’n Ope brief aan Luan Staphorst

  • 7

Oorspronklike foto van Cicero se kop deur José Luiz Bernardes Ribeiro | WikiMedia CC4, oorspronklike foto van wa via Unsplash

 

Beste Luan

Hierdie ope brief is in reaksie op jou artikel “‘Iets hieroor het ons ongemaklik gestem’: die verband tussen ‘ontlaering’ en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse” wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het.

Laat ek sommer van meet af sê dat jou sentrale argument – dat daar sprake is van ’n “kolonialeske” impuls in die Afrikaanse literatuurkritiek, waarvolgens begrensende en selfs konserwatiewe werk paradoksaal genoeg onder die vaandel van progressiwiteit gelewer word – meriete het.

Ofskoon ek met jou oor die kolonialeske impuls in die literatuurkritiek saamstem, openbaar jou artikel egter naas dubbele standaarde en versweë lojaliteite ook ’n bepaalde gebrek aan ’n historiese bewussyn en ’n afwesigheid van kritiese selfrefleksie – alles aspekte wat jy problematies vind in ander akademici se werk.

Jy teoretiseer ook oor “etiese wetenskaplikheid” (Staphorst 2023a), terwyl jou artikel geen rekenskap gee van die wyses waarop jy prakties met die etiese kwessies van jou artikel omgegaan het nie. Daar is inderwaarheid glad geen blyke selfs van bewustheid van etiese uitdagings van jou studie nie.

Jou artikel het my dus op metodologiese en etiese gronde hoogs ongemaklik gestem. Ek wil in hierdie brief gevolglik enkele elemente hiervan belig, wat ek hoop sal dien as impetus vir ’n meer omvattende en genuanseerde besinning oor die kolonialeske as verskynsel in die Afrikaanse literatuurkritiek enersyds en oor etiese navorsingsbeoefening in die geesteswetenskappe andersyds.

(Ek rig hiermee ook ’n ope versoek aan LitNet om openbare gesprekvoering oor laasgenoemde te fasiliteer. Dit is gesien in die lig daarvan dat hierdie artikel in LitNet Akademies verskyn het en LitNet dus ook ’n bepaalde verantwoordelikheid het, primêr teenoor die literatuurkritici wat in Staphorst se studie betrek word en sekondêr teenoor die groter akademiese gemeenskap.)

Eers ’n kamee vir konteks.

Kamee: Op 7 Maart 1996 lewer Roos (1996) haar professorale intreerede, “Dáárom letterkunde, dáárom Afrikaanse letterkunde”, aan die Universiteit van Suid-Afrika, waarin sy betoog dat die Afrikaanse letterkunde en literatuurkritiek ’n belangrike sosiale rol te speel het om sosiale kohesie te bewerkstellig deur nasiebou aan te help en die wonde van apartheid te heel, onder meer deur transkulturele assimilasie en vertaling. In ’n artikel getiteld “Reënboogredenasies: repliek op ’n intreerede” in Tydskrif vir Letterkunde lewer Van Niekerk (1996) vanuit ’n ideologiekritiese perspektief fel kritiek op Roos se intreerede en voer onder meer aan dat Roos se argument neerkom op “’n onkritiese, goedgelowige selfonderwerping aan en invoeging by die kalmerende sprokies en gladgepoetste maar hoogs verdagte ideale van die politieke status quo” (Van Niekerk 1996:30), en dat Roos se voorbeelde van transkulturele vervloeiing inderwaarheid eerder sprekend is van “die voortsetting van ’n ‘inheemse’ skilderagtigheidsretoriek in die Afrikaanse letterkunde” (Van Niekerk 1996:27) as van enige werklike transformasie of selfs groter bewustheid van kwessies rondom simboliese mag.

Hierdie kamee is ’n nuttige kader om oor beide die kolonialeske en die kritiese te besin. Van Niekerk se artikel is ’n voorbeeld van fel en rondborstige repliek op ’n kollega se werk. Mens sou kon debatteer oor die billikheid om Roos se intreerede vir kritiek uit te sonder (terwyl haar beskouings inderwaarheid sprekend is van die dominante literatuuropvattings van die era), en die regverdigheid daarvan om ’n intreerede so krities te bejeën sonder inagneming van die retoriese konvensies van hierdie ritualistiese genre (Carr 1997).

Terselfdertyd bied hierdie kamee ’n nuttige jukstaponering, want daar is vir my ’n fundamentele verskil tussen Van Niekerk se artikel en joune. Hierdie verskil kom neer op ’n etiese grens. Van Niekerk handhaaf ’n onderskeid tussen teks (diskoers) en reële persoon (subjek). Eenvoudig gestel: Sy speel die bal, nie die mens nie.

Dit is ’n grens wat jy nie handhaaf nie. Jy gebruik terloopse kommentare op blogs – sonder enige kwalitatiewe onderskeid tussen formele akademiese diskoerse en informele gespreksdiskoerse – as vertrekpunt om oordele te vel oor geïdentifiseerde akademici se kundigheid, en dus in ’n akademiese konteks ook hul bekwaamheid; jy beskuldig Burger van nepotisme en wanbestuur sonder om jou bewerings met bewyse te staaf; jy beweeg uit die tekstueel-diskursiewe (“Hoe goed/geldig/relevant/genuanseerd/begrond is die argument, en wat is die eienskappe en probleme van die diskursiewe formasie?”) na die empiries-sosiologiese (“Hoe bekwaam en moreel is ’n bepaalde groep akademici?”) en maak dus van hulle teen wil en dank navorsingsubjekte, oënskynlik sonder hulle toestemming, sonder geleentheid vir korreksie of stemgewing, en sonder verrekening van jou etiese verantwoordelikheid teenoor hierdie subjekte. En dan kom jy boonop tot bepaalde gevolgtrekkings – sonder deeglike navorsing – van so ’n gehipotetiseerde “fenomeen” van “onkundigheid” en “immoraliteit”.

Sodra jy dit doen, is ’n mens weg van die subjektief-regverdige soos in die geval van Van Niekerk se artikel. Dan bevind jy jou summier op die terreine van navorsingsetiek, persoonlike en institusionele verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid, en selfs potensiële regsimplikasies.

Ek fokus op slegs enkele aspekte van jou artikel om my ongemak te kontekstualiseer.

 

  1. Die Staphorst-doofpot

Jy maak telkens in jou artikel opmerkings oor bepaalde akademici se vermeende “onkundigheid” en neem as voorbeeld ’n bloginskrywing van Roux op Versindaba. In sy respons hierop gee Roux toe dat hy “direk ná die plasing daarvan besef het dat dit ondeurdag was”, wat die onbillikheid van jou metodiek belig.

Ofskoon jy blykbaar besef dat verskillende diskursiewe kontekste “nie oor dieselfde kam geskeer behoort te word nie”, is dit presies wat jy doen. En daar ís ’n groot verskil tussen akademiese diskoers en informele diskoers. In ’n akademiese artikel, tesis of lesing verwag ’n mens ’n sekere oorwoëndheid, deeglikheid en afgerondheid wat verskil van ’n terloopse bloginskrywing, podsending of massamediateks. Selfs in akademiese diskoers is daar ’n onderskeid te tref tussen byvoorbeeld ’n referaat (’n eerste weergawe wat jy ter kommentaar aan die akademiese gemeenskap voorlê) en ’n volledig afgeronde akademiese artikel wat jy aan ’n joernaal ter goedkeuring voorlê (waar jy in ieder geval ook weer raad en hulp van die keurders kry). Ek het al ’n hele paar vrot referate aangehoor wat later as gevolg van waardevolle kommentaar deur medekongresgangers en keurders as heel skaflike artikels gepubliseer is.

Ek vra my af waarom jy geen onderskeid handhaaf nie. Miskien is dit om die “standaard” van hierdie informele gesprekvoering te verhoog. Dalk kan dit bereik word deur mense te motiveer om omvattende literatuuroorsigte te doen en sommer ook twee vakspesialiste te vra om daarna te kyk voordat hulle iets op ’n nie-akademiese ruimte soos Versindaba of LitNet plaas. Dit kan natuurlik ook ’n ander gevolg hê: dat niemand dit waag om enigiets te sê nie omdat almal bang is dat Staphorst soos ’n wafferse Antjie Somers hul uitsprake gaan kom gryp en in ’n artikel gaan stop.

Dan is ons in die Staphorst-doofpot. Totalitêr. Vrees. Stilte. Isolasie. Werklike onkunde.

En die skrikwekkende ding is dat ek reeds die eerste tekens daarvan sien. Roux is so verskonend dat hy selfs toegee dat “Versindaba […] nie ’n platform vir halfgebakte idees [is] nie, ondanks my bedoeling om die leiding van meer ervare akademici op te soek”.

