Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen: ’n resensie

  • 0

Die vyfde Aspoester
Jan Vermeulen
LAPA
ISBN: 9780799387544

Jan Vermeulen is alombekend en -gewild vir sy jeugverhale. So deeglik het hy die genre onder die knie dat hy gereeld toekennings vir sy skryfwerk vir jongmense inpalm. Aan die begin van die jaar het hy LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2017 met Oopmond gewen, nadat hy in 2015 dieselfde kompetisie met Asem gewen het. Dit is maar enkele van die pryse wat pronk op sy indrukwekkende skryf-CV, wat ook ’n internasionale erkennings of twee bevat.

Dit is dan geen wonder dat Vermeulen besluit het om sy net wyer te span en in ander, onbekender waters vis te probeer vang nie. As mens een mark oorwin het, kan jy tog sekerlik probeer om ander lesers ook te wen vir jou saak?

Sy debuut vir volwassenes, Die vyfde Aspoester, verklap reeds met eerste oogopslag dat dit geen kinderverhaal gaan wees nie, maar beslis iets meer sinister. Die woordjie “vermoor” op die voorblad maak dit verder duidelik dat sy mark vir hierdie boek eerder whiskeydrinkers as pienk-melkskommel-genieters is en dat hy moontlik mik om homself op die vinniggroeiende lys van plaaslike misdaadskrywers te posisioneer. Hierdie lys, wat maar skrams was ’n paar jaar gelede, het soos ’n semi-outomatiese wapen in die hand van ’n kroek ontplof en ’n “welbewus-van-die-dreigende-kompetisie” Deon Meyer van sy troon as vetoreghouer van die krimi afgeskiet. Daar is nou misdaadverhale te kies en te keur. Lojale lesers bly lief vir Meyer, maar niemand hoef meer te wag vir Bennie Griessel om sy speurwerk te doen nie. Verslaafdes van die genre kan hulle tande in onder meer Irma Venter, Chris Karsten en Piet Steyn se volronde verhale met ongesond-lekker karakters inslaan. En elke dag word dié lys van interessante karakters en stories langer. Daar is stewige kompetisie vir Meyer, en ek is seker hy is dankbaar daaroor.

Soos met die internasionale mark in die genre baklei die wedyweraars natuurlik nie almal in dieselfde gewigsgroep nie. Ek sal nooit as te nimmer vir Tess Gerritsen met Karin Fossum kan vergelyk nie. Eersgenoemde is doodeenvoudig nie so ’n goeie skrywer of storieverteller soos Fossum nie. Net so sal Val McDermid se karakter dr Tony Hill se veelvlakkigheid my baie meer boei as wat Katy Reichs se dr Tempe Brennan my sou aanspoor om nog een van haar boeke oor forensiese patologie te lees, selfs al is die onderwerp ook hoe fassinerend.

Die vyfde Aspoester is nie vergelykbaar met boeke soos Karsten se grillerige Abel se ontwaking of Venter se Skarlaken nie. Dit is wél ’n baie goeie begin vir ’n skrywer wat vir die eerste maal in die bokskryt klim en sy hand aan bloed en derms waag. En bloed en derms is daar meer as genoeg van. ’n Reeksmoordenaar is op hol en die teiken is mooi, jong meisies. Die aangeskrewe profiler, dr Olaf Demeyer (is die skrywer onbewus van die baie bekende strafregprokureur met dieselfde naam, of was dit aspris?) word deur die polisie ingespan om te help. Later blyk dit dat sy eie dogter ’n moontlike teiken van die reeksmoordenaar kan word. Die moorde word gepleeg tydens die veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, en temas soos pedofilie en gesinsgeweld word ingespan om die grilfaktor en die spanning te verhoog. Maar hoewel al die elemente van ’n goeie krimi teenwoordig is, is die moordenaar net té onwaarskynlik. En helaas snuffel mens die skuldige heeltemal te gou uit. In ’n verhaal soos hierdie, waar die leser sélf speurder en profiler speel, wil mens nie so lank voor die hoofkarakter en die polisie die saak oplos nie. Jy wil raai-raai-riepa en ten minste vir die grootste gedeelte van die boek op dwaalspore gelei word. Dis deel van die spel tussen skrywer en leser en wat vir my ’n riller of misdaadverhaal se sukses bepaal.

Vermeulen se soomlose en onderhoudende skryfwerk vergoed gelukkig vir die paar voetfoute. Sy karakters is oortuigend en die storielyn ver van vervelig, maar ’n swaargewig is Die vyfde Aspoester helaas nie. Mens sien egter uit na meer en beter misdaadstories uit Vermeulen se pen, want die potensiaal is beslis daar om ’n uitklophou aan bloedlustige lesers toe te dien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top