
Boekomslae: Protea; mikofone: Studio_Iris op Pixabay
Gereelde luisteraars van RSG sal bewus wees van boekvoorlesings wat hier plaasvind.
Pieter van Zyl, voorleser van Carina Stander se Bergengel-reeks op RSG, praat met Naomi Meyer oor sy ervaring as voorleser van dié boeke.
Pieter, vertel my asseblief van jou eerste kennismaking met Carina Stander se werk. Wat het jy gelees, en wat was jou gedagtes daaromtrent?
Carina Stander se werk was onbekend aan my totdat ek eendag op ’n koerantartikel oor Die Bergengel in ’n koffiewinkel afgekom het. Die titel van die boek het my sterk opgeval. Ek hou van berge en heuwels, landskappe met vlakke en kurwes, en ’n engel bly mos maar ’n wese vol misterie en bekoring. Die woord bergengel suggereer iets geankerd, maar ook verbeeldingryk. Dit was vir my baie aantreklik. Daarna het ek na ’n uitstalling van Carina Stander se Bergengel-inksketse by die Breytenbach Museum in Wellington gaan kyk. Ek het ook gelees dat sy beeldhoukuns studeer het. Dit was asof ek iets hiervan in haar skryfwerk kon aanvoel.
...........
Daarna het ek na ’n uitstalling van Carina Stander se Bergengel-inksketse by die Breytenbach Museum in Wellington gaan kyk. Ek het ook gelees dat sy beeldhoukuns studeer het. Dit was asof ek iets hiervan in haar skryfwerk kon aanvoel.
............
Wat staan vir jou uit as jy aan die Bergengel-boeke dink? Vertel asseblief van jou pad met hierdie boeke.
Die saamkom van verskillende, selfs uiteenlopende elemente staan vir my uit.
Alreeds in die woord bergengel word uiteenlopende konsepte saamgebring: gewig en gewigloosheid, aarde en gees. ’n Wese soos ’n bergengel verraai ook sommer uit die staanspoor dat die verhaal nie ingeperk word deur stoere realisme nie. Dis vir volwasse lesers geskryf, maar ’n tikkie kinderlike geloof en verbeelding word bygeweef.
In die Bergengel-verhaal word onder andere die alledaagse, dit wat ons almal ken, uitgebeeld. Toe ek egter sien dat die hoofkarakter die uitsonderlike naam Eron het en dat hy in ’n plek genaamd Gabriëllië woon, het ek gewéét dat ek hierdie boek moet lees. Die alledaagse word met ’n verbeeldingryke skrywerskwas geskilder en met ’n eg menslike hart aangebied.
Dit het my uit die staanspoor opgeval dat dit ’n roman is wat ook nuanses van digkuns besit. Carina Stander is egter nie net ’n romanskrywer/digter nie, sy is ook ’n beeldhouer. Ek kan dikwels die aardse, kragtige energie van beeldhoukuns in haar skryfwerk aanvoel.
Die verhaal het ’n toekomsvisie, maar is geanker in oudwêreldse sjarme, sentiment, wysheid. Gibor Verberger se ambag byvoorbeeld is dié van klokgieter en sy vrou, Alida Verberger, weef. Antieke sprokies en mites, asook Bybelse verhale word in nuwe gedaantes deel gemaak van die verhaal. ’n Ontroerende voorbeeld hiervan (in Die Waterplek: Afrika) sien ons waar Eron, soos die dissipel van ouds Petrus, by ’n vuur staan en sy pa verraai. Dan roep ’n uil in die nag, en soos Petrus, loop Eron weg en begin bitterlik huil.
Ten spyte van uiteenlopende fasette en ’n magdom inligting, en alhoewel daar reeds drie boeke bestaan, het die ontvouing van die verhaal vir my ’n ononderbroke gevoel. In die derde boek, die reeds genoemde Die Waterplek: Afrika, het ek dikwels ’n gedagte, sin of woord aangetref wat aansluit by iets waarvan die saadjie in een van die vorige twee boeke geplant is. Ek vermoed dat daar aan die einde van die verhaal ’n organiese samehang gaan wees waar, soos in ’n weefstuk van Alida Verberger, al die draadjies saamkom.
Pieter, vir jou as voorleser, hoe verskil die ervarings om dit sag te lees en net op jou eie te beleef teenoor hoe jy dit ervaar het om die boeke hardop voor te lees, gedagtig daaraan dat jy dit vir baie luisteraars voorlees?
Ek moet erken dat my aanvanklike “stil” deurlees voortgestu is deur nuuskierigheid om bloot te weet hoe die storie ontvou. Toe ek daarna daadwerklik begin voorberei vir die opnames, was my ingesteldheid heeltemal anders. Die teks is baie ryk en kompleks en het groot uitdagings aan my as voorleser gestel. Ek het telkens ervaar dat daar steeds verdere ontdekkings is wat na vore kom, selfs nadat ek gedink het ek verstaan iets goed.
Jy het saam met die karakters deur die landskappe gereis. Wat bly jou by van die boeke?
...........
Wat my bybly is die verdieping wat deurentyd plaasvind. Vanaf die eerste bladsye het die poëtiese beskrywings en die unieke sjarme van die karakters my getref. Maar geleidelik word die band wat ek met die karakters vorm, al hoe hegter en my begrip vir hulle ervarings word meer deurleefd.
............
Wat my bybly is die verdieping wat deurentyd plaasvind. Vanaf die eerste bladsye het die poëtiese beskrywings en die unieke sjarme van die karakters my getref. Maar geleidelik word die band wat ek met die karakters vorm, al hoe hegter en my begrip vir hulle ervarings word meer deurleefd. Daar was al dikwels dele wat so ontroerend was dat ek gewonder het hoe ek daaraan stem gaan gee (die oomblik van Eron se hereniging met sy pa by die Waterplek / die openbaring van die agste Geseënde).
Die reis is nog nie klaar nie. Wat hoop jy om in die laaste boek van die reeks te lees wanneer dit verskyn?
Die einde van elk van die drie boeke het ’n groot impak op my gehad. In Die Bergengel word Eron se hand aangrypend geskend. In Die Wonderwese swig Eron en Lia voor mekaar se sjarme. Die Waterplek: Afrika eindig met ’n byna-verlossende blik oor Velvel. (Die Engelse woord redemption beskryf hierdie besondere oomblik in die verhaal dalk beter.)
Ek hoop om in die laaste boek dalk ’n volledige gedig van die Nabiese digter Anav Elanov aan te tref. Of dit die skrywer se bedoeling is, weet ek nie, maar dis asof Eron en Anav ’n besonderse vriendskapsband het, ’n Dawid-Jonathan-, Hamlet-Horatio-verbintenis. Maar oor die einde wil ek liewers nie ’n voorspelling maak nie. Mag die Wyse en Goeie Gees tog net met die skrywer wees.
Lees ook:

