NALN-tydkapsule 3: ’n Grafsteen en ’n vliegtuigskroef

  • 0

Reis saam met die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein terug in die tyd.

Nog nuwe ontdekkings wag: Langenhoven se houtsneewerk; ’n handvol kinderboeke uit boekrakke van vergange jare; dalk die valstande van Erich Mayer, of die Rococo-meubels van Nancy de Villiers ... Wie weet? 

Leana ­­Lategan gaan gereeld interessante, waardevolle en soms byna vergete argiefitems met LitNet-lesers deel. 

Gaan kyk ook by die Uit die argief-glyer op die LitNet-tuisblad na “Uit NALN se sarkofaag”.

Jan Rabie en Jan FE Celliers was reeds aan die beurt, met Toon van den Heever derde op die lys.“Toon hier,” sou Toon ’n telefoonoproep beantwoord.

Die feit dat Toon, of liewer Francois Petrus van den Heever, na regte die voordeel van besonderse status gehad het, het hom min beïndruk. Dit het hom dus waarskynlik goed gepas dat hy op universiteit die bynaam Toon gekry het.

Dit het só gekom: As ywerige rugbyspeler tydens sy studie aan die Universiteitskollege van Pretoria (1914–1916) het hy ’n skrumskakelspanmaat graag Duimpie genoem.

Hierop het laasgenoemde, ene Le Roux, by geleentheid bitsig gereageer met “Jou groottoon, man!” Die nuwe noemnaam het Van den Heever geval, en hy het daarvan gehou as mense hom as Toon aanspreek.

Die gemakstoel is nie om dowe neute so gehawend nie. Eers was dit Toon van den Heever se geliefkoosde sitplek as hy snags tussen 2 en 3 vm opgestaan het om te werk. Na sy dood het dit na sy dogter, Leonora van den Heever, gegaan. By haar en Chris Neethling (haar man) se huis het hierdie stoel en sy identiese maatjie kinders help grootmaak. Dit was nie genoeg nie, want die stoele het daarna ook die kleinkinders help grootmaak. Voos gesit deur drie geslagte!

Afgesien van sy debuutbundel, Gedigte (1919), wat onder die naam F van den Heever verskyn het, is daaropvolgende werk onder die aanneemnaam uitgegee.

In die Afrikaanse letterkunde staan hy bekend as die sterkste figuur van wat JC Kannemeyer die Vroeë Individualiste genoem het, ’n groep skrywers bestaande uit AD Keet, Theo Wassenaar, TJ Haarhoff, Eitemal en Van den Heever, almal skrywers wat hulle belangrikste debute in die twintigerjare gehad het.

Toon van den Heever was bekend as die vlieënde regter. Tydens sittings van die Rondgaande Hof het dit hom goed te pas gekom om self te vlieg. Nadat sy vliegtuig se skroef onklaar geraak het, het hy dit laat vervang. Die Lugmageskader, waarvan hy ’n burgerlike lid was, het ’n elektriese horlosie daarin laat monteer en dit vir hom gegee. Die skroef is bitterklein – sowat 66,5 cm lank en 9 cm breed. Hoe op aarde het dit die vliegtuig in die lug help hou?

In teenstelling met sy skryfwerk, waaroor akademici en beterweters uiteenlopende kommentaar gehad het, was sy briljante beroepsloopbaan feitlik oënskynlik sonder negatiewe kritiek. Tot sy dood in 1956 is hy as regsgeleerde en buitengewone kenner van die Romeins-Hollandse regstelsel hoog geag.

Onseker oor watter koers om in te slaan doen hy aanvanklik ’n BA-graad (Transvaalse Universiteitskollege) en hou ’n rukkie lank skool. Toe hy kort daarna as regtersklerk na Windhoek vertrek, verander die koers van sy loopbaan ook: Hy lê die LLB-eksamen deur private studie af en begin in 1921 as advokaat in Windhoek praktiseer.

Hy tree ook op as adviseur vir die Departemente van Justisie (1926) en Buitelandse Sake (1926). In hierdie laasgenoemde hoedanigheid woon hy verskeie Rykskonferensies by. Kort daarna word hy as regter aangestel, eers (1932) in Windhoek en later (1938, en in opvolging van Bram Fischer se oupa, Percy Fischer) in Bloemfontein.

..........

“In die Afrikaanse letterkunde staan hy bekend as die sterkste figuur van wat JC Kannemeyer die Vroeë Individualiste genoem het, ’n groep skrywers bestaande uit AD Keet, Theo Wassenaar, TJ Haarhoff, Eitemal en Van den Heever, almal skrywers wat hulle belangrikste debute in die twintigerjare gehad het.”

..........

Dis juis terwyl hy nog in Namibië (destyds bekend as Suidwes-Afrika), werk dat hy gou besef dat die enorme afstande wat hy vir sittings van die Rondgaande Hof moet aflê, nuwe eise aan hom stel. As gekwalifiseerde vlieënier het hy lisensies om verskeie vliegtuie te loods: die DH Gipsy Moth Major; Junkers A 50; Spartan Cruiser; Hornet Moth; Piper Cruiser; en ’n Fairchild.

