Nagjagter deur Jan Vermeulen, ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Nagjagter
Outeur: Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639600338

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

“Wednesday at the theatre will never be the same.” (25)

Het jy al ooit die behoefte gehad om uit jou alledaagse roetine te ontsnap? Wat as ’n mens vasgevang raak in hierdie fantasiewêreld en dit jou realiteit oorneem?

In Jan Vermeulen se jongste sielkundige riller, Nagjagter (2020), eksperimenteer hy met die Gotiese vampier-subkultuur, kliniese vampirisme en die invloed wat godsdiens op die geestelik versteurde bewussyn kan hê. Daar word veral klem gelê op verskillende mense se opinies oor bloedoortappings en die ooreenkoms wat dit met vampirisme het.

Buiten hierdie temas wat die fondasie vir ’n interessante speurverhaal lê, hou Vermeulen die leser in die donker soos hy hulle heeltyd na doodloopstrate lei. Moontlike verdagtes val soos vlieë terwyl die SAPD rondskarrel op soek na moontlike leidrade en motiewe.

Dr. Olaf Demeyer, die bekende hoofkarakter uit Vermeulen se vorige twee sielkundige rillers, Die vyfde Aspoester (2018) en Ondier (2019), word weer eens by die saak van ’n reeksmoordenaar betrek – hierdie keer nie weens sy reputasie as voormalige forensiese profileerder by die SAPD nie, maar omdat sy dogter, Franci Demeyer, as die reeksmoordenaar verdink word.

Die verhaal skop af by die King Edward Opera Theatre in Port Elizabeth, waar Olaf en sy huidige liefdesmaat, Beth Jordaan, die première van Die boggelrugvampierjagter bywoon. Dis nie noodwendig Olaf se cup of tea nie, maar hy gaan ter ondersteuning van sy dogter en haar vriende wat in die toneelstuk optree het. Die première neem ’n skielike wending wanneer dit in ’n gruwelike moordtoneel verander en die werklikheid die fantasiewêreld uitdoof.

Die skielike metamorfose wat die première ondergaan, plaas almal wat toegang tot die verhoog gehad het sterk onder verdenking, veral diegene wat ’n sterk assosiasie het met die vampiersubkultuur, aangesien die slagoffer op die verhoog en die talle ander slagoffers later in die roman volgens tradisionele vampiermetodes vermoor is, onder andere met ’n houtpen deur die hart, onthoofding en knoffelhuisies wat in hul monde gestop is.

Franci se belangstelling in vampirisme en haar betrokkenheid by Mystic Generations (’n aanlyn kollege wat die paranormale bestudeer en die bonatuurlike onderwêreld fassinerend vind) maak haar die SAPD se hoofverdagte. Dit skep spanning en wrywing in Olaf se persoonlike lewe wanneer hy as die bemiddelaar tussen Franci en Beth, adjudant vir die SAPD, moet optree.

Buiten hierdie drie karakters verwelkom Vermeulen ook ander bekende karakters vanuit sy vorige romans, onder meer Dieter Kreft van Big Bear Private Investigations and Forensics, wat ná die Aspoester-moorde en die moorde in Somerset-Oos in Ondier gereeld saam met die SAPD werk. Selfs Zenobia Price, die waaghalsige joernalis, maak weer ’n verskyning.

Vermeulen kleur sy roman verder in met terugverwysings na gebeurtenisse vanuit die vorige twee sielkundige rillers. Dit skep die gevoel dat Vermeulen se rillers opvolgverhale is. Daar word egter genoeg bykomende inligting verskaf dat lesers die drie romans afsonderlik sal kan lees. Daar word selfs aan die begin van die roman ’n kort beskrywing van die protagonis en sy geskiedenis in die vorige boeke gegee. Dit verskaf genoeg agtergrond vir die leser om Olaf se familie-omstandighede en huidige liefdeslewe te kan verstaan.

Die verwysings wat deurlopend in die roman voorkom, word strategies in karakters se dialoë en gedagtegang ingevleg. Dit verhoed dat lesers die bykomende inligting as vervelig of geforseerd sal ervaar.

Met sy arm om haar stap hulle oor die vloer wat vanaf die portaal tot die houttrap met wit marmerteëls en geweefde matte bedek is. Met die houttrap op. Voor sy kamer skel die herinneringe aan Isabel wat hier met die mes in haar bors gesterf het so hard op hom dat hy Beth in een besliste beweging by die vertrek indwing. Hy sluit die deur agter hulle. (18)

En:

“Ek is die stad se Big Brother,” lag Dieter. Hy gaan sit agter sy lessenaar. “Het ek jou gesê die SAPD werk deesdae graag saam met my?”

“Nee, jy het nie.” Olaf gaan sit op ’n gemakstoel.

“Ek het gevorder van SAPD reject tot die bekendste PI in die Oos-Kaap, alles aan jou te danke, doktor Demeyer. Ek is ernstig. Na die Aspoester-moorde en die ding in Somerset-Oos het jy my op die map gehelp plaas.”

“Ek is bly vir jou onthalwe, Dieter.” (61)

Dit getuig van Vermeulen se goeie skryfstyl en sy vermoë om balans tussen wys en vertel te handhaaf.

My enigste kritiek as leser is dat daar te veel klem op die sensuele en seks geplaas word. In spesifieke gevalle is dit gepas omdat dit die sensuele aard of romantisering van vampirisme beklemtoon. Daar is egter sekere gevalle waar die sekstonele nie bydra tot die storie nie en eintlik net as steurend voorkom.

As jy al een van Vermeulen se vorige rillers gelees het, sal jy weet dat Vermeulen nie wegskram van geweld en misdaadtonele nie. Die geweld word so deeglik beskryf dat die leser tussen die lyne vir die bloedspatsels moet koes. ’n Regte Quentin Tarantino. Vermeulen se sielkundige rillers is definitief nie vir die meer sensitiewe leser bedoel nie.

In sy romans skep Vermeulen nie net ’n speurverhaal waar moorde plaasvind en die moordenaar in hegtenis geneem word nie. Vermeulen staan stil by die psigologiese oorsprong van ’n reeksmoordenaar se denkwyse en die motivering vir sy dade. Dit skep nie noodwendig simpatie vir die moordenaar nie, maar is ’n uitbeelding van hoe gebroke die wêreld is en hoe vatbaar ’n mens se psige is. Dit laat die leser wonder oor die groter impak wat geweld op ’n persoon het lank nadat sy liggaam herstel het.

As leser het ek simpatie met die hoofkarakter en sy gesin. Die hoeveelheid trauma wat die Demeyer gesin in die loop van drie boeke moes beleef, is onmenslik. Hopelik beplan Vermeulen om Olaf Demeyer en sy gesin ’n ruskans te gee in sy volgende riller, anders mag hulle dit dalk nie volgende keer oorleef nie.

Jan Vermeulen se roman sal ’n goeie tydverdryf wees vir ’n rillerliefhebber, maar ek moet bieg, Nagjagter kan nie by Vermeulen se eerste sielkundige riller, Die vyfde Aspoester, kers vashou nie.

Lees ook:

Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen: ’n resensie

LitNet Akademies-resensie-essay: Baster deur Jan Vermeulen

Skrywersonderhoud: Jan Vermeulen praat oor sy boek Oopmond

Soen deur Jan Vermeulen: ’n resensie

LAPA-jeugromankompetisie 2019: ’n onderhoud met Jan Vermeulen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top