Dit is tog absurd. Aanlyn ruimtes soos Versindaba, LitNet (uitgesluit LitNet Akademies, wat ’n akademiese joernaal is) en sosiale media is júis die plek vir informele en selfs efemere gesprekvoering – oor akademiese kwessies en andersins. Benut aanlyn inisiatiewe, forums en sosiale media as geleentheid om by te dra tot die kultuurwêreld en diskoersvorming, selfs as dit beteken dat jy soms ook fouteer deur dom vrae, onsinnige opmerkings en halfgebakte idees. Kry insig, raad, verskillende perspektiewe en teregwysing van gespreksgenote. Net soos jy dit doen in terloopse gesprekke in jou werksplek op pad na die teekamer.

As dit alles jou boonop kan help om uiteindelik beter navorsing of onderrigmateriaal te lewer, des te beter. Eerder dít as wat mense vrot artikels skryf en die Afrikaanse literatuurkritiek stadig doodwurg omdat hulle te bang is om raad te vra en gesprekke te voer. Maar as selfs Roux – ’n gevestigde akademikus wat ’n enorme bydrae lewer tot gesprekvoering en fasilitering met sy verskeie inisiatiewe – verbouereerd saamstem dat hy eerder nié moes geskryf het nie, of beter moes geskryf het, wonder ek wat die impak van jou artikel op gesprekvoering gaan wees, veral onder jong en onervare nagraadse studente.

Dan is Roux natuurlik ook ’n goeie voorbeeld van hoe “ondeurdagte” opmerkings wel tot goeie navorsing kan lei. Jy illustreer dit self in jou artikel, want dit is opvallend dat jy geen enkele voorbeeld verskaf van Roux se sogenaamde onkundigheid in sy akademiese diskoers nie, en die enigste akademiese bydrae wat jy van hom betrek (Roux 2022), aanprys. (Of moet dit as sarkasties geïnterpreteer word?) As jy geen bewyse van Roux se vermeende onkundigheid in sy akademiese tekste kon kry nie, lyk dit darem na ’n uiters opportunistiese en siniese procedé om die internet te myn vir voorbeelde daarvan op informele gespreksruimtes. Veral as jy dit dan voorlê, soos jy doen, as “bewys” van die “onkundigheid” van ’n iemand in sy professionele hoedanigheid en daarmee van hom ’n navorsingsubjek maak. En bowenal omdat sy akademiese diskoers die teendeel weerspieël miskien júis omdát hy nie bang is om in die openbaar te vra en te praat nie.

Só beskou, lyk jou aantygings teen Roux van (onder meer) onkunde in sy vakgebied – sónder enige bewyse uit sy akademiese werk – vir my uiters oneties, en selfs lasterlik. In die akademie is kundigheid die maatstaf vir bekwaamheid. Enige van die akademici wat jy so goedsmoeds noem en verdoem, sou ook baie anders kon reageer as wat Roux reageer het.

Daarom is sy reaksie – waarin hy selfs van jou kritiek ter harte neem – baie ruim. Ek ken hom nie, maar sulke ruimheid en selfrefleksie dwing heelwat respek by my af. Jy tref ’n onderskeid tussen die “filosofiese plebs” (my opsomming, nie jou se woorde nie) wat aan ’n sekere “armoede” gekenmerk word en waarby jy Roux insluit, teenoor die “kultuurmense” nav Van Wyk Louw, wat jy as “wenslik” beskou (en waarby jy jouself blykbaar insluit). Maar nou kyk ek na jou artikel en Roux se werk en ek vra my af: Wié is nou wérklik aan wátter kant?

 

  1. “Wanluidendheid” en “etiese wetenskaplikheid”

Jy regverdig jou verglyding van diskursiewe kontekste op grond van die feit dat alles “uitings van akademici” is. Dit is darem net té gerieflik – en getuig van swak navorsingsontwerp. ’n Literatuurkritikus se diskursiewe uitinge is nie altyd in alle kontekste uitinge deur die persoon as kritikus nie – soms is dit ook as oorwerkte dosent (soos Roux s’n op Versindaba), leser, boekjoernalis, burokraat, mentor, iemand wat mentorskap ondergaan, of sommer net as mens. En dis menslik om dom en ondeurdagtige goed te sê in informele situasies. Ek word soms snags wakker blykbaar met die uitsluitlike doel om te ineen te krimp van skaamte of verleentheid oor goed wat ek jare gelede in terloopse gesprekke kwytgeraak het. Daarom ook dat ek onder ’n skuilnaam skryf en enige drome van ’n akademiese loopbaan lankal afgesweer het.

Is sommige uitsprake in die Sitkamer-podsending en ander informele diskursiewe situasies problematies? Ja. Moes die Sitkamer-groep dalk eerder net as vriende of kennisse aanlyn gesels het tydens die grendeltyd eerder as om hulle gesprekke as ’n podsending beskikbaar te stel? Ek dink nie so nie, maar jy sou seker ’n saak daarvoor kon uitmaak. Moet ’n mens sulke materiaal neem as bewys van die “onkunde” van akademici? Nee.

Dan spring dit my ook in die oog dat jy onlangs op sosiale media vieslik en bitter onregverdig uitgeskel is as ’n “Apartheid white supremacist nazi” wat rassistiese navorsing doen wat getuig van “akademiese en rassistiese kapitalistiese predator mindsets”. Jou reaksie – wat ek nie hier siteer nie om die ander betrokkenes se identiteite te beskerm – spreek van die diplomasie van ’n gesoute politikus en jy het dit baie goed hanteer. Maar hierdie relletjie laat my wonder: Is dit, gegewe hierdie verpolitiseerde navorsingslandskap, regtig só onaanvaarbaar dat navorsers in informele kontekste, en met al hulle beperkinge en menslikheid, informeel oor hul posisionering besin?

Ek verwys hier spesifiek na Burger se opmerkings in die Sitkamer-podsending wat jy kritiseer as voorbeeld van “rassifisering”. Uiteraard maak Burger in hierdie konteks die denkfout om die ideologiese vir die ontologiese aan te sien – daaroor stem ons saam –  maar jy beskou dit as “noemenswaardig vanweë die fokus van haar navorsing”. Jy bespeur egter geen teken van sulke denkfoute in Burger se navorsing nie en prys dit aan as “belangrik en vernuwend”. Nogtans kritiseer jy haar dan tóg deur te sê dat sy nie in haar akademiese navorsing besin oor haar “witheid” nie.

Is ’n akademiese teks, waar daar geen ruimte is vir swak argumente, ondeurdagte opmerkings of onvolledige navorsing nie, werklik die ruimte vir sulke besinninkies en nawelstaardery? Sou haar navorsing dan nie juis swakker gewees het as sy haarself in haar navorsing moet verdedig soos wat jy op Facebook moes doen nie?

Hier het ons dus dieselfde paradoks as met Roux: Jy beskuldig hulle van “onkunde” en “rassifisering” in hul informele gesprekvoering. Die enigste formele (portuurbeoordeelde) akademiese werk van hulle wat jy betrek, prys jy aan as “goeie navorsing” en “belangrik en vernuwend”. Dit is ook die geval met ander akademici wat jy byhaal.

Dit beteken dat daar ’n diskrepansie is tussen hul akademiese werksaamhede en hul sosiale uitinge. Jy sou een van twee studies kon doen:

  • ’n Geesteswetenskaplike studie van die akademiese diskoers om blyke van die kolonialeske in die literatuurkritiek aan die hand van literatuuropvattings, interpretasies, posisionerings en dies meer te identifiseer. Hier gaan dit oor uitsprake van akademici in hul professionele hoedanigheid en dit sou beperk wees tot ’n tekstuele studie van hul akademici uitsette waaruit jy, met die uitsondering van professionele opinies en opvattings, niks oor die persone se menswees kan aflei nie. Dis die soort studie wat Van Niekerk byvoorbeeld doen in haar kritiek op Roos se intreerede (wat nie Roos as werklike mens buite haar professionele uitsprake betrek nie).
  • ’n Sosiale studie van ’n groep hoogs geskoolde Afrikaanssprekendes om die kolonialeske in hul informele diskoerse na te vors. In so ’n studie sou die algemene vereistes vir navorsing oor/met menslike subjekte geld, onder meer dat die navorsing gedoen word “in a way that safeguards the dignity, rights, health, safety, freedom of expression and privacy of those involved” (University of Cambridge 2020).

Albei studies sou gebonde moes wees aan die beginsels van akademiese integriteit, soos eerlikheid, akkuraatheid, regverdigheid, respek en verantwoordelikheid.

