
Titel: ’n Jaar in my lewe
Skrywer: Louis Pretorius
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637008280
Ek het ’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius opgetel ná ’n sin op Instagram: “Elkeen moet hierdie boek lees” en ’n baie mooi voorblad. En wat ’n goeie verrassing was hierdie boek nie!
’n Jaar, ’n lewe
Die verhaal speel af in 1996 – ’n tyd van oorgang, hoop en onsekerheid in Suid-Afrika. Ons ontmoet vir Liam, ’n hoërskoolseun in ’n klein dorpie. Hy is ’n diskusgooier, nie heeltemal gewild nie, maar ook nie onsigbaar nie. Hy is daardie tipe kind wat alles doen – sport, akademie, kultuur – soos iemand wat nog besig is om te toets waar hy inpas.
En in tipiese clichéagtige hoërskooltradisie is hy verlief op die mooi en populêre Marlise. Sy lewe is voorspelbaar. Totdat hy vir Martin ontmoet.
Martin: die ontwrigting
Martin is nie maklik nie.
Hy terg. Hy druk. Hy toets grense. Sy eerste interaksies met Liam is skerp, soms ongemaklik, en snaaks. Dis juis hierdie dinamiek wat die leser intrek – daardie gevoel dat iets onder die oppervlak broei.
Martin staan uit. Nie net omdat hy anders ís nie, maar omdat hy doelbewus kiés om anders te wees. En tog – onder daardie skerp brein is daar iets sagter. Iets kwesbaar. Martin is – en ek sê dit nie maklik nie – een van my gunstelingkarakters. Hy voel eg. Teenstrydig. Menslik.
“Jesus soek my in elk geval nie as ’n sonstraal nie” (bl 87).
Sy verhouding met geloof is vir my diep en nodig. ’n Predikantseun wat weet sy pa se volk sal hom nie aanvaar nie.
Die storie se struktuur
Soos die titel belowe, ontvou die verhaal oor ’n jaar – maand vir maand. Dit is ’n eenvoudige keuse, maar ’n kragtige een. Jy voel hoe tyd beweeg. Hoe dinge verander, stadig en dan skielik. Hoe ’n maand net nog ’n maand is – tot dit nie meer is nie.
Wat begin as ’n eenvoudige storie, groei geleidelik in iets dieper. Swaarder. Ryker. En voor jy dit besef, dra daardie “jaar” die gewig van ’n hele lewe.
Liefde, maar nie die maklike soort nie
“Buite verdwyn die lewensaar van sy aanraking. Die wêreld is nie ons kerk nie” (86).
Ek is dikwels skepties oor romanse in jeugboeke. As lesers weet ons: “Hierdie gaan nie hou nie.” Waarskynlik teen die einde van daardie paartjie se jaar.
Maar hierdie keer het ek geglo in Martin en Liam se verhouding. Nie omdat dit perfek is nie, maar juis omdat dit nié is nie.
Liam en Martin se verhouding ontwikkel stadig (vir tieners), soms ongemaklik, soms onseker. Dit voel nie soos fantasie nie. Dit voel soos twee mense wat probeer sin maak van hulself – en van mekaar – binne ’n wêreld wat nie noodwendig ruimte maak vir hulle nie.
Karakters wat bly
Een van die boek se grootste sterk punte lê in sy karakters.
Liam begin jou hoe langer hoe geval. Stil-stil. Bladsy vir bladsy.
Maar dit is Martin wat sterk staan. Die een wat jy nie heeltemal kan vasvat nie. Rebelse energie, maar met ’n morele kern wat soms skerper voel as dié van die mense rondom hom.
Selfs die newekarakters – sy ouers: dominee Ben en sy vrou Esme – voel volledig. Nie daar net om die storie te dien nie, maar om dit te verdiep.
Die klein dorpie wat alles sien
Die dorpie is nie net ’n agtergrond nie. Dit kyk. Dit onthou. Dit oordeel.
“Almal is bekend in ’n klein dorpie,” wil ek Bonnie-Sue Hitchcock se boektitel Everyone dies famous in a small town verdraai.
Dit vang iets vas van hoe beperkend ’n klein dorpie kan wees, veral vir jongmense wat nog besig is om hulself te ontdek.
1996 bring ’n nuwe grondwet, nuwe moontlikhede. Maar gemeenskappe verander stadiger as wette. Die boek skroom nie om dit te wys nie.
Die stilte.
Die wegkyk.
Die keuse om niks te doen aan ongeregtigheid nie, want die mense wat aan die ontvangkan daarvan is, glo nie soos jy nie.
Die gewig van ’n jaar
Hierdie boek is nie ’n ligte leeservaring nie. Dis ’n boek wat jou vra om stadiger te lees. Om te dink. Om soms weg te stap en weer terug te kom.
Want binne hierdie een jaar gebeur daar te veel. Die boek sal jou laat huil.
Naby die einde van die boek troos Martin een van die newekarakters, Rudolph:
“Nog net ’n jaar.
“Weet jy hoe lank is ’n jaar?”
En Martin sê: “Ja.”
En jy glo hom, want teen daardie punt verstaan jy ook.
’n Stil, blywende impak
’n Jaar in my lewe probeer nie alles netjies oplos nie, maar dit bied eerlikheid.
Dit is ’n boek wat eindig op hoop – geloofwaardige hoop. Ek sou dit aanbeveel vir enigiemand wat belangstel in stories oor identiteit, liefde en die komplekse werklikheid van grootword. Veral vir onderwysers, en ouers.
En dalk veral vir die buitestanders wat weet hoe intens ’n enkele jaar kan wees.
Lees ook:
Jeugroman of historiese roman? ’n Lesersindruk van Louis Pretorius se ’n Jaar in my lewe
Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk

