Erfenisdag 2018: Koning Shaka, ’n eklektiese verkenning

  • 0

’n Skets van Koning Shaka deur James King, 1836, Travels and Adventures in Eastern Africa | Wikimedia Commons

Daar is goeie rede om Shaka op Erfenisdag te gedenk en sy lewe deurlopend op hierdie dag te vier. Shaka sterf volgens Henry Francis Fynn se Diary (1986:156) op 24 September 1828; dis vanjaar 190 jaar gelede. Hoewel hierdie sterfdatum dikwels bevraagteken is, is dit in KwaZulu-Natal as Shaka-dag erken en gevier. Toe die eerste demokratiese parlement in 1995 oor openbare vakansiedae gedebatteer en die IVP oor moontlike uitsluiting beswaar gemaak het, is dié dag as kompromis as openbare vakansiedag aanvaar en na Erfenisdag hernoem.

Daar is selfs groter onsekerheid oor Shaka se geboortedatum omdat daar op daardie stadium nog geen geskrewe rekordhoudingstelsel in KZN gevestig was nie. Die eerste geskrewe rekords van daardie tyd wat daar wel bestaan, is van twee Britse avonturiers wat in 1824 in die gebied aangekom het. Dit was tien jaar voor Shaka se dood, en hulle was op mondelinge oorlewering aangewese. Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa het in 1836 verskyn; Henry Francis Fynn se The diary of Henry Francis Fynn is wel as manuskrip geraadpleeg, maar eers in 1950 deur James Stuart en D McK Malcolm uit sg “original sources” van Fynn tussen 1824 en 1834 saamgestel en gepubliseer. Oor die geboortedatum sou daar te verstane dikwels bespiegel word; dit wil egter voorkom of dit in die omgewing van 1788 was (SESA, 1973:9–599), ofskoon Wylie (2012:46, 52) bespiegel dat dit selfs so vroeg as 1781 kon gewees het.

Die onsekerheid oor Shaka se geboortedatum verraai ’n groter onsekerheid, nl oor die volle lewe en werk van dié “bekende” historiese figuur. Hoewel daar sekerheid is dat hy die seun was van Senzangakhona, leier van die klein Zoeloe-monargie, en Nandi, ’n meisie van Langeni, is daar onsekerheid oor Nandi se presiese status binne die groter poligame Senzangakhona-huishouding. Kunene (1989:111) beskou dit as ’n slim kreatiewe ingewing van Thomas Mofolo in sy roman Chaka (1925) om die seun se buite-egtelike geboorte uit Nandi te problematiseer deurdat sy die junior van Senzangakhona se drie of vier senior vroue sou gewees het. In die roman word die seun se onwelkome verskyning as kantelpunt aangebied om sy traumatiese jeugjare in te lei. Die literatuur is dit eens dat Shaka ’n onbenydenswaardige jeug gehad het en uiteindelik verplig was om uit Senzangakhona se gebied weg te vlug en sy heil by die Mthethwa-koning, Dingiswayo, te gaan soek. ’n Uitstekende verhouding tussen Dingiswayo en Shaka sou uiteindelik ontwikkel en Shaka het Dingiswayo opgevolg nadat laasgenoemde deur Zwide om die lewe gebring is.

Oor sy buitengewone leierskapseienskappe, sy skranderheid, vegkuns en dapperheid is skrywers dit grootliks eens, maar oor die besonderhede van hoe presies Shaka aan bewind gekom het, word bespiegel en verskil. Shaka het die Mthethwa-weermag wesenlik gereorganiseer. Sandale aan die voete is afgeskaf omdat dit die krygers stadiger laat beweeg het. Die lang werpspies is vervang met ’n korte waarmee gesteek kon word: hoekom sou mens jou wapen op die slagveld weggooi of as ’t ware aan die vyand afstaan? Besnydenis is gestaak. Soldate in aktiewe militêre diens is nie toegelaat om te trou nie, maar moes wag op hulle ontslag uit die leër. Shaka is ook beroemd vir die horingformasie waarin hy sy krygers op die slagveld opgestel het, met ’n impie of twee buite die formasie altyd gereed om toe te tree sou die opdrag kom. Hy het ook met groot verbeelding ’n nuwe stad aangelê wat Bulawayo genoem is. Shaka was ’n soldaat van formaat wat hoë eise aan homself, sy soldate en volgelinge gestel het. Daarom was hy ook ’n tugmeester wat nie met swakhede geduld gehad het nie. Hy was ’n Zoeloe en namate sy Zoeloeryk gegroei het, waarskynlik op die patroon van ’n soort konfederasie, het die nuwe identiteit vroeëre stamoriëntasies na die agtergrond verskuif.