Dat jy hierdie verskillende diskursiewe situasies as een laer-geheel en diskursiewe formasie beskou, met die konseptuele verglyding van diskoers/subjek wat jy handhaaf, skep geweldige etiese probleme wat ook gevolge kan hê. Enige van die persone wat jy betrek, sou net sowel ’n formele klag by NMU kon indien oor onetiese navorsingspraktyke omdat jy (1) semiprofessionele en sosiale uitinge gebruik om tot ’n gevolgtrekking van iemand se professionele onbekwaamheid te kom, en dit boonop sonder enige bewyse daarvan in sy of haar professionele werksaamhede; (2) jou nie beperk tot die diskursiewe nie, maar van daardie persoon ’n navorsingsubjek maak sonder enige inspraak of geleentheid vir korreksie; en (3) geen aanduiding gee dat hierdie studie wat met mense as navorsingsubjekte gemoeid is, aan die nodige etiese klaringsprosesse onderwerp was nie. Op dieselfde gronde sou enige van hierdie navorsingsubjekte ’n klag by LitNet Akademies kon lê met die doel om die artikel te laat onttrek. As hulle regtig nagaande wou wees, sou hulle selfs jou nuwe instansie by hierdie korrespondensie kon inkopieer. Hulle sou ook regsadvies kon inwin met die oog op ’n moontlike lastereis. Wat natuurlik nou ook nie beteken dat die betrokke persone dit nié gedoen het of gáán doen nie.

 

  1. Netwerke en valstrikke

Kom ons praat nog oor Burger. Jy suggereer dat sy haar skuldig gemaak het aan laervorming tydens haar tyd as resensieredakteur van Tydskrif vir Letterkunde (voortaan TvL), wat oor sewe nommers strek. Een van die probleme, volgens jou, is “dat Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, tekste asook resensente die resensie-afdeling oorskadu” terwyl Burger eerder “die (nie-Suid-Afrikaanse) Afrikaletterkunde” moes uitgebou het deur die “bestaande netwerk” van Afrika-akademici in te span.

Ons almal weet dat ’n resensieredakteur slegs boeke waarvan uitgewers resensiekopieë aan die joernaal verskaf, kan laat resenseer. Dit is dus nie vir my duidelik wat jy hier betoog nie. Is jou insinuasie dat Burger:

  • korrup opgetree het deur Afrikaletterkunde-boeke te “verduister” (maw nie te laat resenseer het nie) om meer plek te maak vir (Suid-) Afrikaanse tekste weens haar eie verskuilde motiewe?
  • nie korrup opgetree het nie, maar wel versuim het om haar taak uit te voer omdat sy meer Afrikaletterkunde-tekste moes gekry het (hetsy deur skakeling met uitgewers of deur dit self of op TvL se rekening aan te skaf) en dit aan Afrika-akademici moes verskaf het vir resensering (afgesien van oorwegings soos enorme koerierkoste)?

Dit is belangrike vrae. Veral omdat jy in die sosialemediarelletjie vir die persoon sê: “Jy kan my kritiseer vanuit jou wêreldsiening, maar moenie motiverings en kontekste aan my toedig wat nie myne is nie.” Op watter gronde kan jy dit dan so moeiteloos met Burger doen? Veral as jy bloot jou persepsies as “navorsing” opdis sonder deeglike bewyse?

My vraag aan jou is: Het jy enige navorsing gedoen om hierdie insinuasies te staaf? Dit sou byvoorbeeld die volgende kon behels het:

  • Jy sou ’n onderhoud met Burger kon gevoer het om haar perspektief oor hierdie kwessies te kry: te vra wat sy beoog het; of die uitbouing van die Afrikaletterkunde in die resensie-afdeling deel van haar mandaat of strewes was (en indien wel, waarom); of sy wel probeer het om ’n Afrika-resensienetwerk in te span (en waarom/waarom nie); watter uitdagings sy gehad het; ens. Dit sou die voordeel ingehou het dat jy nie jou navorsingsubjek – want dit gaan hier om Burger as persoon se bekwaamheid en motiewe – ontstem nie. Dit sou ook gehelp het as jy nie motiverings en kontekste aan haar toegedig het wat nie hare is nie. Sodoende sou jou studie ook veel meer integriteit gehad het as die huidige studie, wat gebuk gaan onder onjuiste persepsievorming, roomskepredenasies (cherry picking) en gebrekkige navorsing.
  • Jy sou onder die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) die resensie-afdeling van TvL se rekords of verslae vir die betrokke jaargange kon aangevra het. Daarin sou jy waarskynlik kon gesien het of daar enige boeke van uitgewers ontvang is wat nie vir resensering uitgestuur is nie. Dit sou vir my interessant gewees het – ek vermoed dat ’n resensieredakteur ’n groot risiko loop met so ’n besluit, want jy wil nie ’n uitgewer kwaad maak en dan te min boeke kry nie. Jy sou ook kon gesien het watter boeke wel vir resensering uitgestuur is sonder dat die resensie ooit gelewer is. Ons weet almal dat dit ’n algemene probleem vir resensieredakteurs is. Jy sou weens POPI-wetgewing waarskynlik nie die sondaars se name kon gekry het nie, maar dit sou nogtans nuttige statistiek gewees het. Moontlik sou jy selfs kon gesien het tot watter mate Burger moes ingryp om swak resensies te verbeter, en watter akademiese, logistieke, administratiewe en finansiële uitdagings daar was.
  • Jy sou ook onderhoude kon gevoer het met huidige en voormalige resensieredakteurs en joernaalredakteurs (van TvL en selfs ook ander joernale) om uit te vind hoeveel redaksionele vryheid resensieredakteurs het, hoeveel fondse beskikbaar is vir die verspreiding van boeke (bv of dit haalbaar is om internasionale resensente te betrek), watter ander koste-implikasies daar vir die resensie-afdeling is, en dies meer.

Een van die ander probleme is, volgens jou, dat Burger haar omring het met ’n insulêre baantjies-vir-boeties-laer wat voormalige kollegas en studente bevoordeel:

Van die 97 resensies is die meerderheid, 18, [sic – 18 is nie meer as die helfte van 97 nie, dis 19% daarvan] deur skrywers verbonde aan die Universiteit van Pretoria, waar Burger tot Junie 2022 werksaam was, geskryf. Universiteit Stellenbosch, waar Burger haar doktorale studie voltooi het, volg met 12 resensies. Hiernaas volg die Universiteit van die Vrystaat en Unisa met agt, Universiteit van Wes-Kaapland en Noordwes-Universiteit met ses, Universiteit van die Witwatersrand met vier, en heelparty ander universiteite met een, twee of drie resensies (Staphorst 2023a).

Om deur deeglike navorsing ’n perspektief hierop te kry, sou jy Burger se werk as resensieredakteur kon vergelyk het met dié van haar voorganger en haar opvolger. Senekal het eers onlangs by Burger oorgeneem en daar is dus nog nie sewe nommers – die aantal wat daar onder Burger verskyn het – beskikbaar vir vergelyking nie. Ons kan dus net kyk na die laaste sewe nommers wat onder Visagie as resensentredakteur verskyn het, naamlik van 53(1) in 2016 tot 56(1) in 2019.[i] Dit moet egter nie opgeneem word as enige suggestie dat Visagie iets “verkeerd” gedoen het of skuldig is aan dieselfde “iets” as wat Burger na bewering is nie.

Hieruit blyk die volgende:

Onder Visagie het 101 resensies verskyn, teenoor die 97 onder Burger. Ek twyfel of mens uit die verskil van vier ’n wegmoffeling van boeke kan aflei.

Die affiliasieverdeling onder Visagie som ek in ’n eindnota op.[ii] Die vier produktiefste instansies is dieselfde by Visagie en Burger – US, Unisa, UP en UV – ofskoon die interne volgorde van dominansie verskil. Die persentasies kan as volg opgesom word (ek steun slegs op jou data vir die resensies onder Burger):

 

Visagie as redakteur

Burger as redakteur

Instansie

Nr

% (van 101)

Nr

% (van 97)

Universiteit Stellenbosch

25

24,75

12

12,37

Unisa

22

21,78

  8

  8,25

Universiteit van Pretoria

12

11,88

18

18,55

Universiteit van die Vrystaat

  8

  7,92

  8

  8,25

TOTAAL

67

66,34%

46

47,42%

Die feit dat 66% van die totale aantal resensies onder Visagie deur resensente aan vier instansies geskryf is, terwyl slegs 47% van die totaal onder Burger deur resensente aan die top instansies geskryf is, dui daarop dat Burger óf ’n wyer netwerk betrek óf ten minste ’n heelwat meer eweredige verspreiding nastreef. Jy verskaf nie die data vir Burger se redakteurskap nie, maar uit Visagie se redakteurskap blyk ’n poging tot wye verspreiding en netwerkvorming – selfs met die feit dat vier instellings twee derdes van resensies lewer. Met die uitsondering van Wits is daar verteenwoordiging van al die universiteite, en instansies met min resensies is oor die algemeen klein instellings of het kleiner taaldepartemente.

