’n Kersfeeskomplikasie deur Dina Botha: ’n resensie

  • 0

’n Kersfeeskomplikasie deur Dina Botha (LAPA, 2024)

Titel: ’n Kersfeeskomplikasie
Skrywer: Dina Botha
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779870506

Hierdie tyd van die jaar, so kort voor Kersfees, gebeur dinge in my lewe teen ’n stewige drafstap. Al bly ek op die allerpragtige vakansiedorp Jeffreysbaai, is daar vir my as vryskutwerker nie kans om af te saal en my tone in die sand op die strand te gaan druk nie. Daar is net te veel werk wat gedoen moet word. Maar dié jaar het ek besluit om myself te bederf en een van vier splinternuwe Kersfees-Romanzas uit Lapa se stal te lees.

Ek het gehoop Dina Botha se ’n Kersfeeskomplikasie sou my uit my werksgroef neem en die opgewondendenheid van “Dis amper Kersfees!” by my laat posvat. En dit het! Ek het regtig baie lekker daaraan gelees. Elke faset van tradisionele Kersfeesvieringe word vasgevat in ’n hartverwarmende, goedvoelstorie. Daar is sneeu (weliswaar nagemaak, maar tóg!), ’n slee en takbokke, ’n Sinterklaas, Kersliggies, Kerskouse, Kersgeskenke, ’n Kersete en romantiese soene onder maretakke (mistletoe).

.......
Elke faset van tradisionele Kersfeesvieringe word vasgevat in ’n hartverwarmende, goedvoelstorie.
.......

Al vier die miljoenêr Francois Sutherland se familie Kersfees in die Drakensberge op ’n Europese wyse, bring die skrywer die dieper betekenis van Kersfees wel tuis by die leser met ’n Kersboodskap in ’n kapel. “Sommer net ’n paar woorde om die geboorte van Jesus Christus op ’n gepaste wyse te herdenk” (123). Die onderliggende boodskap is dat samesyn met dierbares in hierdie tyd belangrik is. Ook dat ons nie ons ouers in hierdie dae moet vergeet nie, maar moeite moet doen om hulle te betrek en deel te maak van ons vieringe. Kinders moet die voorreg gegun word om hulle grootouers en ander uitgebreidefamilielede te leer ken.

Die vroulike hoofkarakter, Christelle Boshoff, is ’n lyfwag, van alle dinge. Sy is hoogs opgelei, ervare en professioneel. Haar werk vereis dat sy topfiks bly en wapens moet dra om haar kliënte te beskerm – in hierdie geval vir Francois en sy gesin. Hierdie tawwe tienie het my gefassineer, verál omdat haar sagte, warm kant ook deur die loop van die storie begin deurskemer het. Ek het heeltyd gehoop om haar in aksie te sien. Julle weet, ’n skurk of twee met ’n paar karatehoue katswink slaan en só die held red, maar dit het nie gebeur nie. Nou goed, mens verwag seker nie geweld in ’n Romanza nie, maar dit sou darem so románties én bevredigend gewees het indien die beeldskone heldin darem haar staal kon wys en die held se knieë op so ’n aweregse manier kon lam maak.

........
Die liefdestonele is mooi en smaakvol beskryf.
........

Dina slaag daarin om die ontluikende romanse tussen held en heldin op ’n heerlike en natuurlike trant te laat gebeur wat my vasgenael gehou het. Dis nie maklik om die uitgestelde begeerte en spel tussen man en vrou op skrif uit te beeld nie. Hier is egter meer as genoeg vryery aan die gang om die storie geloofwaardig te laat voel. Ek bedoel, ’n verliefde paartjie kafoefel mos. Die liefdestonele is mooi en smaakvol beskryf.

Hier na die einde van die verhaal toe daag ’n persoon uit een van die hoofkarakters se verlede op en krap dinge ’n bietjie deurmekaar. Dit was ’n slim truuk van Dina om ekstra momentum aan die storie te verleen. Ek sou egter net graag wou gesien het dat die kontak nie so vlugtig was nie en ’n langer aanloop en afloop gehad het, maar gegewe die woordtelling waarbinne die skrywer moes bly, het sy haar knap van haar taak gekwyt.

Indien jy lus is vir ’n heerlike romantiese verhaal om jou in die stemming vir Kersfees en vakansie te kry, is ’n Kersfeeskomplikasie die regte boek vir jou. Dina Botha is nie verniet die onbetwiste koningin van Romanzas nie.

Lees ook:

Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner

Romanza-skrywers aan die woord

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top