
https://www.rsg.co.za/rsg-fm/rsg-nou/luister-van-donderdag-na-die-voorlesing-van-die-finale-bergengel-boek/
Pieter van Zyl, die stemkunstenaar, vertel vir Naomi Meyer van sy RSG-voorlesings van die Bergengel-reeks deur Carina Stander.
Hallo Pieter, ek het in 2023 met jou gesels oor jou voorlesings van Carina Stander se werk op RSG. Jy het in daardie onderhoud vertel dat jy nie voor jou eerste voorlesings van haar werk haar boeke geken het nie. Wat is nou die geval? Waar kan mens na jou huidige voorlesings van haar werk luister?
.........
My voorlesings van die Bergengel-reeks is deur RSG versoek en is in hulle besit. Ek haal my hoed af vir die radiostasie dat hulle hierdie epiese werk laat opneem het.
.........
My voorlesings van die Bergengel-reeks is deur RSG versoek en is in hulle besit. Ek haal my hoed af vir die radiostasie dat hulle hierdie epiese werk laat opneem het. My destydse onkunde oor Carina geld gelukkig nie meer vandag nie. Die RSG-uitsendings het hopelik 'n bydrae gelewer tot die groeiende erkenning van haar werk. Opnames en uitsendings van die vier boeke wat die Bergengel-reeks uitmaak, het oor 'n tydperk van nege jaar geskied, natuurlik met tussenposes. Die enigste “kritiek” van luisteraars wat na uitsendings van die vierde boek geluister het, is dat hulle konneksie met die vroeë verloop van die reeks verloor het. Dis my hartewens dat die volledige reeks in die toekoms as oudioboeke verkrygbaar sal word, wat aan luisteraars die geleentheid sal bied om die verhaal in geheel te beluister. Elkeen van die vier boeke is met groot lof besing en resensente is dit eens dat dit ’n unieke gebeurtenis in Afrikaans is.
Jy het in hierdie onderhoud ongeveer profeties afgesluit dat die wyse en die goeie met die skrywer sou wees. Nou is die reeks op 'n einde. Wil jy dalk met ons lesers deel hoe die reeks vir jou afgesluit het, en wat jou persoonlike ervaring en belewenis van die geheel was?
Ek onthou dat ek op die heel eerste dag van opnames in my verbeelding Carina Stander in die ateljee “ingenooi” het. Dit was vir my asof sy die teks met liefde geskep het en ek wou hê dat daardie liefdevolle energie teenwoordig moes wees in my voorlesing. Liefde en hoop vleg inderdaad soos 'n naelstring deur al vier boeke. Die verhaal begin met Eron se geboorte. Daar is opgewondheid ten spyte van onderliggende onheil. Aan die einde van die sage word Eron, na die angswekkende Uitdooftyd, ’n blik gegun op die hiernamaals. Hy sien sy gestorwe geliefdes gelukkig voortleef; hy sien die engeleryk. Die sage eindig met ’n nuwe sirkel: ’n vrou wat 'n potlood en papier uit haar sak haal en begin skryf. Dis ’n nuwe begin waarin die kleure van die reënboog voortleef.
Vriende het my onlangs genooi om na 'n uitstalling van handgemaakte keramiekwerke deur voortreflike, maar onbekende keramiekkunstenaars uit Afrika te gaan kyk. Opvallend was die verbeeldingrykheid en kreatiwiteit waarmee die onmiddellik herkenbare vorm van elke kunswerk versier was: 'n kleurvolle rykheid van mens-, dier- en natuurmotiewe wat om elke hoekie en draaitjie krul en stroom. Noudat ek met die voltooiing van die voorlesings ’n afstandsbeskouing het, beleef ek Carina Stander se Bergengel-reeks op 'n soortgelyke manier as die indrukwekkende keramiekkuns: 'n roerende, diep menslike roman, maar ook 'n ensiklopedie propvol krioelende beskrywings en feite.
Jy was 'n vertolker en uitvoerder van 'n teks – dis hoe dit begin het. Op 'n afstand. Maar nou het jy deel geword van alles wat Carina skryf; dit het deel geword van jou; dis soos dit klink. Dis jy en die teks, in die “teater van die blinde”, soos wat radioteater soms beskryf word. Wil jy hierop uitbrei, of dit anders verwoord?
Die werk het van die begin af vir my ’n sterk aantrekkingskrag gehad. Die digterlike taal waarin die reisverhaal geskryf is, was een van die eerste kenmerke wat my getref het. Ek kon iets van Carina Stander se ervaring met beeldhoukuns in haar woordkeuse en driedimensionele beskrywings aanvoel. Ek onthou my opgewondenheid destyds – ek het ’n besonderse kunswerk in my hande vasgehou. ’n Besonderse kunswerk hou mens egter ook geweldig nederig. Mr Solomon, een van my musiekdosente op universiteit, het eenkeer gesê: “When a pianist plays the first chord of Schubert's B flat major piano sonata, he/she has made their first mistake, but they must still play it.” Die rykheid van die Bergengel-teks en die reuse uitdagings wat dit aan my as voorleser gestel het, het my deur die jare dikwels aan Mr Solomon se woorde herinner. Dalk het ek die grense van boekvoorlesing plek-plek tot ’n uiterste gedryf, maar dit was asof die magiese milieu van die verhaal en die teenwoordigheid van vreemd-wonderlike karakters dit regverdig het.