As ’n mens kyk na individuele resensente, is jou verdagmakery ewe opvallend. Hieroor sê jy in jou artikel:

Wanneer daar op individuele resensente gefokus word, neem daar eweneens ’n netwerk om Burger vorm aan: Die produktiefste resensente (drie resensies elk) sluit ’n voormalige magisterstudent van Burger (Delia Rabie) en twee van die Ontlaering-Sitkamer-groepering (Azille Coetzee en Earl Basson) in. Verder sluit die oorgrote meerderheid van die resensente wat twee resensies geskryf het Burger se doktorale promotor (Louise Viljoen), Ontlaering-lede (Janien Linde en Mathilda Smit) en akademici wat tans of voorheen aan die Universiteit van Pretoria (Chris Broodryk en Siseko Kumalo) verbonde was in.

Jou data laat slegs vergelyking van die agt produktiefste resensente toe. 24% van resensies onder Visagie is deur agt persone geskryf, vergeleke met 20% van resensies onder Burger:

Visagie as redakteur

Burger as redakteur

Resensent

Aantal

Resensent

Aantal

Neil van Heerden

4

Delia Rabie

3

Alwyn Roux

4

Azille Coetzee

3

Bibi Burger

4

Earl Basson

3

Reinhardt Fourie

3

Louise Viljoen

2

Andy Carolin

3

Janien Linde

2

Dan Wylie

3

Mathilda Smit

2

Henning Pieterse

3

Chris Broodryk

2

Jacomien van Niekerk

3

Siseko Kumalo

2

Totaal

24

Totaal

19

% van 101

24%

% van 97

20%

Dit dui daarop dat Burger se kernnetwerk miskien ietwat wyer as dié van Visagie is. Daar is heelwat meer mense wat onderskeidelik twee en drie resensies onder Visagie lewer wat weens jou beperkte data nie by die vergelyking ingesluit kan word nie. Onder Visagie se redakteurskap verskyn daar slegs een resensie van iemand wat slegs ’n buitelandse affiliasie het (Marie H Koffi-Tessio van New York se resensie van Antoinette Tidjani Alou se On m’appelle Nina), en vyf deur persone met gedeelde US/Lae Lande-affiliasie. Dit beteken hy het óók slegs by uitsondering buite sy plaaslike netwerk beweeg – jou aanklag teen Burger – so waarom is dit aanvaarbaar vir Visagie en blykbaar enige ander resensieredakteur, maar nie vir Burger nie?

Die persone in die netwerke verskil, maar dit is duidelik dat daar by Visagie ook sprake van ’n kernnetwerk is. Mens kan egter nie sinvolle afleidings maak oor hoe die netwerk ingespan is as jy nie ook die tekste betrek nie. By Visagie is Van Heerden byvoorbeeld een van die produktiefste resensente. Volgens jou argumentering sou dit dui op ’n soort nepotisme (soos jy insinueer met die verwysing na Delia Rabie), omdat Van Heerden ’n voormalige student van Visagie is. Kyk ’n mens egter na die tekste wat Van Heerden geresenseer het, lyk hy weens sy nisveld – die populêre letterkunde – na ’n besonder goeie keuse vir resensies van Ikarus en Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale (Deon Meyer), Die laksman se dogter (Gerda Taljaard) en Ys (Rudie van Rensburg). Só beskou wentel Visagie se besluitnemingsproses eerder rondom die nodigheid om die regte (en ook betroubare en vaardige) resensent vir ’n bepaalde boek te identifiseer as om onoorwoë en agterbakse voortrekkery. Ek vermoed jy sou dieselfde besluitnemingslogika by Burger bespeur het as jy die moeite sou gedoen het om ook die betrokke tekste in ag te neem.

Jy suggereer dieselfde nepotisme oor Louise Viljoen se twee resensies op grond daarvan dat sy Burger se doktorale promotor was. Dit is blote verdagmakery. Viljoen is al jare lank ’n uiters produktiewe resensent, en onder Visagie se redakteurskap van die ooreenstemmende periode lewer sy sommer drie resensies. Ek kan my goed indink dat enige boekeredakteur – hetsy in die akademiese bedryf of populêre media – juig van vreugde en verligting as ’n goeie, betroubare resensent soos Viljoen instem om ’n resensie te skryf.

Beteken dit dat dit verkeerd is van ’n resensieredakteur om sy netwerk in te span? Nee, nie volgens my nie, en blykbaar ook nie volgens jou nie, want jy wys daarop (ofskoon dit vir my ’n sweempie van keurderkommentaar het) “dat resensieblaaie in die algemeen deur die netwerk van die betrokke resensieredakteur gedryf word, en daarby binne die perke van die blad self vorm aanneem”.

Waarom is dit dan aanvaarbaar dat iemand soos Visagie dit doen, maar nie Burger nie? Jou voorwendsel is dat Burger weens haar betrokkenheid by Ontlaering en Sitkamer “teen ’n hoër standaard” gemeet moet word.

Gegewe die syfers ter vergelyking, en gegewe jou gebrekkige navorsing hieroor, lyk dit nou nie meer vir my na ’n hoër standaard nie, maar na ’n doodgewone dubbele standaard. En daarby een wat daarop gemik is om iemand persoonlik by te kom. Dit strook glad nie met die fundamentele etiese navorsingsbeginsel van “do no harm” nie.

En dan wil ek vir jou vra: As die syfers aantoon dat Burger dan nou wel “beter” vaar as Visagie (bloot volgens jou arbitrêre maatstawwe), en dit volgens jou “hoër maatstawwe” dan steeds nie aanvaarbaar is nie, wat sou dan wél aan jou vereistes voldoen? Kan jy vir ons ’n stel riglyne of voorskrifte verskaf van hoe jy dit sou gedoen het as jy TvL se resensieredakteur was?

 

  1. Die gees van Kleinboet

Ek vra die vraag oor riglyne veral gegewe jou opmerking oor Van Wyk Louw se “kultuurmens”: “Die kultuurmens, aldus Louw, staan nié buite die tradisie, oftewel die beleefde geskiedenis, nie, nóg staan hulle onkrities daarbinne; eerder werk die kultuurmens vanuit die tradisie.”

Om vanuit die tradisie te werk is harde, ondankbare en tydrowende werk. Van Wyk Louw kla in sy korrespondensie telkens oor sy gebrek aan tyd, die eise uit alle oorde en die omvang van die werk. Dit is uitdagings wat alle akademici herken. Resensies tel nie as navorsingsuitsette nie en jy word bitter min of niks nie daarvoor betaal, so mense doen dit vir die liefde van die saak – die paar wat dit wel doen. Dit verg verskriklik baie tyd, tyd wat gebruik kan word om artikels te skryf. Net soos die keuring van artikels vir joernale en manuskripte vir uitgewers. En die voorbereiding van praatjies by leeskringe. Gespreksinisiatiewe kom eweneens ten koste van jou eie navorsingsrekord en vrye tyd. Om kongresse of te reël, ontaard in ’n moeras van administrasie en beuselagtighede oor verblyf, betaling, dieetvoorkeure en die program. ’n Resensieredakteur moet sinvolle kommentaar lewer op al die resensies en soms self die vrot resensies reg timmer. ’n Joernaalredakteur moet smeek vir kopie en lek vir die lewering van keurverslae.

En dan moet die meeste mense wat dit doen, ook nog studiegidse skryf, lesings voorberei, studente se opdragte nasien, op universiteitskomitees dien en vergaderings bywoon saam met die magdom ander burokratiese pligte, gemeenskapsdiens verrig volgens die kritieke-prestasie-aanwysers van hul instansie, nagraadse studente begelei en interne seminare en kollokwiums reël.

Nogtans staan jy buite baie van dit wat jy kritiseer. Ek sien jou nie resensies lewer vir akademiese joernale, in Rapport, of op Netwerk24, Versindaba of LitNet nie (en dit staan enigeen tog vry om hulself as resensent aan te meld). Ek sien jou nie kongresse organiseer nie. Ek sien jou nie bydraes lewer as vorm van kritiese intervensie en korreksie by akademiese geleenthede wat jy kritiseer (soos Ontlaering) nie. Ek sien jou nie gesprekke fasiliteer of nuwe inisiatiewe loods nie. Ek sien jou nie ingryp op Versindaba of LitNet om tereg te wys of die algemene peil van gesprekvoering te verhoog nie.

