Thomas Mofolo se Chaka: die nuwe Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel, ’n resensie

  • 0

Chaka
Thomas Mofolo, nuwe Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel
Unisa Press
Nog inligting: https://www.unisa.ac.za/sites/corporate/default/About/Leading-change/Articles/Afrikaans-translation-of-iconic-African-novel

Thomas Mofolo (1976–1948) se klassieke roman Chaka, wat in 1925 gepubliseer is, is die eerste keer in 1974 in Afrikaans deur Chris Swanepoel vertaal as Tjhaka. Volgens Swanepoel (in die inleiding tot die nuwe vertaling) is ’n nuwe vertaling genoodsaak deur die sosiale en politieke veranderinge wat sedert 1974 plaasgevind het. Afrikaans het nie sedert 1974 stagneer nie, en so ook nie die vertaler se kennis van sowel Afrikaans as Sotho nie. Eintlik is die vertaling van ’n teks nooit volkome afgehandel nie, volgens Swanepoel, wat aanvanklik slegs van plan was om die vertaling te hersien, maar uiteindelik die boek hervertaal het. Mofolo se Chaka is oorspronklik in Sotho gepubliseer, en die Afrikaanse vertaling word deur die samestellers daarvan beskou as ’n tentoonstelling van die interkulturele kontekste van Zoeloe, Sotho en Afrikaans (vii).

Hoewel die boek gebaseer is op die lewe van die legendariese Zoeloe-koning Shaka (1787–1828), kan dit nie beskryf word as ’n geskiedenisboek nie. ’n Beter beskrywing van die boek sou wees ’n sielkundige riller, hoewel die waarde van die historiese in die boek ook nie eenkant toe geskuif kan word nie. Letterkunde is ’n mengsel van feit en fiksie en Mofolo se Chaka is geen uitsondering nie. Dit was reeds teen 1909 voltooi, maar die uitbeelding van Afrika-spiritualiteit voor die koms van die Christelike godsdiens in die boek het bygedra tot die vertraging in die publikasie daarvan. Reeds in die publikasieproses lê daar dus baie stof tot nadenke. Hoewel die verlies aan Afrika-identiteit nie uitdruklik deel vorm van die narratief van die verhaal nie, eggo daar tog iets daarvan in Shaka se waarskuwing in sy sterwensuur aan sy broers dat nie hulle nie, maar die “umlungu” (wit man) sal regeer (198).

Volgens Swanepoel kan daar parallelle getrek word tussen Mofolo se Chaka en ander internasionaal-gevierde letterkundige werke, veral met Shakespeare (1564–1616) se Macbeth (12). Shaka se lewe word geskets vanaf sy geboorte en jeugjare, sy opkoms as koning van sy mense en die uiteindelike verlies van sy mag. Daar was ’n tyd toe die Zoeloemense nie as Zoeloes bekendgestaan het nie. Trouens, daar is vandag nog groepe wat dieselfde taal as die Zoeloes praat, maar nie met die naam Zoeloe identifiseer nie.[1] So was dit ook in die tyd van koning Shaka. Trouens, in Mofolo se boek word Shaka erken as die skepper van die Zoeloe-identiteit. Sy deugde het in sy leeftyd wye erkenning geniet. Sy vaardigheid as soldaat en militêre strateeg, en ook as nasiebouer van die Zoeloes, kom ook in Chaka na vore.

Die historiese koning Shaka van die Zoeloes is ’n ikoniese Suid-Afrikaanse figuur en sy nalatenskap is kompleks en ook omstrede. Stereotipes oor sy lewe gedy, en van die materiaal waarmee historici worstel, soos die invloed van Shaka se koninkryk op die Mfecane,[2] vorm ook deel van Mofolo se narratief. Soos Macbeth, is ook Shaka verwant aan die koninklike familie, maar sy pad na die troon lê nie oop voor hom nie. En soos met Macbeth is daar ook ’n brandende begeerte aan mag by Shaka. Nog ’n treffende ooreenkoms tussen die twee verhale is die rol van die bonatuurlike. Beide Macbeth en Shaka se ambisie om mag te bekom lei uiteindelik tot hulle ondergang. Shaka sterf as ’n tragiese held. Aan die een kant was hy ’n vernuwende militêre leier en nasiebouer, maar aan die ander kant ’n man wat deur sy eie ambisie verteer was.

Thomas Mofolo se Chaka skets nie ’n akkurate beeld van die historiese koning Chaka nie, maar dit is nogtans ’n belangrike historiese roman. Die nuwe Afrikaanse vertaling van Chaka word voorsien van veel omvattender kulturele konteks deur middel van die inleiding en voetnote. Nogtans is die boek nie deurspek van voetnote wat die vloeibaarheid sou inkort nie. ’n Lang prysgedig wat oorspronklik in Zoeloe gelaat was, is in hierdie uitgawe in Afrikaans vertaal. Die boek is ook voorsien van ’n oudioboek in die vorm van ’n laserskyf, met ’n voorlesing deur Antjie Krog.

Chaka word as een van die belangrikste boeke van sy tyd beskou. Dit is ’n boeiende verhaal wat verdien om herlees te word en die nuwe Afrikaanse vertaling daarvan sal hopelik hierdie belangrike boek aan ’n nuwe geslag lesers blootstel.

[1] M Buthelezi, Heritage vs heritage: Reaching for pre-Zulu identities in KwaZulu-Natal, South Africa. In D Peterson, K Gavua en C Rassool (reds), The Politics of heritage in Africa, Cambridge University Press, New York, 2015 (ble 157–90).

[2] Mfecane is die naam wat historici gee aan ’n tydperk van ongekende geweld, hongersnood en politieke onstabiliteit van 1815 tot 1840 in Suid-Afrika.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top