Naam van dier dorp deur Gielie Hoffmann: ’n onderhoud

  • 0

Skrywer en bestuurskonsultant Gielie Hoffmann gesels met Jannike Bergh oor sy boek Naam van dier dorp wat in November 2024 verskyn.

Hallo, Gielie! Jy het sopas ’n boek gepubliseer: Naam van dier dorp is ’n versameling wat jou skrywes op sosiale media in boekvorm saamvat. Jy skryf: Sosiale media is ons hedendaagse joernale. Dis waar ons versamel, opteken, vaslê en dokumenteer. In hierdie boek het ek my gunsteling-stories wat ek op sosiale media deel gaan rangskik. Dis die mees verteenwoordigende blik van wie en wat ek is.”

Ek dink baie mense wat dit geniet om te skryf kan hulleself vereenselwig met die uitlaatklep en gemeenskap wat Facebook bied; dit voel soos ’n safe space waar mens makliker deel en imposter syndrome bietjie uit die weg ruim. Wat is jou skryfproses? Het jy ’n notaboekie byderhand of hoe stoor jy jou stories?

Ek het my skryfstem gevind op sosiale media. Daaruit het ek die kans gekry om vir vyf jaar ’n rubriek te skryf vir Netwerk24/Beeld. En so weer die kans om by te dra tot vyf bundels by verskillende uitgewers.

So, dis nie ’n mors van tyd nie.

Mens gee vorm aan ervarings en gedagtes, redigeer jou plasing reeds deeglik en kry dan ook byna onmiddellike terugvoer – ’n proses wat maande sou neem in die tradisionele uitgewerswese, neem nou minute. Ek ry baie rond en sit in baie koffieplekke en ervaar baie mense in verskillende omgewings danksy my werk. Vir ’n skrywer is dit ’n skatkis van impulse. My instink is om dit sosiale media toe te vat.

........
Daar is ’n driftigheid in my skryfwerk op sosiale media wat soms verlore gaan as ek agter my rekenaar inskuif “om te gaan skryf”.
........

En daarom toe ek hierdie boek aanmekaarsit, was ek verstom toe my eerste ronde van moontlike stories meer as 60 000 woorde was – genoeg vir ’n roman. Ek het natuurlik dit baie minder gemaak op die ou einde.

Maar ja, sosiale media het my vangnet geword – hetsy in die oomblik of later as ek notas uit my joernaal gaan verwerk het. Daar is ’n driftigheid in my skryfwerk op sosiale media wat soms verlore gaan as ek agter my rekenaar inskuif “om te gaan skryf”.

Jou skryfwerk het grotendeels ’n humoristiese aanslag – juis nie om te spot nie, maar om te herinner aan ons medemenslikheid en dit wat ons bind. Dit blyk om onlosmaaklik van jou wêreld/lewensbeskouing te wees. Vloei jou skryfwerk spontaan uit daaglikse waarnemings, en watter stories geniet jy om te vertel?

Ek geniet die alledaagse klein oomblikke en hoe dit in gesprek tree met groter gebeure en stories. Dit vereis dat ek raaksien wat baie ander mense miskyk.

Dis meer binnetoe-kyk as buitentoe vingerwys. Oomblikke van menslikheid vang my aandag die meeste. En soms dan daai goed wat nie sin maak nie, maar heeltemal normaal lyk.

Ek wil mense laat voel en dink. En humor is baie keer die beste manier om iemand te kry om oop te maak vir iets nuuts. Ek skryf soos ek praat. So mense sê baie keer hulle kan my stories “hoor” – daar’s ’n ritme.

Kan jy ons meer vertel van die konsep/formaat van Naam van dier dorp?

Sosiale media is ons hedendaagse telefoonboekies, reseptelêers, joernale, liasseerkabinette en onderste laaie van lessenaars.

Kleintyd het ons “Naam Van Dier Dorp” gespeel in afperiodes by die skool – iemand kies ’n letter en dan moet jy so vinnig moontlik in elke kolom ’n inskrywing maak wat begin met daardie letter.

Ek het besef dit is ook ’n manier hoe mens inligting eintlik rangskik en tematies is dit maar waaroor ek ook skryf: mense, plekke en die groter omgewing.