Ek sien jou soos ’n ivoortoringakademikus navorsingsuitsette produseer oor wat jy beskou as die onbekwaamheid van akademici wat al hierdie balle in die lug probeer hou, en die tekortkominge van hul pogings en inisiatiewe. En dan boonop jou buitestanderpersepsies as navorsing opdis, eerder as om die data deeglik en indringend te gaan bestudeer. Sonder om tussen verskillende doelstellings en kontekste en genres te onderskei. Met roomskepredenasies, verdagmakery en opportunisme. Sonder die basiese beginsels van akademiese integriteit, soos eerlikheid, akkuraatheid, regverdigheid, respek en verantwoordelikheid.

En dan sien ek die nydigheid, hooghartigheid (’n “armoede aan nederigheid”), selfingenomenheid en gebrek aan medemenslikheid in hierdie artikel van jou. Die manier waarop jy van ’n afstand kitsoordele vel. Die fokus op skinderpraatjies, “ontmaskering” en kliekvorming eerder as opbouende kritiek, raad, opheffing en hulpverlening. In jou artikel sien ek die armoede van gees van ’n kleinsielige en minder talentvolle Kleinboet.

 

  1. Dubbele standaarde en laervorming

Kom ons keer terug na die kwessie van dubbele standaarde. Jy voer in jou analise van Roux se bloginskrywing aan dat Roux “ironies genoeg deur sy eie onkunde” die stemme van swart kritici soos Mudzanani (1990) “ontstem”. Dan haal jy Van Vuuren se kommentaar op Roux se bloginskrywing klaarblyklik goedkeurend aan as voorbeeld van groter “kundigheid” as dié van Roux, want sy “som […] verskeie studies op wat dié vraag van geskiedskrywing onder die loep neem”. Sy verwys egter ook nie na Mudzanani se studie nie, maar slegs na Preller, Du Toit, Opperman, Van Wyk Louw, Schoonees en Wiehahn!

Op watter gronde kan jy dan vir Roux van “onkundigheid” en “ontstemming” beskuldig, maar nie vir Van Vuuren nie? Blykbaar is háár uitsluiting van Mudzanani verskoonbaar as “na-middernagtelike gedagtes oor die onderwerp”, maar nie Roux s’n nie – syne is tekenend van onkunde en ontstemming.

Dan lyk jou argument, soos in die geval van Burger, nie meer krities nie, maar hipokrities. Want as dit gaan oor ’n bepaalde saak, die ontstemming van Mudzanani, moet almal tog oor dieselfde kam geskeer word sonder aansien des persoons.

Ek kon aanvanklik nie hierdie logika begryp nie. Die kwessie is egter in ’n ander lig geplaas toe ek afkom op jou onlangse lesing (Staphorst 2023b) by die Etienne van Heerden Veldsoirée waarin jy swymelend van jou heldeverering vir Van Vuuren vertel. Nou lyk jou artikel skielik glad nie meer na ’n opregte-hoewel-onberade poging tot kritiese intervensie in jou bespeurde probleme van die vakgebied, soos ek dit aanvanklik wel probeer interpreteer het nie, maar eerder nog meer na ’n skynheilige fasade waaragter jy kliekappeltjies wil skil. Laers en goedkoop politieke literatuurkritiek op sy beste.

Wat dit natuurlik nog erger maak, is dat daar in die historiese verloop van die Afrikaanse literatuurkritiek ’n besondere neksus van die kolonialeske in die akademiese resepsie van Agaat (2004) van Marlene van Niekerk is – en dat Van Vuuren se tekste (hetsy as skrywer of studieleier van Carvalho) sentraal hierin staan.

In haar profiel van Van Niekerk voer Van Vuuren aan dat, aan die hand van “die waargenome nagtelike danse van Agaat onder die maan[,] [d]aar […] genoeg leidrade in die teks [is] wat duidelik maak dat hier ’n Khoi-San kulturele onderstroom aan te koppel is, wat teruggaan op die vroegste inheemse inwoners van die land en hul sjamanistiese en animistiese danse” (Van Vuuren 2016:930–1). So ’n beskouing sentreer rondom ’n essensialistiese identiteit wat aan Agaat toegedig word en wat sy as bron van kreatiwiteit en bevryding kan mobiliseer, want daar is geen tekstuele aanduidings dat Agaat hierdie “kultuur” by haar biologiese familie aangeleer het nie – hulle is immers plaaswerkers wat in haglike omstandighede bly waar alkoholmisbruik en geweld die botoon voer, en Agaat “was al ’n geskopte toe sy nog in die moer was” (Van Niekerk 2004:689). Gelukkig kan hierdie besonderhede gerieflik buite rekening gelaat word, want “her link with these communities is etched on her genetic inheritance” (Carvalho 2009:118).

Agaat vind dus bevryding nie net in deterministiese genetiese identiteit wat onafhanklik van Milla se magsprojek kan voortbestaan nie, maar ook in ’n kultuur wat essensialisties geïnskribeer is en wat naas Agaat se danse ook ander gedragspatrone soos “her mystic attraction to fire, affinity with nature, engagement in trance dances and rainmaking rituals, and her worship of the moon and the mystic mantis-god [as] recognized features of the San culture” (Carvalho 2009:119) insluit. Gevolglik het Agaat wel toegang tot “haar eie inheemse kultuur” (Venter 2009:159), ten spyte van Milla se pogings om te “tamper with her [Agaat’s] cultural identity” (Carvalho 2009:130), en selfs al leer Milla vir Agaat “slegs die dinge van die blanke kultuur” (Venter 2009:73).

Práát nou van kolonialésk!

Wat die vreemde kolonialistiese postkolonialistiese – kolonialeske – literatuurkritiek in die resepsie van Agaat besonder interessant maak, is dat hierdie soort interpretasies juis deeglik gekritiseer is deur Van Niekerk in haar repliek op Roos (Kamee) as multikulturalisme in diens van neoliberalisme.[iii]

 

  1. Balke en oë

Dit bring my by die laaste kwessie wat ek (vir nou) sal aanroer. Jou een aanklag teen die Ontlaeringsinisiatief is dat die gebrek aan ’n “histories-gefundeerde bestekopname” opsetlik is, omdat “’n histories begronde ondersoek Ontlaering as sodanig betekenisloos sou verklaar – of ten minste die veronderstelde nuutheid daarvan sou ondermyn”.

So ’n aanklag is egter ewe geldig vir hierdie artikel van jou. Die kolonialeske het, soos ontlaeringsinisiatiewe, óók ’n bepaalde genealogie in die Afrikaanse letterkunde, een wat jy verswyg omdat dit dan nie meer jou argument rakende die “laer” sal ondersteun nie. Jy kritiseer die Ontlaeringsinisiatief vir ’n gebrek aan ’n “historiese bewussyn”, en jy posisioneer hulle werk binne ’n bepaalde geskiedenis van “ontlaering”, en jy bepleit nav Van Wyk Louw en Nietzsche die belang van so ’n historiese fundering, maar jy bied in jou artikel geen historiese raamwerk waarbinne die kolonialeske impulse wat jy bespeur, gekontekstualiseer kan word nie, en bly dit in jou artikel beperk tot ’n “mistasting” van ’n klein groepie opkomende akademici – terwyl dit inderwaarheid deel vorm van ’n veel groter diskursiewe formasie. Vrywaring: Om histories-diskursiewe kontekstualisering te bepleit, soos ek doen, moet ook nie misverstaan word as ’n poging tot relativering (“ag, dit was nog altyd so”) nie. Dit moet verstaan word as ’n poging om die kolonialeske beter te begryp deur die ontwikkeling, manifestasievorme en aard daarvan na te gaan.

Jy sou die genealogie en knooppunte daarvan kon uitwerk aan die hand van, minstens, die Roos-Van Niekerk-interaksie (ofskoon jy waarskynlik in die sewentigerjare sou kon begin) en die Agaat-diskoerse, en dit deurwerk al die pad tot by die huidige beskouings van die postkritiek – en dan veral hoe multikulturalisme, die kolonialeske en die postkritiese almal in diens van die neoliberalisme is (en wat terloops verswyg word in bestaande Afrikaanse beskouings van die postkritiek).

Op soortgelyke wyse sou jy die kolonialeske kon koppel aan bepaalde literatuuropvattings of -benaderingswyses. Jy sou dit kon beskou as ’n manifestasie van ’n groter krisis in die literatuurkritiek, ’n krisis wat gekenmerk word deur ’n bepaalde instrumentalistiese benadering wat volgens Van Niekerk (2013) die letterkunde tot boodskap – meestal ’n “positiewe” of “progressiewe” een soos sosiale kohesie – in diens van ’n bepaalde politieke agenda reduseer.