........
Die rykheid van die Bergengel-teks en die reuse uitdagings wat dit aan my as voorleser gestel het, het my deur die jare dikwels aan Mr Solomon se woorde herinner. Dalk het ek die grense van boekvoorlesing plek-plek tot ’n uiterste gedryf, maar dit was asof die magiese milieu van die verhaal en die teenwoordigheid van vreemd-wonderlike karakters dit regverdig het.
........
Jare gelede het ek die geleentheid gehad om ’n volledige opvoering van Anton Tsjechof se The seagull in Londen se National Theatre by te woon. Dit was ’n droom wat waar word vir my, en na die byna drie uur lange produksie was ek met verwondering gevul. Dit was asof ’n reuse skip verbygevaar het, maar selfs daardie produksie was nie perfek nie. Ek het weer eens aan Mr Solomon se woorde gedink. Ek is ook dikwels aan sy woorde herinner wanneer ek na my eie voorlesings van die Bergengel-teks geluister het, soms met tevredenheid, soms met frustrasie. Waarop ek hoop, is dat luisteraars altyd die diepgaande kern van die kunswerk kon aanvoel.
Het jy Carina ook persoonlik leer ken? Sy het haar gesondheidsreis op die sosiale media gedeel – het jy ook hierdie pad met haar gestap, en hoe sien jy die teks nou, na alles waardeur sy self is?
Ek het Carina Stander nog net twee of drie keer vlugtig ontmoet. Dit voel egter of ek haar op ’n dieper vlak leer ken het deur my reis met die Bergengel-reeks. Gedurende haar en ook haar man se gesondheidsreise het ek afgekom op ’n prent van twee wolwe wat met koppe omhoog roep en dit met hulle gedeel: wesens wat uitgelewer is aan die natuur, maar ook heel is. Daardie kragdadigheid dog kwesbaarheid vind mens telkemale in die Bergengel-verhaal. Vryheid en samehorigheid. Vreeslose roeping en diepe afhanklikheid. Hemel en aarde. Engel en berg.
Met watter ander voorlesings of stemkunsprojekte is jy andersins besig? Is daar werk vir stemkunstenaars in Afrikaans – en indien wel, waar?
.........
Ek hoop dat daar altyd werk sal wees vir stemkunstenaars in Afrikaans en in elke taal. Nie almal is lesers nie. ’n Stemkunstenaar wat die teks respekteer en met integriteit daarmee omgaan, lewer ’n geweldige bydrae deur literêre werke te deel met ’n gehoor wat dit andersins nie self sou lees of ervaar nie.
.........
Ek hoop dat daar altyd werk sal wees vir stemkunstenaars in Afrikaans en in elke taal. Nie almal is lesers nie. ’n Stemkunstenaar wat die teks respekteer en met integriteit daarmee omgaan, lewer ’n geweldige bydrae deur literêre werke te deel met ’n gehoor wat dit andersins nie self sou lees of ervaar nie. Ek het onlangs ’n persoonlike projek as stemkunstenaar onderneem: die vrystelling van ’n CD met die titel Of life. Die projek het ’n meditatiewe aanslag en betrek ’n groepie spirituele sowel as sekulêre liedere en gedigte. Eers na die voltooiing van die projek het ek besef dat daar ’n ooreenkoms is met die Bergengel-verhaal, waar ag karakters bekend as Die Ag Geseëndes ’n prominente rol speel. Op die CD lees ek ’n Engelse vertaling voor van die Ag Saligsprekinge uit die Bybel. Dit was vir my gerusstellend toe ek die ontdekking maak.
Noudat die Bergengel-projek voltooi is, wat daarvan sal jy met jou saamneem?
Eerstens dankbaarheid. My aanvanklike intuïsie oor die werk was in die kol. Ek is geweldig dankbaar dat ek die projek kon voltooi.
Dan karakters. Ek hoop dat daar ’n stukkie van Eron in my sal voortleef; om die windkind Amber en Kaia, stamhoof van die suidelike Rietmense, te ontmoet was lewensverrykend. Vir Anav Elanov, sagte, onverskrokke Oudnabiese digter, sal ek nooit vergeet nie. Sy integriteit en lojaliteit ken geen einde nie.
Derdens, lewenslesse. Engele verskyn wel uit berge. Engele en berge het mekaar nodig.
En laastens, appeltert. Hierdie lekkerny word in Gabriëllië bedien. Nou geniet ek dit dikwels hier waar ek is.
Lees ook:
Die Bergengel-reeks deur Carina Stander: ’n gesprek met die RSG-voorleser, Pieter van Zyl