Naam van dier dorp is ’n self-publikasie, as ek dit reg het. Kan jy ons meer vertel waarom jy dit so besluit het en hoe benader ’n mens so iets? (Die omslag is verskriklik mooi, terloops.)

Wat het jou laat besluit om die sprong van aanlyn plasings na ’n boek te maak?

Ek is bevoorreg dat ek konstant deur uitgewers genader word om ’n boek vir hulle te skryf.

En tog het ek nog nie.

Ek het mooi gaan dink hoekom nie en besef al my kreatiewe vriende doen hulle eie ding: Neem hul eie albums op, vervaardig hul eie vertonings en potgooie, skep hul eie uitstallings, ens. En tog met skryf is die proses vir my nog argaïes. En, die kontrak maak nie vir my sin nie. Wat ’n skrywer kry per boek, is lagwekkend.

So, ek het besluit om ’n boek aanmekaar te sit; al die prosesse te volg, nes ’n uitgewer sou; dit self te laat druk en versprei. Ek is OK met die risiko. Maar dis vir my ook ’n eksperiment. Alle skrywers gaan nie kans sien om dit te doen nie. Maar in my gees is ek ’n onafhanklike entrepreneur en wil ek sien hoe ek dit kan doen.

Daar is deesdae baie kanale, somtyds oorweldigend, vir skrywers om na te keer. Daar is Substack, medium.com en tradisionele blogs. Skryf jy slegs op Facebook en wat is jou advies vir mense wat self geniet om hulle skrywes op Facebook te deel, maar nie weet waar om te begin met betrekking tot bogenoemde platforms nie?

Die geheim bly: As jy wil skryf, skryf. En danksy al die platforms, kan jy nou vinniger en beter by baie meer mense uitkom. Ek skryf op Facebook en Instagram, want alhoewel die lesers bietjie oorvleuel, is daar ook wesenlike verskille.

.......
My raad? Ontwikkel jou stem. Kry terugvoer. Kry lesers. En maak dan ’n wesenlike produk daarvan as jy sou wou. Speel met al die platforms!
.......

My raad? Ontwikkel jou stem. Kry terugvoer. Kry lesers. En maak dan ’n wesenlike produk daarvan as jy sou wou. Speel met al die platforms!

Ek gaan Naam van dier dorp in 2025 uitbrei na ’n weeklikse nuusbrief met verskeie mediabronne.

Jou manier van die samelewing bestudeer en vasvang vind ook uiting in jou beroep: Jy werk as konsultant vir besighede, individue in die kreatiewe wêreld, en is ook betrokke by veral skolesport waar jy help om jong atlete op ’n sielkundige vlak te bemagtig. Waar kom hierdie roeping vandaan? En hoeveel van jou ervaring in hierdie loopbaantrajek vind wedersyds uiting in jou skryfwerk?

Ek hou daarvan om te help. Maar ek is ook eindeloos nuuskierig en gemaklik met verandering en lief vir probleemoplossing. My belangstellingsveld is wyd en in my werk kan ek dit als inkorporeer.

Dit als word op ’n manier gereflekteer in my skryfwerk – die impulse, die refleksie, die eiesoortige uitgangspunte, die unieke integrasie van wêrelde, ens.

Jy is nie onrealisties oor die werklikhede van ons land nie, maar jou skryfwerk dui tog aan dat jy opreg glo in die potensiaal wat in mense opgesluit lê. Wat maak jou hoopvol?

Ek is altyd versigtig-optimisties. So, ek kyk die feite in die oë, maar ek vind ook die silwer randjie. Dis ’n fyn balans om te vind. Gewone mense wat nie besig is met die politiek van die dag nie, maar net lewe en goed is vir mekaar, gee my hoop en dit vind baie keer neerslag in my skryfwerk.

Hoe kan lesers jou boek in die hande kry?

Op my webblad www.gieliehoffmann.co.za en by bekendstellings in die nabye toekoms. Die eerste een is op 16 November in Pretoria. Hou gerus my sosiale media en webblad dop vir meer inligting.

Lees ook:

Die vorm van verlies: Gielie Hoffmann gesels met Eben Venter oor Decima by die Toyota US Woordfees 2023

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

Wat elke skrywer moet weet: selfpublikasie

Waarom word ons opgelei om nét skrywers te wees en nie entrepreneurs nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top