Daar word ook saamgestem én verskil oor hoe Shaka, eers saam met Dingiswayo en later alleen, ’n aansienlike aantal vorstedomme in en om KZN oorrompel en uiteindelik by die Zoeloe-konfederasie ingelyf het. Dit sluit ook in oorblywende familiegroepe van Zwide van die Ndwandwe en Matiwane van die AmaNgwane wat oorspronklik min of meer van dieselfde grootte en sterkte as die Mthethwa was. Hierdie reeks oorloë het die sogenaamde Mfecane (in Xhosa; die Sesotho-benaming is Difaqane) tot gevolg gehad, onder meer vanweë die omvangryke lyding en gedwonge migrasie wat daaruit voortgespruit het. Volgens Omer-Cooper (aangehaal deur Davenport 1989:15) het dié migrasies die Groot Trek in omvang verdwerg. In die proses is ’n gebied van Delagoabaai tot aan die noordelike grens van die Kaapkolonie gedestabiliseer. Dié gebied het ook Lesotho ingesluit, aangesien vertakkinge van vorstedomme soos die AmaNgwane, die AmaHlubi en van die AmaNdebele oor die Drakensberg gevlug het of daaroor gedryf is.

Ander leiers wat dit nie onder Shaka kon uithou nie, het geheel en al van hom weggebreek en hulle heil in gebiede ver buite Suid-Afrika gaan soek. Koning Soshangane het in 1819 uitgewyk en hom via die huidige Zimbabwe in Mosambiek gaan vestig. Rebellie was waarskynlik die hoofrede vir Mzilikazi se vertrek uit KwaZulu teen omstreeks 1823. Jare later, na baie omswerwinge en terreur, het hy in die weste van Zimbabwe by Inyati naby die huidige Bulawayo sy Ndebeleryk gevestig. Koning Zwangendaba het effens later vertrek en uiteindelik sy Ngoniryk in die noorde van die huidige Malawi tot stand gebring. In dieselfde tyd emigreer ook ’n Bafokeng-groep onder Sebetwane uit die Vetriviergebied van die huidige Vrystaat noordweswaarts, oor die Limpopo, waar hy en sy volgelinge hulle in Barotseland naby die huidige Livingstone in die suidweste van die huidige Zambië vestig.

Oor die werklike impak van die Mfecane en of Shaka die hoofargitek daarvan was, word daar steeds verskil. Terwyl Wylie en sy bronne die impak van die reeks oorloë en veral Shaka se aandeel daarin onderspeel, beklemtoon ander waarnemers waarskynlik dit te veel. Vanselfsprekend kon Shaka self onmoontlik op al hierdie plekke die oorlog op die grond gedryf het. Maar in die lig van die aantal migrasies waarna verwys is, kan benewens sy vermoë om groot te dink en strategies te beplan, sy potensiaal om homself die teenkanting van eertydse senior leiers op die hals te haal, kwalik onderspeel word. Dit is logies dat die migrasies ’n eie momentum opgebou het: as die sentrum in beweging kom, so ook die periferie. Daarom kan mens verwag dat dié leiers gesamentlik, maar veral Mzilikazi, medeverantwoordelikheid moet aanvaar. Mzilikazi was ongeveer 18 jaar in die sentrale gedeeltes van Suid-Afrika bedrywig en het op ’n keer selfs so ver as Thaba Bosiu in Lesotho aan Moshoeshoe hoofbrekens gaan besorg. Sol T Plaatje se Mhudi (1930) en Peter Becker se Path of blood (1962) laat mens diep nadink oor Mzilikazi (oftewel Moselekatse, soos hy in Sesotho bekend geword het). Mzilikazi (1790–1868) het veel ouer as Shaka geword, al is hy maar kort na Shaka gebore, en sy nalatenskap – in oorlog en latere vrede – is oor ’n groot gebied sigbaar.

In sy roman Chaka gebruik Mofolo sy verbeeldingsvryheid om Shaka se wêreldvisie ironies-treffend te verbeel (Mofolo 2017:152). Dieselfde geld Mofolo se beelding van die ontstaan van kannibalisme wat in Lesotho wesenlik beleef is (Mofolo 2017:186–7). Dáár het die oorloë groot hongersnood tot gevolg gehad wat mense genoodsaak het om mekaar om die lewe te bring en op te eet. Twee niefiksiewerke in Sesotho wat dié somber prent verder inkleur, is E Motsamai se Mehla ea malimo (1912; “In die tyd van die menseters”) en JJ Machobane se Mahaheng a matšo (1946; “In die donker grotte”). Vir die Basotho was dit ’n predikament wat eers met die koms van die Franse sendelinge in 1833 begin wyk het.

