’n Mens kry nie maklik op ’n Sondagoggend ’n tafel by die Café de Flore aan die Boulevard Saint-Germain nie, maar ek het ’n gelukkie getref by Les Deux Magots langsaan, waar hulle vir my die Wi-Fi gratis gee omdat ek drie maal warm chocolat bestel het en twee keer ’n croissant daarby.
Voel julle die geskiedenis aan? Dis hier waar Jean-Paul Sartre, Simone de Beauvoir en Albert Camus hul dorse geles het en diep gesprekke gehad het.
Dis ook hier waar ek sit en opvang wat by die huis aan die gang is en sal dit nou nie my geluk wees om te verdwaal in Luan Staphorst se bydrae op LitNet Akademies nie, getiteld “‘Iets hieroor het ons ongemaklik gestem’: die verband tussen ‘ontlaering’ en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse”.
Dit sou onvleiend wees om te sê dat ek Staphorst se artikel volledig geïnternaliseer het. Ek is maar altyd só wanneer ek iets vier keer moet lees om seker te maak dat ek dit heeltemal verstaan.
Maak Staphorst hom skuldig aan ’n mate van die jolige jargoneske? Sure. Maar hy sit ’n goeie taal-barney aanmekaar. Ek is geen poeierhol nie, maar ek sal toegee dat Staphorst my ’n paar keer laat giggel het met sulke woelige trefwoorde soos ontlaering en kolonialeske.
Ek weet julle gaan nou almal dadelik die artikel lees, so ek gaan julle nie belas met my interpretasie of gebrek daaraan nie. Ek gaan dit net vir julle makliker maak met die opmerking dat niks in die wêreld der lettere verander het nie.
Daar is noordelike akademici en suidelike akademici wat hulle toespits op Afrikaans en Nederlands en dan is daar die mense wat die gees van Marius Scholtz lewend hou by Nelson Mandela Universiteit.
Ek het wel by een van die dinge in die Staphorst-artikel ’n raakpunt gevind. Hy verwys na iets wat by die hare bygesleep is in een van die onlangse Ontlaering-kongresse, naamlik die “Afrikaans in die doofpot”-kongres wat in die jare negentig by Wits gehou is.
Die jonge Crito, pril en pris soos sy indertyd was, was van begin tot einde daar en was opreg beïndruk met almal wat sy gesien en gehoor het. Behalwe die een sessie waarin die filmmaker Frans Marx gepraat het en dinge gesê het wat my laat dink het dat projektiel-vomering ’n gepaste reaksie sou wees. Hoe durf hy, die maker van Egoli, homself dit verwerdig om sulke dinge van ons te sê?
Maar soos die jare gekom en gegaan het en ek self baie diep en indrukwekkende akademiese spore in die noorde getrap het, het Marx se waarskuwing dikwels teruggekeer om by my te spook. Wanneer akademici bymekaarkom om oor die toekoms van Afrikaans te praat, het hy gesê, kan jy van net een ding seker wees en dit is dat hulle je ne sais pas het wie die lesers van Afrikaanse boeke is nie.
Hier waar ek sit en my verwonder aan hoe ongelooflik mooi die Franse aantrek, is ek wel van een ding oortuig. Luan Staphorst het homself geïntroduseer as iemand waarmee sy mede-akademici sal moet rekening hou wanneer die konteks ene is van die eksistensiële worsteling met Khoesan-studies in die breë en sogenaamde Boesman-studies in die besonder. Ek haal hom juis aan.
***
’n Dag voordat LitNet Staphorst se artikel geplaas het, verskyn ’n resensie van Ton Vosloo se Across Boundaries deur Paul Murray op dieselfde webwerf. Die boek het reeds in 2018 verskyn. Dit is ’n uitvoerige resensie, maar ek het dit gelees ná Staphorst se artikel. Die land en sy mense het merkwaardig baie verander, nè?
***
Johann Rossouw se Sluitstuk lok besonder interessante reaksies uit. Die jongste is Heilna du Plooy s’n op LitNet. Sy bly een van die helderste Afrikaanse resensente. Hopelik verskyn daar genoeg boeke wat haar uit haar aftrede sal lok.
Dit bly vir my oneindig fassinerend hoe Schoeman se verdoeseling van homself vir eers ’n roman soos Sluitstuk en daarna al die bespiegeling daaroor kan uitlok.
Om te dink dat so ’n 100 jaar gelede daar ’n beweging was om die mens agter die boek te elimineer uit die literêre diskoers.
***
Nini Bennett het my heelwat binnepret gegee met haar oorpeinsing van vroulike stereotipes op LitNet. Dis by haar wat ek die woord “poeierhol” hierbo gekry het. Ek kry, soos my dogter altyd sê, ’n visual.
***
Mag ek langs hierdie weg my simpatie met Marita van der Vyver betuig. As ek geweet het waar sy in Frankryk woon, sou ek sommer op een van hierdie vinnige treine geklim het en haar self gaan troos het. Haar nuwe roman Laaste kans is deur Trisa Hugo (Rapport) en Francois Bekker (Boeke24) geresenseer. Haai oe, het ek vir myself gesê, toe Amazon die boek laat fluisterflits in my rigting.
Nou, een week en twee glorieuse naweke in Parys later, het ek iets te sê en ek sê dit: Julle kon Marita beter behandel het.
Een: Nie een van die twee het die rol van die baie sentrale Emma genoeg raakgesien om haar naam hardop te noem nie.
Twee: Laaste kans is ’n groot roman. Dit handel oor die Afrikaner-diaspora en oor die verseiling van groepsidentiteit. Nè? Van der Vyver, as gevestigde Afrikaanse skrywer, sê baie belangrike dinge oor Afrikaanse kultuur, oor verandering en die verwurging van baie eiegoed. (Rowwe woord daai, so eie aan die laaste Afrikaanse president.) Maar die resensente is besig met belangriker dinge soos om die boek te probeer opsom.
Drie: Nie een van die twee het eens probeer om Van der Vyver se groei in skryfkuns tussen Wegkomkans (1999) en Laaste kans (2023) te evalueer nie. Of haar uitkyk. Of hoe Laaste kans aansluit by Grensgeval of haar biografiese brief aan haar dogter nie.
Lees ook:
Kommentaar
Vele interessante verwysings - lekker om te lees. Dankie! Sjoe, wat 'n doodsê: "... die verwurging van baie eiegoed. (Rowwe woord daai, so eie aan die laaste Afrikaanse president.)"