Natasha Meyer: Wesens pas nie in enige filmtipe-boksie nie

  • 0
...
Ek is steeds nie seker of mens die fliek in enige filmtipe-boksie kan plaas nie.
...

Regisseur: Derick Muller

Akteurs: Pietie Beyers, Albert Maritz, Morné Visser

As die lokprent jou dalk laat dink het dat hierdie ’n  lekker Saterdagaand-op-die-bank-met-popcorn-Alien-fliek gaan wees, gaan jy baie beslis teleurgesteld wees. Ek is steeds nie seker of mens die fliek in enige filmtipe-boksie kan plaas nie. Dis beslis nie sci-fi nie, nie drama nie en ook nie heeltemal riller nie. Jy gaan so ’n  bietjie geduld, verbeelding en dink moet inspan vir dié een.

Iemand vind ’n  paar ou filmrolle van 1967. Daarop kan gesien word hoe vier polisiemanne in ’n  kar op pad is na ’n  plaas toe waar ’n  boer beweer ’n  vreemde klip “geland” het. Ek ruik dadelik lont toe daar padkos uitgehaal word en mens niemand kan sien eet nie – want as jy in Suid-Afrika grootgeword het, sal jy weet dat die afwesigheid van ’n  groot outydse koffiefles saam met padkos baie vreemd is. So net daar het ek klaar besluit dat die vier in die kar dalk die “wesens” mag wees waarna die titel verwys.

Dankie tog dat Kuyper, glo ’n  wapeningenieur, se kennis wyer strek as gewere en skiet, want dit is al wat die baie lang stowwerige rit in ’n  baie vaal landskap draaglik maak en keer dat ek die TV afsit. Die bolle stof wat agter die kar uitborrel laat my terdeë besef dat hulle die beskawing agterlaat en laat die nostalgiese “Oukraalliedjie” wat op die radio speel jou wens vir die groen koringlande en waterstrome wat afwesig is in die dorre Karoo-landskap wat uitgebeeld word.

Kuyper se karakter is ’n  interessante verrassing en maak mens dadelik nuuskierig. Dis duidelik dat hy die odd one out is, maar ook die een wat mens se aandag trek met sy kennis. Sy gesprek oor afstande na sterre, lewe op Mars en die geskiedenis van hoe lank Boesmans voor wit mense in Afrika was, sluit baie goed aan by die res van die film se suggestiewe tema oor afstand, tyd en omgewing.

Majoor Viljoen, Boer Sakkie en Julie is jou eg tipiese Suid-Afrikaanse stereotipe wat spot-on uitgebeeld word.

Die majoor is ’n  goeie, gedienstige voetsoldaat wat binne ’n  raamwerk van reëls en dissipline floreer. Hy wil altyd in beheer wees, hou nie van die onbekende nie en alles wat hy nie verstaan nie, ignoreer hy dadelik.

Boer Sakkie met sy kakieklere en wat Engels praat net vir selfverdediging, is tipies, maar dan kan mens ook nie anders as om te wonder oor die boer se bryery nie, want dan bry hy en dan nie? Ag miskien het hy net vergeet met tye. 😊

En dan die stomme Julie – getrou maak die bruin man woordeloos hekke oop en toe. Tipies van die sestigs in Suid-Afrika.

As jy gedink het die 20 myl plaas toe was lank, wag vir die twee myl klip toe. ’n  Ewigheid van stof, vaal en lang tonele van verlate landskappe. Maar tog ook afwagting. Is die vreemde vlieënde klip werklik? Net ’n  grap van ’n  boer te vol brandewyn? En dan is dit daar – ’n  groot swart rots in die middel van die Karoo!

Polisiemanne en ingenieurs wat met gesofistikeerde laboratoriumtoerusting in die kattebak rondry en pille uitdeel het my erg laat giggel. Hulle sogenaamde kennis oor radiasie en hazmat suits het my laat krul van die lag. Die kamera wat met die hand vasgehou word, maak dat van die tonele uit fokus is, bewerig en dof voorkom en is nogal steurend. Weer is van die tonele effens lank, maar mens besef nou dit is doelbewus so gedoen.

