Ná #RhodesMustFall en #FLF2015: 'n gedeelde ervaringswêreld?

  • 1

Lindie Koorts (foto: Naomi Bruwer)

Dit gons nou al vir twee weke nadat Thando Mgqolozana by die Franschhoek Literêre Fees (FLF) aangekondig het dat hy van die “wit” literêre stelsel gaan onttrek. “Kyk na julleself – dit is baie onnatuurlik,” het hy aan ’n saal gryskoppe gesê. ‘n Foto van die gryskoppe doen sedertdien op die internet en sosiale media die ronde, sodat almal die gehoor vanuit die spreker se oogpunt kan sien.1 Dit het ’n stortvloed meningstukke uitgelok waarin die onderskeie skrywers hul bes probeer om ernstig oor die vraagstuk te besin.

Ek wil uit die staanspoor sê dat ek nie die FLF bygewoon het nie. Ek het kort na donker die Saterdagaand die dorp in ’n huurmotor binnegeskiet om ’n Sunday Times-geleentheid by te woon, en ’n paar uur later is ek weer in die donker daar weg. Ek het ook nie vantevore by die FLF opgetree of dit bygewoon nie – seker tot my eie skande. Daarom sal ek my dit nie veroorloof om uitsprake oor die FLF te lewer nie.

My ervaring van literêre feeste en literêre kringe is oor die algemeen eintlik beperk – ek het met verlede jaar se Woordfees vir die eerste keer tot dié nuwe wêreld toegetree. Naas die Woordfees het ek ook by verlede jaar se Suid-Afrikaanse Boekebeurs in Kaapstad opgetree, die Vryfees in Bloemfontein, en toe weer tydens vanjaar se Woordfees. Oor die algemeen was my gehore ook grotendeels grys. Daaraan is ek gewoond – met elke openbare lesing wat ek die afgelope paar jaar oor my navorsing gegee het, was dit ook die geval. Dit het te make met die aard van my onderwerp en, soos daar tans beklemtoon word, die aard van die leserspubliek. Ek geniet hierdie gehore – veral wanneer ek na afloop van die formele verrigtinge kan staan en gesels met mense wat die gebeure waaroor ek skryf, as kinders beleef het. ’n Buitestander wat ons gesprekke dophou sou dink ons is ou kennisse wat saam politieke staaltjies van dekades gelede staan en ophaal, en hulle krap seker kop oor die ouderdomme van die onderskeie gespreksgenote.

Dit grief my dat die bywoners van literêre feeste eenvoudig as wit en grys gestereotipeer word – asof dit inherent ’n groot sonde sou wees. Sekere aannames gaan saam met hierdie perspektief: onder andere dat ’n oorvloed wit en grys koppe beteken dat ou, rasbevooroordeelde denke nog steeds heers. In die huidige debat word egter weinig pogings aangewend om die ervaringswêreld van hierdie lesers te ondersoek.

Binne die Afrikaanse gemeenskap, waar daar soveel klem gelê word op ’n sosiale rangorde wat deur ouderdom bepaal word, tref dit my byvoorbeeld telkens hoe ouer mense my met die respek wat aan “die skrywer” toegeken word, behandel – dit terwyl ek my bes doen om nie net instinktief te begin “Oom” en “Tannie” nie. Ek word skerp en ernstige vrae gestel deur geïnterreseerde lesers wat my boek gelees het, of ná die gesprek met hom onder die arm staan. Dit is mense wat bereid is om na nuwe vertolkings deur ’n “jong” stem te luister, vertolkings wat aan die raamwerke pluk waarmee hulle grootgeword het. Hierdie bereidwilligheid om breër te lees en te luister, om die wêreld waaraan hulle vir so lank gewoond was te bevraagteken en dit opnuut deur die oë van nuwe skrywers te bekyk, is iets wat enige ernstige denker met hoop moet vul, maar dit word tans misgekyk.

Dit gaan egter nie hier oor die individue wat die sale vul en na afloop van die gesprekke om die skrywers saamdrom nie. Dit gaan oor die samelewingsorde wat hulle as ’n groep verteenwoordig: ’n samelewing wat steeds deur ’n gevestigde en welvarende wit gemeenskap oorheers word. Dit is ’n realiteit, maar dit is ook ’n abstrakte begrip wat die “wit” ervaring oorvereenvoudig – dié dat Mgqolozana nie direk gereageer het op die vrou wat in trane vertel het van haar eie ervaring en haar werk met MIV-vigslyers nie. Dit het nie gegaan oor die mens wat daar staan nie, maar oor ’n konsep: die gedagte dat die ou magsbalans steeds seëvier.