Eintlik sou jy dan die kolonialeske as een gesig van instrumentalisme kon beskou en dit dan uitbrei in ’n tipologie van groteske paradoksaliteite. Daaronder sou mens kon onderskei tussen, sê maar, die amorfe konstruktief-essensialeske, die queer-normatiefeske, die gender-binêreske, die multikultureel-afrikanereske en die postkrities-idioleske. Of selfs volgens bepaalde teoretiese invalshoeke soos die Deleuze/Guattari-Dolce/Gabanneske.

Jy sou ook hierdie Afrikaanse manifestasievorme vergelykend kon bestudeer en ander literatuurkritiese tradisies betrek, want hierdie instrumentalisme waaronder die kolonialeske ressorteer, is ook nie suiwer ’n Afrikaanse verskynsel nie.[iv]

As mens ernstig wou besin oor die kolonialeske as fenomeen – eerder as om dit as sambok in te span – sou jy werklik baie kon doen. Heelwat méér en beter as hierdie artikel van jou.

 

  1. ’n Laaste teregwysing

Met my kritiek op jou metodologie en etiek probeer ek ook nie ontken dat daar probleme op sistemiese vlak in die bedryf is nie, en veral met resensering in die populêre media.

Ek oortree eintlik nou op Crito se domein, maar dit is byvoorbeeld vir my uiters onvanpas dat Hein Viljoen se bundel Vyf kleur blou op Netwerk24 deur Alwyn Roux geresenseer is, omdat laasgenoemde as voormalige student tog geen neutrale oordeel oor Viljoen se bundel kan vel nie. Ewe erg is Stefan van Zyl se resensie van Heilna du Plooy se Getye van tyd op Versindaba. Dit is duidelike oordeelsfoute deur die redakteurs en resensente wat aangespreek behoort te word.

In die afgelope week se Rapport was daar ’n resensie van Bibi Slippers se Soekenjin deur Azille Coetzee. Dit is seker een van die swakste resensies wat ek tot nog toe gesien het. Ek het vir ’n oomblik gewonder of dit nie met KI geproduseer is aan die hand van ’n korpus vrouetydskrifartikels uit die sewentigerjare nie, want dit loop oor van elke cliché denkbaar. Kyk na hierdie paragraaf:

Byna die enigste vroulike verlange waarvan ons ooit hoor in Afrikaanse musiek of sien op kykNET, is die hunkering na die trouman en die troudag en daar eindig dit. Dan is daar nie meer tyd vir vae begeerte nie, nou is dit kinders kry en tuiste skep. Die meeste vroue het gewoon nie tyd om ure lank te sit en te wil hê nie, daar is nie ruimte om te swerf nie. Dit beteken nie dat vroue nie begeer of droom van verander en nuut word nie, maar dit is iets wat ons nie veronderstel is om te doen nie of nie vir onsself gun nie. So ’n hunkering na ander lewens voel soos ’n versaking van die veilige hawe wat ons vir ons kinders en mans bied. Daar ís hunkerende vroue binne ons literêre tradisie – Karolina Ferreira, Griet Swart, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Agaat, Joan Hambidge, Valda Jansen en Lynthia Julius – maar hulle is dun gesaai. (Coetzee 2023)

Dis seker dan nou ook ’n manifestasie van die chauvineske, wat mens sou gereken het lankal deel van die geskiedenis is. Ek weet regtig nie eens waar om te begin nie. Leef ek in ’n totaal ander wêreld? Is middelklasvroue steeds so geïndoktrineer dat hul strewes uitsluitlik gekoppel is aan ’n heteronormatiewe bestaan? Nie dié wat ek ken nie, nie in die televisiereekse wat ek kyk of die musiek wat ek luister nie.

Dis ewe vergesog om aan te voer dat hunkering “dun gesaai” is in die werk van vroueskrywers. Selfs Eybers, Spies, Rousseau en Kirsch hunker, want dis iets wat alle mense doen. Dis eintlik al wat daar is, as jy Schopenhauer kan glo.

En hierdie resensent is – saam met Slippers – op die keurpaneel vir die kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar.

Ek stem met dus met jou saam dat daar groot probleme is in die Afrikaanse literatuurkritiek wat betref die kolonialeske, en in die resensiebedryf wat betref die interpersoonlike netwerke. Maar ek dink steeds nie dit is op die manier en op die plekke wat jy ondersoek het nie.

 

  1. Ten Slotte

Ek skryf vanuit ballingskap en is nie ’n professionele akademikus nie. Ek het gewag en gehoop dat ervare en gerekende kritici op Staphorst se artikel sou reageer. Dit het nog nie gebeur nie – miskien weens eksamendruk – maar ek hoop dat daar wel erns gemaak sal word met hierdie kwessies.

In diskursiewe studies, veral dié wat deur internetnavorsing met plasings op publieke forums en sosiale media gemoeid is, bly etiese uitdagings ’n dilemma (Stommel en Rijk 2021). In die geesteswetenskappe het ons boonop die probleem dat daar met opleiding hoofsaaklik gefokus word op gesondheidswetenskappe en sosiale wetenskappe (soos die trree-opleiding by https://elearning.trree.org wat verpligtend is vir navorsers aan sommige Suid-Afrikaanse instansies). Verder is daar klaarblyklik groot verskille tussen verskillende Suid-Afrikaanse instellings se vereistes rakende etiese klaring.

Die metodologiese en etiese kwelpunte van Staphorst se studie sal waarskynlik in die toekoms meer en meer opduik weens toenemende interdissiplinariteit en tegnologiese ontwikkelings. Dit sal daarom miskien nuttig wees vir die breër Afrikaanse navorsingsgemeenskap as daar gesprek gevoer kan word oor etiese wetenskapbeoefening in die geesteswetenskappe.

Cicero

 

Bibliografie

Carr, Wilfred. 1997. Professing education in a ostmodern age. Journal of Philosophy of Education, 31(2):309–27. DOI: 10.1111/1467-9752.00058.

Carvalho, Alyssa May. 2009. The novel as cultural and historical archive: an examination of Marlene Van Niekerk’s Agaat (2006). MA dissertation, Nelson Mandela Metropolitan University (now Nelson Mandela University).

Coetzee, Azille. 2023. Boekresensie: ’n spieël vir ons opgehou in Soekenjin. Rapport, 5 November. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/boekresensie-n-spieel-vir-ons-opgehou-in-soekenjin-20231105. Geraadpleeg: 5 November 2023.

Lazarus, Neil. 2011. The postcolonial unconscious. New York: Cambridge University Press.

Mudzanani, NB. 1990. Die verhouding tussen literêre teorie en kritiek in die Afrikaanse literêre sisteem binne die sg “Nuwe Paradigma”, aan die hand van gekose figure: Marianne de Jong, Joan Hambidge en Gerrit Olivier. MA-verhandeling, Rhodes Universiteit.

Roos, Henriette. 1996. Dáárom letterkunde, dáárom Afrikaanse letterkunde. Professorale intreerede aan die Universiteit van Suid-Afrika, 7 Maart 1996.

Roux, Alwyn. 2022. Die grense van die Heideggeriaanse woonbegrip in refreine van “nomadismes” in Die beginsel van stof (2011). Stilet, 34(2):37–54.

Staphorst, Luan. 2023a. “Iets hieroor het ons ongemaklik gestem”: die verband tussen “ontlaering” en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse. LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), 20(3). DOI: https://doi.org/10.56273/1995-5928/2023/j20n3b5.

—. 2023b. Die Karoo as universum: oor Velddenke, |Xam-Afrikaans, en die Boesman-Universiteit. https://www.litnet.co.za/die-karoo-as-universum-oor-velddenke-xam-afrikaans-en-die-boesman-universiteit-etienne-van-heerden-veldsoiree-2023 (5 November 2023 geraadpleeg).

Stommel, Wyke en Lynn de Rijk. 2021. Ethical approval: none sought. How discourse analysts report ethical issues around publicly available online data. Research Ethics, 17(3):275–97. DOI: 10.1177/1747016120988767.

University of Cambridge. 2020. Research ethics policy. http://www.research-integrity.admin.cam.ac.uk/sites/www.research-integrity.admin.cam.ac.uk/files/uoc_ethics_policy_july2020_0.pdf (5 November 2023 geraadpleeg).

Van Coller, HP (red). 2016. Perspektief en profiel: ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, band 3. Pretoria: Van Schaik.

Van Niekerk, Marlene. 1996. Reënboogredenasies: repliek op ’n intreerede. Tydskrif Vir Letterkunde, 34(4):20–34.

—. 2004. Agaat. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2013. The literary text in turbulent times: an instrument of social cohesion or an eruption of “critical” bliss. Notes on JM Coetzee’s Life and times of Michael K. Acta Academica, 45(4):1–39.

Van Vuuren, Helize. 2016. Marlene van Niekerk (1954–). In Van Coller (red) 2016.

Venter, Hester Elzebet. 2009. Die verhouding tussen verhaal en metafoor in Agaat (Marlene van Niekerk). MA-verhandeling. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.