Mofolo se Chaka, EA Ritter se Shaka Zulu (1955) en William C Faure se televisiereeks Shaka Zulu (1986) verskaf epiese besonderhede oor hoe Shaka se jeugjare sowel as sy opkoms as leier verloop het. Historiese ooreenkomste is daar wel, maar die presiese verloop daarvan moet waarskynlik eerder aan die verbeeldingsvryheid van die skrywers toegeskryf word as aan kontroleerbare historiese gebeure of chronologie. Wylie wy ’n volle studie aan die uitdaging en verwerping van wit, Westerse persepsies van Shaka wat hy bykans deur die bank as “romance-adventure” beskou (2000:242).

By die viering van ’n groot leier se nalatenskap is dit egter onvanpas om na sondebokke vir die verloop van die geskiedenis te soek. Wat tot in lengte van dae egter jammer sal bly, is dat daar in Shaka se tyd nog nie enige rekordhoudingstelsel of ’n koerantbedryf in KZN gevestig was nie. Die mondelinge tradisie is bekoorlik, selfs romanties. Die mense wat die tradisies agterna opgeteken het, asook hulle meestal onbekende informante, moet as helde van ons kennis van daardie tyd geëer word. Maar die betroubaarheid van die kronieke is ongelukkig voortdurend onderhandelbaar.

Aan die mondelinge periode dank ons wel hartlik die opbloei van die prysliedtradisie – die izibongo in Zoeloe en die dithoko in Sesotho. Benewens hul flambojante lewering, vanaf die slagveld tot die volksbyeenkomste – selfs op die Uniegebou se trappe – dien dit eeue lank reeds as boeiende en fassinerende “ooggetuieverslae” van inspirerende heldhaftigheid, navolgenswaardige leierskap en nasietrots. As omstandigheidsgetuienis van wat op sowel die rou slagveld as staatkundige vlak in Suider-Afrika voor die koms van die drukkersbedryf gebeur het, lewer dié tradisie steeds ’n waardevolle bydrae, veral danksy die verbluffende geheue en voordragvernuf van begaafde, meestal onbekende izimbongi/diroki (prysssangers).

Trevor Cope publiseer in 1968 sy Izibongo Zulu Praise Poems, ’n bundel Zoeloe-prysliedere wat hy redigeer na aanleiding van manuskripte van 258 prysliedere wat James Stuart oor jare van meestal onbekende Zoeloe-pryssangers eers op band opgeneem en later op skrif gestel het. Cope sluit ’n pryslied van 450 reëls ter ere van koning Shaka in wat hy in Engels vertaal en breedvoerig annoteer (1968:88–117). Vroeër verwys hy na ’n studie van Raymond Kunene waarin hy die izibongo in drie periodes indeel, met die Shaka-gedigte wat die sentrale plek inneem,  op grond daarvan dat hulle ’n kenmerkende struktuurverandering ondergaan het (Cope 1968:50–4). Hy identifiseer ’n vierreëlige versvorm waarvan elke reël ’n bepaalde ontwikkeling aandui, soos ’n stelling, ’n uitbreiding, ’n ontwikkeling en dan ’n sluitingsreël, gewoonlik ingelei deur die voegwoord kanti (desnieteenstaande/maar) wat gewoonlik ’n ontknoping of ommekeer in die “verhaal” aandui. Een van die voorbeelde wat Cope aanhaal, in Engels vertaal en wat ’n gans ander kykie op koning Shaka as “onverdraagsame potentaat” bied, lyk so:

Uteku lwabafazi bakwaNomgabhi,
Betekula behlez’ emlomvini,
Beth’ uShaka kakubusa kakuba nkosi,
Kanti unyak’ uShaka ezakumethezeka.