Daardie konsep is iets wat ons almal tog ook moet kan verstaan, en wit Afrikaanssprekendes veral. Die drang om teen ’n onregverdige magsbalans in opstand te kom en die wêreld opnuut na jou eie beeld te wil omvorm is iets wat ons elkeen se geskiedenis kenmerk. Wanneer ek kyk na jong studente wat tans betoog teen koloniale simbole en hul persepsies van ’n wit-oorheerste universiteitstelsel, dink ek onwillikeurig aan die jong manne wat die Tweede Afrikaanse Taalbeweging aan die begin van die 20ste eeu gedryf het, en die Stellenbosse studente wat in 1911, tot die regering se ontsteltenis, ’n taalfees gereël het om gelyke taalregte te vier. Al was gelyke taalregte in die Unie se grondwet verskans, wou die regering dit nie vier nie, want een gemeenskap se viering van sy nuutgevonde regte sou die ander vervreem, en die brose “konsiliasie”-projek, waardeur die regering versoening tussen Afrikaners en Engelssprekendes wou bewerkstellig, beduiwel. Wanneer Afrikaners hul taalregte en die praktiese ontkenning daarvan uitbasuin het, het dit telkens ’n herrie ontketen waarin die Engelse gemeenskap Afrikaners van “rassehaat” beskuldig het (“ras” het in hierdie tyd na die twee wit “rasse” verwys).

Ek dink dadelik aan die jong Afrikaner-intellektueles wat in die vroeë 1920’s in Afrikaans vir De Burger begin skryf het, terwyl ’n ouer geslag nog aan die gevestigde Nederlands vasgeklou het. Ek dink aan pogings in dieselfde era om ’n Afrikaanse letterkunde te probeer skep waar daar voorheen niks was nie, en vroueorganisasies wat leeskringe gestig het en Afrikaners aangemoedig het om Engelse literêre oorheersing teen te staan deur in hul “eie” taal te lees en dit te ondersteun. Ek dink aan Afrikaanse verbruikers wat in winkels ingestap het en by onbeholpe Engelssprekende winkeliers aangedring het om in Afrikaans bedien te word. Dit het vir hulle daaroor gegaan dat hul regte en waardigheid deur hul voormalige oorheersers erken moes word – en om werk vir arm Afrikaners te skep.

Ek dink aan die jong Afrikaner-intellektuele van die 1930’s wat ’n swetterjoel eksklusiewe Afrikaanse organisasies gestig het, organisasies wat die Afrikaner-nasionalistiese wêreldbeeld moes weerspieël en wat “volkseie” moes wees. Van die Broederbond2 tot die FAK, die Reddingsdaadbond tot die Afrikaanse Handelsinstituut – is die begrip agter laasgenoemde veel anders as dié van die Black Management Forum? Ek dink aan die 1938 simboliese Ossewatrek, en Afrikaners wat woedend geweier het om die volkslied (“God save the King”) by die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument te sing, al was Suid-Afrika ’n enkele land, waarvan Engelssprekendes ook burgers was, en al hét die staat geld geskenk vir die bou van die monument. Die Afrikaner-nasionalistiese beweging is telkemale deur nuwe geslagte jong intellektuele voortgestu – jong manne wat die Anglo-Boereoorlog nie self beleef het nie (wat nog te sê van die Groot Trek), wat in ’n verenigde Suid-Afrika grootgeword het, maar wat steeds, met die verhale van hul ouers en grootouers se lyding in hul ore, teen Engelse oorheersing in opstand gekom het.

Afrikaners het in hierdie tyd stemreg gehad, sowel as hul eie politieke party. Die Eerste Minister was nie net ’n Afrikaner nie, maar ’n oud-Boereoorloggeneraal. Tog het hulle uitgesluit gevoel in ’n samelewing waar die Engelse taal en Engelse kapitaal steeds koning gekraai het. Is dit veel anders as wat ons vandag sien?