 

Notas

[i] Ek laat wel TvL, 55(3) buite rekening, omdat hierdie buitengewone uitgawe as e-boek verskyn het en daar dus geen resensies opgeneem is nie. Gevolglik beperk ek my tot die laaste sewe uitgawes van Visagie se redakteurskap waarin daar wel resensies verskyn het.

[ii]

Affiliasieverdeling van resensies in Tvl, 53(1) (2016) tot 56(1) (2019) onder Visagie

Universiteit Stellenbosch

25 (waarvan 5 dubbele affiliasies met instansies in die Lae Lande het)

Unisa

22

Universiteit van Pretoria

12

Universiteit van die Vrystaat

8

Noordwes-Universiteit

8

Rhodes-Universiteit

6

Universiteit van Wes-Kaapland

4

Universiteit van Kaapstad

2

Universiteit van Fort Hare

2

KSUT

2

Sol Plaatje Universiteit

2

SA resensente sonder enige affiliasie

2

Universiteit van Johannesburg

1

Universiteit van KwaZulu-Natal

1

Universiteit van Zululand

1

Nelson Mandela Universiteit

1

Monash Universiteit

1

Internasionaal (geen SA affiliasie)

1

TOTAAL

101

 

[iii] Sy beskryf dit as

’n duidelik van mekaar onderskeibare veelheid van naasmekaarliggende wesentlik intakte “kultuurtuine” wat onderling deur die lede daarvan besoek kan word vir die glad verlopende vriendelike en simmetriese uitruil en toe-eiening van mekaar se kultuurgoedere. Die moontlikheid dat die bemoeienis van die wit skrywer met sogenaamde primitiewe samelewings ’n nuwe vorm van eksploitasie en ’n modieuse tendens op die kommoditeitemark kan wees, word van die hand gewys. Voorkeur word uitgespreek vir die positiewe waardering van assimilasies, toe-eienings en transformasies van bv die uitgestorwe kultuur van die San. So ’n voorkeur sou, indien dit gepopulariseer word, baie maklik kan lei tot ’n opvatting van literatuur as ’n soort “curio shop” waaruit die leser dienooreenkomstig elemente kan put vir, by wyse van spreke, die versiering van sy/haar “interieur” (Van Niekerk, 1996:25).

[iv] Lazarus takseer dit vanuit ’n postkoloniale blikhoek as volg:

I am sure I am not alone among scholars who read and teach “postcolonial” literature as well as postcolonial theory in deploring both the sheer opportunism of so many of the critical readings currently being produced, and also the narrowness of the research base or range of works that is typically canvassed for this production. To read across postcolonial literary studies is to find, to an extraordinary degree, the same questions being asked, the same methods, techniques, and conventions being used, the same concepts mobilised, the same conclusions drawn, about a remarkably small number of literary works (which are actually much more varied, even so, than you would ever discover from the existing critical discussion). For some scholars in the field, evidently, all that is required of the texts evoked is that they permit – which is to say, not actively disallow – a certain, very specific and very restricted kind of reading to be staged through reference to them. (Lazarus 2011:22, oorspronklike kursivering)

 

Lees ook:

"Iets hieroor het ons ongemaklik gestem": die verband tussen "ontlaering" en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse

’n Repliek op Luan Staphorst se mistastings oor Samespraak

Maak Staphorst hom skuldig aan ’n mate van die jolige jargoneske?

Die Karoo as universum: oor velddenke, |xam-Afrikaans, en die Boesman-universiteit | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023

Antjie Somers, vleisvreters, en die vraag om verwikkeld te lees: ’n reaksie op Chan Croeser en Jacomien van Niekerk se kinder- en jeugboekseminaaressays

  • 7

Kommentaar

  • Wat moet mnr Staphorst "vat"? Hierdie tipe emosionele reaksies hoort tussen blou en rooi op X, nie 'n meningsblad oor akademiese kwessies nie.

    Cicero, jou eie onderrok (of onderbroek) hang bietjie uit mbt vooroordele en lojaliteite. Jou aandrang dat hy 'n onderhoud met Burger moet voer is vreemd; wat is meer wetenskaplik daaraan as die gegewens wat wel verskaf word? Jy hoef nie met Staphorst se interpretasie hiervan saam te stem nie, maar gee dalk jou eie deurdagte mening sonder om self jou gespreksgenoot se aard/karakter in twyfel te trek?

    Ook, jou definisies van "eties" en "lasterlik", of dan minstens die toepassing daarvan, is gewoon onakkuraat.

    Jy sal nog 'n rukkie vir amptelike reaksie (dws akademiese artikels) op Staphorst moet wag, juis omdat navorsing tyd en dink en herdink benodig. Die blote feit dat ek en jy nou hieroor heen-en-weer getuig van die belang van Luan se artikel en die belangrike gesprekke (hopelik, eerder as partydige "tribalism") wat nog hieruit gaan volg.

  • Joan Hambidge

    Dis net jammer dat Cicero onder 'n skuilnaam skryf en skuilname (Kees Konyn of L.I.Bertyn) het maar die gewoonte om uit te lek. En dit maak my ongemaklik wanneer literatore onder 'n nom de plume ander kritiseer.
    Ek het nie gedink Azille Coetzee se resensie was swak nie. Sy het belangrike kwessies oor begeerte uitgelig waaroor ek my tans verdiep in my bespreking van Bibi Slippers se Soekenjin.
    Die nydige Kleinboet en die slimmer Ouboet?
    As ons dit letterlik sien as die twee Louw-broers, was W.E.G. Louw 'n Mensch en 'n egte kultuurmens en 'n onderskatte digter. As dosent had hy sy nie gelyke nie (ek verwys na die laat 70er jare aan die US) en sy kennis van Nederlandse poësie, die filmkuns, Italiaans en Frans, was besielend en indrukwekkend.
    Figuurlik gesproke is die kleinboet-in-die-letterkunde dalk krities om 'n plek te vind?
    Etiese kwessies binne die literatuurkritiek is altyd glibberig. Skryf terug, was Opperman se raad aan Ina Rousseau toe sy ontsteld was oor Peter Blum se gedigte oor haar.
    Regsbeginsels werk anders in die realiteit. Gaan kyk maar na regsuitsprake oor o.a. die Louw-briewe (2011): Briewe van W. E. G. en N. P. van Wyk Louw 1941–1970 (J. C. Kannemeyer, red.)
    Ons onthou die polemiek oor Kannemeyer se literatuurgeskiedenis met Cloete.
    Daar was binne die linguistiek ook 'n fel kritiek op Ponelis se werk. In Engeland John Banville se striemende resensies. Terry Eagleton se briljante kritiek op Dawkins en die New Atheists.
    Wie skil kliekappeltjies finaal? En watter dekaan sal Staphorst tog tugtig?
    Dit herinner aan 'n insident toe 'n gesiene literator, indertyd dr Stuart Saunders, vise-kanselier aan die UK, gebel het en gevra het om my stil te maak in 'n polemiek oor Nederlandse literatore wat tydens die strugglejare ander standpunte gehuldig het as ná 1994. Ek het dubbeluitsprake uitgewys.
    Maar die reg tot woord en wederwoord moet toegelaat word, was Saunders se siening.
    Alles gebeur altyd binne 'n bepaalde konteks. En tye verander en tereg wys Alwyn Roux op die impak van Covid en hoe mense op ander maniere moes kommunikeer.
    Maar dit bly die reg van enige kritikus om te reageer. En soos Cicero uitwys:
    Verder is daar klaarblyklik groot verskille tussen verskillende Suid-Afrikaanse instellings se vereistes rakende etiese klaring.
    Die metodologiese en etiese kwelpunte van Staphorst se studie sal waarskynlik in die toekoms meer en meer opduik weens toenemende interdissiplinariteit en tegnologiese ontwikkelings. Dit sal daarom miskien nuttig wees vir die breër Afrikaanse navorsingsgemeenskap as daar gesprek gevoer kan word oor etiese wetenskapbeoefening in die geesteswetenskappe.
    Soos Cicero skryf: Professing education in a ostmodern age … (sic!) (Carr, Wilfred. 1997).
    Dalk is ons in ostmodern era!
    Daar is by sowel Staphorst as by Cicero geldige punte oor literatuurkritiek. En wanneer ‘n mens terugkyk is dit nie ‘n of/of nie, maar dikwels ‘n en/en.
    Ek het baie polemieke sien kom, en vele sien gaan.
    Joan Hambidge

  • Dankie vir jou relativerende perspektief, Joan. Ek hoor wat jy sê oor Rousseau/Blum en die Louw-briewe, waar dit gaan om onderskeidelik literêre “wraak” en die beskerming van gestorwe persone se nalatenskap. Dit verskil vir my wel van die kwessie van etiek in akademiese navorsing wat in toenemend gereguleerde en burokratiese kontekste onderneem word, en wat m.b.t. die Staphorst-artikel as volg omgesom kan word:

    1) Hierdie studie maak gevolgtrekkings oor geïdentifiseerde, lewende persone se professionele bekwaamheid en is dus gemoeid met menslike navorsingsubjekte. Al die universiteite waarby ek al betrokke was, vereis in sulke gevalle dat etiese klaring van die relevante navorsingsetiekkomitee (NEK) aangevra word voordat die navorsing onderneem word.

