’n Repliek op Luan Staphorst se mistastings oor Samespraak

  • 3

Luan Staphorst se artikel, wat onlangs op LitNet Akademies gepubliseer is, het my ontstel met sy kritiek op wat hy beskryf as die “kolonialeske” aard van die “Ontlaering-Sitkamer-groepering”. Hy beklemtoon die problematiek wanneer die sogenaamde “opkomende Afrikaanse akademici” hulself skuldig maak aan kolonialeske praktyke in hulle kennis-, identiteits- en netwerkvorming. Nieteenstaande sy pleidooi vir ’n histories onderboude, kritiese benadering en nederige navorsingskultuur, is sy aanvalle op opkomende akademici niks minder nie as verdagmakery, gesien binne die tydvak van die Covid-19-pandemie.

Dit is belangrik om te noem dat daar geen verband bestaan tussen die pre-Covid-“Ontlaering”-projek en die Covid-tydperk-“Sitkamer”-inisiatief nie. Verder het Samespraak ontstaan uit ’n begeerte om in ’n veranderde omgewing nuwe virtuele netwerke op transnasionale vlak te skep (vergelyk byvoorbeeld 2021 se bestuurslede en verteenwoordigers uit Suid-Afrika, Nederland, België, Pole en Kroasië, asook die eerste skrywer-in-residensie se verbintenis met Aruba, Nederland en Suid-Afrika). Verder kan genoem word dat Samespraak, naas transnasionaal, ook op inter- en transdisiplinêre gesprekke fokus, met deelname van musikoloë en filosowe naas taal- en literatuurwetenskaplikes. Dit maak die gesprekke oop en bied ’n verrykende blik op literêre ondersoek.

Staphorst gebruik ook lukrake verwysings om sy eie argumente te staaf. Hy verwys byvoorbeeld na my bydrae op Versindaba oor ’n literatuurwetenskap-geskiedenis in Afrikaans wat veronderstel is om my onkundigheid te belig, alhoewel ek direk ná die plasing daarvan besef het dat dit ondeurdag was. Versindaba is nie ’n platform vir halfgebakte idees nie, ondanks my bedoeling om die leiding van meer ervare akademici op te soek. Samespraak, daarenteen, skep so ’n platform vir akademici om vrylik met mekaar in gesprek te tree en weliswaar aan ’n nederige dog kritiese navorsingskultuur te bou.

Verder maak Staphorst se kritiek op “uitdaginglose netwerkvorming” van my en ander akademici wat hy stellig op die naam noem, geen vermelding van die inspanning wat dit verg om netwerke op te bou en in stand te hou nie. Staphorst se poging om Samespraak as ideologies vergelykbaar met Sitkamer/Ontlaering te stel deur die aanwesigheid van Janien Linde en Remona Voges is onhoudbaar. Alhoewel sommige individue betrokke mag wees by beide Samespraak en Sitkamer/Ontlaering, beteken dit nie dat die onderskeie inisiatiewe dieselfde doelstellings of ideologiese dryfvere het nie.

Ek erken dat Samespraak verbeter kan word deur byvoorbeeld verder as net die Nederlandse en Afrikaanse fokus te kyk. Die ondervoorsitter van Samespraak, Jessica Van Wynsberge, het immers ’n aantal voorstelle gemaak, alvorens Staphorst se artikel die lig gesien het, waarvan die wysiging van die missie soos volg lees:

Wat ik als de missie van Samespraak beschouw, is dat Samespraak een platform biedt om over literatuur en poëzie te praten, ongeacht de afkomst, maar ook ongeacht de academische rang. Het is een platform dat de hiërarchische grenzen tussen proffen en studenten, maar ook tussen periferie en centrum wil vervagen. Het is een platform dat daarnaast een stem wil geven aan zij die minder worden gehoord. Wat voor mij ook speelt, is dat Samespraak een brug vormt tussen Europa en Afrika.

Nietemin, Staphorst se kritiek is gebaseer op ’n mistasting van die groeperings se doelwitte en die werklikhede van die tydperk, veral tydens die pandemie wat dramatiese verliese veroorsaak het waarvan bestaande en nuwe netwerke ’n toevlug gebied het. Verder maak hy ook ’n denkfout deur die oorvleueling van kollegas as ’n bewys van oorvleueling in ideologie te beskou.

Universiteit van Suid-Afrika
Alwyn Roux

Lees ook:

"Iets hieroor het ons ongemaklik gestem": die verband tussen "ontlaering" en die kolonialeske in onlangse Afrikaanse taal- en letterkundige diskoerse

Maak Staphorst hom skuldig aan ’n mate van die jolige jargoneske?

  • 3

Kommentaar

  • Andries Visagie

    Dankie vir hierdie broodnodige repliek op 'n artikel wat baie verklap oor die outeur se subjektiewe oordele, maar nie juis 'n konstruktiewe bydrae tot die ontwikkeling van navorsing lewer nie.

  • Alwyn, is dit nie ewe maklik om te sê jou interpretasie van Luan se bedoeling is (ook) 'n mistasting nie? Wat die groeperings se selferkende doelwitte is, en wat ander (Staphorst en myself) se ervaring van dié groeperings en die uitleef van hulle ideale is, is twee geheel en al verskillende fenomene.

    Persoonlik is ek oortuig deur die argument (en my eie ervaring) dat die oorvleueling van hierdie groeperings grootliks ooreenstem met ideologiese oorvleueling.

    Kan jy dalk konstruktief (soos Andries behoef) aandui dat hierdie groeperings en hul ideologieë wel nie oorvleuel nie?

  • Dietloff van der Berg

    Ek sou graag wil weet op grond waarvan die deelnemers aan Samespraak gevra is om aan die program deel te neem as hul ideologieë wel nie oorvleuel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top