The joke of the women of Nomgabhi,
Joking as they sat in a sheltered spot,
Saying that Shaka would not rule, he would not become chief,
Whereas it was the year in which Shaka was about to prosper. (Cope 1968:54)

Hoewel die pryssangers grotendeels onbekend was, word die Shaka-gedigte aan Magolwane toegeskryf. Die interessante is egter dat dieselfde vier reëls ook in die izibongo van Shaka voorkom wat Mofolo in sy Chaka aan die einde van hoofstuk 17 insluit  ̶  met die erkenning dat hy dit van Chakijana, seun van Msenteli, verkry het. Dit is waar dat pryssangers dikwels by mekaar geleen het. En dít verklaar gedeeltelik waarom gedigte eerder aan die naam van die persoon wat vereer word as aan dié van die digter gekoppel word. Mofolo het die gedig in 1925 onvertaal in sy roman opgeneem. 75 jaar later het die uitgewer Morija Sesuto Book Depot dit egter goed gedink om ’n Sesotho-vertaling deur Mabitle Moorosi in heruitgawes na die jaar 2000 op te neem. Mabitle het dié vier reëls soos hier onder vertaal. Die weergawe wat in die nuwe Afrikaanse vertaling voorkom, is op die Sesotho gebaseer:

Monyakallisi wa basadi ba Nongabi,
Ba ho etsetswa metlae meathameleng ya letsatsi.
Ba itse Chaka a ka se buse, eka se be morena,
Empa ka sona lemo seo Chaka a dula monyakeng wa borena.

Die pret van die vroue van Nomgabi,
Wat hulle vermaak het in die koestering van die son.
Hul’t gesê Shaka sal nooit regeer nie, nooit koning word nie,
Maar dieselfde jaar nog kon Shaka tevrede rus.

Die koning het dus duidelik ook ’n romantiese sy gehad, een wat Faure se televisieweergawe in Shaka Zulu met Henry Cele se imposante liggaamsbou en spel goed benut het. Mofolo kyk in sy roman insgelyks na sy Shaka deur die oë van die vroue wat in die koningstad se Ntombazi-kwartiere gewoon het. Hy kyk ook deur die oë van die bewonderende soldate wat, selfs in hul sterwensuur, hulle held vir oulaas sonder klere wou sien (Mofolo, 2017:139–40). Mites oor Shaka se seksualiteit wemel in die literatuur, maar die meeste word effektief deur Wylie (2006:325-327) ontmasker.

En so, met koning Shaka se pryslied en ’n blik op sy romantiese kant, herdenk ons dankbaar die geskakeerde Erfenisdag wat hy vir ons nagelaat het.

Bayete Koning! Bayete Vader! Bayete Zulu! (Mofolo 2017:144)

Bibliografie

Becker, P. 1962/1966. Path of blood. Londen: Longmans Green.

Cope, T. (red). 1968. Izibongo Zulu Praise Poems. Oxford: Clarendon.

Davenport, TRH. 1989. South Africa: A modern history. Bergvlei: Southern Book Publishers.

Faure, WC. 1986. Shaka Zulu (Televisiereeks).

Fynn, HF. 1951/1986. The Diary of Henry Francis Fynn, reds. James Stuart en D Mck Malcolm. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter.

Isaacs, N. 1836/1936. Travels and adventures in Eastern Africa. Kaapstad: The Van Riebeeck Society.

Kunene, DP. 1989. Thomas Mofolo and the emergence of written Sesotho prose. Johannesburg: Ravan Press.

Machobane, JJ. 1946. Mahaheng a matšo. Morija: Morija Sesotho Book Depot.

Mofolo, T. 1925. Chaka. Morija: Morija Sesotho Book Depot.

—. 2017. Chaka, die nuwe Afrikaanse vertaling, vert Chris Swanepoel. Pretoria: Unisa Press.

Motsamai, E. 1912. Mehla ea Malimo. Morija: Morija Sesotho Book Depot.

Omer-Cooper, JD. 1966. The Zulu aftermath: A nineteenth century revolution in Southern Africa. Londen: Longmans Green.

Plaatje, ST 1930/1957. Mhudi. Lovedale: The Lovedale Press.

Potgieter, DJ ea. 1970 ev. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Vols 2, 4, 9, 10. Kaapstad: Nasou.

Ritter, EA. 1955. Shaka Zulu. Londen: Longmans Green.

Wikipedia, Origin of Heritage Day (South Africa). https.//Wikipedia.org./wiki/Heritage_Day_(South_-Africa)

Wylie, D. 2000. Savage delight: White myths of Shaka. Pietermaritzburg: University of Natal Press.

—. 2006. Myth of iron: Shaka in history. Oxford: James Curry; Athene: Ohio University Press; Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press.

—. 2012. Shaka, a Jacana Pocket Biography. Auckland Park: Jacana Media.

Lees ook:

Thomas Mofolo se Chaka: die nuwe Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top