Die ondersoek en verslaggewing oor en om die klip raak langdradig en gelukkig ervaar Kuyper dan ’n  bonatuurlike oomblik by die klip wat weer my aandag trek. Wat sekondes is, ervaar hy as ’n  ewigheid. ’n  Span van vier intelligensie-eenheid-mense van wie twee ingenieurs is wat nie logies kan verduidelik wat hulle sien en ervaar nie. Afwagting groei oor wat volgende gaan gebeur. Ek moet sê dat toe die Boesman/mens uit die klip val, was dit so onverwags dat ek regop gaan sit het – en toe die groep se eerste reaksie hierop gewelddadig was, het dit my met ’n  wrang smaak in die mond gelos. Dit was dalk net te bekend.

...
Onwillekeurig en baie diskreet vra die film wat is ons mense se doel op aarde.
...

Onwillekeurig en baie diskreet vra die film wat is ons mense se doel op aarde. Alle mense maak onderskeid, almal beweeg teen verskillende tempo’s, ontwikkel teen ’n  verskillende pas, het verskillende doelwitte en tog is gravitasie die een ding wat ons almal ongeag al ons verskille hier op aarde ewe veel vashou.

Toe Viljoen vir Kaang doodskiet, nie uit selfverdediging nie maar uit vrees – vir die onbekende, nuwe, anderse – moes ek myself vra: Is mense dan sleg? Ons kan tog nie goed wees as ons eerste oplossing geweld is vir dit wat ons nie verstaan nie. Is geweld dan ons antwoord vir alles wat anders is? En as dit so is – waarom hou gravitasie ons almal steeds sonder diskriminasie vas?

Ek kan nie net die knap spel van al die akteurs uitlig nie, maar moet ook die slim gebruik van musiek in die film noem. Die musiek het dalk op ’n manier die film vir my beter verduidelik en bymekaar gebring as die karakters en film self.

Die Briels se “Gisteraand” het my baie ver terug gevat na ’n  gelukkige tyd saam met grootouers en kon ek identifiseer met die dieper vrae wat die film onderlangs aan die kyker stel – die begin en einde, soet en bitter, lewe en dood wat gepaard gaan met bestaan.

“The Divine Name – I Am” wat oor die ou draadloos speel, is baie volksvreemd. Oosterse musiek wat kliphard hier in die hartjie van die Karoo oor die vlaktes uitbulder, is half ongemaklik. En tog laat die twee wêrelde saam alles in kleur inmekaar vloei soos verf. Die pragtige helder kleure is amper verblindend na die vaal, kleurlose beelde van die res van die film. So asof dit lewe blaas in ’n  andersins dooie omgewing.

Die Engele “Sing” laat my tegelyk wonder en tog weet – ’n  Skepper met ’n  groter doel en plan vir alles en almal? Miskien is daar tog Iemand in beheer van ons bestaan. Miskien is ons bestaan tog veronderstel om ’n  dieper betekenis te hê? Hoop.

En dan laat die Briels se “Twee kruisies van hout” my met hoendervleis en hartseer. Dalk dien die “anderste” film as ’n  waarskuwing dat ons nie net beter na ons aarde moet kyk nie maar ook na mekaar? Dat ons meer verdraagsaam moet wees voor ons alles en almal vernietig met geweld en net gravitasie oorbly?

...
Dalk dien die “anderste” film as ’n  waarskuwing dat ons nie net beter na ons aarde moet kyk nie maar ook na mekaar? Dat ons meer verdraagsaam moet wees voor ons alles en almal vernietig met geweld en net gravitasie oorbly?
...

Dae later wonder ek steeds of die fliek oor die klip, aliens, Boesmans of die dieper betekenis van bestaan gaan. Dit is definitief loshande die vreemdste fliek wat ek nog gekyk het.

Hierdie film is nie net baie vreemd nie, maar ook baie dapper. Dit is ’n  groot waagstuk in ’n  onbekende styl wat nie in die algemene lui Hollywood-gewoond-kyker se smaak gaan val nie, maar dit is beslis ook ’n  meesterstuk wat ’n  mens vir ’n  wyle dwing om ’n  bietjie dieper te dink. ’n  Eerste vir Afrikaans. Kudos vir Derick Muller.

Ten slotte: Hoe sou ek die fliek beskryf?

Met een woord: Weird.

Lees ook:

Tussen realisme en wetenskapfiksie: die konstruering van die Ander in Wesens (2020)

Wesens, ’n kritiese ontleding deur Leoné Prinsloo

Wesens: “Wie was eerste hier?”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top