Toon van den Heever

  • 1

Appèlregter Francois Petrus van den Heever is vandeesweek 58 jaar gelede, op 29 Januarie 1956, in die betreklik jeugdige ouderdom van 61 jaar oorlede. Buite regskringe was hy beter bekend as Toon van den Heever, die bekende skrywer en Hertzog-pryswenner.

Dalk het jy ook al gewonder waar dié bynaam - Toon - vandaan gekom het. Die antwoord verskyn in die Februarie 1990-uitgawe van die South African Law Journal.1 Daarin word vertel dat Toon van den Heever 'n ywerige rugbyspeler was toe hy in 1914 aan die destydse Universiteitskollege van Pretoria in die regte begin studeer het. Die skrumskakel was ene Le Roux, en die jong Van den Heever het hom die bynaam Duimpie gegee. Le Roux het nie daarvan gehou nie, en eendag het hy teruggekap: “Ag jou groottoon, man." Van daardie dag af het Van den Heever Toon geword, en gebly.

Regter Van den Heever het 'n waardevolle bydrae tot ons reg gelewer. Daarvoor sal hy stellig die langste onthou word. Maar daarby was hy 'n veelsydige, talentvolle mens wat op talle ander terreine van die lewe uitgeblink het. Hy het in die Bondelswartsopstand in die destydse Suidwes-Afrika geveg ('n episode wat in sigself 'n skets regverdig). Hy was 'n bekwame violis en musikus. Ek het reeds terloops na sy skryftalent, wat met die Hertzog-prys bekroon is, verwys. Hy het hom as vlieënier bekwaam en die land in sy privaatvliegtuig deurkruis, en sy belangstelling in die lugvaart het daartoe gelei dat hy tot erekolonel in die lugmag benoem is. Les bes het hy ook die boogskutkuns onder die knie gekry, en hy was 'n goeie rolbalspeler.

Terwyl hy appèlregter in Bloemfontein was, het hy vir hom 'n motorfiets aangeskaf waarmee hy daagliks van sy huis na die hoogste hof in die land gereis het. Dit vertel iets van die avonturier in hom, maar ook dat hy hom min gesteur het aan “wat die mense sou sê".

Die diplomaat in hom blyk uit 'n brief wat hy gerig het aan die handelaar waar hy die motorfiets gekoop het, toe die ellendige ding hom die soveelste keer in die steek gelaat het.2 Hy sit sy klagtes in vloeiende Engels breedvoerig uiteen. Hy wys dan daarop dat toe hy die motorfiets gekoop het, hy gesê het dat hy dit wou gebruik om tussen sy huis en die appèlhof te reis, en dan voeg hy by : "As you know, this is the Appeal Court for the whole of South Africa, South-West Africa and Southern Rhodesia. Counsel come from far and I simply cannot afford ever to be late. Reliability is therefore a very essential requisite in my means of transport." En dan vra hy mooi dat die motorfiets nou óf herstel moet word, óf dat die koop gekanselleer moet word. Hy het dalk meer geduld aan die dag gelê as die meeste van ons ...

Toe sy dogter, die latere appèlregter Leonora van den Heever, ná haar vader se dood 'n briefie geskryf het waarin sy die hoofregter bedank het dat hy die begrafnis bygewoon het, het sy Toon van den Heever treffend soos volg opgesom3 (ek vertaal uit die oorspronklike Engels): "Hy was die spil waarom ons bestaan gewentel het; hy was nie slegs eggenoot en geliefde vader nie, maar leidsman, filosoof en vriend, grapmaker, jan alleman - dit alles."

1 Vgl Ellison Kahn: A trimestrial potpourri - only yesterday: piquant legal portraits from the past in (107) SALJ (Februarie 1990), bl 136.

2 Ibid, bl 137.

3 Ibid, bl 140.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Thank you for this. At last, I know the origin of his nickname! I once speculated that his name was Anton, then realised that this was not so!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top