’n Vryrietkonsert op Erfenisdag 2026: ’n onderhoud met Leon Oosthuizen

  • 0

Hierdie foto van Leon Oosthuizen en die amptelike bemarkingsplakkaat van die SAFRA Erfenisgala is aan LitNet verskaf en verskyn met toestemming en as advertensiemateriaal ten opsigte van die konsert.

Leon Oosthuizen praat met Naomi Meyer oor die Erfenisdag-vryrietkonsert wat in September plaasvind.

Leon, jy organiseer die eerste Suid-Afrikaanse Vryrietvereniging-gala vanjaar op Erfenisdag. Watter instrumente ressorteer alles onder vryrietinstrumente en waarom beskou jy hierdie instrumente as ’n Suid-Afrikaanse erfenis?

Dankie, ja, ons het so ’n ryk en unieke musiekerfenis wat parallel ontwikkel het in die verskillende kultuurgroepe in Suider-Afrika, met vryrietinstrumente as die gemeenskaplike faktor. Eintlik is dit ’n groot familie met verskeie tipe modelle.

Dink maar aan die konsertina wat sedert die 19de eeu die ikoniese hartklop van boeremusiek geword het en ook as inspirasie gedien het vir die kleurvolle maskandi-musiek van Zululand.

Navorsing toon dat die knoppiesakkordeon die Groot Trek meegemaak het. Die trekklavier het toe kort voor lank Afrikaanse musiek verryk en by die myne het die Basotho’s se famo-musiek vorm aangeneem. Dis ook integraal deel van Skotse kontreidansmusiek.

Almal ken die klein en kompakte mondfluitjie – dit kom ook al ’n lang pad saam met ons.

Die handharmonium is integraal deel van die Indiër-kultuur, terwyl die voetharmonium, oftewel die traporrel en serfyn, geen onbekende in kerke, huise en boeremusiek is nie. Die bandoneon het nou wel meer ikoniese status verkry in Argentinië en Uruguay met die tango, maar vandag nog kom jy af op bandoneons op plaaslike bodem.

Laastens is daar die melodika wat deesdae veral in Basotho- en Afrika-jazzmusiek gebruik word, asook wêreldmusiek.

Vertel my asseblief van die beoogde konsert. Wie gaan daar optree en waar is dit?

Die eerste SAFRA Erfenisgala val saam met ’n paar besondere eeufeesmylpale: die totstandkoming van die Krugerwildtuin in 1926, die geboorte van die trekklavierkoning Nico Carstens, asook ’n 100 jaar sedert die eerste kommersiële opnames van boeremusiek en “Die Stem”.

Die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow vier boonop vanjaar sy 40-jarige bestaan en die galakonsert gaan juis plaasvind by die Hugo Lambrechts Ouditorium met sy voortreflike akoestiek.

........
Deurdat ons regmaak vir ’n nuwe eeu van voortreflike vryrietmusiek, vier ons in 2026 Die vryrietklanke van Mzansi. Die gehoor kan uitsien na musikante van oor ’n breë spektrum – van klassieke musiek tot plaaslike volksmusiek soos maskandi, famo en boeremusiek.
.........

Deurdat ons regmaak vir ’n nuwe eeu van voortreflike vryrietmusiek, vier ons in 2026 Die vryrietklanke van Mzansi. Die gehoor kan uitsien na musikante van oor ’n breë spektrum – van klassieke musiek tot plaaslike volksmusiek soos maskandi, famo en boeremusiek.

Stephaan van Zyl, ’n bobaas-konsertinaspeler en kenner van die vroeë boeremusiekpioniers, sluit by ons aan uit Pretoria en die talentvolle Carl Julius kom wys sy konsertina-staal uit Kimberley. Ons is bevoorreg dat Mants’a, ’n beminde famo-musikant van Lesotho en voormalige Sama-wenner, ons gaan bekoor met sy trekklavier. KwaZulu-Natal word ook verteenwoordig deur maskandi-musikante Mgojeli Ncube en Nyon’emhlophe wat kom toor met hul konsertinas. Plaaslike gehore sal bekend wees met uitstaande talent soos trekklavierspelers Monika Stuchlik van Zamar, Loren Ehlers, Louis Verwey en die jeugdige Hano Krige. Boksemdaais, ’n akkordeonorkes, gaan ook die verhoog bestyg. Ek sien uit om saam te werk met die musikante. Die kleurvolle geleentheid sluit ook dansaanbiedings van tango, ballet, Skotse kontreidanse en volkspele in.

Ons weet nou al hoe sport ’n nasie kan saamsnoer. Waarom moet ons nog glo in die droom van ’n reënboognasie met musiek wat saambind en laat saamsing en saamspeel?

Ons het soveel tale en kulture dat ’n mens dalk tot die slotsom kan kom dat ons erfenis en tradisionele musiek vir eens en altyd gefragmenteerd is. Dis te verstane, maar die verrassende samesnoering deur vryrietinstrumente is ’n openbaring. As die Zoeloes en die Boere beide konsertinas speel en die Sotho’s, Skotte en Afrikaners versot is op die trekklavier, wat keer ons om deur musiek byeen te kom? Een verhoog. Een reënboognasie. Een Erfenisdag. Dit gaan ’n wonderlike ervaring wees.

As iemand hier lees en geïnspireerd voel om ook enige van die instrumente te leer bespeel waarvan jy hier vertel, waar kan hulle aanklop vir lesse? Is dit nie baie moeilik en baie duur om dit te leer bespeel nie? Kan mens instrumente huur, of is daar ander praktiese sake wat jy kan help oplos as iemand dit graag wil leer doen?

As jy jou instrument van voor tot agter ken, kan jy enigiets met hom speel. Dis hoekom ons oud en jonk aanmoedig om aan te klop vir lesse. Deur SAFRA het ieder en elk landswyd toegang tot ’n netwerk van vryrietinstrument-onderwysers – van die trekklavier tot die konsertina. Onderwysers help jou om moontlike struikelblokke te oorkom.

Soos met motors, is daar ook verskillende prysvlakke wanneer jy ’n trekklavier of konsertina wil aanskaf. Nuwe trekklaviere word ingevoer, terwyl goeie konsertinas deesdae ook plaaslik vervaardig word. ’n Aktiewe tweedehandse mark bestaan vir vryrietinstrumente. SAFRA kan ook advies gee oor instrumentspesifikasies en -waardasies.

Huuropsies is beslis beskikbaar – skole kan byvoorbeeld instrumentbanke bestuur deur akkordeons te huur, en lesse en instrumente is beskikbaar deur instansies soos Allmusic en Accordion Shop.

Kom gerus na die konsert op 24 September – daar gaan inligting beskikbaar wees by ’n uitstalling in die voorportaal.

Lees ook:

The accordion and famo music in South Africa: an interview with RKM, The Accordion Guy

Erfenisdag 2018: Koning Shaka, ’n eklektiese verkenning

Erfenisdag

Erfenisdag is g’n braaidag nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top