy geskenke aan ons taal, ongelukkig nou gesien as die taal van die onderdrukker, sal oorleef solank Afrikaans, nerfaf en gekneus, oorleef.

KdW: Dit is duidelik dat hy in ’n ander werklikheid geleef het: Sy milieu, omgewing, nuusgebeure, bronne van inligting, vriendekring en intellektuele kennisse is wêrelde verwyder van my lewenservaring. Dit is interessant om daarvan kennis te neem; asook om Louw se eiesoortige, wonderlike manier van skryf te beleef.

En dan, as mens deur die ideologie van taal en tema lees en die werk in die oë kyk vir wat dit is: die woorde, die musikaliteit en die ritme. Dis die moeite werd om te lees en weer te lees. Watter van die dramas het julle die meeste vreugde besorg of die meeste tot nadenke gestem?

DS: Natuurlik Germanicus, oor die onmoontlikheid daarvan om regverdig te wees sonder om jou te roem op jou regverdigheid en sodoende nederigheid in te boet (my interpretasie) en dan, soos gesê, die "ligter" menslike dramas of hoorspele.

KdW: Die vonnis: ’n Episode uit Van Riebeeck se bewind is werklik vermaaklik. Louw se interpretasie van Van Riebeeck is vars, snaaks en menslik. Terwyl ek Koning-eenoog gelees het, kon ek nie verhelp om te wonder of Louw dit geniet het om dit te skryf nie – ek kry die gevoel hy het hom verkneukel in die karakters wat hy geskep het.

Kom ons verbeel ons ’n parallelle wêreld, waar die pandemie nie die impak op die lewe en die kunste het wat dit het nie. Is daar enige van hierdie dramas wat net so, binne vandag se konteks, op ’n werklike verhoog opgevoer sou kon word?

DS: Jean Meiring maak ’n saak daarvoor uit dat Germanicus, met sy dawerende, manjifieke taal en fyn karakterisering, vandag met sukses opgevoer kan word deur ’n slim, ironiese regisseur met al die truuks tot sy/haar beskikking, en met gehore wat geskool is om drie ure deur ’n verwerking van Shakespeare te sit. Ek sou dit graag wou sien.

KdW: Dias en Die vonnis sou interessante teaterervarings wees.

Dit is ’n stuk geskiedskrywing en boekstawing, hoe meer ek daaroor nadink. Die tyd, die taal, die onbelemmerde toegang tot ’n toneelstuk en ’n verhoog. Die mense wat vandag hierdie bundel lees, is ’n gans ander groep in die geskiedenis as die mense vir wie dit geskryf is. Of is dit? Ek wil ook vra: Wie is die bundel se ideale leser(s)?

DS: Ek hoop natuurlik dat "gewone" lesers dit sal opneem en sal flenters lees (jammer ek haal Jean Meiring so kwistig aan). Maar as ’n mens realisties moet wees, sal dit ouer mense wees, en studente, as daar nog studente van Afrikaans is. En hopelik inspireer dit iemand om van die dramas weer op te voer.

........

Maar as ’n mens realisties moet wees, sal dit ouer mense wees, en studente, as daar nog studente van Afrikaans is. En hopelik inspireer dit iemand om van die dramas weer op te voer.

..........

Kan mens hom dit verkwalik - sy nasionalisme? Behóórt mens hom dit te verkwalik? Is dit te veel gevra of die een wat skryf, midde-in ’n situasie moet kan sê: Hier is ’n probleem, ek sien wat nie reg is nie, ek skryf dit oop. Of is mens vasgevang en ’n produk van jou tyd?

DS: Ek glo hy het dit probeer oopskryf. Ek glo hy het, soos elke kunstenaar, dieper gekyk, mense raakgesien en nie netjies ingepas by ideologiese voorskrifte nie. Dis miskien moeilik om dit nou waar te neem. Afrikaners van sy tyd was met reg woedend en haatdraend teenoor Engeland, wat hulle outomaties simpatiek teenoor die Duitsers gemaak het. Hulle was so verwikkel in hul eie oorlewingstryd dat hulle, tipies van onderdrukkers, weer die knie op ander se keel gedruk het.

KdW: My mening is dat hy in wese ’n kritiese mens was.

Wie het julle in hierdie dramas leer ken – wie was Van Wyk Louw?

DS: Hy was ’n briljante mens vol verwondering en nuuskierigheid, ’n platjie met ’n vonkel in die oog, ’n fyn waarnemer, ’n lewensgenieter (onthou Sheila Cussons) en ’n bevoorregte, onvolmaakte man met gebreke en vergrype (onthou Sheila). Hy het nie juis verouderd geraak nie. Skrywers is, benewens seker hul plig om vergrype oop te skryf en lesers se horisonne te verbreed, ook optekenaars van hul tyd en tydsgees. Soms kan ’n mens ’n spieël ophou sonder om te preek.

KdW: Iemand met ’n fyn humorsin, ongelooflik kreatief, wat tonele in beelde voor hom sien afspeel het: van die matrose in Dias tot die boere op hul veepos in Die eerste voortrek.

As NP Van Wyk Louw ’n drama oor vandag sou geskryf het, wat dink julle sou die titel daarvan wees? Die akteurs, die rolverdeling, die tema? Die taalgebruik?

DS: Ek dink hy sou oor die binnegevegte in die ANC skryf, met skerp satire sowel as groot simpatie. Dis ’n sirkus van spektakulêre omvang en die oorsake daarvan is kompleks sowel as voor die hand liggend. Ek dink nie hy sou oor plaasmoorde of grondonteiening skryf nie. Hy sou, as hy uit die dode moes verrys, opeens en dawerend ons aandadigheid, nee, skuld, verstaan, as hy dit nie vantevore verstaan het nie. Die rolverdeling: James Ngcobo, John Kani, Leleti Khumalo, Sello Maake Ka-Ncube en ander.

........

Ek sou graag ’n drama van hom wou sien/lees waarin hy hom dieper ingrawe in vandag se omgewingskwessies.

.........

KdW: Ek sou graag ’n drama van hom wou sien/lees waarin hy hom dieper ingrawe in vandag se omgewingskwessies.

Lees ook:

N.P. Van Wyk Louw deur die oë van Adam Small

Video: NP Van Wyk Louw-gedenklesing ‒ Jeremy Vearey (18 Junie 2020)

NP Van Wyk Louw (1906–1970)

Versamelde dramas – NP Van Wyk Louw: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top