Hierdie vliegtuie was in verskillende stadiums sy eiendom. (Tydens sy Bloemfonteinse jare was daar ’n toevoeging van ’n doodgewone klein motorfiets wat hom Appèlhof toe en terug moes neem, en hierdie onortodokse vervoermiddel waarmee die agbare appèlregter deur die stadjie se strate gery het, het menige wenkbrou laat lig!) Vanweë sy belangstelling en vaardigheid in die vliegkuns was hy ’n ere-offisier in die Aktiewe Burgermag.

Die vliegtuigskroef wat in NALN te sien is, vertel opeens verhale van plekke wat hy moes besoek, terwyl verskeie bladsye met loginskrywings die bestemmings noem: Upington, Keetmanshoop en verspreide dorpe in Namibië, ook Kimberley, Pretoria, Kroonstad, Ladysmith, Baragwanath, Bethlehem, Parys, en so meer.

Toon van den Heever is een van die min mense wat twéé grafstene het. Hier is die oudste grafsteen, gemaak van rooi marmer. Wat beteken die Latynse uitdrukking daarop: Vivus volitat per ora virum?

Toon se vrou, Max, merkwaardig uit eie reg, was self ’n knap loods, en toe hy haar op ’n keer uit Lüderitz bel en vra of sy saam met hom en ’n skeepskaptein middagete wou kom geniet, het sy summier die tog oor die Namib aangedurf, en weer Windhoek toe teruggevlieg.

Toe die skrywer op 29 Januarie in Bloemfontein oorlede is, is hy te ruste gelê in die Memoriambegraafplaas. In 1983 is die enkelgrafsteen van steenrooi marmer deur ’n nuwe steen vervang, na ’n ontwerp van die bekende beeldhouer Laura Rautenbach (die dogter van Max se broer, en ook die ontvanger van sy gedig “Laura Laureata”, opgeneem in Die speelman van Dorestad). Die oorspronklike grafsteen is ’n interessante aanknopingspunt vir gesprekke met besoekers aan NALN.

..........

“Die vliegtuigskroef wat in NALN te sien is, vertel opeens verhale van plekke wat hy moes besoek, terwyl verskeie bladsye met loginskrywings die bestemmings noem: Upington, Keetmanshoop en verspreide dorpe in Namibië, ook Kimberley, Pretoria, Kroonstad, Ladysmith, Baragwanath, Bethlehem, Parys, en so meer.”

..........

Dieselfde skerp brein waarvoor Toon van den Heever in sy regsloopbaan geloof is en erkenning voor gekry het, was ook die belangrikste kenmerk van die kreatiewe skrywer Van den Heever.

Benedictus Kok het die volgende opmerking oor hom gemaak: “Meer as dertig jaar gelede het Toon van den Heever verse geskryf wat na vorm en inhoud rewolusionêr was, het hy driftige, vermetele poësie geskryf, verse wat getuig het van ’n grimmige opstandigheid maar ook van ’n skrynende erns. Want Van den Heever is die intellektualistiese digter met waaksame sintuie, die skrywer wat ’n ryke verskeidenheid van motiewe in sy werk behandel” (Die Volksblad, 30 Januarie 1956).

In 1951 is die Hertzogprys aan hom toegeken, nie alleen vir “Die speelman van Dorestad” nie, maar ook vir sy heel vroeë bundel, Eugène en ander gedigte.

..........

“In sy beroep het hy Afrikaans aktief bevorder deur dit as medium vir sy uitsprake te gebruik en deur noodsaaklike terminologie te skep (soos die woord ‘verweerskrif’).”

..........

Die ironie is dat Jan FE Celliers as keurder van die uitgewer De Bussy, wat hierdie bundel aanvanklik as Gedigte gepubliseer het (1919), Toon aangeraai het om by “die ossewa, die keteltjie en die doringboom” te bly ... “In u werk mis ek die innige eenvoud van ware poësie ...”

Tog is daar vandag juwele wat ons van Van den Heever het, verse wat nooit verouderd sal wees nie, en ook nie vergeet sal word nie. En verhale wat eweneens nie hulle impak en fleur verloor het nie. Dink maar aan “Werkstaking by die kleigat” en “Oupa Sem en Vader Krismis”.

In sy beroep het hy Afrikaans aktief bevorder deur dit as medium vir sy uitsprake te gebruik en deur noodsaaklike terminologie te skep (soos die woord “verweerskrif”). Hy was die ware troebadoer van Dorestad (volgens die Middel-Nederlandse verklaring sou dit “Dwasestad” wees), en die gewer van gerwe uit Skoppensboer se hand.

As daar nog iewers outydse leunstoele in ons huise rondstaan soos dié wat ons van Toon van den Heever het, is dit die ideale voorleesstoele!

Lees ook 

Die NALN-tydkapsule: Jan Rabie – Rondom 21

NALN-tydkapsule 2: Dis nie al nie, Johannes François Elias Cilliers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top