As daar ooit ’n bevestiging was dat geen nuwe geslag “neutraal” gebore of grootgemaak word nie, dan is die sogenaamde “born-frees” weer eens ’n bewys daarvan. Ek skud telkemale my kop oor ontleders wat aanvoer dat kinders nie velkleur raaksien nie, of dat die nuwe geslag ’n vars begin verteenwoordig omdat hulle nie gebuk gaan onder die ervaring van apartheid nie. Die nuwe geslag is die erfgename van hul ouers se bagasie. Soos wat jong wit Afrikaners vroeg in die 20ste eeu grootgeword het met hul ouers en grootouers se verhale van die konsentrasiekampe, so word jong swart, bruin en Indiërmense groot met verhale van hul ouers en grootouers se daaglikse vernedering onder apartheid.

As daar een ding is wat die geskiedenis vir ons gewys het, is dit dat nuwe geslagte na vore tree om bestaande bewegings te radikaliseer, of hulle dit vanuit die staanspoor self beleef het of nie. As ek kyk na die oplewing van Afrikanernasionalisme in die 1930’s, twee dekades na Uniewording en Louis Botha se mislukte poging tot konsiliasie, en ek kyk na die #RhodesMustFall-beweging, twee dekades na apartheid en Nelson Mandela se pogings tot versoening, wil dit vir my voorkom of die nuwe geslag baie mooi kan tyd hou.

Elke historikus (ek inkluis) wil tien duisend dode sterf wanneer iemand iets kwytraak oor die geskiedenis wat homself herhaal. Maar breë samelewingspatrone is daar gewis. Hulle is groter as wat ons is en hulle is onstuitbaar. Die herries wat tans byna weekliks opklink, is nie geïsoleerd nie, maar vorm deel van ’n breër samelewingsverskuiwing. Dit is ’n proses in wording en as historikus sou ek verkies om die patroon dop te hou en dan oor ’n dekade of twee my mening daaroor te lug.

Waar laat dit ons intussen, terwyl die debatte op kampusse, in literêre kringe, op sosiale media en in koerante en aanlyn nuuswerwe se meningsrubrieke voortwoed?

Thando Mgqolozana (foto: Izak de Vries)

’n Paar dae na Thando Mgqolozana se uitsprake was ek in Bloemfontein, waar die Sentrum vir Afrikastudie, waaraan ek verbonde is, ’n reeks lesings gehou het ter viering van Afrikadag. Kort na die middagete-uur is ek na ’n lesing deur Pumla Gobodo-Madikizela. Haar betrokkenheid by die Waarheid-en-Versoeningskommissie en haar navorsing oor trauma en versoening is wêreldbekend – en sy het deelgeneem aan die paneelbespreking waartydens Thando Mgqolozana sy uitsprake gemaak het. Sy wou haar nie daaroor uitlaat nie, maar sy het wel ’n enkele opmerking gemaak: beide kante het seer en woede, en beide gee uitdrukking daaraan. Wat sy egter sien, is dat die woede heen en weer by mekaar verbygeslinger word sonder dat daar wedersydse begrip ontstaan.

Pumla Gobodo-Madikizela (foto: wikipedia)

Sy het die verhaal vertel van die Gugulethu Sewe se moeders wat tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie-sitting die ma van ’n gestorwe troepie woordeloos omhels het, want, het hulle gesê, die taal van die baarmoeder spreek tot hulle. Is daar nie ’n derde posisie nie, het sy gevra, waar ons mekaar met ons onderskeie verhale kan ontmoet? Ek kon myself nie bedwing nie. Terwyl sy gepraat het, het die trane begin stroom, al het ek hulle saggies probeer verberg. Na die tyd het sy my vriendelik, maar ook besorg, kom opsoek. Medemenslikheid bly deel van ons ervaringswêreld.

Ons verhale is uiteenlopend, maar tog ook vervleg, en dit bly die verhale van mense. Mag ons dit voortdurend in gedagte hou.

1 http://bookslive.co.za/blog/2015/05/18/look-at-yourselves-its-very-abnormal-thando-mgqolozana-quits-south-africas-white-literary-system

2 Alhoewel die Broederbond in 1918 gestig is, het dit eers na 1934 werklik ’n rol in die nasionalistiese beweging begin speel.

Lees ook:

Rhodes moes val: Gedagtes oor dekolonisering en swart historiese agentskap.
Undercover Afrikaners?.
“Oor monnemente gepraat” en ander mymerings oor gevalle helde.
Rhodes-debat: Gister se leiers, vandag se leiers.
The Franschhoek Festival 2015 and the elephant in the room.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top