    2) As NMU se NEK in hierdie geval aangedui het dat etiese klaring onnodig is, of wel etiese klaring verleen het, lê die verantwoordelikheid vir enige etiese oorsigte primêr by NMU. As die navorser nagelaat het om aansoek te doen om etiese klaring, lê die verantwoordelikheid by hom.

    3) Nogtans vereis “LitNet Akademies” in hul keurverslagvorm dat keurders kommentaar lewer oor etiese kwessies as deel van die navorsingsmetodologie, én as afsonderlike kriterium. Indien die keurders nie enige moontlike etiese risiko’s belig het nie, het die keurders gefaal in hul verantwoordelikheid teenoor beide die joernaal en die artikelskrywer.

    Die enigste soortgelyke geval spesifiek in die Suid-Afrikaanse geesteswetenskappe waarvan ek kennis dra, is die Stolp-debakel by US se musiekdepartement wat in ’n aantal meningstukke in “Acta Academica” ’n akademiese gehoor bereik het (sien Horn et al., 2016; Lüdemann, 2017; Stolp, 2016a; Stolp, 2016b; Walton, 2017). Nogtans is dit weens ’n veel komplekser institusionele konteks nie heeltemal vergelykbaar nie: hier is ’n student in ’n hoogs verpolitiseerde departement deur sommige personeellede geviktimiseer, en het sy in ’n outo-etnografiese tesis haar ervaring geboekstaaf en die betrokke persone aan die kaak gestel.

    Die probleem met die Stolp-tesis was “that Stolp named several members of the Department of Music in her thesis and used recordings of artists who performed at the university’s conservatory without their knowledge and consent and did not adhere to the principle of anonymity” (Le Grange, 2020:4). Stolp se verweer was dat institusionele etiekmeganismes sensurerend inwerk (2016a:1) om kritiese denke (2016a:18) en “risk-taking research” (2016a:1) te inhibeer. Sy maak die punt dat etiese navorsing tradisioneel gereguleer is deur dissipline-spesifieke gedragskodes en deeglike portuurbeoordeling (2016a:18), terwyl ek in my repliek op Staphorst aanvoer dat toenemende interdissiplinariteit en tegnologiese ontwikkelings uitdagings bied wat nie op hierdie tradisionele wyses die hoof gebied kan word nie. Ek is dit wel met haar eens dat universitêre NEK’s hoofsaaklik voorsiening maak vir die mediese en sosiale wetenskappe, “making few if any allowances for problematics particular to the humanities” (Stolp, 2016a:17, vgl. ook Carniel et al., 2023).

    Die Stolp-debakel het gelei tot ’n aantal ondersoeke (sien Le Grange, 2020:4) en die finale gevolgtrekking was dat die studie “had breached certain ethical norms and principles” (Le Grange, 2020:4). Dit was kennelik ’n pynlike ervaring vir al die betrokkenes.

    Die Staphorst-artikel bied die geleentheid om in die Afrikaanse literatuurkritiek ook te besin oor die etiese norme en beginsels in die vakterrein, persoonlike etiek vs. geïnstitusionaliseerde etiese prosedures, die spesifieke etiese uitdagings van die dissipline, die moontlike presedent wat hierdie artikel skep, hoe soortgelyke studies daar sou kon uitsien, ens. Persoonlik wil ek graag weet (n.a.v. Le Grange, 2020): is navorsers wat wél oor etiese vraagstukke wroeg en bereid is om deur al die administratiewe en burokratiese hoepels te spring, eintlik paloekas wat gekortwiek word deur hul eie beginselvastheid (“principlism”)? Is hulle naïef om te dink dat NEK’s ’n praktiese nut het eerder as om net burokratiese boksies te tik? Moet sulke navorsers eerder rasionele eiebelang nastreef? Is ’n Universiteit van Ayn Rand die “wenslike” alternatief?

    Carniel, Jessica et al. 2023. The ethics review and the humanities and social sciences: disciplinary distinctions in ethics review processes. Research Ethics, 19(2):139–156.

    Horn, Lyn et al. 2016. Right to reply: Power and ethics in humanities research: A response to Stolp. Acta Academica, 48(2):1–15.

    Le Grange, Lesley. 2020. Research ethics: Examining the tension between principlism and rational self-interest in a neoliberal university context. Transformation in Higher Education, 5:1–8. DOI: 10.4102/the.v5i0.88.

    Lüdemann, Winfried. 2017. Right to reply: Power and Ethics in Humanities Research: Another Response to Stolp. Acta Academica, 49(2):1–10.

    Stolp, Mareli. 2016a. Report to the academy: power and ethics in humanities research. Acta Academica, 48(1):1–26.

    Stolp, Mareli. 2016b. Right to reply: Response to the Academy. Acta Academica, 48(2):16–17.

    Walton, Chris. 2017. Right to reply: Of ethics and incompetence. Acta Academica, 49(1):1–1.

  • Joan Hambidge

    Dank vir die verwysing na die Stolp-debakel. Ek is bewus daarvan.
    Die priemende vraag wat voortwoeker in hierdie debat is kortom: kan 'n mens uitsprake maak oor etiese kwessies as jy (julle?) onder 'n skuilnaam skryf?
    Ons is immers nie in Le Carré-roman nie. En as jy vrees vir “viktimisasie” of “naming and shaming”, waarom dan deelneem aan hierdie debat?
    Terloops: Rousseau het gekla, terwyl Blum nog geleef het.
    Joan Hambidge

  • Ek dink wel ’n mens kan etiese en enige ander problematiese kwessies onder ’n skuilneem uitwys en bespreek. Jou alternatief, om te sê dat iemand bv weens vrees vir “viktimisasie” of “naming and shaming” dan eerder moet stilbly as hulle ’n probleem bemerk, is teenproduktief. Daarom sê die industrieriglyne oor besware aangaande akademiese werk: “Sometimes the whistleblower may prefer to remain anonymous. It is important not to try to ‘out’ people who wish to be anonymous” (COPE Council, 2019). Daar is ook ’n lang tradisie van skuilnaam-meningstukke in die media, juis omdat dit soms die beste manier is om debat te stimuleer.

    Al skryf ek onder ’n skuilnaam, is ek wel nie anoniem nie. LitNet se redaksie weet wie ek is en kan my verantwoordbaar hou as enige van my kommentaar onjuis, onregverdig, diskriminerend, lasterlik of onfatsoenlik is.

    Uit jou kommentaar op Crito oor die jare neem ek aan dat jy ’n probleem met skuilname het. Dit is jou goeie reg. Jy kan ook kies om nie op enige mening wat onder ’n skuilnaam gelewer word, te reageer nie.

    Dit is ook my reg om weens persoonlike redes onder ’n skuilnaam te skryf. Net soos dit LitNet se reg is om te besluit of hulle ’n spesifieke mening onder ’n skuilnaam sal aanvaar.

    Groete.

    Cicero

    COPE Council. 2019. COPE Flowcharts and infographics — Responding to whistleblowers when concerns are raised directly — English. Committee on Publication Ethics. Beskikbaar: https://doi.org/10.24318/cope.2019.2.25. Geraadpleeg: 5 November 2023.

  • Prof Hambidge

    Ek sien nie waarom enige iemand wat onder 'n skuilnaam skryf, minder geldige argumente maak of minder in staat is om dit te doen nie. Of dat iemand wat dalk agv sy/haar beroep, of ander redes anoniem wil bly, nie kan/behoort deel te hê aan 'n debat nie. Lyk nie vir my na so 'n priemende vraag nie. Fokus eerder op die ander items. Dalk raak Cicero nog bekend, wie weet.

    @Jan Schoeman
    Hoe wil jy nou voorsê watse reaksie op hierdie blad hoort? Nee man! As Staphorst se metodologie onder verdenking is, en dus sy bevindings, gun ons almal die geleentheid om dit te bespreek/debatteer/uit te wys. Jy maak dan self 'n aantal subjektiewe stellings teenoor Cicero. Ons is geduldig, ons weet (behoorlike en behoorlik-metodologies gegronde) navorsing neem tyd. Dis mos nou nie so maklik soos partydige, natuurlike tribalism nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top